“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 3

Om te skryf: Van Schaik; Netwerk24-logo: https://www.netwerk24.com/

Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie is aan die einde van verlede jaar / die begin van vanjaar vir die tweede keer aangebied om almal in Media24 kans te gee om hul kreatiewe skryfspiere te oefen. Hier is die agtergrond van die kompetisie.

Agtergrond: Netwerk24 se Om te skryf-kompetisiewenners op LitNet

LitNet publiseer oor die volgende paar weke die wenners in elke kategorie se wenverhaal.

Hier verskyn die wenverhaal in Kategorie 1 (Skryf oor jouself).

Die wenner was Willemien Brümmer, spesialisjoernalis by Netwerk24, met haar verhaal "Huweliksherdenking". 


Huweliksherdenking

Vir hul tiende huweliksherdenking het sy vir die heel eerste keer niks vir haar man gekoop nie.

Langs die bos geel krisante op die stoeptafel is ’n beskuldigende pakkie met ’n miniatuurkaartjie. Die tafel is gedek met kristalglase vir die bottel chenin blanc in die hoek en heldergroen borde vir die wegneemsoesji.

Haar stem voel swaar, soos alles anders. “Ek het nie geweet jy gaan …”

“Maar ons gee elke jaar vir mekaar iets.”

Sy kan sien hy moet veg teen die verwyt.

Hy sit langs hul agtjarige seuntjie, wat sy visvingers en tjips lusteloos rondstoot op sy plastiekbord – ’n bende van twee met sy eie kodes wat oor die afgelope jaar vir haar ’n vreemde taal geword het.

Sy was die stil spook wat ronddool in die nag terwyl hulle in die kinderkamer lê en snork. Sy was die ma wat verdwaal het op pad skool toe.

“Vanjaar was nie elke jaar nie.”

Dit was die jaar toe sy ’n weeskind geword het. Oor die Paasnaweek het sy en haar drie broers die eenvoudige houtkissies met haar ouers se as aan die ver kant van die plaasdam op die familieplaas in die Klein Karoo begrawe. Dié nag toe sy alleen in haar bed lê, hoor sy die reën wat uitsak oor die plaasdak en dié frase uit Hamlet word ’n oorwurm in haar kop: “We must be patient, but I cannot choose but weep, to think they should lay him i’th’ cold ground.”

Sy is Ophelia, vergiftig deur verdriet. Sy dryf in ’n watergraf van verlies.

Sy weet hoe die dood lyk, sy weet hoe dit ruik. Sy ken die leegte wat oorbly wanneer die begrafnisondernemers met hul draagbaar by ’n skemer slaapkamer ingeloop het.

Sy besef haar seuntjie weet sy sleep die dood met haar saam.  

Asof hy haar gedagtes kan lees, woerts Liam om die tafel en kom klim op haar skoot. Sy voel die klein handjie wat haar boarm knyp en die blonde koppie wat perfek pas tussen haar ken en sleutelbeen.

Sy reik met haar regterhand om sy warm lyfie tot by die nigiri op haar bord.  “Liam, Mamma kan nie eet as jy hier sit nie. En wat van jou visvingers?”

Sy tel hom onder sy kieliebakkies op en plof hom langsaan haar neer. Dié kind wat deel sal wees van hul huweliksherdenking tot in lengte van dae. Hy was daar in die netjiese boep onder haar trourok: ’n shotgun-troue onder ’n koeëlronde maan. Sedertdien was hy daar, of dit by ’n restaurant of by die stoeptafel of in die slagveld van ’n swanger stilte was.

“Ek is versadig,” sê Liam en gee sy visvingers een vuil kyk. “Dis in elk geval veronderstel om movie night te wees vanaand.”

Dis sy neulstem: “Hóékom kan ons nie vanaand movie night hê nie?”

Haar stem is dun, kil. “Want dis vanaand my en Pappa se tiende huweliksherdenking. Kan ons dalk net almal probeer saam eet?”

Etenstye het uithouwedrenne geword. Een van hulle blaas gewoonlik die aftog en die ander een was skottelgoed of maak skoolbroodjies terwyl Liam 1 001 redes uitdink hoekom hy nie hoef te eet nie. Hy is ’n fynproewer van die eetstaking. Hy het die kuns van fiemies vervolmaak.

“Maar dis nie vir my lekker as julle huweliksherdenking vier nie. Dis boring!”

“Al die geweld in die flieks wat jy en Pappa kyk, is érger as vervelig,” hap sy. “Dis dekadent!”

Sy sien die rooi vlek wat opstyg van haar man se nek soos ’n skarlaken vlam, en vir ’n oomblik wens sy sy kon haar woorde terugkatrol.

Haar sielkundige het haar vertel van Pavlov se eksperimente met muise of rotte om uit te vind hoe gou hulle “transmarginale inhibisie” bereik – ’n soort sensoriese kortsluiting omdat ’n bepaalde drumpel oorgesteek is. “Jou liggaam het sy luike toegemaak,” het sy gesê. “Maar jou man en kind dans nog in die vlamme rond.”

’n Spiertjie spring in sy nek. “Liam, kom sit hier langs my en kom eet. Nóú.”

“Maar ek’s nie honger nie, Pappa.”

Sy handjie met daardie skerpioenvingertjies het weer uitgereik na haar boarm. Hy knyp.

“Eina, hou op! Sal jy nou net op jou plek gaan sit? En wat het van ons reël geword dat ons TV-tyd aftrek as jy weier om jou aandete te eet?”

Die salm op haar nigirirolletjie is draderig en gryspienk. Die rys wurg in haar keel.

Haar man sug.

“Liam, wat daarvan ek en jy gaan kyk iets op die groot TV?”

Die moerigheid is terug voordat sy dit kan keer. “Maar wat van hierdie?” Haar hand swiep oor die tafel. “Ek dag ons gaan iets drink en vir ’n slag net almal saam as ’n gesin op die stoep sit?”

Sy besef oombliklik hoe belaglik haar woorde was. Toe Liam aan die begin van die jaar ’n familiefoto moes skool toe neem, het hy twee foto’s ingepak – een van hom saam met sy pa en nog een van hom saam met sy ma. Hulle het aflosouers geword; ganggroeters.

“Dis nie asof jy …”

Sy stem is omsoom met jare se beskuldiging. Die klagstaat is lank.

Liam is terug op haar skoot asof hy ’n onsigbare skans tussen sy ouers wil oprig.

“Ek sal môre iets vir jou koop. Of ons kan Vrydagaand iewers gaan eet. Net ons twee.”

Haar kind se stem is ’n sirene binne-in haar regteroor. “Maar Vrydae-aande is movie night! Julle het belowe!”

Dis uit voordat sy dit kan keer, soos ’n geweerskoot wat deur haar seuntjie se lyf klief. ”As jy nie nóú op jou boude gaan sit nie, fok ek nóú hier weg.”

Dit voel asof iemand ’n knaldemper oor die skemeraand getrek het. Selfs die verkeer het opgehou zoem. Nie Liam of haar man sê ’n woord nie.

Liam deins weg en loop stadig na die oorkant van die tafel.

Sy sluk. “Ek’s jammer. Liam, ek is so jammer.”

Hoe het hulle tot hier gekom? Hul huweliksherdenkings het ’n begrafnis geword vir alles wat hulle verloor het. En dit terwyl sy eintlik die nuwe lewe wat sy pas verjaag het, moes vier.

Die koorsboom en die swembad en die sekelmaan en die groen borde begin swem voor haar, maar dan kom Liam met ’n uitklophou: “Vandat Ouma en Oupa dood is, is dit asof jy glad nie meer hier is nie, Mamma.”

 Sy kyk op. “Is dit hoe dit vir jou voel?”

 “Ek kan nie onthou wanneer jy die laaste keer met my gespeel het nie.”

Weg is die vloermoerstem. Hy praat met haar soos ’n grootmens.

Sy kyk hom in die oë, steek haar hand na hom toe uit oor die tafel. “Dankie dat jy dit vir my gesê het, Liam.”

Haar man staan op, loop om die tafel na die bottel chenin blanc langs die geskenk.

“Kan ek vir jou skink?”

Sy lees die naam op die bottel: Nievoorbij.

Sy knik.

Hy skink haar glas woordeloos vol, skuif die dun geskenkpakkie tot teenaan die voet van die kristalglas.

“Wil jy dit oopmaak?”

Sy voel hoe haar nek en wange warm word. “Moet ons nie maar wag totdat ek vir jou ook iets het nie? Ons kan seker weer probeer asof vanaand nooit gebeur het nie.”

Hy skud sy kop. “Dis net ietsie kleins.”

Sy streel met haar vingers om die plat, reghoekige vorm. Dis breekbaar, met ’n oppervlak van glas.  

“Is dit ’n skildery?”

“So op ’n manier.”

Sy skeur die groen papier af en soos deur ’n konyngat na ’n onmoontlike wêreld sien sy drie mense: ’n man, ’n vrou en ’n baba. Daar is iets onverstoorbaar aan die drie-eenheid; asof hulle onberoerd is deur dit wat op hulle wag. Die vrou het donker spore onder haar oë van min slaap en die man hou sy hande beskermend om albei van hulle.

Die kind se klein handjie is in die vrou se blonde hare verstrengel.

“Lees die kaartjie,” sê haar man.

Sy tel dit op en lees net een woord in sy netjiese blokkiesletters: “Ons”.

 

* Hierdie kortverhaal is fiktief.

Lees ook:

Agtergrond: Netwerk24 se Om te skryf-kompetisiewenners op LitNet

’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 3

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Ek gaan akkoord. 'n Verhaal vol sub-teks. Soos Carson McCullers se klassieke verhaal "A domestic dilemma".
    Die komplekse gegewe oor ouerskap en kinders. En hoe dit intieme verhoudings versteur en verander.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top