Zirk van den Berg (1960–)

  • 0

Sêgoed van die Zirk van den Berg

"Ek wil graag die soort goed skryf wat ek self lees. As ek ’n musikant was, sou ek eerder ’n ernstige rockmusikant wou wees wat ’n populêre idioom gebruik om tog ’n waardige artistieke punt te maak. As ’n klassieke musikant wat hom oombliklik beperk tot ’n elite-gehoor. Die akademici is nie al mense wat ek wil hê moet my goed lees nie." (Beeld, 24 Mei 1990)

"Skryf is vir my deel van my bestaan, van hoe ek die werklikheid hanteer. Dis iets waarsonder ek nie kan nie; dis iets wat sin aan my lewe gee." (Beeld, 24 Mei 1990)

"Ek skryf omdat dit vir my lekker is. Omdat ek relatief goed is daarmee. Omdat ek beter voel as ek besig is om iets te skep. Om my lewe meer sinvol te laat voel. Omdat dit my kans gee om te speel en baas te speel. Omdat dit my help om vrede te maak met die dinge wat my pla. En omdat dit my help om weer daardie gevoel te kry wat ek as kind gehad het toe ons in die veld gaan piekniek hou het." (Vrouekeur, 28 September 2018)

Zirk stel nie belang in die uitdaging van skryf vir die grootste gemene deler nie (1992): "Skryf is te harde werk om dit nét vir ander mense se plesier te doen. Ek is elk geval epies onsuksesvol met kommersiële skryfwerk. Huisgenoot het in my studentedae omtrent al my pogings teruggestuur. Ek wil liewer probeer dat meer mense die boeke lees wat ek skryf. Dus stel ek ’n hoë premie op literatuur wat toeganklik en onderhoudend is." (Beeld, 29 Oktober 1992)

Sou dit nie vir hom makliker gewees het om weer kortverhale te skryf as om ’n roman te skryf? In 1992 na die publikasie van Wydsbeen: "Ek het nog ’n handjievol stories wat ek in die nadraai van Ekstra dun geskryf het totdat ek spoed verloor het, maar hulle is te min om iets mee te maak. Miskien probeer ek eendag weer. Maar dit sal iets anders moet wees as wat ek voorheen gedoen het. Dit voel nie die moeite werd om net te herhaal wat ek reeds gedoen het nie. Die uitdaging is om iets te probeer terwyl ek nie weet hoe en óf ek dit kan regkry nie." (Beeld, 29 Oktober 1992)

"Die literêre wêreld is nie iets waaroor ek veel dink nie. Ek dink oor stories en prosa en maniere om dit of dat in ’n roman reg te kry. Kortom, my belangstelling is skryf, eerder as literatuur."

"Ek kan my nie uitspreek oor die Afrikaanse literêre wêreld nie – dis eenvoudig te ver uit my ervaringsveld."

Destyds, as vars immigrant, het sy gebrek aan ’n plaaslike verwysingsraamwerk hom ’n buitestander gemaak. "Jy begin nuut, jou verlede beteken niks. En dis bevrydend, want jy kan jouself herskep. Maar jy is nog steeds jy, so die herskepte self is nie so anders nie. Al verander jy hoe, jou tande voel dieselfde in jou mond." (Rapport, 23 Junie 2013)

"Ek het my verwysingsraamwerk natuurlik met die weggaan verloor. Dit pla partykeer. Hier sou my skryfloopbaan seker baie anders verloop het, ek sou meer gepubliseer het met ’n uitgewer wat my ken en ’n langtermynvisie vir my loopbaan het. Maar as ek moet kies tussen skryfsukses en kinders, dan kies ek kinders. Jy betaal ’n prys, maar ek is nie spyt nie." (Rapport, 23 Junie 2013)

Ná sy skrywerstoer deur Suid-Afrika in 2013: "Writing is such a lonely business, with so few external rewards, that being patted on the back and seeing my book on a best-seller shelf was a thrill. Good as it was, though, it wasn’t writing. That lonely business, the groping for words while staring at the page or screen, is its own reward. Some of us could not exist without it. Neither could the business of publishing and bookselling." (7 Julie 2013)

En hoe goed is sy Afrikaans nog? "Ek praat daagliks Afrikaans met my vrou en meestal met my kinders ook. Ek het min geleentheid om Afrikaans met ander mense te praat, [aangesien] ek min Afrikaanssprekende vriende hier het. As gevolg van hierdie afgesonderde bestaan is my Afrikaans seker ’n bietjie verroes en outyds. Die uitdrukking ‘eisj’ het byvoorbeeld nie in Afrikaans bestaan toe ek nog hier gewoon het nie."

"Afrikaans het ’n aardsheid. Engels kan ’n hardheid hê, soos klip. Afrikaans is soos grond – dit het vir my goed gewerk." (Rapport, 23 Junie 2013)

"As jy n boek wil skryf, moet jy ’n idee hê wat jou ’n jaar of twee interesseer. Party idees maak my vir tien minute opgewonde, ander vir drie maande, maar daar is min wat my lank genoeg opgewonde maak dat ek ’n boek daaroor wil skryf." (Vrouekeur, 23 Augustus 2013)

"My stories is hopelik pakkender as hierdie saai lewe. Ek skryf soos wat party mense houtwerk doen of tuinmaak. Fiksie is ’n plek om te speel, met woorde te knoei, om sin te probeer maak en sin te help gee aan hierdie gedoente waarin ons ons bevind. As kind het ek oor pryse gedroom. Deesdae hoop ek bloot my woorde gee vir ander mense ook plesier." (Rapport, 23 November 2014)

"’n Skoolmaat het eenkeer vir my gesê: 'Jou land is alles wat jy is.' Ek het dit toe nie geglo nie en glo dit nou ook nie. Waar ek woon, het ’n invloed – die landskap en kultuur het my help vorm. Maar so ook die boeke wat ek lees, die musiek wat ek luister, die flieks wat ek kyk. Ek is ’n Suidwester, Suid-Afrikaner en Nieu-Seelander, ’n Westerling, ’n mens." (aan Naomi Meyer op LitNet, 2014)

"Ek het nie juis ’n besondere belangstelling in die politiek nie. Ek is ook nie ’n geskiedkundige, akademikus of politieke agitator nie. Ek vertel stories. Maar ek is ’n wit man en met die koloniale geskiedenis in Suid-Afrika, en soveel ander plekke in die res van die wêreld, kleur dit onvermydelik die boek (Die vertes in)." (Die Burger, 23 Oktober 2018)

"'A writer is a reader moved to emulation,' het Saul Bellow gesê, en dis waar van my. Ek skryf omdat ek so baie van lees hou. Lees laat jou soveel dinge beleef, dit maak so ’n ryk wêreld vir jou oop, en dit terwyl jy in jou pajamas sit met ’n stuk toast in die een hand." (Die Burger, 23 Oktober 2018)

"Ek het ’n joernalis geword omdat ek hou van skryf. Ek dink ek was nooit juis ’n goeie joernalis nie. Daar is egter elemente van joernalistiek waarby ek aanklank vind, naamlik ’n ondersoekende houding en ’n helder skryfwyse. Ek haat dit as ek iets lees en kan nie agterkom wie waar is, wie praat en wanneer dit afspeel nie. Jy kan nie ’n groot duisterheid belig as jy nie van paragraaf tot paragraaf helder is nie." (Aan Phyllis Green, Sarie, 5 April 2019)

Gebore en getoë

Zirk van den Berg is op 14 Julie 1960 in Walvisbaai in Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gebore. Sy familie het maar altyd daar gewoon en is ’n klomp ou Suidwesters. Sy oupa Zirk van den Berg het in die Eerste Wêreldoorlog saam met genl Botha in Suidwes geveg en is in die laat 1920’s terug daarheen. Sy ander oupa, Andries Bredenkamp, het in die 1920’s as transportryer die Dorslandtrekkers help terugtrek uit Angola uit. Hy het later op die plaas Chaibis gaan woon. Hierdie plaas het ’n belangrike rol in een van Zirk se boeke, Die vertes in, gespeel. Sy ma, Hettie, is in Suidwes gebore – sy was blykbaar die eerste Dopper-dopeling in Windhoek. Sy pa, Martiens, het as armblanke bywoner op ’n Kalahariplaas grootgeword voordat sy oupa ’n plaas genaamd Moscow naby Gochas bekom het.

Zirk vertel aan JB Roux in Vrouekeur van 28 September 2018 dat hy kan onthou dat as ’n jong seun hy saam met sy ouers en ander volwassenes op sy oupa se plaas, Chaibis, die veld ingery het om piekniek te gaan hou of skemerkelkies te gaan drink: "Ek onthou nie die besonderhede nie, net die besonderse gevoel wat ek gehad het. Dit het iets van die avontuur van die ou Afrika in my aangewakker." Later jare skryf Zirk Die vertes in waarin hy grotendeels probeer het om weer daardie gevoel vas te vang.

Zirk het grootgeword as die vierde van vyf kinders in ’n gesin waarvan die oudste en jongste met 18 jaar verskil. "My ma het dus van 1956 tot 1983 skooltoebroodjies gemaak," vertel Zirk aan LitNet. "Eers twee susters, dan my broer en ek en dan kleinsus. Ons het ook ’n half-Duitse halfsuster van wie se bestaan ons tot ’n paar jaar gelede onbewus was en wat ons nou eers leer ken. Omdat die gaping tussen my en my twee naaste sysate alkant toe ses jaar is, het ek in my voorskoolse jare tydens skoolure soos ’n enigste kind gevoel."

Zirk bring al sy skooljare in Bellville deur. Hy het hoërskool toenemend moeilik hanteer, maar het van kuns gehou, en terwyl daar ’n paar onderwysers was by wie hy aanklank gevind het, was daar nie een wat hom veel beïnvloed het nie.

Nie een van sy ouers het skool klaargemaak nie en hulle was ook nie getroue lesers nie. Sy oudste suster was die eerste persoon in hulle uitgebreide familie wat ’n graad gekry het.

Sy pa het dekades lank met munisipale geldsake gewerk, uiteindelik as finansiële bestuurder van die Bellville-stadsraad. Hy het in ’n stadium vreeslik Westerns gelees vir ontspanning. Dit was ook die gewone tydverdryf van sy oupa Andries, na wie Zirk blykbaar aard. "Hy was in sy later jare boer in die Khomas Hochland op ’n plaas wat nog in die familie is, maar ek dink hy’t meestal gesit en lees," vertel Zirk.

In die huis het hulle een boekrak gehad met ’n stel van Langenhoven se Versamelde werke en ook ’n stel van JHH de Waal se Versamelde werke.

"En dan was daar ook ’n baie ou uitgawe van die Afrikaanse Kinderensiklopedie in ’n verbleikte rooi linne-oortreksel. Dié het ek in my laerskooljare byna daagliks gelees. ’n Klompie ander boeke, onder meer my ouer sysate se voorgeskrewe werke soos Verhale van Griekse helde en gode.

"Ek was van kleins af ’n gereelde biblioteekgebruiker en ywerige leser. Ek het op 12 my eerste stories begin skryf. In my hoërskooljare het ek tweedehandse boeke by Book Exchange in Bellville gekoop. Ek bring steeds meer tyd in biblioteke en tweedehandse boekwinkels deur as in gewone boekwinkels."

Elsabé, sy "vrou en beste vriendin", ken hy sedert hy 15 was, dieselfde jaar toe die Engelse boekewêreld vir hom oopgegaan het. "Ons was met vakansie in Namibië, en in my nefie se huis haal ek Leon Uris se Exodus van die rak af, en besef ek kan Engels lees, ek verstaan dit. Wat ’n ontdekking! Dit was in 1975 en was ’n groot draaipunt vir my leeslus. Ek het weggetrek en vir die volgende ses maande drie boeke per week gelees, merendeels dik bestsellers, en in die jare wat gevolg het teen byna daardie tempo. Later begin om ernstiger boeke ook te lees, veral Nabokov en ouer Russe. Dit het my deur my hoërskooljare gedra," vertel hy aan Hanlie Retief (Rapport, 23 Junie 2013).

"My eerste storie as kind het gegaan oor ’n bokser wat in die hospitaal wakker word nadat hy drie dae tevore uitgeslaan is. Ek dink ek het dit nog hier iewers – dit het meer hoofstukke as bladsye gehad," vertel Zirk aan Laetitia Pople (Die Burger, 23 Oktober 2018). "My St 4-onderwyser het die storie, en die ander wat ek daai tyd geskryf het, in die klas voorgelees."

Op 18 is sy eerste verhaal in Die Huisgenoot gepubliseer. Hy matrikuleer in 1978.

Verdere studie en werk

Ná skool is Zirk na die Universiteit van Kaapstad waar hy ’n (soos hy dit noem) ’n "nuttelose" BA met Afrikaans/Nederlands en kunsgeskiedenis as hoofvakke behaal het.

Hy het ’n studiebeurs by Nasionale Pers gekry en van April 1980 af het hy vakansies by Die Burger, destyds nog in Keeromstraat, gewerk, met tikmasjiene. Ná sy graad in Desember 1981 het hy by Beeld begin werk voordat hy diensplig moes gaan doen, waar hy verslaggewer by die leërkoerant, Uniform, was. Ná sy diensplig is hy terug na Die Burger, waar hy in die laat 1980’s by die kunsblad gewerk het saam met die skrywers André le Roux en Kerneels Breytenbach.

Rondom 1990 is Zirk na Sanlam, waar hy in die kommunikasiedepartement as kopieskrywer begin werk het. Van sy kollegas was François Bloemhof, Deon Meyer, Regina Kemp en Rudie van Rensburg. In 1994 is hy aangestel as ’n reklamekopieskrywer by die agentskappe Saatchi & Saatchi en later by BBDO in Kaapstad. In 1998 het Zirk die Pendoring-toekenning vir die afdeling Koerante ingepalm met sy gevatte Blafana Blafana-hondekos-advertensie vir Husky.

Zirk is op 21-jarige ouderdom getroud met Liza Boshoff, dogter van die skrywer CF Beyers-Boshoff. In 1987 is hulle geskei. Daarna was hy en Anoeschka von Meck vir ’n jaar of twee saam. In 1990 is hy met sy oudste vriendin, Elsabé Pretorius, getroud en hulle het ’n seun, Bernard, en ’n dogter, Anna.

In Augustus 1998 verhuis Zirk en sy gesin na Nieu-Seeland nadat hy as pa van twee jong kinders paniekerig begin voel het oor die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Daar was hy vir ses jaar lank kommunikasiebestuurder van die land se grootste wynmaatskappy. Tans doen hy vryskutwerk as skrywer van bemarkingsmateriaal.

Zirk is nou al langer in Nieu-Seeland as wat ’n mens op skool is en sy kinders is basies Kiwi’s, sê hy. Dit is onwaarskynlik dat hulle sal terugtrek na Suid-Afrika. Hulle woon in Browns Bay in die noordelike voorstede van Auckland.

"My besluit (om te trek) het gevolge gehad, goed én sleg. Ek sal nie terugkom Suid-Afrika toe nie, maar as ek die tyd kon terugdraai, is ek nie seker ek sou dieselfde keuse gedoen het nie." Die impak van emigrasie, veral op sy vrou, kon hy nie voorsien nie. "Sy het geweldig swaargekry. Sy het na 15 jaar eers begin surface." (aan Hanlie Retief in Rapport, 23 Junie 2013)

In Nieu-Seeland het Zirk ook geweet hoe dit is om soos ’n mislukking te voel. Hy het aan Iain Sharp vertel: "When I first came to New Zealand there was a very worrying period when I was unemployed. I applied for a job at Auckland City Council and was told that I didn’t have sufficient writing skills for the job. That was very demoralising because I’d worked as a journalist and advertising copywriter for many years in Cape Town."

In 1990 debuteer Zirk met ’n kortverhaalbundel getiteld Ekstra dun vir meer gevoel. In ’n onderhoud vertel Zirk aan George Weideman (Beeld, 24 Mei 1990) dat hy ’n voorstander van vakmanskap en skryfdissipline is: "Jy moet weet wat jy doen as jy skryf. Goed, daar is natuurlik hierdie ding van inspirasies... maar jy kan nie op ’n mog-het-troffe-basis suksesvolle stories skryf nie. Daar is hierdie studentikose houding onder aspirant-skrywers: as jy kwáád genoeg is, dan moet jy uitgegee word."

Weideman wou ook meer by Zirk weet van die titel wat dalk as effe provokatief gesien kan word. Hierop antwoord Zirk dat hy in Ekstra dun met meer gevoel met twee dinge werk: "[S]eks as kommunikasie en die boek as kondoom. In die moderne opset is die kondoom baie keer die ding wat moontlikhede skep vir seks, vir kommunikasie. Maar terselfdertyd: as jy die kondoom het, gaan die kommunikasie nie ’n effek hê nie: jy gaan nie siek word nie, dit gaan onvrugbaar wees, en jy raak nie regtig aan die ander persoon nie."

"As ’n mens iets moet uitsonder wat eie is aan Tagtig, dan is dit seker die kondoom. Dit is ook vir my ’n simbool van valsheid, van doelbewustheid; dit vervals kommunikasie."

"Kondome is verskriklik aspris en goedkoop. ’n Boek is vir my ’n manier om te kommunikeer met wie dit ook al lees, maar dit skep óók ’n valse oppervlak vir hierdie kommunikasie."

"Kommunikasie beteken ook om goed te luister. Daar is minstens één storie in Ekstra dun wat ek as kind op die mat tussen grootmense gesit en aanhoor het. Dit het my bygebly, tot ek dit uit my uitgeskryf het."

Dorothea van Zyl (Rapport, 25 Maart 1990) het geskryf: "Die bundel bied om meer as een rede ’n mosaïek van en vir ons eie tyd. In die 43 verhale is daar gemene delers, soos die moderne stadsmens in sy eenlingskap; ongevoeligheid en gebrek aan ware kommunikasie met sy medemens, hetsy manlik, vroulik, wit of swart, en met sy seksuele komplekse, perversiteite en probleme. Teenoor die desillusie en die somberheid wat soms hierdeur opgeroep word, staan die ironie en ’n wrange humor.

"Die bundel bied dus heelwat, en vir verskillende lesers. Op eerste vlak is die stories leesbaar en vanweë die dikwels uitsonderlike situasies op sigself prettig. Om die hoekie loer egter dikwels ’n dieper sin en samehang wat die leser behoedsaam ’n tweede keer laat lees. Dit is ’n belowende debuut wat, indien sommige hinderlikhede uitgeskakel word, volop potensiaal vir die toekoms inhou."

By Hennie Aucamp (Die Burger, 29 Maart 1990) het die bundel ’n indruk van volwassenheid gelaat wat selfs sterker kon gewees het as dit ’n iets strenger geredigeer was. "Enkele verhale het nog na die studentikose geneig met emosies wat soms te groot en krampagtig is vir die prikkels wat hulle afgevuur het (byvoorbeeld in 'Op mure en glase' en 'Moontlik in die mond'). Maar miskien het dergelike verhale wel ’n funksie binne ’n bundel: hulle gee reliëf aan daardie verhale wat emosioneel en tegnies gesproke sekuur in die kol is. En van dié soort is daar verrassend baie tussen die veertig kort-kortverhale in die boek."

"Die skrywer rapporteer," volgens Aucamp, "oor die wêreld waarin hy leef en oor die wêreld wat in hom leef. Teenoor realistiese 'flitsbewegings' is daar verhale oor individuele kwellings. Maar 'teenoor' suggereer ’n opposisie, en dis juis wat nie in Van den Berg se bundel gebeur nie. Individuele en kollektiewe neuroses word afspieëlings van mekaar, en kom soms saam in een verhaal voor, soos byvoorbeeld 'Tog vreemd'."

"Naas verhale wat effens clichématig en gemanipuleerd aandoen, is daar verhale in Ekstra dun vir meer gevoel wat ’n oop senuwee by die leser raak en hom laat opskrik met 'the shock of recognition'. Dis die soort verhale wat konstantes binne ’n letterkunde word en spoedig hul weg na bloemlesings vind."

In sy resensie in Beeld van 1 Oktober 1990 skryf Charles Malan: "Daar skort niks met Van den Berg se vermoë om ’n outydse, stoere storie te vertel nie: oor geweld in die strate, kinderervarings, die wêreld van 'die manne', van subkulture en studente ... Soos deesdae maar te dikwels gebeur, bied melodrama ’n bruikbare vertrekpunt om die leser 'aan die hoek' te kry, maar verskeie stukke val ook daar vas."

"Dit is prosa wat ’n herlees die moeite werd maak, al is daar nog te veel van ’n selfbewustheid en vernuftigheid ter wille van homself (veral by slotdele), té maklike (stereo)tipering en selfs ’n stuk eksistensialisme wat die Franse met nostalgie sal vervul. Dit is ’n bundel wat veral geskik is vir ou onvolwassenes, diegene wat iets van die verwikkeldheid van ons lewe vandag begryp en nie meer vir seks skrik nie, maar nog heelwat van die hunkering oorgehou het."

Zirk se kortverhaal "Eendag dag ek ek sien bloed" is ook in heelwat bloemlesings opgeneem en het in skooleksamens opgeduik. Van sy verhale is ook in Abraham H de Vries se Eeu, ’n bundel uit honderd jaar van Afrikaanse kortverhale, opgeneem.

In 1992 skryf Zirk sy kortverhaal "Henkie se storie" in vir De Kat se kortverhaalwedstryd en word dit opgeneem in Die wond en ander verhale as een van die 21 beste verhale in die wedstryd.

Ander verhale van hom is opgeneem in Vuurslag (samesteller Hennie Aucamp, Tafelberg), Storiepalet (samesteller Jan B Vermaak, JL van Schaik), Kort-Kort (samestellers Tom Gouws en PH Roodt, JP van der Walt) en Bloots (Karin Eloff en Peter van Noord, Tafelberg).

Zirk se eerste roman, Wydsbeen, word in 1992 uitgegee en haal in 1993 die kortlys vir die CNA-prys se Afrikaanse Debuutafdeling. Die hoofkarakter in die roman is Estienne Barbier, wat een van die eerste werklik dramatiese figure in ons geskiedenis was. Hy was ’n man wat voluit en met geweld geleef het, vir JC Kannemeyer (Rapport, 8 November 1992) "’n soort vroeë Hemingway-figuur wat meen dat hy homself in die nuwe wêreld aan die Kaap van die Nederlandse burgery kan bevry, maar hom vasloop in die korrupte gesag van die Kompanjie-amptenare."

Zirk het in Beeld (29 Oktober 1992) aan Emile Joubert vertel dat die gees van Barbier hom omtrent gedwing het om sy storie te vertel. "Daar was tye wat ek gedink het iets van hom het uit die dode verrys om my te kom teister," sê Zirk, "dat hierdie boek se skryf en publikasie déél van sy lewe is. Barbier was tien jaar deel van my lewe terwyl ek geworstel het om dié se verhaal in ’n historiese roman gepubliseer te kry. Ek het die boeiende storie van Barbier as ’n student aan die Universiteit van Kaapstad ontdek."

"Ek was gelukkig genoeg om by prof Roy Pheiffer – maklik die beskaafdste mens wat ek nog teëgekom het – in Afrikaans-Nederlands klas te hê. Hy het ’n doktorale proefskrif gedoen oor die gebroke Nederlands van Franssprekendes aan die Kaap in die eerste helfte van die agtiende eeu. Estienne Barbier se wetsgedinge en oproerige geskrifte was sy grootse bron. Barbier was, sover ek weet, die eerste gewapende rebel in Suid-Afrika se geskrewe geskiedenis."

"Prof Pheiffer het eendag in die klas opgemerk dié man se geskiedenis sal lekker stof wees vir ’n roman. Ek was gehoek. In die jare van sukkel met die boek het ek hom baie keer verwens vir dié opmerking," vertel hy aan Emile Joubert.

Die res van die navorsing het in sy kop gebeur. "Wat inhoud betref, het ek probeer uitwerk wat die storie beteken. Ek het na die gegewe gekyk en dit probeer interpreteer op ’n manier wat vir my toeganklik en sinvol was."

Zirk was ’n groot waardeerder van die rolprente van Robert de Niro en Lawrence Kasdan, die speurverhale van Raymond Chandler en Elmore Leonard, en wetenskapprente en -romans, asook die musiek van REM, Prefab Sprout en Prince; dus was dit vir Emile Joubert vreemd dat hy so gefassineer is met Barbier en hy wou weet waar die geskiedkundige roman inpas.

"Die invloed van die hedendaagse populêre kultuur wys tog in Wydsbeen, dink ek, al is die gegewe histories," het Zirk verduidelik. "Daar staan juis iewers in die boek ’n mens kan net na die verlede kyk met die hede se wetes en waardes.

"Wat die historiese milieu betref, was dit vir my nogal bevrydend toe ek lees wat die rolprentregisseur Andrei Tarkofski gesê het: dat dit vir hom in ’n prent wat in die geskiedenis afspeel, belangriker was om getrou te wees aan ons hedendaagse idéé van daardie tyd, eerder as om werklik outentiek te wees."

Vir AP Grové (Beeld, 11 Januarie 1993) is Wydsbeen nie ’n blote oorvertelling van ’n stuk geskiedenis nie. "Dit gaan in hierdie boek wel bo alles om die verhaal van Barbier, en dis nie die doel van die skrywer om ’n breë skildering van die Kaapse werklikheid van die tyd te gee nie. Tog is daar genoeg plaaslike kleur, genoeg goedgekose besonderhede, om soliditeit en ’n ekstrahistoriese geloofwaardigheid aan die verhaal te gee, terwyl die kroeggesprekke, die beplannings en byeenkomste Barbier as mens tussen ander mense plaas en die dryfvere agter sy doen en later aan die lig bring. So word ’n historiese figuur ’n karakter en word ’n stuk geskiedenis tot literatuur verhef.

"Die skrywer het nie drasties ingegryp in die geskiedenis om vir ons ’n soort boodskap uit die historiese gebeure te pers nie. Tog het hy met sy rangskikking van gegewens, sy bepaalde aksentlegging, ’n genuanseerde beeld van Barbier ontwerp as dié wat die geskiedskrywing soms aan ons voorhou."

Grové vervolg: "Barbier word ’n ‘ronder’, veelkantiger figuur as dié wat ons uit die geskiedenis ken, ’n figuur wat naas verguising ook begrip mag vra.

"Miskien berei die titel van die boek ons hierop voor. Telkens ontmoet ons die wydsbeen-motief in die verhaal (perdry, oor ’n heining klouter), maar in sy essensieelste vorm as ons insien dat dit hier gaan om ’n man wat wydsbeen oor twee wêrelde te staan kom:
werklikheid en moontlikheid, ’n harde reël naas ’n vae, idealistiese droom – ’n onmoontlike posisie waarvan die onhoudbaarheid dramaties onderstreep word deur die uiteindelike straf wat Barbier moet ondergaan.

"So gesien, bring die roman tog ’n sekere boodskap, ’n universele waarheid: waar die droom teenoor die eise van die werklikheid te staan kom, is ’n ideale of selfs gangbare kompromis so goed as uitgesluit. Maar hierdie insig (en die boek laat ook ander lesings toe) word nie redenerend of betogend gebring nie. Van den Berg het ’n verhaal te vertel, en dié vertel hy met vinnige oorgange en dramatiese aksente.

"Voeg daarby die skrywer se nugtere, soms ironiese kyk op sake, sy aangrypende tekening van Barbier se toenemende vereensaming en ontnugtering, sy besef van neerlaag, gepaardgaande met die duidelike wete van die verskrikking wat op hom wag, en dit word ’n roman wat opwindende leesgenot kan verskaf en wat van meer as verbygaande betekenis is."

In teenstelling met Grové skryf Kannemeyer in Rapport (8 November 1992) dat Van den Berg se roman, ten spyte van die pakkende gegewe, ’n vervelige en dorre relaas geword het. "Ek is bevrees dat die hantering van die materiaal en die verbinding met ’n stuk klassieke tragiek as ondertoon die leser nie bevredig nie. In die Barbier-figuur skuil daar soveel boosheid en onbeteuelde geweld dat die balans tussen goed en kwaad verlore raak en hy nie ons simpatie kan behou nie.

"Maar," skryf Kannemeyer, "die besware lê dieper. Barbier rys nie genoegsaam uit die historiese stof op nie. Hy bly ’n papiermens oor wie daar te veel verslag gedoen word, met stukkies nogal kunsmatige en dikwels irrelevante dialoog vir die afwisseling tussenin gevleg. Die leser moet te veel historiese ballas saamdra, ook omdat Van den Berg se klaarblyklike poging om die stof te aktualiseer en vir vandag geldig te maak, nie bevredig nie. As Barbier se opstand teen ’n tirannie ook in ons era ’n geldigheid het, voel ’n mens dat die hedendaagse relevansie nie sterk genoeg spreek nie. Hy bly uiteindelik ’n vroeë 18de-eeuse geweldenaar en ontwikkel nie in ’n eietydse 'rebel without a cause' nie."

Vroeg in 1993 het die destydse TV1 se departement Afrikaanse drama saam met die skrywer Paul C Venter en regisseur Johan Bernard met ’n nuwe projek, genaamd Vierspel, vorendag gekom. Vier skrywers wat reeds bewys het dat hulle ’n verhaal met karakters kan vertel, het dieselfde gegewe gekry wat hulle as wegspringplek vir ’n enkeldrama moes gebruik. Die gegewe was: ’n Eensame ou man woon alleen op ’n afgeleë plaas met sy kat as enigste geselskap. Naby die plaashuis is ’n bos waar die ou man gaan stap. Hier vind hy ’n beseerde vreemdeling wat sy lewe verander. Die verhaal moet met dié gegewe en hoogstens nog twee karakters vertel word.

Die vier skrywers wat aan die projek deelgeneem het, was Zirk, Eleanor Baker, Melvin Whitebooi en André le Roux. Manie van Rensburg was die oorkoepelende regisseur, terwyl Anthony Wilson, Marina Bekker, Marikie Longhurst en Gerrit Schoonhoven die vier deelnemende regisseurs was. Die vier dramas is in September en Oktober 1994 oor die televisie gebeeldsend.

Zirk se drama, Draadwerk, die laaste van die vier wat gebeeldsend is, is in die omgewing van Muldersdrift verfilm. Sy storie het gegaan oor ’n eksentrieke ou man wat die weerlig wil inspan om Eskom te fnuik en ’n bankklerk met ’n trommel geld wat ontvoer word deur ’n rower wat eintlik ’n akteur wou wees. Almal beland in die ou man se bos en raak in die draadwerk van Draadwerk verstrengel.

Schoonhoven, die regisseur, het die stuk beskryf as ’n komedie met klugtige en spanningselemente wat vol aksie is. Dit was Schoonhoven se eerste geleentheid om hom as TV-regisseur te bewys en vir hom was dit soos ’n droom wat bewaarheid is. (Beeld Kalender, 12 April 1994)

Daar was ’n tweede ronde van Vierspel, waaraan Zirk ook deelgeneem het. Hierdie keer was die storie ’n gesinsdrama geïnspireer deur die tyd wat hy saam met Beyers-Boshoff in ’n huis in Westdene gewoon het. Marie du Toit was daarin. Die stuk se naam was Oor die muur.

In 1998 was Zirk saam met Marietjie van Rooyen en Harry Kalmer die vertaler van RL Stine se Goosebumps-reeks uit Engels in Afrikaans. Dit is in Afrikaans vertaal na Grillers. Die eerste vier titels in Afrikaans was Kiek en Koebaai!, Kom ons Verdwyn!Nag van die Mummies en Monsterbloed. (Zirk het aan LitNet gesê dat hy nie dink hy het die eerste twee gedoen nie. Daar was ’n ander een genaamd Juffrou is ’n Monster wat hy wel vertaal het, en miskien selfs meer. Daar was destyds foute met wie se naam in watter boek gekom het.)

Rondom 1995 het Tafelberg Uitgewers ’n novelle van Zirk, getiteld Lam man, vir publikasie aanvaar, maar Zirk het bedenkinge daaroor gekry tydens die herskryf en dit is nooit uitgegee nie.

In 1998, net voordat Zirk na Nieu-Seeland verhuis het, het hy in Engels begin skryf aan Nobody dies. Hierdie misdaadroman het sy aweregse memoires oor die afskeid van sy land geword – ’n sleutel tussen die verlede en toekoms. Dit het in 2004 by Random House New Zealand verskyn en gaan oor ’n man wat in ’n getuiebeskermingsprogram ’n nuwe identiteit moet kry – net soos Van den Berg in ’n nuwe land.

Wat die besluit van Random House om dit te publiseer buitengewoon gemaak het, is dat dit in Suid-Afrika afspeel en Zirk boonop ’n immigrant was met geen Nieu-Seelandse geskiedenis of openbare profiel nie. Met die verskyning het Nobody dies goeie resensies gekry. The New Zealand Herald het dit as een van die voorste vyf spanningsverhale van die jaar aangewys, saam met vier internasionale publikasies.

Zirk vertel aan Marlize Leyden (Vrouekeur, 23 Augustus 2013) dat die Nieu-Seelanders nogal gewaag het om Nobody dies uit te gee "omdat die verhaal in Suid-Afrika afspeel en ek boonop ’n immigrant is met geen plaaslike geskiedenis of openbare profiel nie."

Zirk self beskryf die verhaal van ’n Ander mens as volg: "Dis ’n riller met ’n sterk storie wat terselfdertyd ook ’n memoire van Suid-Afrika is. In wese gaan dit oor ’n man wat sy identiteit soek in die oorgang tussen een lewe na die volgende – amper soos ek toe ons geëmigreer het. En o ja, dit is goed geskryf." (Vrouekeur, 23 Augustus 2013)

Nobody dies gaan oor ’n polisievrou wat getuies moet versteek as hulle lewens in gevaar is. Maar pleks van om die getuies ’n nuwe identiteit te gee, vermoor sy hulle. Omdat hulle tussen identiteite is, soek niemand hulle nie en niemand kry hulle nie. Dis ’n volmaakte stelsel, maar net totdat sy die held ’n nuwe lewe moet inhelp.

Mack Lundy skryf oor Nobody dies: "When I read Nobody Dies, I thought of it as straight forward crime fiction. You have a Cape Town gangster, deaths, corruption, betrayal, police procedurals. Now I’m seeing Nobody Dies as a story about identity – three people trying to define themselves, trying to find their place, trying to give meaning to their lives – with the crime fiction elements as a vehicle. Van den Berg achieves an intimacy with his treatment of Daniel, Mike, and Erica that invests the reader in their story.

"Within this dangerous predicament, Daniel is able to take command of his life and deal with the situation on his terms. Erica, Mike, and Frank have their paths defined by Daniel giving him an influence you wouldn’t expect from the man you see at the beginning.

"I enjoy Zirk’s style of writing very much and would characterize it as edging into literary fiction. The characters are reflective but not in a way that slows down the narrative. While there are good action sequences in Nobody Dies, it is more character than action driven. As I finish this review more than a year after I read the book, feelings of sadness and affirmation still surface as I recall the characters and the road they travel within the story."

In The New Zealand Listener van 24 April 2004 skryf Christine Cole Catley: "The writing is crisp, the detail and background fresh and believable. Thus, the unhappy detective has to cope with an uncomfortable home life, with its ‘treacly entanglements’. Erica, on the other hand, perhaps needs a little more home background to be altogether convincing. But here is a writer with his own distinctive voice. To the pernickety – don’t be put off by that publisher’s nightmare, a slip in proofreading in the very first paragraph. Here is quality writing in a quality production."

In The Sunday Star-Times (8 Februarie 2004) het Lain Sharp ’n onderhoud met Zirk gevoer oor Nobody dies. Daarin het Zirk vertel dat die gebied wat hy in gedagte gehad het vir die begin van sy boek, naby sy oupa se plaas is. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het twee Duitsers wat nie geïnterneer wou word nie, dit vir die hele duur van die oorlog reggekry om in die gebied weg te kruip. Só maklik was dit vir mense om daar te verdwyn.

Nobody dies is ook op Breakfast TV (26 Februarie 2004) in Nieu-Seeland bespreek. Kate De Goldi het gesê dat dit ’n baie interessante en literêre spanningsroman op verskillende vlakke is. Sy het voortgegaan: "The interrelationships between these people are really fascinatingly followed. So it’s kind of a thriller, but it’s a psychological thriller as much as anything. Any book about South Africa, set in South Africa is always going to be on some level about the racist history there. So you can read a lot of these characters as symbols for how South Africa is dealing with its problems at the moment.

"The characters are well formed and really believable. Daniel is a kind of weird passive guy who’s kind of fallen into crime. He’s basically a good person and it’s looking at his rehabilitation to goodness, the choices that he makes. And I see that as a kind of analogue for the choices South Africa is making in the modern world now dealing with its turbulent racial history and future. I found it a really fascinating read and also because there’s so many South Africans in New Zealand now. One is meeting them more and more. It is very interesting to read about their world, which has been closed down and closed off to us in the past.

"A very good read and a dense, close read, an absorbing literary read, even though it’s a crime novel. I’m really looking forward to more of his stuff. I think he’s a name to watch."

In 2013 is die Afrikaanse vertaling van Nobody dies’n Ander mens, deur Kwela uitgegee en was Zirk op ’n boektoer in Suid-Afrika om die boek bekend te stel. Dit was sy eerste besoek aan Suid-Afrika sedert 2008.

"Nieu-Seelanders dink seker die hoofkarakter is ek, dat ék in getuiebeskerming is, en dis nogal vir my ’n nice gedagte," sê hy aan Hanlie Retief (Rapport, 23 Junie 2013). "’n Leser daar het vir my gesê dis ’n sad boek. Ek het vreeslik verlang na die Kaap, en ek het geskryf hoe ek verlang. Baie van die goed in ’n Ander mens speel af op plekke waar ek was."

Die graffiti wat Van den Berg altyd van die spoorlyn af op ’n betonmuur gesien het, "The Human Cause" in groen Gotiese letters, laat die speurderkarakter in sy boek wonder of dít die laaste woorde was wat ’n slagoffer gelees het voordat hy van die trein afgegooi is. 

Hy beskryf die Suidoos ("hark Soutrivier se fabrieksgasse bymekaar") in twee intense paragrawe; ’n moord vind plaas in ’n mankolieke woonstel in Vredenburgsteeg waar sy ou studentevriend gebly het. "Ek wil weer by Vredenburgsteeg inloop ... dis als vir my so ’n groot onthousessie – verwarrend, vertroebelend, dit foeter my kop op."

In gesprek met Karin Brynard by die bekendstelling vertel Zirk dat hy self die vertaling behartig het. Soms moes hy behoorlik kopkrap om ekwivalente vir bepaalde frases te vind, veral aangesien hy al vyftien jaar lank oorsee woon. Tog meen hy die Afrikaanse weergawe is uiteindelik beter as die Engelse een. "Met die vertaling het die boek ’n grinterigheid gekry wat dit nie in Engels gehad het nie," het hy gesê.

Die titel was ook moeilik om te vertaal. Uiteindelik is op ’n Ander mens besluit, wat ’n idee gee van die tema van identiteit wat ook in die roman aangeraak word. Die feit dat ’n mens wyer kwessies kan aanraak in ’n boek wat steeds ’n sterk spanningslyn behou, is een van die redes waarom Zirk van den Berg van die speurverhaalgenre hou.

Die nuwe identiteit wat Daniël in die getuiebeskermingsprogram moet aanneem, kan as ’n subtiele allegorie vir die pyn van emigrasie gelees word. Maar ook dit was nie heeltemal doelbewus nie, meen Zirk teenoor Danie Marais (Die Burger, 28 Junie 2013).

"As jy kyk na die tydsgreep waarin die boek geskryf is en wat in my lewe aan die gang was – ek was letterlik ook besig om van een lewe na ’n ander oor te gaan – sou dit stompsinnig wees om nie te sien dat daar wel ’n verband is nie.

"Maar die idee van identiteit interesseer my nog altyd. Iemand het gesê ‘man is a process masquerading as a structure’. Die hele idee van die verspoeling van identiteit fassineer my."

Jonathan Amid skryf in sy resensie van ’n Ander mens op LitNet dat die verhaal op ’n betreklik eenvoudige premis geskoei is: "Erica van der Linde, in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram in die negentigs, is ’n skrander, mooi vrou met onpeilbare grys oë en haar eie sin vir geregtigheid. Sy het ook (soos die leser in die boek se mees opwindende laaste derde agterkom) ’n tragiese geheim wat haar pa en haar eie lewe onherroeplik skade berokken. Om seker te maak dat die getuies in haar bewaring nooit weer met ’n oog gewaar word nie, het dié onwrikbare vrou skynbaar die perfekte oplossing: sy vermoor hulle. So maklik is dit."

Amid skryf verder: "Soos die leser van hierdie resensie sekerlik kan aflei, is daar ’n liederlike vlieg in die salf in die vorm van Daniël Enslin. Enslin se saai, twyfelagtige bestaan word opgekikker deur die klein werkies wat hy vir die skelm, Frank Redelinghuys, doen. Soos die noodlot dit wil hê, is Enslin teenwoordig wanneer daar ’n moord gepleeg word. Hy wend hy hom tot die polisieman Mike Acker. Acker plaas Enslin in die sorg van Van der Linde, en na ’n sluimerende, berekende begin vat die roman behoorlik vlam wanneer Enslin die poging op sy lewe deur Van der Linde oorleef.

"Dit is dan dat daar heelwat onverwagse en bevredigende kinkels kop uitsteek – selfs die heel laaste gesprek in die slot lewer ’n lekker aweregse tikkie genot op. Sonder om veel te verklap: baie van die intrige word gebou rondom die feit dat Acker salig onbewus is van die feit dat Van der Linde getuies koelbloedig vermoor. Hy is dus ’n goeie man wat die beste vir sy familie en ander wil hê, maar wat onwetend getuies se laaste asems help uitblaas.

"Alhoewel die skrywer die skurk Redelinghuys ’n betreklik louwarm teenwoordigheid maak deur weinig verby ’n laag ‘kriminele’ cliché te beweeg, word die karakterisering van Acker, Enslin en Van der Linde een van die roman se groot sterkpunte. Al drie is uiteindelik simpatieke karakters wat op verrassende wyse verwikkel raak.

"Die beskrywings van die Kaap en die Namib-woestyn is besonder mooi geskakeer. Hoewel dit nie noodwendig deurgaans die geval is nie, word die ruimte waarin die roman afspeel, by tye werklik goed aangewend om te pas by die stemming van die prosa en die verskillende emosies wat karakters beleef.

"Van den Berg slaag beslis daarin om die stemme van sy hoofkarakters en verskillende fokalisators van mekaar te onderskei, en namate die aksie (wat nooit dreig om van die roman se meer filosofiese, onderliggende handelinge nek om te draai nie) vorder, ervaar ’n mens deernis met dié wat die reis in die roman self meemaak. Daar is ook liriese oomblikke wat ’n groot indruk maak. Met die aksie, wanneer dit kom, skort daar min.

"Die gepaste titel dui ooglopend op die feit dat diegene wat in die getuiebeskermingsprogram geplaas word, ’n nuwe identiteit moet aanneem, en wesenlik 'nuwe’ of ‘ander’ mense moet word om te oorleef en met hulle lewens aan te gaan. Dit is tot ’n mate hier ook die geval, maar die diepte wat ’n mens tog van enige goeie roman verwag, kom ruimskoots soos wat elke hoofkarakter poog om hom- of haarself weens omstandighede en bewussyn in meer gelukkige, volronde of minder gebrekkige wesens te omskep.

"Daar is bitter min macho houding in die manier waarop Van den Berg sy tyd vat om ’n netjiese, opwindende lekkerleesverhaal te vertel. Die vertaling is soepel; daar is min in terme van taalgebruik wat knaag. Ek vermoed dat lesers sal wonder hoekom dit nodig was om ’n boek wat amper tien jaar oud is te vertaal wanneer daar soveel nuwe Afrikaanse werke op die rakke beskikbaar is, maar ’n Ander Mens is ’n waardige toevoeging tot die plaaslike mark."

Daar was ook na Nobody dies ’n paar mislukte boekpogings tussendeur. ’n Ligte misdaadverhaal wat in Auckland afspeel, No-Brainer, is op die ou end in 2011 deur Zirk self as e-boek uitgegee. Oor No-Brainer het Stephen Stratford (skrywer en hoofbeoordelaar van die 2012 NZ Post Book Awards) gesê: "No-Brainer is a terrific crime novel with strong characters, great dialogue and consistently appealing humour throughout. I love it, and am sure that Raymond Chandler would approve."

Zirk wou baie graag Nobody dies in Suid-Afrika publiseer, maar kon geen Suid-Afrikaanse uitgewer kry nie en het toe uit pure frustrasie in 2010 besluit om dit self uit te gee. En aangesien hy nie derduisende rande of ’n uitgebreide netwerk vir verspreiding gehad het nie, maar wel die Suid-Afrikaanse regte terug by hom, het hy besef ’n e-boek is sy enigste opsie.

Zirk moes die boek se formaat skaaf en ’n omslag laat ontwerp. Hy vertel: "Maar die dag waarop ek uiteindelik – trots – my teks en omslag in die produksielyn sit, sien ek daar is meer as 2 600 boeke voor myne in die ry! Kennelik is e-boeke niks ongewoons meer nie. Hoe sorg jy dus dat jy raakgesien word op die internet met sy meer as 14 miljard bladsye?"

Hy het toe sy eie webwerf en Facebook gebruik om voornemende lesers te bereik. "Dis ’n moeisame proses wat hopelik ’n sneeubal-effek sal hê. Uiteindelik is die kans om ’n beduidende bedrag geld te maak, uiters skraal. Maar dis nie hoekom ek skryf nie. Deur self my e-boeke te publiseer, kan ek my werk met ander deel sonder om eers ’n sakeman te oortuig dat daar geld te make is. En as skrywer is dit die heel beste nuus."

Zirk het in 2008 ’n historiese roman aan uitgewers voorgelê wat in 2014 in sowel Engels as Afrikaans by Penguin in Suid-Afrika gaan verskyn.

Zirk het op sy dag flieks geresenseer vir Die Burger en was nogal ingestel op die kuns daarvan, maar is deesdae bykans net daarop uit om vermaak te word. "Ek is ’n totale sucker vir ’n romcom, en kyk Moonstruck elke paar jaar weer. My gunsteling-flieks? Ek het sentimentele gunstelinge soos die Pool Andrej Wajda se Ashes and Diamonds uit die 1950’s. (Ek het in my jeug ’n groot voorliefde gehad vir Oos-Europese flieks en boeke en dit het steeds nie heeltemal gewyk nie.) Out of Africa oorrompel my telkens – iets oor die verlies aan ’n droom van Afrika." 

"Raymond Chandler en Elmore Leonard se name is nog altyd daar as dit by misdaadverhale kom, hoewel ek deesdae Charles Willeford se naam bo-aan die lys sal sit, met KC Constantine en Jim Thompson ook prominent. Thompson het myns insiens ’n paar boeke geskryf wat bokant die genre uitstyg, byvoorbeeld The Getaway, en dan is Pop 1280 ’n absolute kragtoer van vertelkuns. Dan hou ek baie van Friedrich Dürrenmatt se paar misdaadverhale. En vanjaar het ek een van die heel beste misdaadromans ooit gelees – Massimo Carlotto se Death’s Dark Abyss. Dis ’n grootse boek.

"Ek was nog altyd ’n groot Nabokov fan. My gunstelingboeke wat ek die laaste 20 jaar of so gelees het, was The Following Story van die Nederlander Cees Nooteboom en ’n klompie boeke deur die Fransman Romain Gary. SyKing Solomon (onder die skuilnaam Emile Ajar) is wonderbaarlik. Ek herlees beide hierdie boeke van tyd tot tyd.

"Skrywers wat ek deesdae gereeld lees vir ontspanning is die historiese spioenasieverhale van Alan Furst en die ligte misdaadverhale van Andrea Camilleri. Wat die wetenskapfiksie betref, ek het oor die jare besef ek is eintlik ’n bewonderaar van Philip K Dick en nie van die genre nie.

"Ook is ek steeds ’n aanhanger van REM, Prefab Sprout en Prince as hy nie dansmusiek maak nie. Dan is daar Pete Townshend en ouer Van Morrison, asook die gek Engelsman Robyn Hitchcock. Ek het ’n swakheid vir ’n soms sentimentele outjie genaam Roddy Frame, wat in die 1980’s (as Aztec Camera) plate gemaak het. Van die nuwe geslag hou ek heel van The National en is beïndruk deur heelparty van die mense na wie my kinders luister, onder meer Lana del Rey."

Zirk erken teenoor Iain Sharp dat daar ’n mate van ironie daarin is dat hy in sy skryfwerk sy aandag op misdaad gevestig het, aangesien dit juis die misdaad in Suid-Afrika is wat hom laat emigreer het.

"I hope to entertain readers with a well-constructed thriller," het hy gesê, "but I like to think there are some worthwhile themes in my book too. I enjoy reading crime fiction as well as writing it, but certain kinds of crime writing appeal more to me than others. I am more interested in character than in intellectual games that are at the heart of the Agatha Christie type of mystery.

"I take my family responsibilities seriously. For me, this means a day job to bring in the necessary income for my household and writing at night after my children have gone to bed. It might take me a long time to finish a book. So, I need an idea that will sustain my attention rather than one that quickly loses its lustre.

"I set Nobody dies in South Africa because I knew the landscape and didn’t feel confident yet about using a New Zealand location."

In 2014 is ’n Ander mens die wenner van die eerste kykNET-Rapport Boekprys vir Film. Herman Binge het namens die beoordelaars die commendatio gelewer: "’n Rolprent is afhanklik van ’n aangrypende storie en in Zirk van den Berg se verhaal van Daniël Enslin, ’n vaal mannetjie wat ’n ander mens moet word om te kan oorleef, is daar genoeg spanning om jou vir 90 minute vasgenael in jou bioskoopstoel te laat sit!"

"Die eerste belangrike element wat ter sprake kom by die verwerking van ’n roman na ’n rolprentteks, is die kommersiële en dramatiese potensiaal van die tema. Dit het hierdie roman in ruim mate. (...) Zirk van den Berg maak die verskynsel van die dubbele persoonlikheid op ’n ongewone, hoogs interessante manier nuut."

"Die roman is nie net aksiegedrewe nie, maar ook sterk karaktergedrewe. Die hoofkarakter, Daniël Enslin, is ’n staatsgetuie. Die persoon in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram is Erica van der Linde. Sy moet sorg dat getuies wie se lewens bedreig word, beveilig word. En sy het die perfekte metode gevind om hierdie opdrag uit te voer: sy vermoor hulle. Maar in Enslin se geval loop haar planne skeef. Dit dwing haar om ook self ’n ander mens te wees."

"Deur Van den Berg se pragtige beskrywings van die wye Afrikalandskap, vanaf die afgeleë woestyne in Namibië tot by die woelige voorstede van Kaapstad waar drome onderbreek word deur die klank van alarms wat loei en honde wat blaf, lei hy die leser tot in die hart van skrikwekkende gebeure. Met ’n hoofkarakter aan wie die leser geheg raak, een wat dalk nie ’n superheld is nie, net ’n gewone mens soos ek en jy, een wat besluit om te oorleef. ’n Ander mens is ’n waardige wenner van die kykNET-Rapport Boekpryse se eerste filmtoekenning."

Die filmweergawe van ’n Ander mens is tydens 2018 se kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon met Bennie Fourie in die rol van Daniël Enslin.

Selfs wanneer hy nie romans skryf nie, hou hy hom steeds besig met skryf, vertel Zirk aan JB Roux (Vrouekeur, 28 September 2018): "Ek is ’n vryskutskrywer wat vir ondernemings reklamekopieë, nuusbriewe, persverklarings, webwerwe, handleidings en dies meer skryf. Ek werk deesdae deeltyds by ’n skakelonderneming. Drie dae van die week werk ek vir myself. Ek bemoei my ook redelik ernstig met bordspeletjies – ek het tien jaar gelede ’n klub gestig met 20 of 30 lede. Of ek swerf op die internet rond, lees, fliek, kyk tennis of ginnegaap met my gesin en vriende."

Zirk het ook die afgelope paar jaar drie van Wilbur Smith se boeke in Afrikaans vertaal, asook die krieketspeler, AB de Villiers, se outobiografie. Twee misdaadromans van Philip Kerr is ook op sy lys van vertaalde werke.

In 2014 verskyn Halfpad een ding, Zirk se volgende roman by Penguin Books. Zirk het Halfpad een ding aanvanklik in Engels geskryf. Die Afrikaanse vertaling was ’n voorstel van die uitgewers, Penguin, se kant af. Zirk het dit verwelkom. "Die verwerking in Afrikaans het ook weer die Engels beïnvloed. Daar was dus op die ou end heelwat kruisbestuiwing tussen die weergawes."

Die hoofkarakter in Halfpad een mens is Gideon Lancaster, ’n Nieu-Seelander wat sy gewig by die Britte ingegooi het gedurende die Anglo-Boereoorlog. Sy ma is ’n Nederlander en Gideon kan dus Nederlands praat en verstaan. Dit lei daartoe toe dat hy deur majoor Bryce gebruik word as spioen om generaal De Wet te probeer vastrek.

Gideon infiltreer die kommando van kommandant Jacob Eksteen. Sy pad kruis met dié van Esther Calitz, ’n Boeremeisie met ’n wil van haar eie op wie Jacob ook ’n oog het. As gevolg van sy gevoelens vir Esther begin Gideon later ook lojaal voel teenoor die Boere wat hy leer ken.

Op LitNet wou Naomi Meyer by Zirk weet hoekom Gideon op Esther verlief geraak het: "Die kort, en seker nie vreeslik insiggewende antwoord nie, is dat sy dit werd is. ’n Manlike leser skryf anderdag vir my omtrent die mooiste ding wat ’n leser kan sê. Hy skryf hy is self so ’n bietjie verlief op Esther Calitz. En ek moet bely ek is ook. Sy speel ’n baie belangrike rol in die storie. Soos seker in baie mans se lewe, is die vrou op die ou end die maatstaf van sukses – dis soos ons bedraad is."

In Vrouekeur (11 Julie 2014) skryf Willie Burger: "As besluite altyd die keuse tussen reg en verkeerd was, sou die meeste mense nie so baie moeite met besluitneming gehad het nie. Ook nie Gideon nie. Die probleem is eers wanneer ’n mens moet kies tussen wat reg is in een situasie (lojaliteit as soldaat) en wat reg is in ’n ander situasie (trou aan jou liefde vir iemand) en as hierdie twee keuses mekaar uitsluit. Daarom begin die boek met hierdie boeiende sin: 'Gideon Lancaster het met een en dieselfde daad albei kante in die Boereoorlog verraai, en hy voel self verraai.'"

"Hierdie spanning in een mens ontvou op ’n ontroerende manier. Die beskrywings van die landskap en veldslae is dikwels oortuigend, die dialoog tussen die gewone soldate soms snaaks en ten spyte van die ietwat stywe taalgebruik, word die leser by die morele dilemma tussen Gideon en Esther ingesleep."

Erika de Beer is die resensent in Beeld van 17 Maart 2014 en vir haar is Jacob Eksteen se karakter, hoewel ekstreem, geloofwaardig uitgebeeld. So ook die karakters Matzdorff, Steyn en Esther, maar met die tipering van Gideon Lancaster het sy ’n probleem: " Hy bly regdeur problematies. Die leidrade oor hom is vaag en uiteenlopend en bring net nie ’n geloofwaardige karakter tot stand nie. Dit is baie moeilik om empatie met of ’n gevoel teen hom te ontwikkel. (...) Tog is die storie goed uitgedink, nagevors en vertel. Moenie ’n Fees van die ongenooides verwag nie; dis ’n lekkerleesstorie wat jou ’n paar uur lank in ’n ander wêreld sal plaas."

Vir John van den Berg (Sarie, Augustus 2014) is Halfpad een ding ’n roman van "hoogstaande gehalte".

Die vertes in is die titel van Zirk se volgende roman wat in 2018 gepubliseer is. Dit speel af in Namibië in 1905 toe die gebied nog bekend gestaan het as Duits-Suidwes-Afrika.

Zirk vertel aan JB Roux (Vrouekeur, 28 September 2018) dat hierdie roman, Die vertes in, sy manier is om as gebore Namibiër na sy "heimat" terug te keer.

"Ek voel halfverleë om dit te sê, want natuurlik kan ek hier van die ander kant van die aardbol af nie oor Namibië voel soos die mense wat daar woon nie. Ek voel nogtans ’n diepe verbintenis met die land. Dis waar ek my eerste herinneringe gemaak het.

"Ek het ’n paar jaar gelede Namibië toe gegaan om navorsing vir die boek te doen. Terwyl ek daar rondgery het, was ek nie net onder die indruk van die ongelooflike landskap nie, ek was ook baie bewus daarvan dat my familiegeskiedenis daar lê. Ek het op verlate paaie gery en gedink: Hier het my pa en albei my oupas gery. Hulle was Namibiërs. Ons spore lê daar.

"Ek is op Walvisbaai gebore, wat net op papier deel van Suid-Afrika was. Toe ek ’n jong kind was, het ons saam met my ouers en ander grootmense op my oupa se plaas, Chaibis, vir ’n piekniek of skemerkelkies die veld in gery. Ek onthou nie die besonderhede nie, net die besonderse gevoel wat ek gehad het. Dit het iets van die avontuur van die ou Afrika in my aangewakker. Hierdie boek is grootliks ’n poging om daardie gevoel weer vas te vang."

In Die vertes in kom Siegfried Bock, ’n jong man, in 1905 in Duits-Suidwes-Afrika aan en hy moet bewys lewer dat daar murg in sy pype is. "Vyf karakters se lot in die ongerepte land word hier uitgespeel en hul menslikheid tot die uiterste uitgedaag," skryf Laetitia Pople in Die Burger van 23 Oktober 2018 in haar e-posonderhoud met Zirk.

Op ’n afstand het die Duitse tyd in Namibië vir hom baie romanties gelyk, skryf hy: "Ek het nog altyd belanggestel in die geskiedenis en het toevallig tydens ’n besoek aan Suid-Afrika tien jaar gelede by die vriende waar ek gebly het, ’n boek oor die geskiedenis van Namibië in die Duitse tyd raakgeloop en gelees. Toe ek in 2013 in Suid-Afrika vir die bekendstelling van ’n Ander mens was, het my uitgewers na aanleiding van die boek se openingstoneel in Namibië voorgestel dat ek misdaadboeke skryf wat in daardie land afspeel."

Zirk het egter ’n probleem gehad – hy was nie meer op hoogte met die Namibië van vandag nie. Toe hy egter in 2014 die kykNET-Rapport-Filmprys vir ’n Ander mens wen, het hy van die kans gebruik gemaak – hy gebruik sy wengeld om na Namibië te reis en meer oor die moderne land te gaan uitvind.

"Om die boek se gebeure oortuigend te vertel, verg navorsing, maar dis maar soos enige ander storie: pure verbeelding," sê hy aan Pople. "Jy weet uit navorsing dat knypbrille bestaan het, maar dan verskyn jou karakter en daar is een op sy neus en jy weet nie waar dit vandaan kom nie.

"Ook was dit nooit my plan om ’n politieke boek te skryf nie – dit het net gebeur. Ek wou ’n misdaadverhaal skryf wat in die ou Duitswes afspeel, maar toe word die karakters gekonfronteer met ’n situasie wat groot morele eise aan hulle stel. Dit het my so half teen my sin gedwing om te skryf oor die politieke omstandighede waarin die karakters hulle bevind. Ek het eers in ’n opvolgboek by die misdaad uitgekom!"

Oor sy belangstelling in die geskiedenis – Die vertes in is sy derde historiese roman na Wydsbeen en Halfpad een ding – skryf Zirk aan Pople dat dit die "stories" in "histories" is wat hom prikkel: "Vir ’n skrywer skep historiese fiksie die bykomende vereiste dat jy navorsing doen, wat ’n mens seker as iets negatiefs kan sien. Ek geniet dit egter om oor die geskiedenis te lees. As jy eers die breë opset van ’n geskiedkundige situasie verstaan, is daar allerhande lekker detail wat ’n mens kan raaklees, soms in obskure bronne.

"Vir Halfpad een ding was daar iets soos die feit dat generaal Christiaan de Wet altyd ’n sonbril gedra het. Vir Die vertes in het ek afgekom op ’n omstrede sokkerwedstryd in 1904, wat lekker detail bydra. Daar is ook ander aspekte van historiese fiksie wat vir my as skrywer ongetwyfeld positief is.

"Dit help my om stories te laat beweeg. Ek het in my jong dae erg staties geskryf. Die uitgewersredakteur Petra Grütter het my eenkeer ingeroep en gesê die lewensmoegheid lê my stories dood. (Wat verstaanbaar is; ek was immers in my vroeë 20's). Daarby vat historiese fiksie my weg van die komplekse warboel van die hede af wat my eweneens verlam."

Lesers wil partykeer weet hoe ’n skrywer daarin slaag om homself terug te plaas in die verre verlede: "Ek dink nie mense in die geskiedenis verskil wat ons binnelewe betref veel van vandag se mense nie," vertel Zirk aan JB Roux. "’n Mens lees maklik ’n boek wat in die 19de eeu geskryf is en hoewel die buitewêreld eksoties is, is die karakters se binnelewe heel bekend.

"As dit by mense se houdings kom, het dinge wat die politiek betref, wel verander. Dinge wat destyds vir mense vanselfsprekend gelyk het, is vandag ondenkbaar. As ek dinge lees wat geskryf is in die tyd wat my storie afspeel, is dit verbasend om te sien hoe oopkop sommige mense was. Sommige Duitse soldate het begrip gehad vir hul vyande, die Herero's en Namas, se griewe. In die Duitse parlement is sake van alle kante af beredeneer."

Een van die onderwerpe wat Zirk aanraak in Die vertes in, is die verskriklike wreedheid van die massamoord wat deur die Duitse teenoor die Herero's gepleeg is. Hierdie geskiedenis word selde nog onthou.

Zirk verduidelik verder aan Roux: "Ek dink so min oor die politiek as wat ek kan; ek stel meer in individue as in groepe belang. Hierdie boek is hoegenaamd nie polities geïnspireer nie. Dis nie geskiedskrywing, ’n preek of belydenis nie. Dis fiksie, ’n storie vir mense om te lees omdat dit vir hulle ’n plesier is.

"Siegfried Bock, ’n soldaat wat in Duits-Suidwes-Afrika kom diens doen, en die ander karakters in die storie, word met ’n situasie gekonfronteer wat groot uitdagings bied, veral op morele gebied. Ek het gevind dat my idee om ’n misdaadboek te skryf, hom vasloop in ’n historiese gegewens wat ’n denkende mens, hetsy skrywer of karakter, nie kan ignoreer nie. Die boek gaan deels oor die karakters se pogings om aan die politieke omstandighede van hul tyd vat te kry."

Vir Zirk is die deel van die Duitse geskiedenis in Namibië baie "rou en dramaties" en die volksmoord op die Herero's en Namas, hoewel geskiedkundig baie belangrik, ook ’n tragedie met ’n geweldige afloop: "Die gedagte aan die konsentrasiekampe waar derduisende Herero's en Namas binne enkele jare dood is, is op die Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog gegrond, Dit was ook ’n voorloper vir die gruwelkampe van die Tweede Wêreldoorlog. Daarby was die Nazi's se siening van rassepolitiek deels gevorm deur idees wat dr Eugen Fischer op navorsing in Namibië gegrond het. Ek moet noem dat dit ’n fout sou wees om te dink dat ander Europese nasies, en ook Afrikaners, ons beter as die Duitsers teenoor inheemse volke gedra het."

Oor die titel, Die vertes in, sit Zirk sy denkprosesse aan JB (Vrouekeur, 28 September 2018) uiteen: "Mense vermoed soms daar is meer aan die titel as wat dit lyk. Op die ou end het ek besluit op Die vertes in, deels oor die gevoel wat dit skep, ’n hunkering na iets ver of vervloë. Dan gaan die karakters fisiek die vertes in; hulle reis na nuwe plekke. Daar is ook die psigiese reis, weg van die sekerheid van bekende dinge na nuwe uitdagings en die onverkende terrein van die self."

Teenoor Elna van der Merwe lig Zirk so effens die sluier oor die "weerloosheid" wat te bespeur is by sy hoofkarakter Siegfried Bock en ook oor weerloosheid by die skrywer: "Siegfried Bock is nie noodwendig die karakter met wie ek die sterkste identifiseer nie. Mordegai Guruseb lê my baie na aan die hart. Weerloosheid is wel ’n eienskap wat ek dink mense geringskat. Dit verdiep jou selfkennis en verbreed jou empatie. Dis mense wat seerkry nie aan die bas voel nie wat ander mense die maklikste seermaak." (Huisgenoot, 24 Januarie 2019)

In Beeld van 8 Oktober 2018 skryf Francois Bekker, dat Zirk in hierdie roman dit uitstekend regkry om aan die geskiedkundige gebeure ’n menslike gesig te verleen: "Hierdie menslikheid is moontlik danksy knap karakterisering en ’n verhaal wat die verbeelding aangryp. Die verloop van die storie word met soberheid vertel, ontdaan van sentiment of literêre pretensie.

"Die spanningslyn suig die leser by die storie in omdat reg en verkeerd dramaties teenoor mekaar gestel word. Die leser ervaar die rampspoed van opportunistiese politiek saam met die karakters. Bock moet die soort keuses maak wat manne van die seuns skei. Die romantisering van misplaaste bravade word genadeloos ontmasker.

"Die Duitsheid as kulturele vingerafdruk op hierdie grootliks onherbergsame stuk Afrika, veral vanuit ’n semantiese oogpunt, kom treffend aan die bod in hierdie teks. Kolonisasie word met hierdie storie aangrypend aan die kaak gestel – as ’n vorm van verkragting.

"Die vertes in is ’n meesleurende verhaal met ’n sterk en aktuele boodskap wat by jou sal spook lank nadat jy die boek klaar gelees het."

Vir Denver Kisting kry Zirk dit reg om die geskiedenis uit die oogpunt van die verontregtes te vertel: "Die Afrika-gesegde lui 'tot die leeu leer om te skryf sal elke storie die jagter ophemel'. Van den Berg gee met dié werk ’n stem aan die leeu."

Op Maroela Media is Johan Myburg die resensent en hy is van mening dat afgesien van die geskiedkundige gebeure en die "vernuftige ontwikkeling van die verhaallyn, maak die skrywer ook gebruik van die geleentheid om nie net elemente van onmenslikheid uit te beeld nie, maar ook dié van menslikheid: "In meer as een geval is dit menslikheid wat saamhang met inbors, met optrede wat buite die vermeende perke van die betrokke karakters lê – altans gesien uit die oogpunt van die samelewing."

In 2019 verskyn Ek wens, ek wens by Kwela en Zirk palm drie pryse in – die kykNET-Rapport-boekprystoekenning vir fiksie, asook die kykNET-Rapport-boekprystoekenning vir film in 2020 en die WA Hofmeyr-prys vir 2020.

Zirk vertel aan Phyllis Green in Sarie (5 April 2019) dat die verhaalgang van sy stories meestal duideliker word soos hy skryf: "Ek het gewoonlik ’n situasie in gedagte wanneer ek begin, en dan skryf ek wat vooraf gebeur wat daardie situasie tot gevolg het, en/of dit wat uit die situasie voortspruit. Met Ek wens, ek wens, het ek net eers ’n begin gehad – die seuntjie wat by die lykbesorger kom en vir hom die sprokie van die drie wense vertel. Dit het my die beste deel van ’n dekade gevat om uit te werk wat om met die idee te doen."

In Ek wens, ek wens is Seb, die hoofkarakter, ’n lykbesorger by White Lily Funerals. Hy is nie ’n baie gelukkige persoon nie – nie by die werk nie waar hy besig is om te stagneer en ook nie by die huis nie waar hy onder sy vrou Helen en hulle twee tienerkinders se regering bestaan.

Totdat Gawie, ’n terminaal siek seuntjie, en sy ma een middag by die begrafnisondernemers aankom. Gawie wil self kom kyk wat met hom gaan gebeur wanneer hy sterf – hy wil self in die kis inklim en wil ook alles weet van lykbesorging.

Jean Meiring skryf in Rapport (24 Februarie 2019): "Die sprokie van die arm egpaar wat drie wense kry, wil die seun nie los nie. Die eerste twee wenskanse verbrou hulle en nou is die gebakte pere ’n stuk wors wat heen-en-weer voor pa-goed se mond rondswaai.

"'Wat sal oom doen,' vra die seun indringend op bladsy 24, 'as dit met oom gebeur, as oom drie wense kry en oom weet hulle gaan waar word?'

"Zirk van den Berg se uiters bekoorlike novelle is ’n optekening van Seb, wat op 45 jaar ál die nodige oomheid in pag het, se antwoord op dié verwikkelde vraag."

Al die wonderbaarlike elemente wat in tradisionele sprokies gevind kan word, is ook in Ek wens, ek wens teenwoordig, skryf Willie Burger in Vrouekeur (7 Junie 2019). "Die boek laat mens goed voel en jy wil daardie goeie gevoel aan ander deurgee. Maar Van den Berg se boek is nie bloot ’n eietydse sprokie nie. Die meeste van ons is te rasioneel om te glo daar kan regtig bonatuurlike gebeurtenisse plaasvind. Ons glo nie sprokies nie. Wat Ek wens, ek wens egter so buitengewoon maak, is dat die bonatuurlike nie ’n deurslaggewende rol speel nie. Eintlik vind daar (dalk) nie regtig iets bonatuurliks plaas nie.

"Hierin lê Van den Berg se meesterskap en die betowering van die boek. Dit bied die herstel van geloof in die betowering van ons gewone lewens, die hoop op verandering en die gepaardgaande goeie gevoel van sprokies, sonder om op die ingryping van bonatuurlike toorkrag te steun.

"Van den Berg vermy al die clichés en die slaggate wat sprokiesagtige vertellings in ’n eietydse, realistiese omgewing onoortuigend maak, wat jou ’n oomblik laat goed voel, maar dan tog laat 'wakker skrik' met die wete dat dit maar net ’n sprokie is. (...) Ek wens almal kan die boek lees."

Vir Francois Bekker (Beeld, 11 Maart 2019) is Ek wens, ek wens ’n bewys dat ’n novelle selfs meer kan beïndruk as ’n ellelange roman. "Met ekonomiese woordgebruik, uitsonderlike goeie karakterisering en knap situasieskepping oorrompel die skrywer die leser met dié aandoenlike verhaal oor hoe betowerend die lewe kan wees. Soms grillerig, dikwels skreeusnaaks en deurlopend diep menslik."

"Op die oppervlak ’n storie wat bekoor, die oplettende leser sal die eksistensiële diepte van die verhaal waardeer. Seb se besinning oor sy paradoksale situasie verwoord sy dilemma perfek. In die voorbereidingslokaal van die begrafnisondermening lê die kadawers waarmee Seb werk. Vraag is, hoeveel minder dood is hy as hulle? Dis ’n storie wat jy met genoegdoening lees om daarna weer die lewe met ’n huppel in die stap tegemoet te gaan."

Vir Zirk was die toekenning van die WA Hofmeyr-prys aan Ek wens, ek wens ’n groot verwondering, vertel hy aan Laetitia Pople in Volksblad van 2 Julie 2020. "Ek was seker dat Etienne van Heerden die prys sou kry. Dit was totaal onverwags. Ek dink steeds dat die beoordelaars besonder dapper was om my boek te kies terwyl hulle daardie ander opsies gehad het."

"Ek droom al sedert my tienerjare dat my skryfwerk met erns bejeën word, maar moet bely ek het later jare begin aanvaar dat sulke eerbewyse nie vir my soort stories beskore is nie. Hierdie prys het my onkant gevang. Maar ek kla nie!"

Die beoordelaars vir die WA Hofmeyr-prys was Francois Smith, Sonja Loots en Bibi Slippers. Hulle het gesê: "Ek wens, ek wens is snaaks, slim, teer en verrassend. Dit is, in elke sin van die woord, ’n betowerende teks en ’n oorrompelende ervaring."

In 2020 verskyn Zirk se volgende roman onder die titel Tweegevreet – sy derde roman in soveel jaar. Dit is die opvolg van Die vertes in en neem die storie van Siegfried Bock verder. Weer is die roman gesitueer in Duits-Suidwes-Afrika van die vroeë 1900's rondom die Herero-oorlog van 1904–1907.

Op Netwerk24 is Francois Bekker (27 Julie 2020) die resensent en vir hom is Zirk van den Berg ’n "meester-storieverteller". Hy slaag daarin om "twee uiteenlopende menslike eienskappe spanningsvol teenoor mekaar op te stel: ware karakter teenoor die gesig wat mense aan die wêreld voorhou. Die ware ek versluier agter ’n masker, dus.

"Wat hiermee saam aan die bod kom, is die ironie van hoe bedrieglik die oënskynlike kan wees. En dat die masker ook dit wat opreg en goed is, kan verberg. Hoe ook al, misverstand gaan tragedie dikwels vooraf.

"Wisselende vokalisering verseker die leser se empatie met die verskillende karakters en dra by tot ’n groter verstaan oor die kompleksiteit van hoe individuele keuses op ander mense en hul reaksies inspeel.

"Tweegevreet vertel die meesleurende verhaal oor die soeke na reg en geregtigheid. En soos wat mense in hierdie barre land hoopvol bly om water raak te boor, so ook hou hulle vas aan die versugting om geluk en liefde te vind."

Op LitNet skryf Louis Esterhuizen as volg oor Zirk van den Berg se skryfstyl: "Van den Berg se skryfstyl is kenmerkend gestroop, sober en sonder tierlantyntjies. Die taalgebruik is ekonomies, met elke woordkeuse en frasering akkuraat binne sowel toon as konteks; ’n hernuanseerde taalgebruik wat getuig van ’n deurleefde vakmanskap en met ’n besonderse vernuf om ’n teks veelvlakkig te konstrueer aan die hand van verskuiwende fokalisering.

"In hierdie opsig is Tweegevreet geen uitsondering nie. Trouens, dit kan as ’n hoogtepunt gereken word in ’n reeds indrukwekkende oeuvre. (...) Inderdaad is Tweegevreet ’n buitengewone roman, selfs briljant, soos Jeanette Ferreira dit stel. ’n Roman wat nie net die skrywer se reputasie bestendig nie, maar ook die reikwydte van sy reeds indrukwekkend oeuvre vergroot."

In Rapport (13 September 2020) is Jonathan Amid die resensent van Tweegevreet en vir hom is dit ’n waardige opvolger van Die vertes in. "Hierin verken Van den Berg misplaaste bravade, ambisie, magsvertoon en die verwantskap tussen mens en landskap, en mens en dier."

"Die karakters is volledig mens en nie bloot voetnotas in diens van uitgediende veralgemenings oor die mens se donker kant nie. Die menslike gesig van die geskiedenis – die tweegevreet van skepping en verwoesting, grense en grensverskuiwing, dwaasheid en dapperheid – word so beliggaam dat fiksie sekerlik tot verdere navorsing deur die leser self sal lei."

"Lesers het die tenger, naïewe Siegfried Bock wat niks meer begeer as om homself in die wêreld daar buite te laat geld nie reeds in Die vertes in leer ken. Maar anders as in ’n titel soos Die vertes in, wat iets van ’n fisieke en geestelike reis suggereer (maar nie veel byt het nie), is Tweegevreet ’n konfronterende titel wat sekere lesers kan afsit, maar veel verklap oor die dualistiese aard van die mens en die raaisel van ’n vorm van verraad en miskenning laat hang. (...)"

"Dit is ’n loutere plesier om die Bock-karakter dop te hou soos hy ontwikkel en homself en ander telkens verbaas. Hy is nie meer iemand om te onderskat nie, ’n volronde, simpatieke karakter wat sterk genoeg is om die verhaal te anker en interessant genoeg om die leser se aandag te behou. Ook die skets van sy kollega Hans Stempsky is voortreflik, terwyl dié van Feldwebel Dudeck komiese verligting bied."

Vir Amid slaan dit sy asem weg dat die skrywer se beskrywings so presies is, asook die woordekonomiese manier waarop hy met die taal omgaan. "Telkens word jy gedwing om terug te sit, diep asem te haal, en ’n bladsy ’n paar keer oor te lees. (...)"

"Daar is ’n veelkantigheid en nuanse aan die karakters. Hulle is nie net goed of sleg nie, maar hul karaktereienskappe word só geteken dat hul optrede sin maak, al is dit hoe verrassend of skokkend. (...)"

"Tweegevreet herinner ons om die wreedste eise van die identiteitspolitiek van vandag – om onsself te groepeer in 'ons' en 'hulle' – met minagting te verwerp. Wat beteken dit om ’n volk te tem? Wie oorleef hul drome en teen watter koste?"

"Lewens wat subtiel en gewelddadig ontspoor, bly onderhoudende leesstof, en Tweegevreet is ’n besliste hoogtepunt in ’n jaar wat reeds uitstekende fiksie opgelewer het."

Op LitNet het Melt Myburgh ’n onderhoud met Zirk gevoer, spesifiek oor Tweegevreet. Myburgh wou weet of dit moeilik was om oor te skakel van Die vertes in na Tweegevreet.

Zirk se antwoord: "Tussen die boeke was dit soos om deur ’n motorhek te ry – drrrrrrr, en ek is anderkant, sonder om veel spoed te verloor."

"Die karakters het lewens buite die boeke, voel dit vir my, en ek teken net die relevante dele op. Iemand soos Eva, byvoorbeeld, het haar eie verhaal wat so half buite die reikwydte van my boeke val. Dis eintlik waar van omtrent almal. Elke mens het sy eie storie. Ek hou van die idee dat daar ’n voller werklikheid is as wat in die boek opgehaal word. Lesers kry te doen met ’n slice of life."

"Waaraan ek veral plesier het, is om ’n newekarakter in een boek te vat en in ’n ander boek meer prominent te laat figureer, soos Hans Stempsky in Tweegevreet. Daar is ’n kêrel genaamd Jager Orlam wat twee keer vlugtig in Die vertes in verskyn, en wat ’n hoofkarakter in die derde boek is."

Vir Melt Myburgh ontwikkel die verhaal teen die agtergrond van die geskiedenis van Duits-Suidwes-Afrika. En vir hom is dit vanselfsprekend dat ’n skrywer respek moet hê vir daardie bepaalde tydperk in die geskiedenis waarteen die storie afspeel. Hy wou dus meer by Zirk weet oor sy navorsing en sy verbintenis met Namibië.

"Die navorsing geld vir die reeks eerder as die spesifieke boek. Gaan ek soos ’n bitterbal klink as ek noem dat ek meen van die aandag wat Tweegevreet nou kry eintlik Die vertes in moes toeval? Daardie boek lê my geweldig na aan die hart. Ek meen lesers se genieting van Tweegevreet sal ’n ekstra dimensie kry as hulle Die vertes in ook gelees het."

"Maar om jou vraag te antwoord: Ek is ’n gebore Suidwester, soos ons in daardie dae was. My familiegeskiedenis lê daar. Die land en sy geskiedenis resoneer met my. Ek het vir die boek plekke besoek, baie gelees en na baie foto’s gekyk. Omdat baie van die materiaal net in Duits beskikbaar was, ’n taal waarin ek tot onlangs net die skelwoorde geken het wat in die War Picture Library comics van my jeugjare was, moes ek myself leer totdat ek darem kon verstaan wat ek lees. Ek het ook hulp van verskillende kenners gekry, onder meer ’n paar akademici wat spesifiek oor die Landespolizei navorsing gedoen het."

Oor sy navorsing wat die inheemse groepe van Namibië betref, brei Zirk ’n bietjie meer uit teenoor Myburgh: "Ek is allermins ’n kenner en het eintlik net genoeg opgelees om kortstondig die illusie te skep dat ek iets weet! ’n Hoogtepunt wat die volkekundige navorsing betref was dat die vermaarde Namibiese etnoloog doktor Kuno Budack my aan huis ontvang het. Hy is werklik ’n besondere man wat in sy jeug in Oos-Duitsland toegesluit is oor sy sieninge. Hy is ’n lewende legende in Namibië. Ek het dit erg waardeer dat hy bereid was om my onkundige vrae te beantwoord."

Vir Melt Myburgh is Zirk se karakters "aangewese op skryf om te kommunikeer, maar ook om dagboek te hou en gebeure op te teken sodat dit nie in die vergetelheid verval nie, om illusies en leuens in stand te hou." Hy wou weet hoe sien Zirk hierdie verbeeldingswêreld.

Zirk se reaksie hierop was as volg: "Lesers is ’n besondere spesie, my gunstelingmense. Deur lees verbreed jy jou horisonne en jou kapasiteit vir empatie. (…) Ek hou van sekere boeke, en probeer dan self nóg van hulle opmaak."

"Oor die breër rol van die geskrewe woord in ons wêreld kan slimmer mense interessanter dinge kwytraak. Vir my is deel van die antwoord dat die sakewêreld meer van geskrewe tekste gebruik maak as wat die meeste mense besef, en ek verdien my dagloon deur hulle daarmee te help. Dis maar soms ’n gekners, en dan ontsnap ek in stories. Ek bring ’n aansienlike deel van my lewe in verbeelde wêrelde deur."

"Tweegevreet is op primêre vlak ’n misdaadverhaal waar die raaisel rondom ’n moord opgelos moet word. Maar dit is veel meer."

Hoe voel jy oor misdaadfiksie en hoe benader jy die genre as ’n "literêre" skrywer, wou Myburgh verder weet. "Die onlangse WA Hofmeyr-prys wat hulle vir Ek wens, ek wens gegee het, maak seker die term literêre skrywer verstaanbaar, maar dis nie hoe ek daaroor dink nie. Ek is nie mooi seker ek verstaan eens wat ’n boek literêr maak nie. As dit om tegniese vernuwing of filosofiese mymeringe gaan, is ek allermins literêr. Vir my gaan dit daaroor om eerlik en onderhoudend oor mense en dinge te skryf, en om clichés te vermy. (Behalwe natuurlik as hulle ’n positiewe bydrae maak – clichés is kragtig, anders sou hulle nie in die eerste plek inslag gevind het nie.) Ek slaan ag op karakter en situasie, en probeer die prosa lewendig hou."

"’n Onliterêre vriend wat Die vertes in gelees het, het opgemerk dis soos ’n filmfeesweergawe van ’n aksieverhaal. Ek hou van daardie beskrywing. Misdaadverhale is weliswaar van my gunstelinge om te lees, hoewel ek deesdae toenemend om die rande van die genre boer. Ek is sielsmoeg vir tawwe poliesmanne en het reeksmoordenaars nog altyd vervelig gevind. Gewone mense met swakhede is interessanter as maniakke of dronkgatte. Enigiemand wat wil verskil, kan gerus Massimo Carlotto se Death’s dark abyss, Jim Thompson se The getaway of van Dürrenmatt se misdaadverhale gaan lees.

Tweegevreet is ’n misdaadverhaal en eintlik in wese ’n ander soort storie as Die vertes in. (Ek weet dis sleg vir verkope, maar ek probeer om nie dieselfde boek oor en oor te skryf nie.) Hopelik het Tweegevreet soos sy voorganger ook die kwaliteit dat hy sy gegewe vars en met erns benader. Dit gaan meer om die mense as die misdaad."

Publikasies

Publikasie

Ekstra dun vir meer gevoel

Publikasiedatum

1990

ISBN

0624028747 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wydsbeen

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031594 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nobody dies

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2011 (e-boek)

ISBN

1869416031 (sb)

Uitgewer

  • Random House New Zealand
  • Say Books

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

No-Brainer

Publikasiedatum

2011

ISBN

 

Uitgewer

Auckland: Z van den Berg (e-boek)

Literêre vorm

Misdaadverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Ander mens

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780795704826 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Misdaadverhaal

Pryse toegeken

  • kykNET-Rapport Boekprys vir film 2014
  • Engels genomineer vir SATI-toekenning 2015

Vertalings

Engels deur die outeur 2004

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Halfpad een ding

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780143538639 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Penguin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Engels genomineer vir SATI-toekenning 2015

Vertalings

Engels deur die outeur

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vertes in

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780795708824 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2018

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek wens, ek wens

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780795708558 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • kykNET-Rapport-boekprystoekenning fiksie 2020
  • kykNET-Rapport-boekprystoekenning film 2020
  • WA Hofmeyr-prys 2020

Vertalings

Engels 2020

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tweegevreet

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780795709622 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Zirk van den Berg as vertaler:

Artikels oor Zirk van den Berg beskikbaar op die internet:

Artikels deur Zirk van den Berg beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top