
Foto van Johanna van Eeden: verskaf
In die komende weke publiseer LitNet ’n aantal kortverhale. Hier is die agtergrond.
Agtergrond: Netwerk24 se Om te skryf-kompetisiewenners op LitNet
Hier verskyn ’n kortverhaal deur een van die kategoriewenners, Johanna van Eeden.
Johanna praat hier onder met Naomi Meyer oor haar verhaal:
Johanna, jy is die kategoriewenner van afdeling 4 (’n Vertelling) van die Om te skryf-boek se Netwerk24-kortverhaalkompetisie.
Jou verhaal is beslis jou eie ervaring as jong joernalis. Om aan deure te gaan klop en doodstyding oor te dra in die jare voor sosiale media. Hoe gaan mens terug op jou spore as jy net jou geheue het om op staat te maak? (Die ander vraag is natuurlik: Is glimlaggende gesigte op Facebook dan nou werklik méér betroubaar as die geheue?)
In elke joernalis se loopbaan is daar seker maar ’n paar stories wat jou vir altyd sal bybly. Vir my was Arthur se verhaal so ’n storie – een wat jare gewag het om geskryf te word. Wat dit in dié geval maklik gemaak het om terug te loop op daardie dag se spore, is dat ek die grootste deel van die roete in die verhaal vir baie jare amper daagliks self gery het tussen (ouer)huis en werk. Vir die doeleindes van onthou het ek spesifieke beelde, soos die motorwrakke (wat ook saamhang met die manier waarop Arthur gesterf het), en reuke, soos van die rioolwerke en die biblioteek herroep. Dit het gehelp om die buitelyne van die storie in te kleur. Sosiale media het, soos jy sê, daardie tyd nog nie bestaan nie, maar ek dink nie hedendaagse foto’s (of inskrywings) op Facebook is meer of minder betroubaar as die geheue nie. Wat ’n mens onthou, bly subjektief, en wat mense op Facebook plaas, is ook maar net ’n skrefie van die werklikheid.
............
Wat ’n mens onthou, bly subjektief, en wat mense op Facebook plaas, is ook maar net ’n skrefie van die werklikheid.
............
Jou verhaal is gestroop. Dit voel of mens dit ook wil uitwys as ’n voorbeeld van hierdie afdeling waarvoor jy ingeskryf het. Jy lewer kommentaar op al die gesiglose en naamlose mense wat deur die jare gesterf het. Nie net omdat sosiale media op daardie stadium nog nie bestaan het nie (so asof sosiale media die werklikheid van iemand se bestaan intensiveer), maar ook omdat almal nie gelyke aandag kry as hulle sterf nie. Waarom het jy vir hierdie afdeling ingeskryf en waarom het jy op hierdie vertelling besluit? (Terloops, kon jy kies vir watter afdeling jy ingeskryf het?)
Ek het gekies om in hierdie afdeling in te skryf omdat Arthur se verhaal vir my die beste daar gepas het. Weens die sameloop van omstandighede op daardie spesifieke dag is Arthur s’n die een naam wat my al die jare bygebly het. Dit het gevoel of ek met die skryf van die verhaal finaal ’n punt kon sit aan die einde van ’n sin. Wat die gestroopte styl betref, is dit maar die invloed van verslaggewing wat ’n mens noop om kort en skoon te skryf. Dit pas in dié geval natuurlik ook by die tema. Die eerste weergawe was selfs meer gestroop, waarna ek in die herskryf (en herskryf en herskryf) nog lae bygevoeg het.
Om te skryf wys op hoe belangrik dít is: Om te skryf beteken om te lees. Watter voorbeelde verskaf die boek en wie was die skrywers daarvan? Het enigiets wat jy gelees het, jou gehelp – of het jy oplaas net jou eie stem en jou eie hart gevolg?
Ek lees aanhoudend en wissel doelbewus fiksie af met niefiksie en Engels met Afrikaans. Elke (goeie) boek wat ’n mens lees, gaan lê seker ook iewers op jou padkaart van skryf. Om te skryf is ’n skatkis, waarvan Hanlie Retief se onderhoud met Mike Bolhuis seker een van die blinkste juwele is!
............
Elke (goeie) boek wat ’n mens lees, gaan lê seker ook iewers op jou padkaart van skryf. Om te skryf is ’n skatkis, waarvan Hanlie Retief se onderhoud met Mike Bolhuis seker een van die blinkste juwele is!
...............
Maar vir die doeleindes van hierdie kompetisie het ek doelbewus my eie stem en hart gevolg en nie vooraf spesifieke verhale in die boek bestudeer nie. Ek het wel staatgemaak op skryftegnieke wat ek geleer het tydens my jaar as genoot by die Nieman-stigting by Harvard, waar ek ’n kursus in die skryf van niefiksie by die skrywer Steve Almond gevolg het. As ek iets daarvan moet uitlig, sal dit die belangrikheid wees van herskryf – om jou storie op soveel moontlike vlakke te slyp.
- Johanna van Eeden is die Stemme-redakteur van Netwerk24 en Media24 se Afrikaanse dagblaaie.
Lees ook:
“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie