Kanarie maak Suid-Afrikaanse debuut by Silwerskermfees

  • 1

Kanarie is ’n musikale oorlogsdrama wat in 1985 in Suid-Afrika afspeel en die storie vertel van Johan Niemand, ’n jong seun wat in ’n tyd van onderdrukking gedwing word om sy identiteit te vind.

’n Rolprent oor die weermag, kerk en gay-wees. ’n Rolprent wat nie skroom om taai onderwerpe aan te spreek nie en internasionale gehore gaande het. ’n Rolprent wat poog om dialoog te voer tussen die verlede en die impak daarvan op die hede.

Dít is die rolprent Kanarie.

Kanarie maak binnekort sy Suid-Afrikaanse debuut by die Silwerskermfees as een van die vollengte-films in die kompetisie. Regisseur en skrywer Christiaan Olwagen en medeskrywer Charl-Johan Lingenfelder gesels oor die konsep van Kanarie.

Charl-Johan Lingenfelder (Foto: verskaf) en Christiaan Olwagen (Foto: Antonia Steyn)

Kanarie bevat ’n ongewone storielyn: ’n jong Afrikaner wat vir militêre diens opgeroep word raak onder andere verlief op ’n mede-Kanarie, en bevraagteken sy geloof, patriotisme en seksualiteit. Waar kom die inspirasie vir die rolprent vandaan?

Die film is gebaseer op Charl-Johan se persoonlike militêre ervaring in die Kanaries, oftewel die Suid-Afrikaanse Weermag Kerkkoor en Konsertgroep. Tydens die tagtigs moes die koor deur die land toer om die boodskap van die staat en kerk te versterk. Teen hierdie agtergrond gaan ons 17-jarige protagonis deur sy eie ontdekkingsreis.

Hoekom voel julle dis nodig dat ’n storie soos dié van Johan Niemand vertel word?

Verpligte apartheid militêre opleiding is iets wat lank onder die dekmantel gehou is. Vir party was dit ’n voorreg; vir ander was dit traumaties. Dit het veral baie skade aangerig in diegene wat hulle seksualiteit moes ontdek en onderdruk. Die idee is om ’n gesprek te kan hê oor wat dit beteken om gay groot te word in ’n wêreld wat dit vyandiggesind is. Ons was nog elke keer oorstelp by filmfeeste om te sien hoe internasionale gehore die film verslind juis omdat die temas so universeel is.

Die rolprent speel in die apartheidsjare af en spreek temas soos gay-wees, godsdiens, patriotisme ens aan. Watter temas word nog in die rolprent aangespreek en hoekom juis hierdie temas?

Hierdie is primêr ’n Suid-Afrikaanse "coming-of-age”-verhaal met ’n geweldige klomp taboe onderwerpe wat aangespreek word. Dis ’n film oor oorlog, maar die oorlog wat mens met jouself voer. As jy jou lewe lank gekondisioneer word om dit wat jy is te haat, gaan jy uiteraard jou eie grootste vyand word.

Die rolprent is ’n musiekblyspel – hoekom het julle juis op hierdie genre besluit?

Wel, die Kanaries was ’n koor en enige film daaroor sou moes hulde bring aan die musikale aspek. Ons kom ook beide vanuit ’n teater agtergrond waar ons geweldig baie met musiek werk. So die genre was ’n natuurlike uitvloeisel van ons vorige samewerkings.

Watter kommentaar wou julle lewer met hierdie rolprent; watter boodskap wou julle uitstuur aan gehore?

Die film vra vrae oor die verhouding tussen die kerk en die staat. ’n Kerk wat tydens apartheid beide militêre kredo en institusionele haatspraak verkondig het. ’n Kerk wat vandag baie hard probeer om boete te doen vir die sondes van die verlede, maar wat dit steeds problematies vind om homoseksualiteit en godsdiens met mekaar te versoen. As die kerk sukkel, hoe moeilik moet dit dan vir ’n tiener wees om te aanvaar wie en wat hy is? Die film poog om ’n dialoog te voer tussen die verlede en die impak daarvan op die hede.

Dit beteken nie dis net wroeg en swoeg nie. Daar is iets tragies-komies aan die skisofrenie van die tagtigerjare. Die absurditeit van jong seuns in uniforms in totale teenstryd met die tannies en terte en te groot hare as gehoor. Vir al die gepraat oor haat gaan die film eintlik oor liefde. Liefde vir musiek. Liefde vir jou naaste. En die belangrikste: ’n liefde vir jouself. Die boodskap en die hart van die film is waarskynlik waarom dit tot dusver soveel aanklank gevind het by internasionale gehore.

Dink julle die filmbedryf in Suid-Afrika raak meer eksperimenteel, skroom minder weg van omstrede onderwerpe?

Definitief. Dit is bewonderenswaardig dat kyNET stories soos Kanarie ’n platform gee. Afrikaanse films het nog steeds ’n emosionele agterstand by die res van die wêreld as gevolg van jare se isolasie en geestelike en morele onderdrukking. En ons kan dit agterlaat slegs as ons onsself toelaat om daaroor te kan reflekteer en gesprekke en dialoë aan te moedig. Ons bly in ’n komplekse land met komplekse politieke en sosiale strukture wat oorweldigend kan wees by tye. So ons verkies om weg te skram van dit wat vir ons as volksvreemd voorkom eerder as om ons daarmee te versoen en die vrugte te kan pluk van ’n meer inklusiewe en verdraagsame samelewing.

Foto's: verskaf


 

Vanjaar vind die 8ste Silwerskermfees van 22 tot 25 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai plaas. Kanarie wys op 24 Augustus.

Akteurs te sien in die rolprent sluit in: Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gerard Rudolf, Jacques Bessenger, Ludwig Binge, Francois Jacobs, De Klerk Oelofse, David Viviers en Anrico Goosen.

Besoek Kanarie se webtuiste by www.kanariefilm.com vir meer inligting, of besoek hulle Facebook-blad.

  • 1

Kommentaar

  • Vir eerstens die taalgebruik was n "disgrace"..."disgusting".
    Tweedens sien ek geen rede hoekom die seuns kaal van voor af gewys is nie.
    Verder was dit 'n goeie storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top