Kanarie: persoonlike indrukke

  • 2

Filmopsomming

Kanarie is ’n musikale oorlogsdrama wat afspeel in Suid-Afrika in 1985 en die storie van ’n jong seun vertel wat in ’n tyd van onderdrukking gedwing word om sy identiteit te vind. (https://www.kanariefilm.com)

Johan Niemand is ’n jong man van die platteland wat opgeroep word om diensplig te doen. Hy doen oudisie om lid te word van die Kanarie-sanggroep en saam met hierdie groep beleef hy sy dienspligopleiding en toer hy na baie dorpe en stede in Suid-Afrika, waar die groep optree en sing. Hy raak verlief op ’n medekoorlid en die film wentel soveel om sy eie interne oorlog as om die oorlog wat in Suid-Afrika en op die landsgrense woed.

Persoonlike gedagtes

1985

Dis toe die Kanaries begin sing dat ek 1985 onthou. Voor my op die skerm is ’n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en die jaartal 1967–1985. Die Kanaries sing “Liewe maan, jy seil so langsaam deur die awendwolke heen”.

Ek herken die woorde van die lied uit my eie kinderdae.         

Ek was in 1985 tien jaar oud. In standerd 2 (deesdae graad 4) moes ons, as Vrystaatse kinders, na afloop van ons gesondheidsleereksamen elke kwartaal ’n brief skryf aan “Liewe Oom Soldaat”. Agter aan die vraestel vasgekram, was ’n blanko papier waarop ons iets kon skryf, of ’n prent kon teken. Hierdie briewe is dan werklik vir die troepe op die grens gepos. Ek het vir die jongmanne in die weermag briewe geskryf oor my eie wêreld. My met elke brief voorgestel, genoem wat my skool en geliefkoosde vakke is, en die manne bedank vir wat hulle vir die land doen.

Een of twee keer het hulle teruggeskryf, onthou ek gedurende die kyk van die film. Dit was lekker om ’n brief te ontvang, maar die inhoud was nie so interessant soos enige boek van die Maasdorpreeks of van Judy Blume, wat my ander leesstof gedurende daardie tyd was nie. Die agtienjarige weermagseuns was heelwat ouer as ek, en ons het tog nie in mekaar se wêrelde belanggestel nie. En hulle het meestal net dankie vir die brief laat weet, en dalk geskryf dat hulle vir ons, die mense wat hulle beveilig, bid.

Wat hét in daardie briewe gestaan – die briewe wat ek geskryf het, asook die enkeles wat ek van hulle terugontvang het? Dit was beswaarlik die soort korrespondensie van Etienne Leroux se 1844, dis gewis.

Die onbetroubare geheue

Sekere dinge vergeet mens omdat dit uit jou geheue verdwyn. Ander herinneringe vervaag byna doelbewus. ’n Soen wat nie moes gewees het nie, ’n patologiese verhouding. Vuil stasiebadkamers in die buiteland wanneer jy reis. Voor die koms van die tweede kind: die min slaap wat met vroeë ouerskap gepaard gaan, of enige gedagtes oor die bevalling. Daar bestaan iets soos selektiewe geheueverlies. Ek kan nie onthou wat in my briewe aan die jong troepe gestaan het nie. My gebrekkige onthou was nie te danke aan onvanpaste inhoud nie. Dit is te danke aan die bril wat ek vandag dra, die manier waarop ek nou terugkyk na die verlede. Want die oorlog en die briewe wat in die oorlog geskryf is, dink ek vandag, was bevlek met ’n ideologie wat ons almal saam in stand gehou het. Ek was aandadig. Ek was klein, maar ek het nie bevraagteken nie. Een van die vele wonderlike kameekarakters in die film konfronteer die Kanarie-koorlede na afloop van ’n optrede met die vraag waarom hulle nie die townships binnegaan en ook daar gaan sing nie.

“Obviously not,” is een van die weermagseuns se reaksie. En: “Hoekom sal ons in die lokasie ingaan?” vra ’n ander.

Hierdie kort gesprek is van groot belang, en die karakter se opmerking: “You always have a choice” tref diep.

Die individu in die tyd van die Grensoorlog; die individu ongeag die Grensoorlog

Tog is die agtergrond van die Grensoorlog hoofsaaklik die doek waarteen geskilder word. Kanarie handel oor die binne-oorlog van ’n gay jong man tydens die oorlog. Ek herleef tydens die kyk van die film net soveel die tydsgees as wat ek identifiseer met die karakters se lewens op daardie ouderdom waar hulle hul bevind. Die film is nie net tydsgebonde nie, dit laat almal wat die film kyk onthou hoe dit was om weer 18 jaar oud te wees. Ongeag omgewing, ongeag die Grensloorlog. Ek beleef daardie jonkwees van voor af. Ek is weer daar, met al my eie onsekerhede en vrae en skuldgevoelens.

Terug by 1985, die tyd van die film. Van 1985 onthou ek tydens die verloop van die film woorde soos “noodtoestand” (in Johan Niemand se lewe, op daardie punt wat die woorde op die skerm vertoon, soveel as in die land self). Ek onthou vandag hoe angstig ek was oor die land, en my vrees vir al die terroriste se gesigte in die koerante. Toe ek ’n kind was, was daar geen aanhalingstekens rondom ’n woord soos terroris nie. Dis wat hulle was, die mense teen wie die manne op die grens my beskerm het. Eers later het die aanhalingstekens bygekom, om aan te toon dat ek die ware betekenis van die woord bevraagteken. Want húlle, daardie terroriste sonder aanhalingstekens, was diegene wat die mense wat ék in die koerant sou sien, laat sterf het in bomontploffings. (Twee jaar tevore, in 1983, was ’n ander skoolopdrag dat ons, die sub B- (graad 2-) klas, foto’s uit die koerant moes uitknip van al die beseerdes tydens die Kerkplein-bomontploffing en ’n collage daarvan maak op ons klaskamer se muur, langs die swartbord.)

Ek onthou tydens die film ook die musiek van 1985, die toelaatbare musiek en die ontoelaatbare.

Die oorrompelende toneelspel, die voortreflike regisseur

Maar die film oorrompel my op baie ander vlakke ook. Op storievlak (hoe eenvoudig is dit eintlik: “boy meets boy” in die weermag).

En op die vlak van toneelspel.

Schalk Bezuidenhout. ’n Natuurlike talent.

Daar is soveel karakters wat in die film uitgesonder kan word. Tinarie van Wyk-Loots. Anna-Mart van der Merwe. Lida Botha. Hannes Otto. Beer Adriaanse. Jacques Bessenger. Gérard Rudolf. Germandt Geldenhuys. Ludwig Binge. De Klerk Oelofse. Ek weet nie waar om te stop nie. Mens gee nie net om vir die karakters nie, mens word vir hulle lief.

Die voortreflike Christiaan Olwagen vertolk of interpreteer nie vir die filmganger nie. Hy trap nie in die slaggat om te oordryf of van iemand ’n onmens, of ’n oordrewe gedrog te maak nie. Nooit tydens die film word daar sommer net gespot met enigeen of sy oortuigings nie. Die karakter wat heeltyd mense stilmaak omdat hy wil Bybel lees (op die bus, wanneer almal sit en gesels!), is nie ’n karikatuur nie. Of as die troep onophoudelik vir die gaste-ouers wil vertel van sy ma se volkspeletoekennings, is hy ook nie ’n belaglike individu nie. As filmganger lag jy vir ’n karakter se geskakeerde menslikheid. Niemand in hierdie film is ’n engel of ’n duiwel nie; daarvoor is dit alles veels te genuanseerd. Nie een karakter in hierdie fliek is sommer net bespotlik nie. Maar somtyds lag mens baie hard vir alles en almal wat mens herken.

Die karakters in die Kanariekoor wat uitgebeeld word, herken ek soos ou vriende. Hulle was saam met my ook in my eie baie jare as lid van verskeie kore. Hulle het my soms geïrriteer; ek het vir hulle omgegee; ek wou van hulle af wegvlug; hulle het my hart verwarm; en ons het saam musiek gemaak. In die film herken ek gaste-ouers van koortoere deur al die jare wat ek in die Vrystaatse Universiteitskoor gesing het, of in die Bloemfonteinse Kinderkoor, of waar ook al mense hulle huise en harte vir my en ander lede van die koor oopgemaak het.

Anna-Mart van der Merwe en Schalk Bezuidenhout in ’n toneel uit die film

Die problematiek van die tweede generasie

Die problematiek van die tweede generasie na ’n oorlog, lees mens in ’n boek soos Bernhard Schlink se Der Vorleser, is velerlei: trauma, skuldgevoelens, regverdigings, selfbejammering. Die ontoelaatbaarheid van onthou. ’n Mens het die insig om nou te snap dat iets destyds nie pluis was nie. Méér as nie pluis nie: immoreel. Mens het ook die insig om te besef hoe jy jou voorgeslagte kan verwond. (Die voorouers, mens se eie ouers, sit met kompleksiteite van hulle eie: vrae en regverdigings oor wat gebeur het, nalatenskappe van propaganda, letsels van die trauma wat hulle moes deurmaak terwyl hulle self getraumatiseer het.) Nou, self ’n ma terwyl ek met al my herinneringe vandag die film gekyk het en iets daaroor wil skryf, grawe ek in ’n kas op soek na ’n Huisgenoot-kortverhaal, omdat ek weet Hennie Aucamp het ’n storie geskryf oor ’n oujongnooi wat haar ma al die jare versorg het, alles vir haar ma opgeoffer het. Uiteindelik, as haar ma sterf, haak sy uit. Sy gaan sit by die see en drink ’n shandy.

Hoe teer kon hy dit verwoord, Hennie Aucamp. Die vrou se bevrydende drankie. Hoe sy haar plig nagekom het, sonder veel selfbejammering. Hoe sy haar ma liefgehad het. En hoe sy, die oujongnooi, haar uiteindelik van die boeie bevry het.

Ek vind nie die tydskrif nie. Ek onthou die atmosfeer van die kortverhaal, en ek wil Kanarie se atmosfeer hiermee vergelyk.

Soos ek reeds gesê het, is dit nie ’n film wat karikature uitbeeld nie. Daar is deurlopend politieke kommentaar, maar die meeste daarvan is daar omdat ons die film vandag kyk. Dis snydende, en deernisvolle, kommentaar op ’n komplekse stelsel.

Ek is terug by “Liewe Oom Soldaat”. Die vrou wat agter die briewe aan “Liewe Oom Soldaat” gesit het, was ’n afgetrede Vrystaatse onderwyseres, as ek dit reg verstaan, en sy was bekend as tannie Mossie. Sy het die briewe aan die manne op die grens met sulke briewe ondersteun en gevoed, lees ek in ’n Netwerk 24-artikel, want ja, hulle was beslis getraumatiseer. (Deur wát? wil ek vra. Hoe kon al die ouers hulle seuns grens toe gestuur het om hulle plig te gaan verrig? wil ek vra. Dit voel soos ’n ma wat weet dat haar man die dogter molesteer en haar kop wegdraai wanneer die dogter haar die dag daarvan vertel.)

Tannie Mossie het, te midde van die sisteem, ook goed gedoen; sy het salf op letsels gesmeer. Die jongmanne in die oorlog, sien ek met vandag se lens op die skerm, was nog blote kinders. Enkele jare ouer as my seun. Hulle was hormoonbelaai, nog nie deur die lewe verniel voordat hulle in die weermag beland het nie.

Om dit as ma te kyk. Die fotobeelde tussendeur – hulle kon my seun gewees het. Party lyk agterlik, herinner byna aan foto’s uit Armblankes, of die foto op daardie veelbesproke Time se voorblad, jare gelede.

Almal se woede, almal se stilswye

Wat vir ’n land was hierdie? Waar kom ek vandaan? Hoe baie mense voel hulle word stilgemaak in hierdie land. Jong studente wat skree tydens #FeesMustFall. Middeljarige vroue. Huiswerkers, mynwerkers, plaaswerkers. En mans wat deel was van die Grensoorlog.

Nog gedagtes

Van die film dink ek: dis eerlik, dis eg. Dis sonder om weg te skram van onderwerpe. Dit bied nie antwoorde nie. Die stryd duur voort. ’n Kanarie hoort nie in ’n kou nie. Die karakters is meervlakkig. Daar is stereotipes in elke groep: man, vrou, gay, straight, Afrikaans, Engels. Was almal vasgevang in ’n sisteem? Sou die suster vir wie Johan Niemand nie sy storie kon vertel nie, dalk in ’n ander tyd, in ’n ander dorp, in ’n ander lewe dalk iemand anders kon gewees het? Is sy ook ’n kanarie in ’n kou, net soos hy? Die ontsettend goeie toneelspel. Die film se surrealisme, soos ’n soort Six feet under, van tyd tot tyd.

Met die vingerafdrukke van Christiaan Olwagen, wat herinner aan Seemeeu, en A doll’s house. Die eerlikheid van Dogma. Daar is ’n sterwende koei, daar is ’n heilige koei wat dalk om die lewe gebring moet word. Daar is ’n olifant in die vertrek – of is dit ’n koei? – en almal probeer dit ignoreer. Maar sy knaende sterwensklank veroorsaak dat jy nie aan die slaap kan raak nie.

Wees jouself! Dra ’n trourok, as jy wil, en sing in die straat!

Die kompleksiteit van die oorlog. Ook die korporaal in die greep van die tyd.

Die behoefte dat Boy George sê: Ek is gay. Die behoefte om aanvaar te word. Dis nie God wat moet aanvaar nie. Dis ek, dis jy.

Sê dit: Ek is wie ek is.

Ek was nie in daardie oorlog nie. Ek was in daardie oorlog.

Die interne oorlog.

Die pynlikheid van die verlede.

Ander soortgelyke films

Wat onderskei Kanarie van ’n film soos Carol, of Disobedience? Dalk nie uniek tov die ontoelaatbaarheid van gaywees nie? Vir my is die groot onderskeid die Afrikaansheid hiervan. Die Afrikaanswees in sy grein. As jy Afrikaans is en enigiets van die tagtigs onthou, gaan jy iets van hierdie film verstaan.

Die baba en die badwater

Die komediant Schalk Bezuidenhout (ja, dieselfde Schalk Bezuidenhout, in ’n ander gedaante) het een jaar by ’n Woordfeesprogrambekendstelling gesê daar is ’n item op die program waarvan die naam nou verander. Dis om tred te hou met die droogte en waterbeperkings. Die item heet nou nie meer “Die baba met die badwater” nie, maar slegs “Die baba”.

Op daardie trant.

Moenie die baba met die badwater uitgooi nie. Te midde van kritiek op die sisteem en onmenslikheid van wat in die agtergrond aan die gebeur was, of openlik, in die voorgrond (apartheid – dis die olifant in die vertrek, die heilige koei!), was daar ’n ander dimensie aan die Kanaries ook. Die musiekgroep het tóg kultuur gebring na uitgehongerde gemeenskappe. Hoe gekompliseerd is die verlede. In die film Inside out besef ’n mens dat elke herinnering geklad is: dis vreugde en verdriet. So ook: net omdat die koorgroep ’n mondstuk was en musiek gemaak het namens ’n weermag met ’n sekere ideologie, kan die musikale komponent hiervan nie afgemaak word, tot niet gemaak word, nie.

Briljantheid van tydsberekening, karakterontwikkeling, humor, eerlikheid

Ek kan nie uitgepraat raak nie. Die karakters se eienskappe (die een wat so lief is vir eet, die een wat nooit ophou om oor sy ma se volkspeleprestasies te praat nie) word gebruik as maniere om sekere ander tonele te bewerkstellig. Karakters wat eers nie vloek nie, en later praat soos die mense wat hulle vloek. Die eerlikheid van alles wat in die film gebeur. En geen oorbodige toneel nie.

Elke enkele toneel ’n blink juweel.              

Waarskuwing

Die taalgebruik mag jou skok. Die naaktonele ook. Die kamera wys alles. As jy nie wil sien hoe mans mekaar soen of op mekaar verlief raak nie, moenie gaan kyk nie. Of gaan kyk, en word uitgedaag.

Mens sou die film op YouTube kon reduseer in “How it should have ended”-lokprente of “Honest trailers” tot Brokeback Mountain ontmoet Boetie gaan Border toe. Dit sou die film dalk ’n onreg aandoen. Maar dit sou ook vir die kyker ’n idee gee van die tematiek van die film.

Ten slotte

Ná die fliek dink ek: daar was te min mense in hierdie fliek. Baie mense wat hierdie film behoort te sien, gaan dit nie kyk nie. Ek dink ook: die verlede is ’n ander land, die verlede is dieselfde land.

 

Lees Jan-Jan Joubert se resensie hier.

Leon van Nierop sê: “Kanarie verander die Afrikaanse rolprent vir altyd.” Lees sy resensie hier.

Kanarie ’n uitdagende grensverskuiwing: ’n filmresensie

Kanarie binnekort by plaaslike rolprentteaters: ’n onderhoud met Schalk Bezuidenhout

Kanarie maak Suid-Afrikaanse debuut by Silwerskermfees

  • 2

Kommentaar

  • Dankie, Naomi. Ja, eintlik is ons almal aandadig. Tog het ons die Kanaries verromatiseer.
    Kanarie is nie 'n film wat jy sommer vergeet wanneer jy daar uitstap nie. Dis nou al 'n week nadat ek dit gesien het en dit los my steeds nie uit nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top