Ellen: ’n filmresensie

  • 0

Ellen

Draaiboek: Amy Jephta
Regie: Daryne Joshua
Spelers: Jill Levenberg, Jarrid Geduld, Elton Landrew, Clint Brink, Ilse Klink, Grant Swanby

Die ware verhaal van Ellen Pakkies, die vrou wat haar tikverslaafde seun in 2007 vermoor het, is welbekend, en dis vroeër verwerk tot ’n baie suksesvolle teaterstuk. Mense vra maklik: “Hoe kon ’n ma dit aan haar seun doen?” Maar daardie vraag kan ook omgedraai word: “Hoe kon ’n seun dit aan sy ma doen?” Hierdie uitstekende film slaag daarin om al twee vrae te beantwoord.

Seker die grootste slaggat met ’n opspraakwekkende verhaal soos dié is dat dit in ’n melodrama kan ontaard, maar Ellen vermy dit op bewonderenswaardige wyse. Dis asof die hele span, van draaiboekskrywer en regisseur tot elkeen van die akteurs, saamgewerk het aan ’n atmosfeer van ingetoë onderbeklemtoning – en juis daarin lê die film se besondere trefkrag. En wat ’n mens se hart breek, is dat hierdie “gewoonheid” ’n harde waarheid beklemtoon: op die Kaapse Vlakte is Ellen en Abie Pakkies se lewens meer “business as usual” as wat dit ’n eenmalige, skokkende geval uitbeeld.

Amy Jephta se draaiboek, wat as wenner aangewys is by die onlangse Silwerskermfees, verdien spesiale vermelding vir die stewige sielkundige onderbou wat dit verskaf. Ellen se lewensverhaal word onopsigtelik maar stap vir stap opgebou, totdat die kyker teen die klimakstoneel volkome begryp waarom sy uiteindelik geknak het.

Jill Levenberg en Jarrid Geduld is ook by die Silwerskermfees bekroon vir hul uitstaande spel in die hoofrolle, maar hul medespelers verdien eweneens lof: Elton Landrew as Odneal, Ellen se man, en Clint Brink as die advokaat wat uit sy eie besluit het om haar in die hof te verdedig.

Ellen is ’n belangrike film wat hoog aanbeveel word.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top