LitNet se #politieklimeriek-kompetisie is in volle swang, met 362 inskrywings tot dusver.
Hier is nog inligting van die kompetisie: https://www.litnet.co.za/politieklimeriek/
Nou reeds in sy 8ste week, lyk dit of die limeriekgogga behoorlik gebyt het. Met die finale sluitingsdatum van 12 April om die draai, ontvang ons bydraes van lesers wat besef hulle het reeds deelgeneem maar wat sommer vir die lekker nóg limerieke stuur.
Soos Julio Agrella, wat nie minder nie as 101 limerieke oor die 2019-verkiesing ingestuur het, en wat ons dié week in Nuwe Skryfwerk plaas.

Soos ʼn tipiese politikus
Al is ek wel van die reëls bewus
En weet jul soek net een
Hier volg honderd en een
Dis hoe onstuitbaar my rympies is
Base, Ramaphosa en Zuma
Cyril vertel die reuse skare
Dit was nege verlore jare
Zuma het gesteel
Ons het net gedeel
Ons maak reg, dis ons plig, as’t ware
Zuma kla: ek steel nie, ek’t gevát
Ramaposa wil my net beklad
Ek wás die baas!
Als myne, okkie kaas
Jy verstaan nie Cyril: jou gát!
Cyril snik: jammer, skies tog Zum
Maar die wêreld wil ons verdoem
Gee ek jou die skuld
Word ons weer geduld
Belydenis heel sondes: soos Doom
Die ANC kom weer
Sterker as die fotoverhaal se Takoeza
mag-agter-die-troon David Mabuza
ˮEk maak hom koning
Sy kabinet my woning
Ek is en bly die groot Palooza”
Dalk was die Vrystaat se Ace Magashule
In ʼn Duitse “Welche Korruption” Schule
Daar was tenders aan dogters
En melkerye aan spogters
As die party se SG kan hy sy skuld toelê
Ek is die Vrystaat se grootste Ace
Bly my vriend en jy kry dalk ʼn huis
Ek gee melkerye
En vele voertuie
My poker-styl maak dit moeilik om te bewys
Is dit ʼn voël, is dit ʼn plein? Nee, dis Supraman!
Hy bedonner die ANC, want hy kan!
Fokkie Noordweste
Supra is die beste
Julle sal hom moet skiet, ontvoer of verban
Gigaba die viriele en bebrilde parmant
Hardloop op die Titanic van kant tot kant
Hy is vir lief jou
Sweer vir ewig trou
En op kamera is hy ʼn betrilde savant
Ek is Cyril wat die land vol stap
Daar waar die DA loop wil ek trap
Stem tog vir my
Om sekerheid te kry
Al het ek vir elke groep ʼn ander grap
Ons is ANC spreekbuise wat vat
Op plekke wat die Vroueliga beklad
Ons is heelhuids onskuldig
Die vrouens ongeduldig
Hulle uitpraat het ons vergat!
Dis alles een groot verdomde leuen
Ek issie volk se uitverkore seun
Ek mag dalk ietsie steel
Maar sal ʼn vrou net streel
As sy onnodig met die vyand heul!
Die president is in ʼn trein vasgevang
Dit los hom verleë en effe wrang
ʼn Rit van onder ʼn uur
Wat eindelik drie ure duur
Laat baie na die “goeie ou dae” verlang
Arme Nathi Nhleko en oud-minister Des
Dalk leer almal nou die dure les
Kies jou groep wys
Anders breek die kys
En val jou gebotterde alie deur die bres
Ek is Bathabile die gekose
Al maak ek kak ruik ek na rose
As die volk my soek
Kan julle maar vloek
Ek is op die lys, julle die kose
Al word sy by name betrek
By die Bosasa kroekspul en drek
Mokanyane maak die lys
Haar ondersteuners wil wys
Zuma se aanhang is nog lank nie vrek
En Mahumapelo wat myne weggee
Is ook glad en geheel nie verleë
Vir kamerade in sy tak
Is vermoedens net twak
Met hom in die parlement is hul tevree
Malusi wat graag alles wys
Maak wragtag die finale lys
Met sy yslike punt
Pronkerig in die wind
Moet kiesers die prinsie bly prys!
Ace, die kunskenner uit die Vrystaat
Tel ʼn Pierneef op sommer op straat
Gee dit toe persent
Aan Mettler die vent
Wat dadelik met afslaers gaan praat
David vat in die openbaar vir Tito aan
Die vet minister behoort hom te skaam
Eskom nasionaliseer!?
Hoe kan hy dit beweer!?
Doen ons dit, dra hy al die blaam
Van geldbestuur weet Mabuza nie veel
Daarom is Mpumalanga in twee verdeel
Hy dreig en b’lo
Bly aan hom glo
Agter die troon lê ʼn vulkaan en smeul
Die Oudstes skryf ʼn tawwe brief
Is jy korrup of bloot ʼn dief
Onttrek vannie lys
Om inbors te bewys
Doen dit virrie party asseblief
Die DA
Mmusi Maimane bly tog stil nou
As jy ons wit kruisies wil behou
Hoe kan jy sê ras
Help steeds óns bas
En jý sit self met ʼn spierwit vrou?
Maimane wil nog BEE
Maar ons wittes sê heeltyd nee
Ons is reeds arm
Wit brood, maar darem
Hoe kan hy ons werk so weggee?
Helen sê ons moet staak met belasting
Die ANC gebruik dit net vir ontlasting
Party skree syʼs mal
Tot haar vriende knal
Beskuldig haar van verraad en betasting
ʼn Partyman duisend, dié Dan Plato
Wyl ander werk, gaan hy eerder straat toe
Hy moet stemme werf
Loop rond van erf tot erf
As hy jou sien, roep hy: ag kô’s praat, toe!
Ek dog Dan is ʼn graad in karatie
En Plato ʼn slim Griekse n’Tati
Meng dit goed deur
Dan kry jy ʼn meneer
Wat wil doen en nie net praat’ie
In Tshwane was Solly Msimanga
Vir die onthou banger as ʼn panga
Stafhoof sonder papiere
GladAfrika en ander diere
Sy gat hang soos ʼn tante in ʼn tanga
Bekende sakeman Herman Mashaba
Het aan Jozi ʼn vuil en moeilike baba
Tau los ʼn gemors
Maar brom steeds nors
Terwyl Herman moet werk en indaba
Hoe lank al is Winde ʼn van?
Vanwaar het hy ingewaai man?
Hy dryf vir Wes-Kaap hoof
Vir ANC kritiek bly hy doof
Sal hy lei of stink as hy kan?
In die provinsie van Suidooswinde
Het ons rêrig steeds net een beminde
Haar naam is Ant Patricia
Party ken haar as Delicia
En sy is vrot van rate teen Winde!
Eens was daar de Lille en Zille
Vir die DA lewenskragtige pille
Een behandel hul sleg
Die ander loop ook weg
Van enige beleid bly nou net skille
Malema en die EFF
Kleintyd was ʼn kondoom ʼn effie
Jy kon dit koop by die Griek se keffie
Nouʼs daar ʼn klomp in rooi
Mooi van kop tot toon getooi
As die EFF kom, koes, dat hul jou nie treffie!
In sy rooi pakkie sit ʼn kleuter
Wat hom in grootmense verkneuter
Breed glimlag ons Floyd
Soms effe verstrooid
Tog dankbaar, want hy weet van beter
Ons het nie gesteel nie, net gevat
Die oumense strooi geld oor ons pad
VBS was vir ons
Soos warm tee en skons
Dankie gogos vir die grootse skat!
Hulle wou ons leier skiet
Toe ons hom innie gang bespied
Polisieman met sy wit vel
Verseker deel van ʼn moordsel
Klap ons hom tot hy oorgawe bied
Hulle dreig hul skiet my leier plat,
Julius sê: moet dit nie onderskat
Toe die man ons wil keer
Dog ek hy gaan probeer
En ek kletter hom dat die snot spat
As daar ooit ʼn profetiese rapport was
Is dit Julius s’n, in sy laaste klas
ʼn E en ʼn F en ʼn F
Nog ʼn E en dan twee F’s
Gee hom ʼn oorpak eerder as ʼn EFFEN das!
Ek dog altyd Julius had vir houtwerk H,
Nie dat dit my skeel of enigsins pla,
As jy charisma meet
Sou dié wat weet
Besef hy kry ten minste ʼn dubbel A
Julius het nou vir Zuma vergeef
Wyl ʼn sagte aura om hom sweef
Hy was ons man
Deel van die plan
Om kiesers soos prooi te verweef
GOOD en Patricia
Ons eie Kaapse Good is Patricia
Niks van Chris de Burgh se Delicia
Ons s’n hou van raas
Slaat, skop en blaas
As jy hulle verwar sal sy haar vervies, ja!
Patricia meng nie met strippers
Dra nie haircurlers of ou slippers
Ons Pat de Lille
Kon as sy wil
Maar sê dit en sy gooi jou met klippers
Politiek is in Antie Pat se bloed
Soos ʼn vampier moet sy dit voed
Vier partye in vyf-en-twintig jaar
Sonder dit is sy fienies en klaar
Maar einde ten laaste: Life is GOOD
Die Vryheidsfront Plus
Die som van die Vryheidsfront Plus
Hou die land se onnies aan die gis
ʼn Som met net een faset
Word tog in wiskude belet
ʼn + wil iets by tel of het ek dit mis?
Hy herleef weer ons Peter Marais
Jy kan dink wat jy wil en sê
Voor jy dit wis
Is hy VF Plus
In politiek kan almal bymekaar lê
Glo jy Peter Marais is by die VF+?
Dis moontlik. Dalk tog. Ja beslis.
Assie mense hom kies
Issit waar hy moes wies
Want vir bek-rek en fight bly hy lus
As Peter Marais daaroor wou dink
Sy premierskippie het klaar gesink
Die VF+ moet die Wes-Kaap wen
Só ʼn kans is ongeken
Peter se loopbaan het alreeds verdrink
Die VF+ is totaal te slim
Hulle weet mense wil blink en glim
Soos Niekie die Bek
Beloof hulle ʼn plek
Ver onder op die lys se kim
Die VF+ veg ernstig terug:
Die BLF is vir rassisme berug
Gooi hulle uit
Voordat ons muit
Hulle party soek net ʼn swart gesig
SONA: State of the nation
By SONA het Cyril ferm,
Sonder lag en met min kerm
Almal genooi op die pad
Om mekaar se hande te vat
En te bou aan ʼn nuwe skerm
Op die banke van die vaal parlement
Sit ʼn tante met ʼn bril van groen sement
Is dit nou ʼn nuwe mode?
Een of ander vreemde kode?
Of Sir Elton in sy element?
Op parlementsbanke eens gewyd
ʼn Tante met alle kleure bespuit
Voorheen die reënboognasie
Nou vul sy daardie spasie
En as jy nie glo nie, is jy die kluit
Kommissies, o, die kommissies
Van Agrizzi se mond tot Zondo se oor
Die hele korrupsie-alfabet moet ons hoor
Voor ons TV’s vasgenael
Hoor ons van die keiser kaal
Wat laggend ons demokrasie versmoor
Die Watson-boeties van die Baai
Wou ou ANC kamerade paai
Nouʼs hulle gestonk
Hopelik wag die tronk
Agrizzi het hulle kierangs laat braai
Die arme, arme Vytjie Mentoor
Wou dat almal van korrupsie hoor
Raak deurmekaar met tye
Maak van perredrolle vye
Glipsies wat vele feitjies ontspoor
In die land waar kommissies blom
Hoor jy belydenisse wat verstom
Vele het gevra en gekry
Geld soos bossies en vry
As jy niks het om te wys, was jy dom
Terror Lekota van COPE
Terror mor: Hy het ons destyds verraai
My politiek tot kommunisme verdraai
Cyril het toe al verloop
Sy comrades reeds uitverkoop
Nou wil hy my nooi op sý pad: Se maai!
Hy nooi ons op ʼn nuwe pad,
Maar ek sê jou: Cyril se gat
Hy’t ons verraai
Eiland toe! Koebaai!
Die keer slaat Lekota hom plat!
Hlaudi vannie SABC
Hlaudi voorheen van die SAUK
Het weer by die hof gaan kla
Jy mors ons tyd
Loop kry jou kryt
Kleur jou prentjies in voor jy pla
Hlaudi wou net plaaslike musiek speel
Dis tog te wonderlik in die geheel
Maar jy moet hulle tog betaal
Anders loop’ie musikante kaal
Maar daai liedjie het hom min geskeel
Hlaudi was gebore om president te word
Mamie ken iemand wat teen VIGS stort
Hy glo dit vas
Dissie job wat pas
Sê hy met ʼn glimlag waaraan ietsie skort
ESKOM, O, ESKOM
Eskom sê die krag gaan weer af,
Maar dit is tog net geheel en al laf
Ons sal maar vry
Tot ons lig kry
En vinnig asemhaal asof ons draf
Ons is alweer sonder TV en ligte
In my drome sien ek die nuusberigte
Nege maande van nou
Is dit net pienk en blou
Kafoefel lei na ondeurdagte vrugte
Die onnutsige weduwee de Wee
Het voor ʼn oop venster ontklee
Die ligte gaan aan
Wyl sy nakend staan
En die buurmanne lag tevree
As mens iets eet in die donker
Terwyl net flou kerslig flonker
Kan jy dink mince is steak
Jou aan jou eie vrou verkyk
En glo kraanwater maak jou dronker
SARS, Tito en die Begroting
Verskoon my meneer Moyane, Tom
Glo jy dit werklik of is jy dom?
Die werk by SARS
Verstaan jy geen snars
Vat jou goed en loop, wederom
Die minister van Finansies, Tito Mboweni
Is verras dat Tukkies nie Afrikaans wil hê nie
Dis vir my verdag
As iemand met mag
Iets dink wat ons Afrikaners nie sê nie
Tito haal wyd aan uit die Bybel
Terwyl hy belastingbetalers beduiwel
Sondebelasting hier
Op wyn, siegrets en bier
Hy belas als, tot suiker in ons suiwel
Mboweni profeteer ons moet ly
Voordat ons ééndag dalk weer lekker kry
Betaal vir óns sonde
Lek maar jou wonde
Terwyl julle in ons drek ploeter en gly
Eskom moet sy eie skuld betaal
Al kan dit nie eers die rente haal
Ons gaan hulle opbreek
Die probleme versteek
Sodat niemand kan sien hulle is kaal
En vir skole wat nog in putte skyt
Gee ons sonder enige kwaai verwyt
Tablette vir leer
Om inval te keer
Die stank ten minste tegnologies sonder byt
Vir die probleme met ʼn magdom graad ene
Is ons ʼn toekomsplan met dese en gene
Twee jaar in graad R
Om die probleem te versper
Ons koei het baie kallers maar min spene
Arme minister Tito Mboweni
Hy moet begroot al het hy nie sê nie
Cyril slaan die kitaar
Tito net agter die bar
Sing, Tito! en gooi drank, moenie gaan lê nie!
Ons hoop troppe staatsamptenare
Vat pensioen en vertrek uit ons hare
Baie is effe oud
Lankal dood en koud
Ons wil ontslae raak van die snare
Dis nou tussen die duiwel en die diep blou see
SOE’s moet krimp, maar ons moet baie werk gee
Wat moet Tito nou eintlik doen?
Die baba of die badwater soen?
Tot na die verkiesing is almal oor unions verleë
As staatsamptenaar, sou jy nou glip
Kry jy maandeliks ʼn nuwe pensioenslip
Die PIC belê daai geld
By elke soort skurk en held
Pasop jou inkomste val dalk soos klip
As die staat te veel aanstel, selfs voor kaping
Word dit eerder as staatsdiens, ʼn staatslaping
Baie is daar om te rus
Te lunch, slaap en pis
Dié wat daar is en hulle wat werk: ʼn goot gaping
Die begroting wil blykbaar sonde bestuur
Als kos meer behalwe sorghumbier
Slaap jy by jou buurman se vrou
En SARS se manne vang jou
Kry jy sweerlik ʼn kwaai oudit, jou tier!
Wou Tito ons met die aalwyn voorberei
Hierdie begroting gaan ons laat pyn en ly
Hy wou eers ʼn kaktus vat
Want trek jy dit deur jou gat
Sal jy met ʼn agterent vol dorings bly
Die middelklas kry gratis hoër onderwys
Jou ouers moet net effe min geld bewys
Jou punte tel heel min
Om almal ʼn kans te gun
Maar waardelose papiere hou jou by die huis!
As iets plaasliks eindig op SA
Wees bevrees en begin kla
Geld sal dit vreet
Dit moet jy weet
En allig jou beursie leeg dra
OUTA
Wayne Due-win-haig van Outa
Beskuldig Helen van fouta
Belasting weerhou?
Wat bring dit jou?
Jy speel op mý stoep jou stouta!
In die nuwe SA so rasrein en suiwer
Druk die haatspraak borstrok al stywer
Boy en Baas slaan jou dronk
Bob’jaan beland jou in die tronk
Maar OUTA, ironies, word aanvaar met ywer
Marelize oppad
Uit Namibië, in foutlose Afrikaans
ʼn Akroniem weerbarstig en hans
#MFM
Beter as nôtedêm
Afrikaans nou ook bekend in Spaans!
Jonge Marelize sukkel om te stop
Haar fietslisensie sou sy dop
Sien die paal, my fok
Kry ma haar voor stok
Gelukkig was dit téén die paal nie op
Marelize ontketen ʼn stem-MFM groep
Daar’s heeltemal te veel wie ons so kan roep
My fok almal begin met M!
Wie moet ons voor stem?
Malema, Maimane en nog ʼn moerse troep
Die EFF raas: Ons sal nie bedaar
Wat de fok is fout met haar?
Die paal was duidelik swart
Marelize wit en verward
Haar optrede is rassisme, finish en klaar
Staatsekuriteit agentskap (SSA)
David Mahlobo, voorheen van SSA
Hardloop tot by Putin om te kla
As ek help roof
Het jy beloof
Om my tot in die presidensie te dra
Ons luister almal af, dis ons werk
Ons is die priesters in die Zuma-kerk
Ons moet die heer beskerm
Teen vyande wat bly kerm
Vrees vir geraamtes maak sy merk
David Mahlobo die SSA-doring
Geïmpliseer by stories van renosterhoring
ˮWeet nie wat julle makeer
As die Sjinese my maseer
Mens moet dit tog vryf voor dit kan toring”
As die spioene op sy eie burgers spy
Is ʼn nuwe apartheid net om die draai
Die magtiges trek saam
Verplaas steeds die blaam
Met mens en waarheid speel hul aspaai
Allerlei en Allegaartjies
Angus sê almal moet vir die land bid
Maar ons kort mense wat eerder spit
As jy wil maai
Moet jy eers saai
Om te werk of kniel wie besluit dit?
Selfs tydens die groot Ramaphosa-romanse
Skuil ons almal agter ons eie skanse
Ek doen wat ek wil
Sal jou morsdood gil
Verkiesingsjaar het geen tyd vir nuanse
Wat ʼn vriend had ons in PW
Hy sou niks ooit wegee, o nee!
Die boggers vat
Ons sien ons gat
Kom ons blameer als op FW
Tydens ʼn algemene verkiesingsjaar
Dra die meeste aan ʼn sekere siekte swaar
Alladoksafobie is die naam
Vrees vir dit wat nie joune beaam
Die menings van ander bly totaal onwaar
Die skadu van apartheid bly hang
En dit maak te veel nog baie bang
As jy honderde jare leef
En dis in jou murg verweef
Is jy vir baie langer nog gevang
ʼn Vreemde slagoffer van apartheid is wittes
Plooi maar jou kop want dis hoe dit is
Party kan net terugverlang
Die res vir kritiek lewer bang
Om nuwe foute te erken, is taboe as jy wit is
Die imperialisme in ons kop
Is die probleem wat die hardste klop
Fallist, Fassis, Marxis
Nazi of Neoliberalis
Ander se denke verander jou bloot in ʼn dop
Sosiale media is vrotvol fopnuus
Dit raak moeilik om reg te kies
Vele skiet erg spek
Gemors uit elke bek
Weg issie waarheid, jammer askies!
Ons was die land van melk en heuning
Maar nou het ons elke ander seëning
Van Lasarus Noord uit sy kis
Tot Jona in die Baai uit ʼn vis
Dit klink na die laaste dae se dreuning
ʼn Pers koei is nuut voorwaar
Maak jou vir verandering klaar
Die nuwe ZAKP
Wil kapitalisme kans gee
Ommie nasie teen sosialisme te bewaar
Oor 48 partye moet ons besluit
Bring nader die koffie en beskuit
Laat ek jou vertel
Min gaan dit maak ou pel
Net kruisies kan die ANC stuit
Ten einde laaste
En nou moet ek oplaas groet
Die rympies het my brein bebloed
Ek wil gewoon net sê
Niks rymerigs meer hê
Maar die rymwoorde bly in vloed
Lees ook:

