101 limerieke: ’n onderhoud met Julio Agrella

  • 0

Julio Agrella (foto voorsien)

LitNet se #politieklimeriek-kompetisie is in volle swang, met 362 inskrywings tot dusver. Nou reeds in sy 8ste week, lyk dit of die limeriekgogga behoorlik gebyt het. Met die finale sluitingsdatum van 12 April om die draai, ontvang ons bydraes van lesers wat besef hulle het reeds deelgeneem maar wat sommer vir die lekker nóg limerieke stuur.

Soos Julio Agrella, wat nie minder nie as 101 limerieke oor die 2019-verkiesing ingestuur het, en wat ons dié week in Skryfwerk plaas

Julio gesels met Naomi Meyer oor sy belangstelling in die politiek en die limeriek.

Julio, jy besef dat LitNet se limeriekkompetisie slegs een inskrywing per deelnemer aanvaar, en tog het jy vir ons 101 limerieke gestuur, waarvan ons heelwat in ons nuwe-skryfwerk-afdeling gaan plaas. Wat is jou agtergrond, en hoekom is jou rympiemakery onstuitbaar?

Jong, ek wens ek het geweet. Ek het nog nooit eintlik probeer "dig" nie. Ek probeer al vir omtrent 48 jaar kortverhale skryf, maar vandat my eerste een op 10 deur die destydse jeugtydskrif Patrys afgekeur is ("te wreed vir ons jong lesertjies"), het ek nog nooit eintlik daarmee sukses gehad nie (nie dat dit my pla nie, want eerstens skryf ek vir myself). As deel van my eie "slyping" het ek in 2017 'n week se kreatiewe skryfskool by Riana Scheepers bygewoon, van "rympies" gehou, maar steeds met die plan om tyd en moeite eerder aan kortverhale te spandeer. In 2019 het ek weer eendag (juis tydens 'n poësiedag) Riana se skryfskool bygewoon en skielik is "die aar raakgeboor". (Tot my onsteltenis, want ek "hou nie eers van rympies nie!", en die blienkieng goed bly my kop volloop, ongevraagd, ongenooid en maak dat ek nie by kortverhale uitkom nie.) As ander agtergrond: ek het desjare 'n BA in Afrikaans gedoen (Tukkies en Unisa) en het ná my weermagopleiding vir 30 jaar in die korporatiewe lewe spandeer (meesal by 'n "Engelse" maatskappy, Liberty Life.) Ek het op 50 afgetree en ek en my vrou, Susan, bly op 'n klein plasie (Die Plos, tussen 'n plot en 'n plaas) in die Outeniekwaberge halfpad tussen die megalopolisse Hoekwil en Karatara.

Wat is vir jou die sjarme van die limeriek: die speelsheid daarvan, die taalspeletjie, die ritme, die satiriese kommentaar, of wát?

Al klink dit snaaks, eintlik is dit die dissipline om die taal en die ritme daarin verweef te kry en naas alles dit nog sinvol te laat klink. Ek vrek (ook in kortverhale) oor die liriese aard van taal – maar onthou, ek hou nie eers van rympies nie ...

Die skryf van 'n limeriek is een ding, maar waarom is die politieke landskap in hierdie land vir jou so 'n groot inspirasie? Jy weet duidelik genoeg van die meeste van die partye om rympies oor elk te kan skryf. Hoe bly jy op hoogte van landsake?

Is politici nie die inspirasie van meeste komediante nie? Ek stel nog altyd belang in geskiedenis, en politiek is niks anders as eietydse geskiedenis nie. (Jy moet weliswaar die humor daarin raaksien om nie van frustrasie of woede te sterf nie.) En selfs al is ek diep in die bos, is die nuus op jou elektroniese vingerpunte en die Universiteit van Google meer toeganklik (en met minder Falliste en fees must fall-stakers) as wat enige universiteit of biblioteek is. Maar ek skryf nie net politieke rympies nie – klaarblyklik kan ek (ongelukkig) limerieke oor enige onderwerp uitdink, dis hoe onstuitbaar ek is. 

Ek probeer nou ook in ander vorme dig (en het hoeka so twee of drie weke gelede ses gedigte in historiese vorme – die villanelle, sestina en pantoen – aan LitNet gestuur) en as jy veel meer aandag aan my gee, dreig ek jou met kortverhale ook! 

Hier is nog inligting van die kompetisie: https://www.litnet.co.za/politieklimeriek/

Julio Agrella skryf 101 limerieke vir 2019 se verkiesing

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Week 7 se wenner

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 8

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Week 6 se wenner

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 7

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Week 5 se wenner

#politieklimeriek – Video van Marieta McGrath se Week 3-wenlimeriek

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top