"Oupa Joe" deur Michael Green, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 0

Boekomslag: Van Schaik; Netwerk24-logo: https://www.netwerk24.com/

Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie is aan die einde van verlede jaar / die begin van vanjaar vir die tweede keer aangebied om almal in Media24 kans te gee om hul kreatiewe skryfspiere te oefen. Hier is die agtergrond van die kompetisie.

LitNet publiseer oor die volgende paar weke die wenners in elke kategorie se wenverhaal.

Hier verskyn die wenverhaal in Kategorie 2 (’n Karakterskets).

Die wenner was Michael Green (skrywersnaam: RR Ryger), senior sportjoernalis by Netwerk24 en Die Burger, met sy verhaal "Oupa Joe". 


Oupa Joe

My vrou het my oupa kort voor Kersfees van 1994 vermoor. Dit was in die HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria. Oupa Joe het daar in die bed gelê, ’n verrimpelde albinosjimpanseetjie, met ’n drup in sy arm. Hy het onrustig geslaap. My vrou het ’n groot, plastiek-Kersfeesvader opgeblaas en op die kassie langs sy bed staangemaak. Oupa Joe het sy waterige ogies skielik oopgemaak. Hy het ’n verskrikte kraakgeluidjie gemaak, ’n stokkerige links-regs-kombinasie met sy vuisies na die Kersfeesvader gemik en toe gesterf.

Dominee Fred Arnoldi, self ’n koddige oumensie met ’n yslike swartraambril, het ’n paar dae later die begrafnisdiens gelei.

“Ek weet julle is vanoggend baie hartseer,” het hy hees gesê, “maar ek wil hê julle moet weet ... Oupa Joe is vir Kersfees huis toe om saam met Ouma Minnie te wees.”

Die meeste van ons, veral dié wat onthou het hoe Oupa Joe uitmekaargeval het toe ouma Minnie ’n paar jaar tevore onverwags dood is, het onbedaarlik begin huil.

Nie ek nie. Ek het onthou hoe ouma Minnie ons vertel het hoe oupa Joe eendag my pa by die laerskool in sy wit Peugeot 504 moes gaan oplaai. Toe hy by die skool stop, was daar twee seuntjies aan die baklei. Of liewer, een het baklei en een het gehardloop. My pa was die vlugteling. Oupa Joe het my pa een teleurgestelde kyk gegee en toe weggery. Toe my pa daardie middag met seer voete en ’n stukkende lip by die huis kom, het oupa Joe hom gevra: “Wie’s jy? Ek ken jou nie. My seun hardloop nie vir ’n geveg weg nie.”

Die volgende dag het my pa die ander seun flenters geslaan en kon hy weer saam met oupa Joe in sy wit Peugeot 504 huis toe ry.

“Oupa Joe is huis toe om Kerfsees saam met ouma Minnie te vier,” het dominee Arnoldi weer gesê.

Steeds het ek my trane probeer inhou. Maar die trane het ’n uitkomplek gekry. Dit was skielik asof daar sjampanjeproppe uit my neusgate skiet en toe voel ek hoe my bors nat word. Ek moes myself verskoon om ’n droë hemp te gaan soek.

Oupa Joe was ’n cowboy, ’n ghriesmonkey, ’n storieverteller en, so verneem ek ook, ’n bliksem.

Ek kan nie objektief oor hom skryf nie en ek wil dit ook nie doen nie. Waarom sou ek my held ontmasker as net nog ’n vervelige sterfling, net nog ’n skaap wat benoud raak as hy nie in ’n bondel blêr nie?

...........
Ek kan nie objektief oor hom skryf nie en ek wil dit ook nie doen nie. Waarom sou ek my held ontmasker as net nog ’n vervelige sterfling, net nog ’n skaap wat benoud raak as hy nie in ’n bondel blêr nie?
..............

Een van my vroegste herinneringe van oupa Joe is van ’n Kersfees, lank gelede. Ek het ’n swart plastiekcowboyhoed en twee speelgoedrewolwertjies gekry. Oupa Joe het, op my aandrang, die hoed op sy kop gesit en toe met die rewolwertjies poseer asof hy in ’n tweegeveg met Billy the Kid betrokke was.

Toe ek klein was, het ek inderdaad vir ’n tyd lank gedink my oupa is ’n cowboy. Hy het net cowboyboeke (veral dié deur Louis L’Amour) gelees en was eenkeer besonder ongelukkig toe hy na die rolprent Midnight Cowboy gaan kyk het.

“Ek wag die hele tyd vir die cowboys om met hulle perde oor die skerm te ry, maar daar was net ’n ou met ’n cowboyhoed in ’n bus,” het Oupa Joe verontwaardig vertel.

Toe ek ouer was, het ek self die fliek gaan kyk en my pap gelag, want dit was beslis nie ’n cowboyfliek nie en kon net dink hoe Jon Voight en Dustin Hoffman se bedenklike avonture in New York my oupa moes frustreer het.

Oupa Joe was nie ’n groot man nie. Hy was eintlik taamlik kort. In sy jonger dae wou sy rugbyafrigters hom altyd op skrumskakel kies, maar oupa Joe was ’n vleuel. Hy het eenkeer oor ’n teenstander se kop gespring om ’n drie te druk.

Hy het dit in ’n volgende wedstryd weer probeer, maar sy teenstander was te lank en hy het per ongeluk ’n hap uit die ou se wang gevat.

Oupa Joe was nooit oorgewig nie, want hy het elk dag in sy groot tuin gewerk. Wanneer ek en my broer vakansies vir hom en my ouma in Verwoerdburg (nou Centurion) gaan kuier het, het dit soms gevoel of ons daar was net om hom in die tuin te help.

“Hark daardie blare bymekaar, manne! Spit die bossies uit! Snoei die heining!”

Ons het eenkeer in ons slaapkamer weggekruip, maar oupa Joe het ons onder die bed uitgelok met sjokolade en toe ons weer sien, was ons besig om die visdammetjie skoon te maak.

Wanneer hy ’n paar doppe ingehad het, het hy begin stories vertel.

Soos ek onthou, was hy eers ’n bakker voor hy vir die Spoorwegpolisie begin werk het. “My baas het my kwaad gemaak, toe druk ek sy kop in ’n roomkoek!” het hy gelag. Hy het klein ogies gehad en wanneer hy lekker gelag het, het daar sommer trane uitgeloop.

Daardie humeur van hom was glo vlambaar toe hy ’n jongman was. Ouma Minnie het vertel dat hy op ’n keer ’n ou heeltemal uit die bokskryt geslaan het.

Partykeer het hy op sy duim geblaas en dan het sy biseps opgeswel. Op sy regtervoorarm was ’n amateuragtige tatoeëermerk ... ’n blou hart ... blykbaar deur ’n vriend in die Spoorweg daar ingeprik.

In sy sewentigs het oupa Joe tussenbeide getree toe daar by ’n troue ’n rusie tussen twee dronk jongmanne uitgebreek het. Volgens ouma Minnie het die een ou hom weggestamp en hy het geval en sy rug seergemaak. Ek is bly ek het dit nie gesien nie.

Oupa Joe was die buurt se nutsman. Wanneer iemand se motor of wasmasjien gebreek het, het hulle kom roep. Dan het hy sy gereedskapkassie gevat en gaan regmaak wat gebreek was.

“Hy is ’n ghriesmonkey,” het ouma Minnie gesê. “Sy motorfiets het eenkeer vir maande op ons eetkamertafel gestaan!”

Oupa Joe en ouma Minnie het op ’n keer op daardie einste motorfiets om Fonteinesirkel gery. Toe kry hulle ’n pap wiel. Toe vat oupa Joe gras en druk dit in die wiel en ry verder.

Gepraat van gras ... Oupa Joe het op ’n keer gras gesny, toe tref hy ’n klip met die grassnyer. Hy peuter toe daar onder die masjien en ’n lem kloof sy een hand oop. Hy vat toe ’n ghrieslap en draai dit om sy hand en werk verder.

Ouma Minnie het hom later gedwing om Noodgevalle toe te gaan, want sy hand was opgeswel en hy het baie bloed verloor.

“Die dokter het hom reg in die wond ingespuit, toe word die een verpleegster flou!” het ouma Minnie vertel. Ek sweer sy het trots geklink.

Oupa Joe was regtig baie lief vir ouma Minnie. Sy het hom maar laat begaan, selfs toe hy haar – kort ná hulle troue – in die huis toegesluit het omdat hy bang was sy loop saam met iemand anders weg.

Hy wou nooit alleen wees nie. Maar toe sterf sy seun, my pa, vroeg omdat sy niere ingegee het. En toe sterf ouma Minnie. En toe sit oupa Joe alleen daar in sy huis. Hy het die tuin begin verwaarloos. Al hoe minder mense het hom kom vra om hulle stukkende goed reg te maak en ons het hom eindelik in ’n rusoord vir bejaardes gedruk.

“Hy is nie meer my oupa nie,” het ek aan my vrou gesê. Sy het my nie geantwoord nie. Net grootoë gemaak. Ek het gesien sy het ’n minirok aan. “En waarheen dink jy gaan jy met daardie kort rokkie?” het ek haar gevra.

Lees ook:

’n Onderhoud met Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

"Voor die huis was ’n appelkoosboom" deur Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

“Huweliksherdenking” deur Willemien Brümmer: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Willemien Brümmer, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

"By die dood van Arthur Hollier" deur Johanna van Eeden: kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

’n Onderhoud met Johanna van Eeden, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top