Kanarie binnekort by plaaslike rolprentteaters: ’n onderhoud met Schalk Bezuidenhout

  • 0

’n Rolprent wat vanjaar opslae gemaak het en lof uit alle oorde ontvang het, is binnekort in plaaslike rolprentteaters te sien.

Kanarie het nie net internasionale gehore gaande gehad nie, maar ook by hierdie jaar se Silwerskermfees die toekennings ingepalm. Dit het nie minder nie as vyf toekennings verower: vir Beste produksie-ontwerp, Beste redigering, Beste manlike byspeler, Beste regisseur en Beste speelfilm.

Die komediant Schalk Bezuidenhout vertolk die hoofrol van Johan Niemand. Marli van Eeden gesels met hom oor die film.

Schalk, ons ken jou as ’n grapjas en komediant – was dit ’n aanpassing om ’n meer ernstige rol te vertolk?

Ek het drama geswot by die Universiteit van Kaapstad, so ek is gewoond aan meer ernstige rolle wanneer ek toneelspeel. By dramaskool het mense eintlik nogals neergekyk op stand-up en daarom het ek my acting en my komedie redelik apart probeer hou. Johan Niemand (Kanarie) was beslis ’n uitdagende rol, maar so ook enige rol. Ek dink mense is dikwels onder die indruk dat ’n "ernstige" rol meer uitdagend is as ’n rol in ’n komediereeks byvoorbeeld. Of dit nou drama of komedie is, jy moet ’n karakter op ’n geloofwaardige manier aan ’n gehoor oordra, en dit is altyd ’n uitdaging.

Waarom het jy besluit om die rol van Johan Niemand te vertolk, en hoe het jy voorberei vir die rol?

Die besluit om die rol te vertolk dink ek sou ’n baie maklike besluit vir enige akteur wees. Charl-Johan Lingenfelder (die ware Kanarie oor wie die film gaan) se storie is so mooi en ongelooflik. Ek het voorberei deur baie met hom te gesels en tyd saam met hom te spandeer. Dan was daar ook natuurlik die gewigverloorelement. Ek het nou nie heeltemal soos Matthew McConaughey in Dallas Buyers Club geword nie, maar ek moes tog ’n gehoor laat glo dat ek ’n 18-jarige outjie in die army is.

Dink jy die storie van Johan Niemand was ’n storie wat nodig was om vertel te word?

Dis ’n moeilike vraag. Daar is baie stories wat nodig is om vertel te word en een mens se storie is nie noodwendig meer werd of belangriker as iemand anders s’n nie. Ek sou wel sê dat dit ’n belangrike storie is wat vertel móét word.

Hoe was dit vir jou om saam met Christiaan Olwagen te werk?

Ongelooflik. Christiaan is nou maar net een van daai mense wat net een keer elke 100 jaar gebore word. Hy is slim, kreatief en baie passievol. Ek dink dis enige akteur se droom om saam met hom te werk en ek hoop beslis dat ek nog baie daardie geleentheid sal kry.

Schalk, dink jy rolprente soos Kanarie, wat kommentaar lewer oor sekere kwessies aan die orde van die dag, daag mense uit om anders te kyk na die samelewing en hul siening te verander?

Dit daag definitief mense uit, ja, maar weereens dink ek dit gaan meer oor die storie en die feit dat dit ’n belangrike storie is om te vertel. Ek kan dalk verkeerd wees, maar ek dink nie dat die doel van die film is om elke verregse oom en tannie se siening te verander nie. Indien dit miskien maak dat iemand nou anders na dinge kyk en minder diskrimineer, is dit ’n bonus.

Wat is jou mening oor die huidinge stand van die plaaslike rolprentbedryf? Dink jy die plaaslike bedryf is in die regte rigting op pad?

Ek dink die plaaslike rolprentbedryf is op ’n baie goeie plek. Verby is die dae van "dit was goed... vir ’n Suid Afrikaanse fliek."

Schalk, wat hou die toekoms vir jou in, het jy enige projekte in die pyplyn?

Wie weet wat die toekoms inhou? Haha. Ons het pas die derde seisoen van Hotel geskiet en volgende jaar sal ons nog ’n seisoen van Die ware naarheid doen. Behalwe daarvoor begin ek meer en meer stand-up doen oorsee. En dan natuurlik hopelik nog baie meer rolle wat belangrike stories vertel.

***

Schalk Bezuidenhout het drama studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Sedertdien het hy bekendheid verwerf as ’n komediant. Hy het al twee “Comic’s Choice” toekennings ontvang en ook een van Trevor Noah se gereelde openingskunstenaars geword.

Christiaan Olwagen behartig die regie van die rolprent, en akteurs te sien in die rolprent sluit in: Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gerard Rudolf, Jacques Bessenger, Ludwig Binge, Francois Jacobs, De Klerk Oelofse, David Viviers en Anrico Goosen.

Kanarie is vanaf 19 Oktober in plaaslike rolprentteaters te sien.

Besoek Kanarie se webtuiste by www.kanariefilm.com vir meer inligting; of besoek hulle Facebook-blad, @KanarieFilm; Instagram, @KanarieFilm; en Twitter, @marche_media.

  • Foto's: verskaf

Lees ook:

Kanarie maak Suid-Afrikaanse debuut by Silwerskermfees

Kanarie ’n uitdagende grensverskuiwing: ’n filmresensie

kykNET Silwerskermfees 2018: Hoogtepunte en indrukke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top