Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie is aan die einde van verlede jaar / die begin van vanjaar vir die tweede keer aangebied om almal in Media24 kans te gee om hul kreatiewe skryfspiere te oefen. Hier is die agtergrond van die kompetisie.
LitNet publiseer oor die volgende paar weke die wenners in elke kategorie se wenverhaal.
Hier verskyn die wenverhaal in Kategorie 5 (’n Humoristiese verhaal).
Die wenner was Aletta Pretorius, subredakteur by Media24 Leefstyl, met haar verhaal "15 jedi’s en dood in Dunoon – ’n kinderpartytjie".
15 jedi’s en dood in Dunoon – ’n kinderpartytjie
(Agtergrond: Eddie is die kind; André is die pa van Eddie; Veronica is die babawagter/huishoudster; Oumie en Oupie is my ma en pa.)
Die naweek voor Eddie se sewende verjaardag kuier ons by vriende en hulle herinner ons aan hulle kind, Eddie, se een groot tjommie se paartie oor twee weke. En daar slaat die “Ek is ’n slegte ma”-sindroom my weer. Want Eddie het nog nie ’n paartie by ons huis gehad nie. Ek lig net daar vir André in: Al eet ons nou nie juis die volgende paar maande nie, ons hou volgende Saterdag paartie.
Ek WhatsApp die vriendekring, dinkende (hopende) die kort kennisgewing sal die bywoningsyfer laag hou. Pfft! Die RSVP’s stroom in – almal kom.
Oukei, ek lig vir Eddie in oor die feestelikheid en hy moet ’n tema kies. Aangesien hy daai tyd konstant ’n Indiana Jones-besigheid op die Xbox gespeel het, is dit die onmiddellike antwoord. Ek tune hom ek dink nie so baie kinders ken vir Indiana Jones nie – wat van Star Wars? Verjaardagman sê daai sal ook werk.
Mamma Pinterest deur die nag en teen die Sondag is my planne reg. Die Maandagaand begin ek tot ’n Death Star-piñata maak (Eddie wou nog altyd ’n piñata gehad het – dankie, Amerikaanse tiewie). André moes ’n groot ballon loop soek en vir drie aande beplak ek dié met gom-en-water-bedruipte koerantpapier, wat dan moet droog word. Deurlopend betwyfel André my skepping.
Donderdagaand kry die Death Star sy eerste laag verf en Vrydag (ek het tot verlof gevat vir al die voorbereidings! #suburbia much?!) word die details opgeverf soos op die Pinterest-prentjies. Enigste probleempie – volgens almal se aanwysings bars jy die ballon wanneer die skepping droog is, haal die ballon uit en dan gooi jy dit vol swiets. Maar nee, my ballon klou. In fact, die besigheid is só doeltreffend (vat so, Twyfelagtige Pappa) dat ek begin dink waar ek ’n kettingsaag op kort kennisgewing gehuur gaan kry, want dis al hoe Eddie dié ding gaan oopkry.
Tussendeur lê die hele studeerkamer vol Jodas, Darth Vaders en al wat Star Wars-karakter is in allerhande formate – op plakkate, op ballonne, aan toutjies, op pakkies tjips en bottels koeldrank geplak.
Vrydag daag Oumie en Oupie op. En Veronica bly ook die Vrydagaand, want sy kan nie “haar prinsie” se paartie mis nie.
Teen vroegaand rol ek soos Tom Cruise in Mission impossible onder die trampolien rond om met ’n string tou ’n laserhindernisbaan te prakseer. (Teen slaaptyd moes ek ’n Myprodol of drie drink, want toe kon ek nie regop loop nie. #bejaardemoeder #onfiks)
(Net gou ’n beskrywing van die erfuitleg – dit raak later belangrik. Ons bly op ’n hoek – aan die een kant is ’n voetgangerhek en aan die ander kant is ’n motorhek. Die motorhek het die stadigste motor in menseheugenis – slim pelle wat kom kuier, laat weet al as hulle ’n paar blokke weg is dat ek solank die hek kan oopmaak.)
Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere. Dis ’n uur en ’n half voor die 15 jedi’s én die meeste se ouers gaan opdaag. Ek is buite en probeer die tafel onder die boom feestelik maak, terwyl Orkaan Hilda oftewel die Kaapse Sedoos woed.
Die volgende oomblik is daar ’n moerse slag aan die voorhek se kant en dit lyk asof ons hele muur gaan omval.
Ek is eerste op die toneel. Die hek staan windskeef, daar sit ’n bakkie met sy agterkant binne-in die muur en vier dudes staan grootoog rond. Ek vra iets in die lyn van “Waddef*k het julle aangevang?!”
Toe daag die res van die gesin op. Oupie is soos gewoonlik kalm, terwyl Oumie en Veronica in verskillende stadiums van beroertes is. André is woedend. Sy gevangenisdienswoordeskat kom uit en hy skel die manne dat die kranse antwoord gee. Die kabaal is so luid dat al die bure in hulle pajamas saamdrom en video’s neem. Lekker kommin, man!
Veronica is oor haar skok en begin ook skel. Tussendeur kom ek, aka Baasspeurder Faber, agter die kap van die byl. Die bakkiemanne is subkontrakteurs van subkontrakteurs van die bouer by die langsaanse bure. Die bakkie wou glo nie staart nie en hulle probeer hom toe aan die brand stoot – agteruit! Dit terwyl daar ’n lang, oop straat vir dié move is.
Terwyl André en Veronica voortskel, probeer die skuldiges die bakkie wegstoot, maar niemand ken van “1, 2, 3, stoooot” nie en met elke probeerslag druk die bakkie die muur nóg skewer. Ná die derde keer maak ek my stem dik en verduidelik ferm die beginsel van tel en saamwerk, want anders gaan hulle nou regtig ons muur laat omval. Tjoef-tjaf, bakkie uit die muur uit.
Die muur val darem nie inmekaar soos wat ek gevrees het sou gebeur nie, en die skade kan toe behoorlik bekyk word. Erger as wat dit gelyk het, wat tot verdere beroertes en geskel lei.
Die liewe oorkantste bure kom vra hoe hulle kan help. Ek vra of buurvrou dalk die jedi’s se springmielies kan pop, want my tyd raak nou min.
Intussen is Oupie binne toe en Oumie sê elke twee minute vir my: “Jy moet iets doen – André gaan ’n hartaanval kry.” Ek stap binne toe, kry ’n sigaret, wys dit vir Oupie en sê: “Ek het dit nou nodig.” (Dit was nog midde my jaar van weer permanent skelm rook – uit respekte nie voor die oues nie, sien.) Met Oumie wat al agter my aanloop met die hartaanvalteorie, rook ek net daar à la ant Stienie op die sypaadjie, want Calm-Is-A-Superpower Mamma kan ook net sóveel k*k op een Saterdagoggend vat.
Klaar gerook vra ek vir Calm-Is-A-Superpower Oupie (vaartjie na haar aardjie) om ’n ogie oor André te gaan hou. “Moenie hom probeer kalmeer nie, maar as dit lyk of hy een van hulle gaan dôner, keer asseblief, want ek het regtig nie nou nog tyd vir ’n aanrandingsaak ook nie.”
Intussen sit Eddie met groot oë in die huis en vra of Pappa oukei is. Ek troos verskeie kere dat hy glad nie bekommerd hoef te wees nie – Pappa is net baie kwaad vir die ooms wat in die muur vasgery het.
Halfuur later en effense kalmte begin neerdaal. Langsaanse buurman het genadiglik kom sê hy sal dinge help uitsorteer, moenie worry nie. Ek steek almal in die werk om hulle uit my en mekaar se hare te kry en vra Veronica vriendelik dog ferm om te gaan tee maak, want haar skellery buite stook net vir André aan.
Ek begin net weer die Star Wars-tafel in Orkaan Hilda probeer konstrueer toe Veronica aangehol kom (ek dag sy is binne konstruktief besig): “Daar gat hulle!”
André storm buitentoe en sien die bakkiemanne in ’n taxiagtige bussie spring. Hy hol letterlik uit sy plakkies uit (ek dog dit gebeur net in tekenprentjies) na die kar toe. Ry uit ongeduld byna-byna die stadige motorhek uit sy spore en jaag met skreeuende bande weg.
En daar is almal weer van vooraf op die randjie van ineenstortings. Oumie: “Hulle gaan hom nou in Dunoon vermoor!”
Ek: “Wel, daar is nou niks wat ons daaraan kan doen nie. Ons weet nie waantoe hy gejaag het nie en die jedi’s is al amper hier.”
Baasspeurder Faber gaan buiten toe en daar staan een verskrikte bakkieman. Ek Bennie Griessel hom so ’n bietjie en dit kom toe uit die eintlike bestuurder (nie die een wat aanvanklik kamtig agter die stuur was nie) het nie ’n lisensie nie én is nie ’n wettige landsburger nie. Daarom die weghollery.
Skaars 10 minute later is André en die voortvlugtiges terug. Hy het toevallig by die T-aansluiting met Koebergweg hulle bussie verder af in die pad gesien en soos in die Wille Weste gejaag, in die middel van die pad dwars voor die bussie gestop en die manne in die kar gelaai. Nugter weet wat hy vir hulle gesê het om daai vlak van samewerking te kry …
Dis nie vyf minute later nie, hier hol Veronica weer in: “Daar gat hulle weer!”
Herhaling van hardloop-uit-plakkies-uit en ry-hek-amper-uit-sy-skarniere, asook die gepaardgaande “dood in Dunoon”-voorspelling.
Dié slag is die voortvlugtiges gelukkig te voet en word sommer by die volgende blok vasgetrek. Weer klim hulle in die kar en kom saam terug. Weer wonder ek wat sê André vir hulle dat hulle só mooi saamwerk.
Calm-Is-A-Superpower Ekke besluit genoeg is nou wragtag genoeg. Ek stap buitentoe en tune die flight risks: “Stop running away! Nothing is going to happen to you, we just need your boss’s contact number so that you can fix our wall. Please just stop running away!” Wat toe darem werk.
Intussen het die afgespreekte tyd aangebreek dat die eetgoed wat by Shoprite bestel is, gaan haal moet word. Oumie sê Oupie moet gaan. Ek sê norref*k, dan verdwaal hy ook nog. So moet André toe vinnig van kroeks-jaag-rat verwissel na voorstedelike-ouer-rat en Shoprite toe ry. Dié keer darem met sy plakkies aan.
En hy was skaars terug toe kom die eerste jedi’s aan.
Soos Oupie met die terugkomslag gesê het ná ’n erg amateuragtige voorskoolkonsert van Eddie tydens ’n hittegolf én beurtkrag in ’n baie warm kerksaal: “En dan vra hulle nog hoekom drink ’n mens?!”
Lees ook:
’n Onderhoud met Aletta Pretorius, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
’n Onderhoud met Michael Green, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
"Oupa Joe" deur Michael Green, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
’n Onderhoud met Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
’n Onderhoud met Johanna van Eeden, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie