’n Onderhoud met Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 0

Foto van Murray La Vita: verskaf

In die komende weke publiseer LitNet ’n aantal kortverhale. Hier is die agtergrond.

Hier verskyn ’n kortverhaal deur een van die kategoriewenners, Murray La Vita.

"Voor die huis was ’n appelkoosboom" deur Murray la Vita: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

Murray praat hier onder met Naomi Meyer oor sy verhaal:

Murray, jy is die kategoriewenner van afdeling 3 (’n Beskrywing) van die Om te skryf-boek se Netwerk24-kortverhaalkompetisie.

Jou beskrywing is ’n treffende skets uit jou kinderdae. Mens sien en beleef die omgewing saam met jou. Triomf, nogal. Mens leer ken jou familie aan die maniere waarop jy hulle en hul gedrag beskryf. Is dit outobiografies? Word enigiets outobiografies uit die karakter se oogpunt as mens dit neerskryf (jy is dan nou in die karakter se vel)? Is dit fiksie uit die skrywer se oogpunt as dit neergeskryf word?

Dankie, Naomi. Ja, die skets is outobiografies van aard, maar nie volledig outobiografies nie. Soos wat ek daaraan geskryf het, het ek ook sekere assosiasies of insigte wat deur my herinneringe geaktiveer is, ingeweef.

..........
Ja, die skets is outobiografies van aard, maar nie volledig outobiografies nie. Soos wat ek daaraan geskryf het, het ek ook sekere assosiasies of insigte wat deur my herinneringe geaktiveer is, ingeweef.
............

Ek vind jou ander vrae uiters prikkelend, maar het nog nie antwoorde daarop nie.

Begin alles by mens se kinderjare? Is daar ooit ’n ander vertrekpunt, vir enigeen? Waarom het jy vir hierdie afdeling ingeskryf en waarom het jy op hierdie beskrywing besluit? 

Ek dink nie alles begin by mens se kinderjare nie. Of misgis ek my? Die mens en skrywer wat jy word, is dalk noodgedwonge beïnvloed deur dit wat jy in jou vroeë lewe beleef het, al is dit onbewustelik.

............
Die mens en skrywer wat jy word, is dalk noodgedwonge beïnvloed deur dit wat jy in jou vroeë lewe beleef het, al is dit onbewustelik.
..............

Daardie ou swart vrou (al prewelend en moontlik psigoties weens die verlies en verdriet wat sy beleef het) wat op en af loop in die straat en voor die huis in Triomf waar ek ’n aantal jare as kind gewoon het, is my hele lewe lank nog in my gedagtes – so sterk dat ek rondom háár daardie wêreld en tyd wou laat verrys.

Om te skryf wys op hoe belangrik dít is: Om te skryf beteken om te lees. Watter voorbeelde verskaf die boek en wie was die skrywers daarvan? Het enigiets wat jy gelees het, jou gehelp – of het jy oplaas net jou eie stem en jou eie hart gevolg?

Die voorbeelde wat in Om te skryf verskaf word vir die kategorie waarvoor ek ingeskryf het, sluit in werk van mense soos VS Naipaul, Henry Thoreau, Jan Rabie, Chris Barnard en Etienne Leroux.

...........
Ek is ’n groot en gulsige leser, maar ek het in hierdie geval net my eie "stem en hart" gevolg. Dis asof ek my oë toegeknyp het en net geskryf het, terwyl ek nie tot skryf sou gekom het indien ek eers voorbeelde, soos die deel uit Sewe dae by die Silbersteins, gaan lees het nie; dit sou my verlam het.
...............

Ek is ’n groot en gulsige leser, maar ek het in hierdie geval net my eie "stem en hart" gevolg. Dis asof ek my oë toegeknyp het en net geskryf het, terwyl ek nie tot skryf sou gekom het indien ek eers voorbeelde, soos die deel uit Sewe dae by die Silbersteins, gaan lees het nie; dit sou my verlam het.

Lees ook:

"By die dood van Arthur Hollier" deur Johanna van Eeden: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Johanna van Eeden, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top