Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!

  • 27

LitNet is vanjaar 20 jaar oud. Ter viering bied ons ’n limeriek-kompetisie aan. Top-beoordelaars; top-pryse! 

As burger van ons onstuimige land kan jy nou stoom afblaas, giggel of skel oor die kwinte en kwale van die wêreldpolitiek of plaaslik hier in ons Republiek. Laat jou woorde sing oor die trieks van die politiek en die geknoei wat so vermoei. Weeklikse wenners kry R3 500 vir die eerste twee weke, en daarna R2 000 per week. Die Politiek-Limeriek-Grootkampioen ontvang ’n addisionele R10 000! 
 
Hier is die beoordelaars, die kompetisie-reëls en advies oor die aard van ’n limeriek. 

Laat jou stem hoor!

Lus om ’n politikus ’n bloedneus te gee? Hier’s jou kans om groot geld los te slaan met jou versvoetige vindingrykheid. Klap hulle katswink met jou limeriek en wen tot R13 500!

Kompetisie-inligting

Laat jou stem hoor deur ’n limeriek te skryf wat aansluit by die nuus en politiek van die dag. Kies ’n kwessie wat jou krap, hier by ons of oorsee. Hou dit lig en satiries – humor slaan harder as ’n geweeklaag.

Wat is ’n limeriek? 

Onthou, ’n ligte, satiriese vers is nie noodwendig ’n limeriek nie. ’n Limeriek het altyd vyf reëls, en het altyd ’n bepaalde rymvorm.

  • Reëls 1, 2 en 5 het 8–9 lettergrepe en die laaste woord van al drie die reëls rym.
  • Reëls 3 en 4 het 5–6 lettergrepe en die laaste woord van die twee reëls rym.
  • ’n Limeriek het ook ’n spesifieke ritme, met 3 beklemtoonde lettergrepe elk in reëls 1, 2 en 5, en 2 beklemtoonde lettergrepe elk in reëls 4 en 5.

Hier is ’n voorbeeld van ’n klassieke limeriek, geskryf deur ene Dayton Voorhees en in 1902 gepubliseer. Die lettergrepe word met skuinsstrepe (/) aangedui en die beklemtonings deur die vetgedrukte woorde:

1        There / once / was / a / man / from / Nan / tu / cket

2        Who / kept / all / his / cash / in / a / bu / cket.

3                 But / his / daugh / ter, / named / Nan,

4                 Ran / a / way / with / a / man,

5        And / as / for / the / bu / cket, / Nan / tu / cket.

Wenk: Lees die limeriek hardop om die rym en ritme te hoor.

Hier is nog ’n paar rigtingwysers:

  • Moet jou nie bekommer as jou limeriek effens afwyk van die streng vorm van die voorbeeld hier bo nie. Van die bekendste en mees geliefde limerieke hou nie streng by die aantal lettergrepe nie.
  • Maak seker jy kan die kenmerkende rym en ritme duidelik hoor as jy dit hardop lees. Maak dus seker jy stuur vir ons ’n vers wat soos ’n limeriek lyk en klink en nie “sommer maar net” ’n kort gediggie nie:

Sê die TAM harder as die eerste ta en dan het jy ʼn idee hoe die ritme van ʼn basiese limeriek werk.

taTAM tataTAM tataTAM 
taTAM tataTAM tataTAM

taTAM tataTAM 
taTAM tataTAM 

taTAM tataTAM tataTAM

Lees nou die bogenoemde weer ʼn keer en lees die vetgedrukte gedeeltes harder as die ander, en dan het jy die korrekte ritme vir die limeriek.

  • ’n Limeriek word ook gekenmerk aan humor, stuitigheid en selfs stoutigheid. Vir die doeleindes van ons #politieklimeriekkompetisie is stuitigheid en gekskeerdery heeltemal in orde, maar wees maar versigtig met onpubliseerbare stoutighede.
  • Onthou, ons tema is die politiek!

Wie mag inskryf?

Enigiemand, solank jou limeriek in Afrikaans / Afrikaaps / enige ander variant van Afrikaans is.

Hoe werk dit?

Die kompetisie duur 10 weke. Elke week word ’n wenner aangewys. Die 10 wenners dring deur na ’n finale ronde, waaruit die algehele wenner aangewys word.

Alle kwalifiserende bydraes wat aan die kompetisiereëls voldoen, word teen die einde van elke week op LitNet geplaas, wanneer die week se wenner ook aangewys word.

Die weekwenners kry elk R3 500 vir die eerste twee weke, en daarna R2 000 per week (en die reg om oor die kampioenkroon te droom!).

Die Politiek-Limeriek-Grootkampioen kry addisioneel daartoe R10 000 en die reg om te sê hy of sy is die groot “L” in limeriek.

Hoe om in te skryf

Stuur jou limeriek per e-pos na politieklimeriek@litnet.co.za.

Wil jy ’n bietjie grootpraat? Maak ’n video en “rap” jou vers / dra jou vers voor. Video-inskrywings ook per e-pos na politieklimeriek@litnet.co.za – maak net seker die lêer is nie te groot nie (tot 20 MB is aanvaarbaar).

Stuur slegs geskrewe of video-inskrywings na ons e-pos-adres – geen klankgrepe of stemposse nie, asseblief.

Maak seker jou inskrywing sluit die volgende in:

  • Jou naam en van
  • Jou telefoonnommer
  • Jou e-pos-adres
  • As jy in die buiteland woon, moet jy ’n Suid-Afrikaanse posadres/bankrekeningnommer verskaf.

Wie sê wie wen?

Die LitNet-redaksie kies die weekwenners.

Die algehele wenner word gekies deur ons limeriekpaneel: Heindrich Wyngaard, Philip de Vos, Jonathan Jansen en Bibi Slippers.

     

Riglyne en reëls

  • Politici kan genoem word. Jy mag natuurlik politici se naels uittrek, maar geen laster sal toegelaat word nie. Die besluit oor wat lasterlik is, sal by die LitNet-redaksie berus, en LitNet behou die reg voor om lasterlike bydraes van die kompetisie te onttrek. Geen debat sal deur die redaksie met die skrywer daaroor gevoer word nie.
  • Elke persoon mag slegs een inskrywing tydens die verloop van die kompetisie instuur.
  • Jou inskrywing moet ’n limeriek wees.
  • Jou inskrywing moet in Afrikaans / Afrikaaps / enige variant van Afrikaans wees.
  • Deur in te skryf stem jy daartoe in dat jou inskrywing op LitNet (en LitNet se sosialemedia-platforms) en op verwante ruimtes gepubliseer mag word, alhoewel LitNet die reg voorbehou om nie alle inskrywings te publiseer nie.
  • Deur ’n video in te skryf, stem jy daartoe in dat jou inskrywing op LitNet se YouTube-kanaal gelaai mag word. 
  • Kopiereg bly by jou, en LitNet word nie die eienaar van jou limeriek nie. Na die kompetisie is jy vry om jou limeriek op enige plek te publiseer.
  • Jy stem daartoe in dat jou limeriek in mediaberigte of -uitsendings oor die kompetisie gebruik mag word.
  • Jou inskrywing moet jou eie werk wees en mag nog nie voorheen elders verskyn het nie, insluitend op sosiale media.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en daar sal geen korrespondensie oor die uitslae gevoer word nie.
  • Die kompetisie sal oor 10 weke loop. Die wenners van die eerste twee weke sal elk R3 500 ontvang, en vir die res van die kompetisie sal elke week se wenner ’n prys van R2 000 ontvang. 10 sulke wenners sal deur die LitNet-redaksie aangewys word. Hierdie 10 wenners se limerieke sal dan aan die beoordelaars voorgelê word, en die algehele LitNet Limeriek-kampioen sal in totaal tot R13 500 wen. Die beoordelaars se besluit is finaal.

Die sluitingsdatums:

  • Week 1: 8 Februarie 2019
  • Week 2: 15 Februarie 2019
  • Week 3: 22 Februarie 2019
  • Week 4: 1 Maart 2019
  • Week 5: 8 Maart 2019
  • Week 6: 15 Maart 2019
  • Week 7: 22 Maart 2019
  • Week 8: 29 Maart 2019
  • Week 9: 5 April 2019
  • Week 10: 12 April 2019.

Die algehele wenner word op 26 April 2019 aangekondig.

 

  • 27

Kommentaar

  • Met permissie Edelagbare, moet die twee beklemtoonde lettergrepe nie in reëls drie en vier voorkom nie? (Of het die hele politieke gepeupel al laat weet?:))

  • Andre de Villiers (professor emeritus)

    Hier is my vinnige poging:

    Daar was eens ‘n man Zuma,
    Hy’t met skelmstreke gewoema,
    Toe kom daar ‘n vrou Thuli
    Sy’t niks vir hom gevoelie
    Nou woon hy in Kwa-Zoelie.

  • Sanet Odendaal

    Is ons week 1 inskrywings nou van die baan af vir die res van die kompetisie? Of kom hulle nog verder in aanmerking?

  • Sheugnet Jones

    Kan ons 'n limeriek-gedig onderwerp - bv 3 x 5 reel limerieke wat op mekaar volg en verband hou met dieselfde onderwerp?

  • DANIE VAN DER VYVER.

    Jô! Dit is jammer. Dit moes een inskrywing per week gewees het. Veral vir Ou Omies soos ek wat baie tyd het.

  • Hallo Litnet. Ek het my limeriek vir Week 8 ingeskryf, maar kry dit nie onder die inskrywings nie. Moet ek dit weer stuur? Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top