Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Inskrywings Week 7

  • 2

Hier is Week 7 se laaste inskrywings. Die wenner word Woensdag aangekondig. Skryf nou in vir Week 8 en wen R2 000! 


Kompetisiebesonderhede:

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!



Niko Brummer

Beurtkrag-boogie en die dieseldans,
kerslig-kwaito, want dis donker saans.
De leste gigawatt
is deur kapers gevat.
Maak skoon, skop uit, dis ons laaste kans!



Charl Stander

Eskom se vrot steenkoolstasie
het min voordeel vir die nasie.
Tog, innie donker
is algar jonker -
Verwag ’n baba-lekkasie



Ansa Swanepoel

’n Politieke drama

Ramaphosa, Mmusi en Malema
Dis vir jou ’n deurmekaar dilemma
Elkeen speel ’n hoof(d)rol
Probeer ons almal bol
In hierdie politieke drama



Marais Basson

Op die agste Mei word mense verlei.
Met dolle gejaag na stembusse gelei.
Om blokkies te merk.
Op voorafbespreekte plek.
Om babelas-raadslede se egos te vlei.



Aveli Keyser

Shosophoza
(op die trein na Pretoria)

Ou Cyril het eendag die spoor opgeklim
’n Stem of dalk twee vir sy saak in te win
       Daar kom toe ’n pyn
       Summier staak die trein
Net daar moes ’n taxi die prez huis toe bring



William Witbooi

Malema en Jacob beplan
Wie gaan nou die land se geld verslaan
Kyk hoe los Eskom ons in die dark
Wat het ons aan hulle gemaak,
Hoekom bly hulle ons dan oor die hande slaan



Elmari Atterbury

O wee! Eskom!

Ons het lank gevat om lig te sien
Om mekaar met respek te dien
Maar o wee! Eskom!
Jy toets geduld alom
In duisternis tel ons nou tot tien!



Cornelia Klopper

Die kaders hou nie op met knoei
Bly waaragtig steeds aan ʼt roei
Zondo span sy net wyd
Net op die regte tyd
Dan word die hele spul geboei



Derick Pieterse

Ons president maak beloftes want hy soek ons stem
Hulle vat hom na die stasie en sê so ʼn bek verdien jêm
Maar die treine is laat
Dit maak ons president baie kwaad
Almal vra: Is jy dan vreemd in Jerusalem?



Elmarie Kitshoff

Geen kripvreters, geen slu politici
sit uitgevang agter tralies nie
maar die staatskas is besteel
en die Gupta-buit verdeel
Geen tronkkleertjies pas glo dié Vet Katte nie



Nandi Lessing-Venter

Gister was kopiereg nog veilig
Maar vandag is dié reg ontheilig
Dat die skrif teen die muur is
(ses het daarteen gepis)
weet die onkreatiewes van weinig



Lané Rossouw

Hey djy, dja djy Jacob, ek praat moet djou!
Wat dink djy doen djy moet onse land nou?
Djy lei g’n onse land.
Djy was never aan onse kant!
Loep soek liewe vi djou nog ʼn vrou.



Lia Snijman

Julius het wit mense op hol
Sy onteiening laat hul bloed stol
Tog bly hul stil en sedig
As hy vroue beledig
Lyk my daarʼs meer as een drol



Louise Noeth

Die staat wil ons grond vat, ou maat.
Geen enkele sent gaan ons baat.
      Maar kan hul ooit boer?
      Is die plaas na sy moer?
Klink my na ʼn laakbare daad.



Nelis Brink

Daarʼs plakkate wat alles beloof
Dat indoenas ons nie sal beroof
Die townships skree “Water!”
Die wittes roep “Vader?”
Maar die manne daarbo speel doof



Christa Beyers

Gehoor van Estina die koei?
Sy’t gesukkel om op te hou loei
Haar hart was so seer
Selfs Roy kon nie keer
Die Ace was steeds aan die knoei



Willie Kühn

ʼn Altyd optimistiese man van ons land
sien diep in die tonnel ʼn liggie wat brand.
Hy juig: “Dis nuwe daeraad wat wink
met tye skuldvry, beurtvry en blink.”
Helaas - dis toe Cyril met kers in die hand.



Christi Magrieta Erasmus

Nog ʼn lang tou iewers in Mei
Om te sê wie moet bly en wie moet gly
Sal die Zondo-sweep betyds klap oor Eskom en Bosasa
Oor die gang van die trokke en treine van Prasa
Wie sal bly om die soustrein te ry?



Cornelia de Kock

Helen Zille wat tog alte graag twiet
het haarself nou in die voet geskiet
       maar nou moet sy chill
       want dis Maimane se wil
wat keer dat die DA se ster nie verskiet


Kompetisiebesonderhede:

Skryfkompetisie: #politieklimeriek – ’n kompetisie wat rym!

 

  • 2

Kommentaar

  • Dis kommissie op kommissie
    Skokke en skandes elke dag
    Met permissie gesê
    Is jy verbaas?
    Wat anders kon ons verwag?

  • Stewie Theron

    Wie kan die raaisel uitspel
    elke politieke leier vertel
    ons is teen korrupsie
    maar my boetie en my sussie
    in wie se sakke word miljarde ingetel?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top