Isle of Dogs: ’n filmresensie

  • 0

Isle of Dogs

Draaiboek: Wes Anderson, Roman Coppola en ander

Regie: Wes Anderson

Met die stemme van: Bryan Cranston, Koyu Rankin, Edward Norton, Greta Gerwig, Bill Murray, Scarlett Johansson

Wes Anderson se filmkuns is besonders en eiesoortig, en flieks soos Darjeeling Limited, The Royal Tenenbaums en Moonrise Kingdom het my ’n groot aanhanger van sy werk gemaak. Met sy nuutste film keer hy terug na animasie, maar dit lyk héél anders as Fantastic Mr Fox.

Isle of Dogs speel af in die toekoms in die Japannese stad Megasaki, waar die bose burgemeester Kobayashi ’n haat koester teenoor honde, ’n ou vete met sy oorsprong in die samoerai-tydperk. Wanneer hondegriep in die stad uitbreek, gebruik Kobayashi dit as verskoning om alle honde te verban, ten spyte van die feit dat ’n wetenskaplike ’n doeltreffende entstof ontwikkel het. Die eerste hond wat seremonieel na Trash Island gestuur word, is uit die burgemeester se eie huishouding: Spots, die hond van die twaalfjarige weeskind Atari. Maar ’n seun kan nie sonder sy beste vriend wees nie, en Atari maak ’n waaghalsige plan om sy hond terug te kry.

Die film is volgens Anderson geïnspireer deur die Japannese filmmaker Hayao Miyazaki en toon ook invloede van houtblok-drukwerk, wat sorg vir ’n visuele fees in selfs die lelikste omgewing. Veral die honde se lyftaal is ’n plesier van begin tot einde, met vermaaklike dialoog daarby.

Hoewel die omgewingstema nie sentraal staan nie, lewer die film uiters belangrike kommentaar oor ons verbruikerskultuur van sonder ophou vermors en weggooi, of dit nou plastiek of diere is. Trash Island lyk soos iets uit ’n post-apokaliptiese hel en herinner dadelik aan nuusberigte oor reusebale afval wat op verskeie plekke in die wêreld staan en wag vir herwinning wat nooit gebeur nie.

Dis ’n jammerte dat die fliek ten slotte net té oordrewe raak – vyf draaiboekskrywers was dalk ’n paar te veel. Om nie te praat van die irriterende Amerikaanse uitruilstudent wat op voorspelbare wyse tot die redding moet kom nie.

Isle of Dogs is nie ’n meesterstuk nie, maar dis steeds die kyk werd, veral vir Wes Anderson-aanhangers.

Sterre:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top