kykNET Silwerskermfees 2018: Hoogtepunte en indrukke

  • 0

Die 8ste kykNET Silwerskermfees het van 22 tot 25 Augustus in die Bay Hotel in Kampsbaai plaasgevind. Die springmielies was volop, die sonsondergange uniek aan Kaapstad en daar was hope talent. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf is opwindend, want daar is soveel jong en verfrissende stemme wat op die voorgrond tree.

Uiteenlopende en goeie stories is vertel en hierdie stories gaan die Suid-Afrikaanse filmlandskap verryk. ’n Goeie storie is een wat jou roer; dit openbaar wêrelde waarvan jy nie geweet het nie en laat jou anders na dinge in die lewe kyk waarna jy dalk nog net op ’n sekere manier kon kyk. En dan moet ’n goeie storie ’n gesonde balans tussen spanning en verligting dra. Dit kan ook vir ’n wyle ’n bietjie ontvlugting bied, en ander kere weer sal die realiteit so hard deurslaan dat gehoorlede diep introspeksie doen. Ek is dankbaar vir ’n fees soos die kykNET Silwerskermfees, want amateur- en professionele filmmakers kry die geleentheid om werk op die silwerdoek te bring en van mekaar te leer.

’n Fliek waaruit ek ongelooflik baie geleer het, is Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenvelder se Kanarie. Die filmmakers kry dit reg om ’n sekere tydperk in ons land se geskiedenis op so ’n gepaste wyse vas te vang dat mense wat nie deur daardie tye geleef het, of vir wie die weermagstorie nie ’n realiteit is nie, steeds by die storie aanklank kan vind. Alhoewel die fliek in 1985 afspeel en sentreer rondom wit mans in die oorlog, spreek dit steeds tot ’n wye teikengehoor. Temas soos seksualiteit, individualiteit en patriotisme staan immers universeel. Met Olwagen se fyn hand as regisseur kry hy dit reg om ’n moeilike storie met oorgenoeg patos aan te pak.

Anton Tsjechof se The seagull is deur Olwagen en Saartjie Botha verwerk tot ’n Afrikaanse film genaamd Die seemeeu. Ek is in die baie gelukkige en bevoorregte posisie dat ek in 2015 die geleentheid gehad het om Die seemeeu ook as ’n teaterstuk te kon sien. Olwagen het toe ook die verwerking en regie behartig, en hy het dieselfde geselskap wat in die teaterproduksie was, vir die fliek behou. En die eindresultaat is ’n goedafgeronde fliek met akteurs wat werklik hul karakters verstaan. Met enige teaterproduksie kan die regisseur nie altyd bepaal waar die gehoor moet kyk en waarop hulle moet fokus nie. Met ’n fliek, daarenteen, veral in die geval van Die seemeeu, vestig die regisseur jou aandag op plekke en besonderhede wat hy glo en voel jy na moet oplet. Olwagen het ’n interessante manier waarop hy sy tonele skiet sodat jy as kyker die geleentheid kry om met elke skoot saam met die karakter op ’n tog te gaan wat na ’n uiteindelike ontknoping lei. Ek wil nie te veel verklap nie, maar Die seemeeu is ’n stuk kuns.

Ellen vertel die ware verhaal van ’n jongman wie se ma, Ellen Pakkies, hom noodgedwonge doodgemaak het omdat hy verslaaf was aan dwelms en groot skade aan sy huisgesin se lewens berokken het. Hierdie is een van daardie stories waaroor ’n mens nie dadelik kan praat na die tyd nie, want dit is so hartverskeurend, rou en uitdagend. En dit is ’n ongelooflik belangrike storie waarna elke skolier in ons land moet kyk, want dit wys spesifieke omstandighede waaruit elke persoon, ongeag ras, kan leer.

Cowboy Dan is een van die kortfilms wat uitgestaan het. Die storie handel oor ’n karwag en sy regterhand wat glo die karwag is ’n cowboy. Brendan Daniels het ’n toekenning vir sy spel as die karwag ontvang. Die fliek is snaaks en skerp, en die spel is ’n goeie balans tussen realisties en heeltemal oordrewe.

Kykers het baie om na uit te sien. Die kykNET Silwerskermfees bied geleentheid vir fliekmakers om te waag en hulself uit te daag, en sodoende bied dit ook aan gehore die geleentheid om te leer en hulle in plaaslike talent te verlekker.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top