"Voor die huis was ’n appelkoosboom" deur Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 0

Om te skryf: Van Schaik; Netwerk24-logo: https://www.netwerk24.com/

Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie is aan die einde van verlede jaar / die begin van vanjaar vir die tweede keer aangebied om almal in Media24 kans te gee om hul kreatiewe skryfspiere te oefen. Hier is die agtergrond van die kompetisie.

LitNet publiseer oor die volgende paar weke die wenners in elke kategorie se wenverhaal.

Hier verskyn die wenverhaal in Kategorie 3 (’n Beskrywing).

Die wenner was Murray La Vita, ’n bekroonde joernalis vir Netwerk24 en Die Burger wat veral bekend is om sy profiele en rubrieke, met sy verhaal "Voor die huis was ’n appelkoosboom". 


 Voor die huis was ’n appelkoosboom

............
Die paradys van my kinderdae was gebou op die smart en verlies van ander mense. Ek moes seker drie jaar oud gewees het toe ek saam met my ma en my ouma en oupa uit hul ou skakelhuis in Negende Laan, Mayfair, na die nuwe buurt Triomf getrek het waar ons een van die pas geboude drieslaapkamerhuise betrek het.
...............

Die paradys van my kinderdae was gebou op die smart en verlies van ander mense. Ek moes seker drie jaar oud gewees het toe ek saam met my ma en my ouma en oupa uit hul ou skakelhuis in Negende Laan, Mayfair, na die nuwe buurt Triomf getrek het waar ons een van die pas geboude drieslaapkamerhuise betrek het. Die reuse-appelkoosboom voor die huis (my handige oupa het ’n bankie om die stam gebou waar ’n foto van my en my nefie en niggie geneem is wat die drie apies naboots: hear no evil, see no evil, speak no evil) moes baie jare gelede geplant gewees het deur die eienaars wie se huis eens hier gestaan het. Hulle was die inwoners van Sophiatown en hul huis is saam met dié van die meeste ander in die buurt, platgeslaan (gesloop) om plek te maak vir die wit woonbuurt met die naam Triomf.

Daar was ’n lang, maer swart vrou met ’n doek om haar kop wat ek uit daardie tyd onthou. Sy het gereeld verby die huis in Tobystraat geloop. ’n Lae draadheining, wat deur ’n bedding rose (Gary Players, Maria Callasse) van die sypaadjie geskei was, het dit moontlik gemaak om verbygangers dop te hou. Al prewelend en met haar oë afgeslaan het sy daar verbygestap, soms meer as twee keer per dag. My ouma het gesê sy is mal en het een keer vir haar ’n stuk beskuit gegee. Het sy dalk vroeër hier gewoon? Is die appelkoosboom (wat so groot was dat dit meer na ’n eikeboom gelyk het en waarvan die vrugte besonder soet en sappig was) dalk deur haar ouers geplant? Aan haar het ek ná dekades weer gedink toe ek ’n jong swart man voor die Notre-Dame in Parys sien sit het wie se verlatenheid en ontheemding so enorm was dat dit vir my die katedraal verdwerg het.

Oorkant ons huis was ’n depot vir Putco-busse. Aan die een kant van die huis was die Impala-fabriek wat papier en skryfbehoeftes (leë “oefenboeke’’) vervaardig het. Groot rolle papier was uit ons werf sigbaar deur die prieel wat my oupa aangeplant het. Groot groen satynagtige wurms (waarop wat na kohl-omlynde oë gelyk het, te sien was) het tussen die blare rondbeweeg. Ek vermoed daar was ’n rotplaag weens die fabriek. My oupa het in die motorhuis (waarin naas gereedskap ook ’n opgestopte likkewaan was en wat na olie geruik het) ’n wip gestel wat onder meer uit ’n drom vol water bestaan het. Een verdrinkte rot het ek na my ouma se rotstuintjie vol vygies voor die huis geneem en daar aan stokke vasgemaak (gekruisig) en bo-op die klipheuweltjie geplant. Die rot het Christus geword.

Op die grasperk voor die huis het ek gelê en dink aan die jong  Androkeles en die leeu wie se verhaal my oupa aan my voorgelees het. Hy is wonderbaarlik (weens sy geloof?) nie verskeur nie. ’n Foto van my bestaan waar ek op daardie grasperk lê langs my swart wolfhond Hector. My arms is om sy nek. Hy lyk moeg en oud. Die hare op sy snoet en om sy bek is grys. Sy oë is geelbruin. Rondom die Pase het ons op die grasperk gesit en na die hemelruim opgekyk waar die sterk ligte van die Randse Paasskou deur die nag geswiep het.  Dit was toweragtig. Een Kersfees het ek ’n Swingball as geskenk ontvang en dit is op die grasperk staangemaak. Wat ek ook onthou, is benoude oomblikke toe ek op die grasperk in ’n kartondoos vasgesit het. Die klaustrofobie wat ek later in my lewe ontwikkel het, spruit straks daaruit.

Die sementpaadjie wat van die voorhekkie af na die huis gelei het, was aan albei kante begrens deur ’n bedding waarin my ouma blomme geplant het. Wat ek spesifiek onthou, is die diep-pers gesiggies. Hierdie blomme het sy by ’n swart man gekoop wat die plante (individueel in pakkies met bruinpapier-bedekte-grond verpak) met ’n fiets waarop ’n biesiemandjie was, na die huis gebring het. Ook vleis is deur so ’n bode met fiets en mandjie afgelewer. Nes die blomme was die vleis in bruinpapier gehul.

Teen die geel siersteenmuur van die huis (aan die kant waar my oupa sy liggroen Kombi onder die prieël geparkeer het) was ’n elegante, plat metaalstruktuur (in ’n soortgelyke skakering groen as die kombi) wat waarskynlik iets soos ’n kragboks was. ’n Blonde polisieman wat soms by my grootouers gekuier het en per geleentheid aan my oupa se kombi gewerk het, het sy rooi pakkie sigarette (Life) bo op die boks gesit. Ek het later gehoor hoe daar gefluister word hy het homself om die lewe gebring met ’n rewolwerskoot deur sy kop.

In die agtertuin het my oupa ’n boord (hoofsaaklik perskebome) aangeplant wat die heerlikste vrugte opgelewer het. Ek het soms daar saam met hom in die rooi grond gewerk en onthou ons het een keer ’n geroeste speelgoedkarretjie losgespit waaroor ek baie opgewonde was. By die agterdeur was ’n reusagtige bloekomboomstomp wat afkomstig was van ’n boom wat sekerlik minstens ’n honderd of meer jaar oud moes gewees het toe dit neergevel is. Daarop het my oupa spartelende kurpers en geelvisse (soms barbers) “skoongemaak”. ’n Dowwe geluid was hoorbaar wanneer hy sy vingers in hul rooi, rooi kieue gedruk en hul koppe afgeknak het.

Soms, op ’n Saterdagaand, was my ouma se suster en swaer op besoek en het my ondeunde ma en my tante vir hulle liedere van Die Briels gesing: “Die trein na Pretoria”, “Kom haal my pappie”, “Ek was ’n sondaar” en “Op ons Bosveldplaas”. My ouma en haar suster (Ant Annie, ’n suikersiektelyer) het dan gehuil.

Lees ook:

Netwerk24 se Om te skryf-kompetisiewenners op LitNet

“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

"By die dood van Arthur Hollier" deur Johanna van Eeden: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Johanna van Eeden, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top