Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie is aan die einde van verlede jaar / die begin van vanjaar vir die tweede keer aangebied om almal in Media24 kans te gee om hul kreatiewe skryfspiere te oefen. Hier is die agtergrond van die kompetisie.
LitNet publiseer oor die volgende paar weke die wenners in elke kategorie se wenverhaal.
Hier verskyn die wenverhaal in Kategorie 4 (’n Vertelling).
Die wenner was Johanna van Eeden, die Stemme-redakteur van Netwerk24 en Media24 se Afrikaanse dagblaaie, met haar verhaal "By die dood van Arthur Hollier".
By die dood van Arthur Hollier
Ek kan nie die presiese dag en datum onthou waarop Arthur Hollier gesterf het nie. Maar dit moes in die somer gewees het, want niemand laat tog ’n grassnyer in die middel van die winter regmaak nie, al sê die tuinwenke in tydskrifte ook wat.
Dit kon nie in die somer van 1994 gewees het nie, want ek het daardie deurmekaar jaar in November, net enkele dae na my laaste eksamen op universiteit, by die plaaslike koerant in Pretoria begin werk en die nuusredakteur sou beslis nie so ’n groentjie gestuur het om aan die deur van wyle Arthur Hollier se ouerhuis te gaan klop nie.
Dalk was dit in die somer van 1995 gewees, want teen daardie tyd het ek my werk as skoleverslaggewer al goed onder die knie gehad. En as ek terugdink, was dit vermoedelik ’n Woensdag, want die weekblad het op Donderdae verskyn en met die skoleblaaie vroegweek reeds afgehandel, sou ek waarskynlik daardie oggend skoorvoetend by die nuusredakteur gaan vra het vir nog iets om te doen.
Arthur Hollier is dood lank voor 4 Februarie 2004 toe Mark Zuckerberg, Eduardo Saverin, Andrew McCollum, Dustin Moskovitz en Chis Hughes Facebook in Kirkland House, ’n Harvard-koshuis in Cambridge, Massachusetts, begin het. Ek kon eintlik net Zuckerberg se naam onthou en moes die res gaan google.
.............
Arthur Hollier is dood lank voor 4 Februarie 2004 toe Mark Zuckerberg, Eduardo Saverin, Andrew McCollum, Dustin Moskovitz en Chis Hughes Facebook in Kirkland House, ’n Harvard-koshuis in Cambridge, Massachusetts, begin het. Ek kon eintlik net Zuckerberg se naam onthou en moes die res gaan google.
..................
Elke paar jaar google ek Arthur Hollier se naam, maar sonder enige sukses.
Daardie jare – was dit 1995 of 1996? – het die polisiewoordvoerders in Pretoria nog twee, drie keer ’n dag die koerantkantore gebel met interessante nuusbrokkies. Dis hoe die krapperige handgeskrewe adres van Arthur Hollier se ouerhuis op ’n stukkie papier beland het wat die nuusredakteur oorhaastig uit ’n notaboek geskeur het. Dié het hy in my hand gestop en vermaan: “Vat al die foto’s wat jy kan kry.” Want dis hoe dit daardie jare gewerk het. Jy gesels met die naasbestaandes, kry die storie en vat dan die hele fotoalbum en elke kosbare, geraamde foto’tjie wat die mense van hul geliefde mag hê saam met jou, sodat Huisgenoot of Rapport of enige ander publikasie se verslaggewer wat na jou opdaag, droogbek daar moet wegry. Die foto’s gaan gee jy later terug, na publikasie. Deesdae trek verslaggewers die oorledene se foto’s sommerso van Facebook af, saam met vriende en familie se woorde van hartseer, skok en ongeloof.
Die adres was in ’n deel van Pretoria wat ek goed geken het – amper presies halfpad tussen my ouerhuis en die hoërskool waar ek enkele jare vantevore gematrikuleer het. Ek sou soontoe ry sonder om regtig te dink.
Links uit in Ketjenstraat, regs in Soutter verby Pretoria se skougronde, links af in DF Malanrylaan, verby Vom Hagenstraat en die glybaan na Van der Hoffweg, al die pad verby die sementfabriek op linkerkant, links in Mootstraat, af in die pad met sy verminkte motorwrakke opgehoop by duikkloppers en skrootwerwe aan weerskante en dan, iewers vóór Hendriksstraat, regs in die rigting van ou Sinovich se lande. “Ou Sinovich se lande” is wat ons as kinders die groenteboerdery in die Moot genoem het wat metterjare ingekrimp het namate nuwe paaie en ontwikkelings dit stadigaan uit alle rigtings begin doodwurg het.
Ek kan nie meer die presiese adres van Arthur Hollier se ouerhuis onthou nie, maar daar was groot koeltebome oorkant die straat, reg langs ou Sinovich se lande. Was dit Hermanstraat? Of Frieda? Dit was ’n doodgewone huis met ’n doodgewone draadheining en ’n outydse tuinhekkie, niks van die forte van doringdraad, baksteen en sement waarin mense hulle deesdae moet toemessel nie. Ek het my rooi Citi Golf in die koelte parkeer en die rympie wat ek al in Ketjenstraat begin oefen het, vir oulaas hardop getoets: “Goeiemôre, ek is baie jammer dat ons mekaar onder hierdie omstandighede ontmoet, maar ek is hier in verband met die dood van u seun, Arthur Hollier.”
Arthur se ma het die deur oopgemaak. ’n Fyn gryskopvroutjie wat die traliehek tussen ons met ’n verrimpelde linkerhand vasgehou het terwyl ek my rympie opgesê het. Terwyl die naam nog in die lug gehang het, het haar hand in stadige aksie teen die tralies tussen ons begin afgly, haar trouring se blink wat in die son verskiet. Dis eers toe die vrou naderhand plat op die grond sit dat haar sagte woorde by my registreer: “Not again. Not again.”
In die volgende paar minute het ek Arthur Hollier se ma oorreed om die veiligheidshek vir my oop te sluit. Ek het haar opgehelp tot op ’n rusbank in die sitkamer. Arthur se pa het neffens haar op ’n gemakstoel gesit. Die vrou het gevra vir ’n glas water en my kombuis toe beduie. Ek het louwarm water uit ’n kraan by die wasbak getap en kan my verbeel dat daar patroontjies met oranje en geel blommetjies op die glas was. Arthur se ma het iets gesê van hartpille, ’n wit tabletjie uit ’n boksie op die tafeltjie langs die gemakstoel geskud, en dit saam met die glas water vir Arthur se pa gegee om te drink. Toe vra sy my om die priester te bel.
Ek het daar in stilte by Arthur se ma en pa bly sit tot die jong priester in sy swart kleed opgedaag het. En toe loop ek oor die straat, klim in my kar en ry terug werk toe. Links in Mootstraat tot in DF Malanrylaan, regs, en dan weer regs in Mitchellstraat se eenrigtingverkeer en weer regs in Ketjenstraat.
“Ek was daar voor die polisie by hulle kom uitkom. Die mense het nie geweet hulle kind is dood nie,” het ek by die nuusredakteur gaan terugrapporteer.
“Waar’s die foto’s?” wou hy weet.
Jy kon my met ’n veer omtik. Skaars tien minute later was ek weer in Ketjenstraat. Op in Soutterstraat se eenrigtingverkeer, links in DF Malan, links in Mootstaat. Met die duikkloppers en skrootwerwe weerskante van my het ek skielik gewonder waar Arthur se bakkie is. Die een waarin hy vroegoggend geklim het met die stukkende grassnyer agterop. By die kruising van Bremer- en Markstraat het ’n polisievangwa sonder sirene volspoed oor die straat gejaag en Arthur Hollier se bakkie presies op die bestuurder se deur getref. Volgens die polisiewoordvoerder is hy op slag dood.
Soos die kraai vlieg het Arthur omtrent tien blokke van sy ouerhuis gesterf. Dieselfde huis waar ek daardie oggend toe vir ’n tweede keer stilhou.
Dié keer het die priester die deur oopgemaak. En toe ek so tussen die tralies deur sê ek is jammer, maar ek sal graag met Arthur se ouers oor hom wil praat, het hy die deur woordeloos en saggies in my gesig toegedruk. Ek het die tuinhekkie agter my toegemaak, in my kar geklim en weer werk toe gery. Iewers tussen Moot en Ketjen het skrik en frustrasie my laat huil.
Skrik, want dit was die eerste keer in my lewe dat ek gaan aanklop het by die huis van vreemde mense om oor die dood van ’n geliefde te praat.
............
Skrik, want dit was die eerste keer in my lewe dat ek gaan aanklop het by die huis van vreemde mense om oor die dood van ’n geliefde te praat.
.............
Frustrasie, want in DF Malan, met die varsproduktemark aan die een kant en die munisipale rioolwerke aan die ander kant, het ek besef ek het nog steeds nie ’n enkele foto van Arthur Hollier nie. Op in Mitchellstraat se eenrigtingverkeer het ek Arthur se ma se woorde onthou: “Not again. Not again.”
Terugskouend móés Arthur op ’n Woensdag gesterf het, want dit was kort voor spertyd toe ek uiteindelik vroegaand die beriggie in ’n stowwerige bundel in ’n staalkas in die koerant se oorvol biblioteek opgespoor het. Arthur se ouer broer en dié se vrou het jare vantevore op hul fietse op die Molotopad buite Pretoria gery – elk met een van hul kleuters veilig agter op die fietse op ’n kindersitplekkie vasgegespe. Die Putco-bus het van agter gekom. Volgens die polisiewoordvoerder is al vier gesinslede op slag dood.
Daar was die volgende dag in Beeld ’n kort beriggie oor die dood van Arthur Hollier, sonder enige foto’s. In ons koerant is verslag gedoen oor die verskriklike tragedie wat hierdie gesin getref het, met die vergeelde knipsel oor die gru-ongeluk waarin Arthur se broer-hulle jare vantevore gesterf het daarby.
Ek het in die jare daarna nog baie kere aan wildvreemde mense se deure gaan klop met dieselfde rympie byderhand wat ek daardie dag so presies geoefen het. Maar ek kan tot vandag toe nie een van daardie mense oor wie se lewe en dood ek gaan navraag doen het, se name onthou nie.
Net Arthur Hollier s’n weier om te verdwyn in die skerp Bermuda-driehoek van onthou, tussen Ketjenstraat, die kruising van Bremer en Mark en ou Sinovich se lande.
Lees ook:
’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie