In die komende weke publiseer LitNet ’n aantal kortverhale. Hier is die agtergrond.
Hier verskyn ’n kortverhaal deur een van die kategoriewenners, Aletta Pretorius.
Aletta praat hier onder met Naomi Meyer oor haar verhaal:
Aletta, jy is die kategoriewenner van afdeling 5 (’n Humoristiese skryfstuk) van die Om te skryf-boek se Netwerk24-kortverhaalkompetisie – met jou humoristiese stuk "15 jedi’s en dood in Dunoon - ’n kinderpartytjie". Baie geluk! Ek lees die storie en dit klink vir my of jy self ’n ma of ’n kuiergas by hierdie partytjie was. Wat was jou inspirasie vir die storie?
Dié storie is die reine waarheid! Daar word mos gesê feite is vreemder as fiksie. Ek sê gereeld wanneer ek vir vriende dinge vertel wat my oorgekom het: "Mens kan dié goed nie opmaak nie." So ja, dit was inderdaad my kind se verjaardagpartytjie wat dié drama opgelewer het. Ons moes toevallig net verlede week ’n nuwe muur laat bou, want die skade van daai dag het mettertyd ál groter krake veroorsaak tot die muur vanjaar op die randjie van omval was.
Jou storie het ’n hele paar onverwagse elemente. Mens lees die opskrif/titel en wonder of dit soos ’n koerantberig oor ’n misdaad sal wees. Dan bring mens die kloutjie by die oor: Gewelddadige misdaad deurdrenk die land, bied die onderbou tot die verhaal, en almal speel saam! Alles eintlik lagwekkend, en dan boonop die partytjiegaste en die kinders ook, hoe jy hulle beskryf. Was dit vir jou prettig om dit te skryf? Was die sosiale kommentaar per ongeluk? Wat dink jy van kinderpartytjies – is dit ‘n bietjie soos hansworse: grappige pret vir sommiges, nagmerries vir ander?
Humor is maar my "coping mechanism" in die lewe. Lag is beter as huil. En wanneer die noodlot jou die dag tref, help dit as jy die snaaksheid daarin kan sien. My pa is in 2021 oorlede, en ek, my ma en my broer was by hom toe hy weg is. Ons het minute daarna vir ’n oomblik half histeries oor iets simpels gelag ondanks die ondraaglike seer en trauma waarmee ons gesit het.
Tussen kanker wat onder ons familie amok gemaak het, ’n ernstig gestremde sussie, afleggingsprosesse waar ek al moes deur, en allerhande ander skerp klippe wat al in ons pad gerol het, het ons gesin ’n taamlik donker sin vir humor ontwikkel. Dis eintlik ’n algemene ding onder Suid-Afrikaners: Ons lag maar oor dinge, al gaan dit hóé rof.
Dit help my ook om vir myself te kan lag. As ’n mens die lewe met al sy moeilikheid te ernstig gaan opneem, gaan dit jou sowaar knak. Ná die partytjiedag se chaos het ek een aand gaan sit en dit begin neerskryf – eintlik net om vir ’n paar pelle daarvan te vertel. En hoe meer ek onthou het van die week wat die partytjie voorafgegaan het, en toe nou nog die bakkie-in-die-muur om alles te kroon, hoe snaakser het die besigheid vir my geraak.
Ek dink kinderpartytjies is maar vir die meeste ouers ’n groot stres. Veral as jy, soos ek, nou nie juis ’n huisvrou van formaat is en vernuftig is met koek bak en onthaal nie! Ek hoop dié "avontuur" sal ander ouers troos dat hulle nie alleen hoef te voel nie – ouerskap het maar gereeld ons laaste senuwee aan flarde.
Om te skryf wys op hoe belangrik dít is: Om te skryf beteken om te lees. Watter voorbeelde verskaf die boek en wie was die skrywers daarvan? Het enigiets wat jy gelees het, jou gehelp – of het jy oplaas net jou eie stem en jou eie hart gevolg?
Dié sage is heeltemal my eie stem. Ek kan nie stories uitdink nie. Opstelle skryf op skool was vir my ’n nagmerrie, want ek kon nooit aan iets dink om te skryf nie. Met Facebook-plasings, waar ek skryf soos ek praat en vertel hoe ek dinge beleef, het ek my skryfstem gevind. Ek dink dis ook ’n lekker uitlaatklep, want as teksredakteur moet ek elke dag kyk dat kopie sin maak, grammatikaal korrek is én natuurlik reg gespel is. Wanneer ek as myself skryf, kan ek so ’n bietjie chill oor die Standaardafrikaans. Haha! Maar bygesê, as jy jou lewe lank met woorde werk, redigeer jy tog ook maar jouself volgens die riglyne wat by jou ingedril is.
Lees ook:
’n Onderhoud met Murray La Vita, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie