LitNet Akademies-resensie-essay: Tweegevreet deur Zirk van den Berg

  • 2

Tweegevreet
Zirk van den Berg
Kwela Boeke
ISBN: 978 0 7957 0962 2 

1. Agtergrond

Tweegevreet is die opvolg van Die vertes in (2018, Kwela Boeke) en vorm die tweede deel in ’n beoogde trilogie wat sentreer rondom die personasie Siegfried Block – ’n bleeksiel en ietwat onbeholpe voormalige soldaat wat na die Kaiserliche Landespolizei gesekondeer is en by ’n beskeie polisie-eenheid in die Hochnamib gestasioneer is. Die tydsplasing is koloniale Duits-Suidwes-Afrika in die vroeë 1900’s tydens die Herero-oorlog wat van 1904 tot 1907 geduur het.

Dit is Van den Berg se sesde volwaardige roman sedert Wydsbeen (1992, Tafelberg Uitgewers), ná sy debuut in 1989 met ’n opspraakwekkende bundel kortverhale, Ekstra dun vir meer gevoel (Tafelberg). In 2014 word die roman ’n Ander mens (2013, Kwela Boeke) bekroon met die kykNET-Rapport-prys in die rolprentkategorie. Die film is in 2019 vrygestel. In 2020 word die WA Hofmeyr-prys toegeken aan Van den Berg vir sy roman Ek wens, ek wens (2019, Kwela Boeke). Van den Berg is eweneens bekend vir sy vertaalde tekste, nie net van sy eie werk nie, maar ook van dié van gerekende skrywers soos Wilbur Smith en Phillip Kerr.

Van den Berg se skryfstyl is kenmerkend gestroop, sober en sonder tierlantyntjies. Die taalgebruik is ekonomies, met elke woordkeuse en frasering akkuraat binne sowel toon as konteks; ’n genuanseerde taalgebruik wat getuig van ’n deurleefde vakmanskap en met ’n besonderse vernuf om ’n teks veelvlakkig te konstrueer aan die hand van verskuiwende fokalisering.

In hierdie opsig is Tweegevreet geen uitsondering nie. Trouens, dit kan as hoogtepunt gereken word in ’n reeds indrukwekkende oeuvre.

Ter illustrasie kan die volgende drie passasies geneem word waarin veral die poëtiese beelding opvallend is:

  • Stempsky help om die lyk na die waskamer agter die huis te vat, waar hy dit oorhandig aan ’n stokou vroutjie wat volgens haar seun op voornaamterme met die dood is. Sy hou haar oë stip op die verskeurde lyk, praat onophoudelik in die taal wat die Namas en Damaras deel, hoewel die twee stamme baie verskil wat voorkoms en kultuur betref. Al wat Stempsky kan doen, is om hom te verwonder aan die klapgeluide, die musiek in haar stem soos dié van voëltjies wat nes maak. (21–2)
  • Die man by die toonbank draai stadig en moeisaam om, sodat dit Siegfried ’n rukkie vat om hom te herken. Herr Dehlinger se kop is wyer onder as bo, sy wange bult oor sy boordjie. Sy snor hang oor sy mond. Dehlinger stoot sy bors uit en laat sak sy ken. “Siegfried Bock,” sis hy. “Is jy nou nog onnosel ook, by alles anders? Ek het gedog jy het teen dié tyd die boodskap gekry om weg te bly van my dogter af.”

Hy pak sy berisping soos ’n ry bakstene uit, elke woord apart en hard en swaar.

“Ek bring maar net hierdie brief.” (65)

  • Nie Siegfried nie. Hy probeer, en kry dit nou en dan reg, maar die meeste van die tyd lê hy wakker met sy gedagtes wat soos palings in ’n emmer kronkel en rondglip. Daar is Traudl en die verbasende gebrek aan effek wat sy op hom gehad het, die einde van jare se drome – nou ontlok haar slanke nek en hartseer oë geen tere gevoelens meer in hom nie. Sy is soos droë papier, [...] (93)

2. Inleiding

Reeds sedert Wydsbeen, wat gesitueer is in 1739, toon Van den Berg ’n besonderse affiniteit met die historiese roman. Ook Halfpad een ding, en Tweegevreet se voorganger, Die vertes in, is binne ‘n historiese konteks geplaas.

Danksy die uitmuntende werk deur gerekende skrywers soos Dan Sleigh, Anna M Louw, Karel Schoeman en André P Brink is die historiese roman as literêre genre baie sterk gevestig in die Afrikaanse letterkunde. Voeg eietydse en bekroonde skrywers soos Marlene van Niekerk (Agaat, 2013, Tafelberg), Ingrid Winterbach (Niggie, 2002, Human & Rousseau) en Alexander Strachan (Brandwaterkom, 2015, Tafelberg) daarby, saam met die uitstekende werke van Jan van Tonder, Chanette Paul en Jeanette Ferreira, en mens besef dat die historiese roman as genre naas die misdaadroman waarskynlik die sterkste genre in die Afrikaanse lettere verteenwoordig. (Terloops, Afrikaanse lesers se aantoonbare voorkeur ten gunste van historiese tekste – gepaardgaande met die groot aantal memoires en egodokumente wat in afgelope jare in Afrikaans verskyn het – verdien om deeglik nagevors te word. Waarskynlik het dié tendens te make met identiteitsekerheid te midde van die onsekerhede van die hede.)

Nogtans verskil Van den Berg se hantering van historiese perspektief aansienlik van die bogenoemde skrywers s’n – veral ten opsigte van die onderhawige teks – omrede die historiese gegewe by hom nooit sentraal staan nie, maar gewoon die tydruimtelike raam vorm waarbinne bepaalde personasies figureer na gelang van die impak wat historiese gegewens op hul keuses en lotsbestemming het.

In haar bespreking van Dan Sleigh se bekroonde roman 1795 (2016, Tafelberg) omskryf Heilna du Plooy die historiese roman aan die hand van Cuddon en Van Gorp ea as “’n verhaal wat sy stof uit die geskiedenis put en wat teen ’n historiese agtergrond afspeel, maar daar word telkens duidelik bygevoeg dat die roman die historiese stof verbeeldingryk inklee en aanbied”.

Hiervolgens staan karakterisering sentraal te midde van die romangegewe en daarom gaan sy verder ter ondersteuning van dié siening: “Dit is veral wat karakterisering betref dat die skrywer vryer met die historiese gegewens kan omgaan omdat hy meestal sterker ingestel is op die individuele belewenis van die historiese gebeure as die politieke of staatkundige implikasies daarvan. Deur middel van die keuse van die vertelinstansie en vertelperspektief en ook die fokalisasie op verskillende vertelvlakke kan die skrywer in sy roman alternatiewe gesindhede oor die geskiedenis met groot oortuigingskrag uitbeeld.”

Hierdie uitspraak is nét sowel van toepassing op Tweegevreet. Trouens, tydens ’n onderhoud wat Melt Myburgh met Van den Berg gevoer het as deel van Graffiti-boeke se Aanlynkuiers (Dinsdag 11 Augustus) stel die skrywer dit duidelik dat hy plot as van sekondêre belang ag; vir hom gaan dit primêr daaroor om bepaalde personasies binne ’n tydruimtelike situasie te plaas waarbinne keuses gemaak en kousaliteit gevestig word na gelang van oorsaak en gevolg.

3. Parateks: die voor- en agterplat

Die voorplat van Tweegevreet toon ’n prominente luiperdkop bo twee horisonlyne, die een naby, die ander ver, waarop die silhoeëtte van ’n ruiter met ’n geweer oor die skouer en ‘n staande figuur met uitgestrekte arm waarneembaar is op die naaste lyn. In die verte word enkele (lae) bome en wasige rante gesuggereer. Die gewapende perderuiter en luiperdkop aktiveer grotendeels die tydsplasing, terwyl die uitgestrekte landskap die ruimtelike plasing as synde landelik bekragtig. Dit is ook belangrik om daarop te let dat die bergrant aan die regterkant onder die luiperd se kop die skynsel van ’n luiperdvel het. Hiermee word die luiperd as belangrike simboliese teenwoordigheid gevestig aangesien die dier direk met die omliggende landskap geïntegreer word: ook die ongenaakbare Afrika-landskap is ’n roofdier.

Die titel staan prominent boaan die voorplat, met ’n koppelteken wat die kompositum se twee dele, “Twee” en “gevreet”, skei. Daaronder volg ’n bepalende lokteks deur Jeanette Ferreira: “Niks en niemand ontkom aan hierdie waarnemer se genadelose soeklig op die dubbele aard van die mens nie: die weerlose én die brutale. ’n Briljante roman.” Bokant die outeursnaam, wat in die donker onderste derde van die voorplat geplaas is, lees ons: “Skrywer van Die vertes in”.

Die leser word dus van meet af attent gemaak op nie net (historiese) tyd en ruimte nie, maar ook die dubbele aard van die teksgegewe weens die teenstellings tussen donker en lig; naby teenoor ver; silhoeët versus detail; mens en natuur, oftewel die weerlose én die brutale.

Draai mens die boek om, sien jy ten eerste dat die ruimtelike uitgestrektheid van die landskap, met wolke bokant die horisonlyn, op die onderste derde van die voorplat herhaal word – met die flapteks (volgens die Aanlynkuier-gesprek met Melt Myburgh deur die skrywer self geskryf) wat soos volg lees:

Mense hou valse gesigte voor. Wraak het verskillende gedaantes.
Wanneer Siegfried Bock van die Kaiserliche Landespolizei ingeroep word om die dood van ’n boer in die Hochnamibdistrik te ondersoek, het hy geen rede om te vermoed dat moord die oorsaak is nie. In 1905 in Duits-Suidwes-Afrika is 'n aanval deur 'n wilde dier nie ongehoord nie en te oordeel na die merke aan die lyk was dít die man se lot. Maar dan ontdek Siegfried daar naby 'n luiperdkarkas waarvan die voorpote afgesny is ...
Terwyl Siegfried die saak ondersoek, kry hy ook te make met spoke uit sy verlede en 'n Berlynse besoeker wat 'n dodelike wrok koester. Boonop worstel hy met Duits-Suidwes-Afrika se onstuimige politiek en ongenaakbare natuur. Kan hy dit alles te bowe kom en geregtigheid laat seëvier?
Soos in sy voorganger, Die vertes in, word gewigtige tematiek subtiel in Tweegevreet se boeiende spanningslyne verweef.

Onder dié teks verskyn nóg ’n lokteks, deur François Bloemhof, te wete: “Daardie seldsame verskynsel: ’n opvolgboek wat sy uitstekende voorganger ewenaar of selfs nog oortref. ’n Verhaal so fassinerend en soms meedoënloos soos die land en tyd waarin dit afspeel.”

Hoekom is hierdie omvattende uiteensetting van die parateks belangrik? Omrede bykans al die kodes van hierdie roman reeds hiermee in spel kom: die titel wat op valsheid dui, die kontraste en/of teenstellings wat onsekerheid en ambivalensie in die hand werk, tesame met die duidelike suggestie dat misleiding en wraak hier ter sprake is en dat die boer in die Hochnamib-distrik se dood straks moord kan wees.

’n Historiese speurroman, dus. ’n Raaiselroman waarvolgens Siegfried Block – wat ons reeds saam met ander personasies in hierdie teks in Die vertes in leer ken het – die dood van herr Jürgens, die boer wat bes moontlik deur ’n luiperd gedood is, saam met sy kollegas feldwebel Dudeck en gefreiter Stempsky van die Kaiserliche Landespolizei moet ontrafel.

Maar is dit so voor die hand liggend? Die lokteks waarsku die leser immers reeds dat mense “vals gesigte” voorhou en dat wraak “verskillende gedaantes” kan aanneem weens die “dubbele aard” van die mens te midde van die “weerlose én brutale” wat soms “meedoënloos (is) soos die land en tyd waarin (die verhaal) afspeel.”

Aansluitend hierby moet Julian Symonds se seminale uitspraak oor misdaadfiksie deurentyd in gedagte gehou word: “Murder, and any other crime, is not a part of entertainment, but an integral part of life. We are all murderers, we are all spies, we are all criminals, and to choose a crime as the mainspring of a book’s action is only to find one of the simplest methods of focusing eyes on our life and our world.”

By uitstek geld dit hierdie roman met sy suggestieryke titel.

4. Die titel

Dit is belangrik om daarop te let dat die woord “tweegevreet” twee maal in die teks voorkom; ironies genoeg elke keer met betrekking tot ’n personasie wat weens wraak gedood word en nie is wie hulle voorgee om te wees nie:

  • Feinauer snork. “Hy was nie die man wat julle almal gedink het nie. Hy was ’n tweegevreet, met ’n wrede streep so breed soos die Ryn.” (145)
  • Dit is Dudeck wat hom bekommer. Die man sal dalk verloën voel as hy uitvind dat sy kollega van die afgelope jaar ’n tweegevreet is. (169)

In beide gevalle word die titel direk betrek op die gestelde tema van misleiding en wraak met die wete “dat dit wat na die waarheid lyk, nie altyd die waarheid is nie” as onderliggende gegewe (137).

Terselfdertyd aktiveer dit nie net die ambivalente aard van die verhaalgegewe nie, maar ook die soeke na ware identiteit en dit wat ’n mens ’n “goeie mens” maak. Dít is in wese die “raaisel” wat opgelos moet word en nie soseer die dood van die boer, herr Jürgens, wat as katalisator tot selfondersoek en intrige dien nie.

Ter illustrasie van hierdie ambivalensie, die volgende aanhalings (terloops, waar dit verkieslik is, weerhou ek die betrokke personasie se naam ten einde nie die pret te bederf vir diegene wat nog die boek moet lees nie):

  • “Daar is geen aanduiding of hy ’n goeie of slegte mens is nie. Vir al wat ek weet, is hy die grootste uitvaagsel wat al ooit die aarde bewandel het.” (58)
  • Die enkele kere wat hy daadwerklik opgetree het, was dit om die slegte te vermy eerder as om die goeie na te jaag. (79)
  • “Het jy [hom] goed geken?” vra sy op ’n manier wat vir hom versigtig lyk, asof daar iets agter steek.

“Ons het mekaar ’n paar keer ontmoet. Hy het na ’n goeie man gelyk.” (124)

  • “Maar sou jy sê hy was ’n goeie man?”

“Goeie man, slegte man ... dis woorde vir kerkmanne en regters. Die meeste mense probeer goed wees en faal soms. Wat is dit in elk geval met jou, al hierdie vrae?” (126)

  • “Jy het jou eie naam misken om daardie ou vrou te help. Hierdie hele tyd nog hou jy die pretensie vol en skryf briewe om haar gerus te stel. Miskien verdien jy ’n beloning.”

Hy lyk allermins oortuig.

“Jy is ’n goeie man, [...], wat jou naam ook al is.” (157)

  • “Ek het gehoor van die goed wat [hy] aan mense gedoen het. Hy was nie ’n goeie man nie. Hy was die soort man wat ’n mens dalk sou wou doodmaak vir wat hy gedoen het.” (237)

Ten opsigte van die titel moet die vraag egter gevra word waarom die skrywer ten gunste van die meer aggressiewe, neerhalende “gevreet” besluit het, en nie die meer gebruiklike “tweegesig” wat eweso dui op ’n persoon wat vals is nie.

Daar is twee (ja, nogeens: twee) redes hiervoor.

Ten eerste aktiveer “vreet” die dierlike komponent in die verhaal – waarby die Afrika-landskap ingereken word weens die luiperdvelagtige inkleding van die bergrant op die voorplat – teenoor die gekultiveerde beeld van die mens wat voorgehou word te midde van ’n verhaalgegewe wat so “meedoënloos (is) soos die land en tyd waarin dit afspeel” – aldus François Bloemhof.

Ten tweede is dit belangrik om daarop te let dat daar twee personasies in hierdie verhaal is wat deur ’n wrok “opgevreet” word en wat direk aanleiding gee tot die dood van twee ander personasies, ongeag of hulle skuldig is aan die wandaad waarvoor hulle “gehaat” word al dan nie. Dit is die gekoesterde wrok wat van belang is.

“Gevreet” dui dus enersyds op ’n naamwoord (“aangesig”), maar insgelyks op handeling (“vreet”). Deur die titel as kompositum van “twee” en “gevreet” met ’n koppelteken in twee te verdeel, is gevolglik véél meer as ’n terloopse aanwending van punktuasie.

5. Die soeke na ware identiteit

In ’n onderhoud met Melt Myburgh wat vir LitNet gevoer is, antwoord Van den Berg soos volg op ’n vraag na die belang van identiteit in die onderhawige teks:

Identiteit is om die een of ander rede nogal ’n tema in my werk. In ’n Ander mens gaan die ou in die getuienisbeskermingsprogram in om letterlik ’n ander identiteit te kry. In Halfpad een ding is die hoofkarakter ’n spioen wat voorgee om iemand anders te wees. Daar lê ’n ligte manuskrip by die uitgewers waar identiteit nog meer verwarrend raak. In Tweegevreet is daar mense wat bewustelik valse gesigte voorhou en ander wat gaandeweg verword. Die saad waaruit hierdie storie gegroei het, gaan om verskuiwende identiteite en die onverwagte gevolge wat dit kan hê.

Ek weet nie wie dit oorspronklik gesê het nie, maar hierdie aanhaling wat ek eenkeer by die skilder Larry Scully gehoor het, bly my by: “Man is a process masquerading as a structure.” Identiteit is nie vas nie.

Hierdie verwysing na “verskuiwende identiteite” wat “nie vas (is) nie”, is ’n belangrike sleutel tot hierdie roman. Nie net word die verskuiwende fokalisering struktureel daardeur geïnisieer nie, maar eweso onderlê dit die ambivalente aard van die onsekerheid wat etlike personasies in hierdie verhaal kenmerk, by name Siegfried Bock, Hans Stempsky en Lisbeth Kamke, die weduwee van herr Jürgens. As randfiguur kan die bevelvoerder van die polisiestasie, feldwebel Dudeck, ook by dié groepie gevoeg word.

Ter illustrasie dien Siegfried Bock as sentrale fokalisator wat nie meer heeltemal die bleeksiel is wat in Die vertes in hier in die vreemde aangeland het nie, maar nogtans onseker is ten opsigte van sy toekoms en veral die ondersoek na die dood van herr Jürgens; Stempsky se worsteling met sy verlede en die valse identiteit wat hy voorhou te midde van sy onsekerheid hoe om Lisbeth Kamke, die weduwee van herr Jürgens, romanties te benader; haar eie onsekerheid ten opsigte van haar onmiddellike toekoms en veral ten opsigte van die boorgat en die volgehoue soeke na water op die plaas; en ten slotte feldwebel Dudeck en sy begeerte na aftrede op ’n “aftreeplasie” in die omgewing. Trouens, die enigste personasies wat nié onseker is ten opsigte van hul keuses en omstandighede nie, is die twee wat deur hul wrokkigheid verteer word en daarom hul wraak suiwer tot uitvoering bring. Ironies genoeg is daar ook die onkreukbare Isa Viitanen, die sendingskoolonderwyseres, wat optree uit die krag van haar oortuiging.

Die vraag wat egter deurlopend gestel word, is in welke mate die mens daartoe in staat is om te verander: Is die persoon wat jy eens was, dieselfde as die persoon wat jy tans is? “Hy vind dat hy wens vir iets groters, ’n roeping of doel – rigting vir sy lewe. Hy het geen idee watter vorm dit kan aanneem nie, en kan hom nie eens voorstel waar die nodige impuls vandaan kan kom nie. Hierdie leegheid kan nie so aanhou nie. In hierdie dop wat hy tans is, moet ’n nuwe identiteit vorm aanneem,” lees ons reeds op bladsy 14. En ook op bladsy 34: “Dit is asof die jong man wat hy in Berlyn was, weer in sy bors verrys, homself inwurm in sy kop en ledemate, en hy maak van reiter Bock, die Siegfried van Afrika, bloot ’n belangstellende toeskouer. Beteken die feit dat hy so maklik in sy ou manier van dink kan terugglip – dat alles wat sedert sy aankoms in Afrika gebeur het hom nie op ’n wesenlike manier verander het nie – dat ’n mens vir altyd opgesaal is met wie jy is, ondanks al jou pogings of enige ingrypende wedervaringe wat jy dink jou lewe verander het?”

Hierdie motief word tot ’n lieflike hoogtepunt gevoer tydens Siegfried Bock se gedagtegang na die einde van die narratief namate die klimaks bereik word. (Nogeens: Ter wille van diegene wat nog nie die roman gelees het nie, laat ek die tersaaklike name weg, aangesien dit die segging is wat van belang is en nie die betrokke personasie nie. Ek onderstreep die relevante frases.)

En wat van homself, hoe baie het hy verander sedert hy van daardie skip afgeklim het? Daardie man was versot op [...], en was daarop uit om ’n oorlogsheld te word. Daardie twee dinge, wat hom in daardie stadium byna geheel en al gedefinieer het, is nou afwesig. Sy militêre aspirasies het op die Kalaharisand gesneuwel, toe hy gesien het hoe sy kamerade ’n verskriklike wandaad pleeg. Sy beheptheid met [...] het getaan en is nou die dag in Windhoek soos ’n kers uitgedoof. Hy voel nie net anders nie, gedryf deur nuwe begeertes, hy lyk ook anders – sy onderontwikkelde lyf het groei ingehaal, hy is nou tien kilogram swaarder en sy bleek vel is sonbruin gebrand. Hy het ’n ander mens geword, en hy het nie eens sy naam verander nie.
Op praktiese vlak wonder Siegfried hoe [...] – hy dwing hom om die nuwe naam te gebruik – die leuen volgehou het in al daardie briewe wat hy aan die ware [...] se ma in Berlyn geskryf het. Maar hy onthou dat hy ook ’n brief opgestel het wat vir iemand ’n weergawe van die waarheid voorhou wat vir hulle makliker sal wees om te aanvaar. Hy het die brief persoonlik gaan aflewer. Wat sy kollega gedoen het, is dieselfde soort ding as wat hy gedoen het, om te jok om iemand anders se gevoelens te spaar. Jy sou selfs kon sê dit is edel.
Toe, terwyl sy gedagtes met diep paaie langs dwaal, kom ’n gedagte wat hom omtrent laat steier: [...] is die verkeerde man! Hy is meteens helder wakker. [...] is hier om wraak te neem oor wat [...] aan sy verloofde gedoen het, maar sy wraak is op die verkeerde man gefokus! Toe [...] sy kameraad [...] se identiteit aangeneem het, het hy geen idee gehad dat hy ’n massiewe skuldlas opneem nie, en dat hy dalk daarvoor sal moet betaal met sy eie, onskuldige lewe.
Sy vriend is in geen groter gevaar as tevore nie, maar op ’n manier maak hierdie wete Siegfried se angs selfs erger. Enigiets wat tussen [...] en [...] gebeur, sal heeltemal sinloos wees. Dit voel dringender as ooit dat hy daar buite kom, dat hy hierdie verskriklike tragedie verhinder. Maar natuurlik is dit stikdonker en watter hoop het hy om in die donker te vind wat hom helder oordag ontglip het? Nee, wag, wag. Daar is niks wat hy voor sonop kan doen nie. (230–1)

6. Karakterisering

Soos reeds aangetoon, het ons hier met ’n karaktergedrewe teks te make eerder as ’n aksie- of speurroman; ’n ondersoek na die “dubbele aard” van die mens (weerloos én brutaal) wat by wyse van kort, verskuiwende passasies gekenmerk word waarvolgens die derdepersoonverteller telkens op ’n ánder personasie fokus.

Dit is in eerste instansie ’n verhaal wat ontvou eerder as wat dit vertel word. Nogtans is die implikasie van dié gekose procedé omvangryk en bepalend ten opsigte van die teksaanbod, naamlik:

  1. Inkleding van sowel karakter as tydruimtelike komponente is van uiterste belang, aangesien die leser hom/haar te alle tye binne narratiewe gegewe moet kan plaas en dit is hoeka die skrywer se vermoë tot subtiele, dog funksionele (oftewel genuanseerde) inkleding wat hierdie teks van die meeste vergelykbare tekste onderskei.
  2. Weens die besonderse aandag aan inkleding én gepaardgaande voorkeur aan karakteriserende gedagtegang het ons in die afwesigheid van direkte handeling met ’n veel stadiger verteltempo te make as wat normaalweg met misdaadfiksie geassosieer word.
  3. Die volgehoue aandag aan inkleding en gedagtegang verleen aan die narratief ’n introspektiewe toon wat ek besonder aantreklik vind; soos die spreekwoordelike ui word die verhaal laag vir laag geskil ten einde die soeter kern van die teks bloot te lê – inderwaarheid die “raaisel” wat ontrafel moet word.

Waarskynlik is die mees indrukwekkende aspek van hierdie teks júis die mate waarin die skrywer daarin slaag om sy personasies as volwaardige individue te penskets – met ’n geloofbare, oortuigende verbandlegging tussen oorsaak en gevolg, veral waar keuses en handeling ter sprake is.

Ter illustrasie die gedagtegang op bladsy 78. (En nogeens weerhou ek betrokke name): “Die manier waarop sy by tye na hom kyk, het gesuggereer dat sy net soveel in hom belang stel as hy in haar. Hy is seker van sy fisieke aantreklikheid, minder seker dat hy ’n vrou se belangstelling verby die oppervlakkige kan hou. Wat hom betref, het hy nie die gedefinieerde persoonlikheid wat soveel ander mense blykbaar het nie. [...] is selfvoldaan, sinies en snaaks, sy persoonlikheid is ’n biertuin met ’n verhoog eenkant. [...] s’n is ’n monnik se kamer met revolusionêre slagspreuke teen die muur. [...] is bang dat syne vir ander mense soos ’n leë, verlate vertrek sal lyk, met ’n paar spykers teen die muur vir goed wat nie meer daar hang nie. Hy weet van dinge wat in hom aangaan, die woelinge van ’n halfgebroeide voëltjie in ’n slymerige eier, maar dit is nie iets wat hy vir ander mense kan wys nie. Wat kan ’n man soos hy vir ’n vrou soos [...] bied, wie se lewe blykbaar uit soveel vertrekke bestaan?”

So ook die gedagtegang op bladsy 86: “Hy wonder of hy op die regte spoor is hiermee, en of dit net sy ou dwarskoppigheid is. Hy is fundamenteel skepties oor enigiets wat allerweë aanvaar word. Hy probeer hom wysmaak dit is ’n filosofiese vereiste, omdat ’n valse oortuiging wat deur almal aanvaar word soveel gevaarliker is as een wat in stryd met die algemene opvatting is. Maar miskien is dit bloot omdat hy opstandig van aard is.”

Uiteraard is daar ook karakteriserende handeling, maar weens die introspektiewe aard van die narratief is dit meestal gerapporteerde eerder as direkte handeling. Waar direkte karakteriserende handeling na vore kom, is dit merendeels freiter Siegfried Bock se ondersoek na die dood van herr Jürgensen, asook sy besoeke aan die sendelingonderwyseres Isa Viitanen, en verál sy besoek aan Windhoek – ’n besoek wat bepalend is ten opsigte van die sentrale intrige – en, ten slotte, sy besluit om in die afwesigheid van geregtigheid sy plig te versaak. Daarnaas freiter Stempsky se versugting na frau Jürgens, asook die moord wat die klimaks van die narratief vorm en tussendeur Lisbeth Kamke (frau Jürgens) se soeke na water op haar plaas ná haar man se dood.

Nog ’n aspek wat vermelding verdien, is die belang van naamgewing en benoeming. (Interessant genoeg word daar nie minder nie as 72 maal na “naam” verwys in hierdie teks!) Om die leser attent te maak op hierdie aspek: Ons vind op bladsy 45 die volgende gedagtegang by Siegfried Bock:

Name is so belangrik, dit is die banier waaronder jy optree. Hy wonder hoe anders hy dalk sou gewees het as hy ’n ander naam gehad het. Om die naam Siegfried te dra, dié van ’n befaamde ridder, plaas ’n sekere verantwoordelikheid op hom. Aangesien hy kennelik nie die fisieke eienskappe van so ’n held het nie, moes hy ander sterk punte ontwikkel, minder opsigtelikes.

Meer direk as dít kan die karakteriserende belang van naamgewing sekerlik nié wees nie. Ironies genoeg is dit ook Hans Stempsky se naam wat direk aanleiding gee tot ’n minder gunstige verloop in sy soeke na singewing en geborgenheid – juis op ’n tydstip wanneer dit blyk dat sy negerende selfopoffering ná die dood van ’n makker ’n gelukkige uitkoms tot gevolg gaan hê. Hierdie ironie is nie net skreiend nie, maar is eweso ten nouste met die sentrale intrige verweef.

7. Simbole

Tematiese diepgang word in hierdie veelvlakkige teks verseker deur die talle simbole wat genuanseerd by die narratief betrek word. Voorbeelde hiervan is die volgende:

  1. Beeldingsimbole. Die vernaamste simbole is sekerlik ten opsigte van (uit)beelding, te wete spieëls, foto’s en portretstudies (skilderye). ’n Besonder treffende voorbeeld is die openingspassasie waar Stempsky voor die spieël staan en besig is om hom te skeer. (Ek onderstreep die relevante frases wat hierdie passasie van meet af by die sentrale tematiek betrek met die spieël as simboliese gegewe.) Ons lees: “Stempsky was al ongedurig nog voordat hulle na die luiperdaanval uitgeroep is. Hy het vroeg opgestaan, sy beddegoed gladgetrek en die trommel reggepak waarin hy al sy aardse besittings hou, maar hy kon die ding wat uit plek is, nie kry of regstel nie. Miskien is dit die gesig in die spieël, dink hy terwyl hy skeer, en draai om ’n driekwartaansig van sy seepgesmeerde wang te kry, en skraap dit met die skeermes skoon. [...] Menige man sou wat wou gee om in sy skoene te staan, maar hy is nie seker hy kan dit met homself uithou nie.” (Terloops, hierdie slotgedagte word verder gevoer op bladsy 71 wanneer Stempsky dink: Ja, maar, fluister ’n stem, jy sal haar aan my ook moet voorstel.)

Hierdie openingsparagraaf se inspeling op die bekende Bybelse teks is voor die hand liggend: “Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is” (1 Kor 13:12).

Die intensivering van die spieël as reflekterende entiteit vind ons ook op bladsy 54 wanneer Bock hom in die fotograaf Leimbach se foto-ateljee in Windhoek bevind waar hy deur ’n boks met onopgeëiste soldatefoto’s blaai op soek na ’n spesifieke foto van sy kollega Hans Stempsky. “Terwyl hy die een gesig na die ander bekyk, jong mans op die vooraand van volwassenheid, begin dit hom affekteer, al hierdie persoonlikhede, hierdie lewens, elk met ’n onbekende verlede en, met die uitsondering van dié wat gesneuwel het, ’n toekoms wat dag vir dag ontvou. Vir elke portret voor hom is daar iemand vir wie daardie gesig die een is wat hulle in die spieël sien,” lees ons.

Beide spieël en foto reflekteer egter bloot dit wat op die oppervlak waarneembaar is; die “valse gesigte” wat mense graag voorhou, oftewel, hoe hulle gesien wil word en wat nie noodwendig is soos hulle wesenlik is nie. Die verdieping van hierdie simbool tree dan na vore wanneer Bock die portretskilder August Niedermeyer ontmoet. Op bladsy 36 lees ons:

“Ek het vanoggend uitgekom, ek wou die vroeë lig benut, myself iewers opstel, dit probeer vasvang.”

“Fotograaf?”

Die man [Niedermeyer] gee Siegfried ’n vieserige kyk. “Skilder. Foto’s is vir amateurs, hulle wys net vir jou die oppervlak. Ek wil die siel vasvang.”

En op bladsy 57, ná Bock met twee foto’s by Niedermeyer aankom:

Wat sien sy kennersoog daar? wonder Siegfried. Kyk hy na die lyne en die lig, na die minder beweeglike dele van die gesig se argitektuur, na die uitdrukking in die soepel mond en dele rondom die oë? As kunstenaar, sien hy die persoon se geskiedenis en geaardheid waar ons ander maar net die gelaatstrekke sien wat ons onthou?

“Wat dink jy daarvan?” vra hy toe Niedermeyer niks sê nie.

“Dis heel vaardig gedoen, maar, jy weet, ’n foto ... Jy kan nie juis sien watter soort man hy is deur bloot daarna te kyk nie.”

“En jou skildery nou net, het dit meer gesê?”

En nét so belangrik, enkele paragrawe verder:

Niedermeyer gaan voort: “Ek kyk na die foto wat jy vir my gewys het, en ek sien die vorm van die man se kaak en die krul van sy snor. Al wat ek van hom kan sê, is dat hy ’n aantreklike kêrel is wat blykbaar eens op ’n tyd ’n hou of twee op die oog gekry het, dalk welverdiend. Daar is geen aanduiding of hy ’n goeie of slegte mens is nie. Vir al wat ek weet, is hy die grootste uitvaagsel wat al ooit die aarde bewandel het.”

Siegfried grinnik. “Nee, dit is hy nié.”

Die belang van hierdie simbole van beelding en die uitmuntende wyse waarop die skrywer dit met die sentrale tematiek van “valse gesigte” en “waarheid” integreer, blyk duidelik uit hierdie aangehaalde passasies; des te meer omrede die vergissing wat onstaan weens “geprojekteerde self” teenoor “ware self” (anders gestel: identiteit) direk aanleiding gee tot die krisis, klimaks en slotverloop van hierdie narratief.

  1. Die diere. Ook die diere word simbolies hanteer. Ten eerste is daar die luiperd wat weens die omslag én motoriese moment op bladsy 84, wanneer Siegfried Bock op die luiperdkarkas sonder voorpote afkom, met beide Afrika én vergelding in verband gebring word. Aanvullend hiertoe dien die immer teenwoordige aasvoëls wat eweso met Afrika, dood en verrotting verband hou.

Hierteenoor vind ons die geel rondloperhond wat hom goedsmoeds by die polisiestasie kom tuismaak en later selfs Niedermeyer se tent betrek; soos die Europeër wat ten tye van die koloniale era – die tydsplasing van hierdie teks – hom blatant in Afrika kom tuismaak. Later meer hieroor. Vir die doeleindes van hierdie opmerking is dit voldoende om bloot daarop te wys dat dié geel hond ’n soeke na tuiskoms/huisvesting, sorg en geborgenheid verteenwoordig.

Vir my was Bock se getroue rydier, Zyklop, en die wyse waarop dié eenogige perd met die sentrale tematiek van onsekerheid skakel, besonder treffend. Zyklop het naamlik sig in net sy linkeroog en moet derhalwe telkens blindelings na regs draai onder aanmoediging van sy ruiter (Bock) wat die perd deurlopend met groot toewyding en empatie hanteer. Hiervolgens word Bock se eie onsekerheid en eenogige blik op die wêreld/lewe geaksentueer. (Vergelyk byvoorbeeld Bock se gedagtegang op bladsy 86 wat reeds hier bo volledig onder “6. Karakterisering” aangehaal is.)

8. Die tydruimtelike dimensie

Hierdie komponent verteenwoordig ’n uiters belangrike strukturele element, al word die belang daarvan nooit sentraal gestel nie. Maar soos dit waarskynlik reeds uit die uiteensetting hier bo blyk: Niks in hierdie roman moet op sigwaarde geneem word nie.

.........
Hierdie komponent verteenwoordig ’n uiters belangrike strukturele element, al word die belang daarvan nooit sentraal gestel nie. Maar soos dit waarskynlik reeds uit die uiteensetting hier bo blyk: Niks in hierdie roman moet op sigwaarde geneem word nie.
..........

In die onderhoud vir LitNet waarna vroeër verwys is, stel Melt Myburgh die volgende vraag aan die skrywer:

Die Namibiese landskap beïnvloed jou karakters se perspektief van hul werklikheid. In ’n stadium merk iemand op: “Die berge in Suidwes is sewe keer verder as wat dit lyk.” Watter uitdagings skep dit vir ’n skrywer wanneer sy karakters hulle op ’n nuwe kontinent bevind waar nuwe magsverhoudinge tussen inkommers en die inheemse volkere geld?

Van den Berg antwoord:

Indertydse bronnemateriaal help baie. Die stelling in jou vraag is byvoorbeeld iets wat die soldate werklik geleer is. En natuurlik is daar ook ’n element van pure verbeelding. Ek moet bely dat ek nie juis ’n politieke dier is nie. My aanvanklike idee was om misdaadstories te skryf, maar die politieke omstandighede was sodanig dat ek dit eenvoudig nie kon ignoreer nie, ewe min as wat my karakters kon. In Tweegevreet speel die landspolitiek ’n kleiner rol as in Die vertes in of die derde boek, maar die koloniale ongelykheid is onvermydelik en oral teenwoordig.

Maar is die skrywer se onderbeklemtoning van hierdie aspek werklik so “onskuldig” soos hy te kenne wil gee? En indien nie: Hoe betrek hy die tydruimtelike plasing by die sentrale intrige van sy narratiewe teks?

Soos reeds genoem, is Tweegevreet historiese fiksie met verhaalgegewe wat afspeel in 1905 ten tye van die Herero-oorlog (1904–1907) en in die Hochnamibdistrik gelokaliseer is. Die verteltyd beloop een week: van die oggend op die dag waarop herr Jürgens se lyk ontdek word (die luiperdaanval waarna in die openingsin verwys word) tot wanneer Siegfried Bock sewe dae later onderweg is na die beskeie polisiestasie met aan sy sy ’n perd met ’n liggaam van ’n dooie man skuins daarop vasgemaak.

Die vertelde tyd strek egter van Bock en Stempsky – die twee hoofpersonasies – se jeugjare tot die slottoneel en verteenwoordig waarskynlik twee dekades. Deur die narratief stewig binne die bestek van sewe dae te plaas, terwyl die vertelde tyd ’n veel langer tydperk dek, word aan die derdepersoonverteller ruimskoots geleentheid gebied om by monde van terugvertelling nie net die hoofpersonasies en hul persoonlike geskiedenis in te klee nie, maar ook die politieke omwentelinge van daardie tyd – sónder dat dit sentraal en bepalend tot die personasies se omstandighede en keuses teenswoordig geplaas hoef te word. Daarvolgens dan die “versweë” teenwoordigheid van sowel tyd as ruimte.

Maar hoe skakel dit met die sentrale intrige?

Ten eerste die landskap. Die Namibiese Hochland is nie net ’n afgesonderde, ongenaakbare (“meedoënloos”, noem Francois Bloemhof dit in sy lokteks) omgewing nie; dit is ook ’n onbegrenste ruimte waar die mens ’n stryd om oorlewing voer op fisieke én emosionele vlak – nogeens is die voorplat van belang – en daarom verbaas dit nie dat die ongedefinieerde landskap tot gevolg het dat die personasies in hierdie verhaal voortgestu word deur ’n behoefte aan singewing (Siegfried Bock), intimiteit/geborgenheid (Hans Stempsky en Lisbeth Kamke) en kontras (August Niedermeyer) met die gepaardgaande implikasie van teenstellings soos lig/donker, goed/sleg/, vals/eg, naby/ver, skuld/onskuld en les bes vergelding/kwytskelding nie.

Nie net beweeg die omliggende landskap soos ’n skaduwee mee in die agtergrond nie, maar is inderdaad bepalend ten opsigte van die hoofpersonasies se gedagtegang en keuses. Insgelyks word die Afrika-landskap nie bloot as ’n landskap van “vryheid en lyflikheid” ervaar nie (117), maar word dit ook telkens met ’n skaduwee in verband gebring; iets waarna 26 keer in die teks verwys word – om nie net bedreiging te aksentueer nie, maar ook ’n gebrek aan sekerheid.

Ter illustrasie, enkele tersaaklike aanhalings:

  • Hy [Bock] stoot aan, kyk hoe die skaduwees voor hom strek, en hoop om Kupferberg voor donker te bereik, of ten minste Haris. As hy dít regkry, is hy vol vertroue dat hy die laaste ent in die donker sal kan aflê. (32)
  • Die maanlig maak van die pad ’n helder, wit streep. Hy [Bock] konsentreer daarop en probeer om die skaduwees te ignoreer wat aan weerskante opdoem. (32)
  • Hy [Bock] sal vir haar tot siens sê, omdraai en uitstap met sy kop omhoog en ’n ligtheid in sy binneste, uiteindelik verlos van die dooie man se skaduwee en daardie ou gerem aan sy hart, gereed vir wat die wêreld na sy kant toe gooi. (64)
  • Die besef wat die res van sy lewe [Stempsky s’n] gaan rig, tref hom op ’n saai plek, een sonder merkwaardige sjarme of landmerke, synde nóg ’n rant wat ’n uitsig bied, nóg ’n rivierbedding met koel skaduwees. [...] Hierdie helling, die klippe langs die pad en die rivierbedding daar onder se glimmende wit sand, die voëltjie wat op ’n grasspriet wieg, ’n kewer wat deur die grasse kruie – elke besonderheid brand in sy geheue vas. (79)
  • Sy het lief geraak vir hierdie land en alles wat hy haar gee – sy belofte en suiwer skoonheid – maar sy is ook bang daarvoor, bewus van sy koue hart. Dit kan, sonder waarskuwing of rede, die water wegvat wat jou plaas al jare lank voed.

Dit kan ewe maklik die mense wegvat wat jou hoop voed.

Nee, dink sy, sy kan nie toelaat dat sulke idees posvat nie.

Terwyl sy kyk hoedat die skaduwees langer word, het Lisbeth ’n gevoel wat sy nie sedert haar man se dood gehad het nie – dat die dag ’n vermorsing was. (220)

  • Daar is dus hierdie twee, dink hy, [... en ...], een die ander se skaduwee. En toe word [...] doodgemartel, en net sy skaduwee bly oor. Siegfried probeer hom ’n dooie man se skaduwee voorstel, ’n skaduwee sonder die een wat dit gegooi het, ’n donker vlek wat deur die wêreld flap, ’n konneksie soek, vir ewig verdwaal. (225)
  • Soos hy [Bock] ry, glip sy skaduwee oor die stuk pad langs hom, ’n verwronge silhoeët van ’n man te perd, soos ’n spook wat langs hom hardloop, effens vooruit, gejaag deur hierdie natgeswete, moeë, woedende man wat weet hy sal dit nooit inhaal nie, maar wat desondanks nie kan stop nie, nie durf stop nie. Agter Siegfried, aan die leiriem se punt, kom ’n ander perd met die lyf van ’n man wat eens iemand anders was. (253)

Hiervolgens blyk dit duidelik dat die landskap én ook die skaduagtige (versweë) teenwoordigheid daarvan letterlik betrekking het op bykans elke faset van die sentrale intrige: van die verromantiseerde versugting na betekenis en inhoud tot die uiteindelike verraad, vergelding en dood. Trouens, die inkleding van fisiese ruimte is sodanig dat die leser nooit onbewus kan wees van presies waar die handeling plaasvind en hoekom gebeur wat gebeur nie.

Nog ’n interessante aspek van skaduwees is die wyse waarop dit betrek word op August Niedermeyer se skilderkuns, oftewel die “vasvang van die siel” soos hy dit op bladsy 36 stel.

Voorbeelde:

  • Hy [Niedermeyer] is nie seker nie, en dit is die soort ding wat blykbaar vir mense belangrik is, asof die oë inderdaad die vensters van die siel is en die kleur betekenisvol, en hy laat hulle dus ongeskilder, die irisse twee kolle ongeverfde doek. Dit maak die skildery spookagtig. Daar is iets snedigs omtrent die lippe wat nie op die foto was nie, in die manier waarop die kwashale skaduwees by die mondhoeke suggereer. (98)
  • Om die naam voor hierdie man te sê, stem hom [Niedermeyer] onrustig; sê nou hulle sien dwarsdeur hom, dat sy gedagtes soos skaduwees op die skerm van sy voorkop afgeteken staan? (175)
  • “Hierdie uitgestrekte, windverwaaide ... Dis interessant, maar ek dink ek soek iets met sterker kontraste, hoog en laag, diep skaduwees. Jy het donkerte nodig om jou werk te anker.” (198)

Ten opsigte van hierdie aanhalings is dit belangrik om daarop te let dat die skaduwees by die mondhoeke op leuenagtigheid dui, en dat die dooie man wat ten slotte onder die krans gevind word, se oë deur aasvoëls uitgepik is (244); in ironiese teenstelling tot die luiperdkarkas waarvan die voorpote afgekap is (84). So ook die uitgesproke behoefte aan kontras wat integraal deel uitmaak van hierdie teks se tematiek.

Voeg hiernaas die belang van die tydsplasing. Die jaar 1905 was ’n onstuimige en onsekere tyd in die geskiedenis van Namibië. Tot op daardie tydstip het die Duitse owerheid verkies om na Namibië (oftewel Duits-Suidwes-Afrika soos dit in 1905 nog bekend gestaan het) as ’n protektoraat eerder as ‘n kolonie te verwys onder die “valse gesig” van die inkommer as die bringer van (Europese) beskawing – waaronder godsdiens, skole en infrastruktuur – sowel as geregtigheid met wet en orde wat deur ’n onderontwikkelde polisiemag en eenogige regstelsel in stand gehou moet word.

Vir die leser is dit belangrik dat bykans ál hierdie aspekte tydens die narratief te berde gebring en op die sentrale tematiek betrek word: Siegfried Bock is ’n oudsoldaat wat na die polisie-eenheid te Hochnamib gesekondeer word; Isa Viitanen se vader is sendeling met haar as onderwyseres by die sendingskool; Windhoek is pas 15 jaar gelede gestig; en vir die inheemse bevolking bestaan daar geen “ware” geregtigheid voor die regbank nie – iets wat aanleiding gegee het tot die Herero-opstand van 1904 en een van die grootste volksmoorde in die geskiedenis tot gevolg gehad het. Soos die flapteks op die agterplat dit reeds onomwonde stel: “Mense hou valse gesigte voor. Wraak het verskillende gedaantes.”

Die politieke landskap van tyd én ruimte word gevolglik ten nouste verweef met die sentrale vraag (raaisel) na wat die ware aard is van die mens, wat nie net weerloos is nie, maar selfs brutaal.

In hierdie opsig is die volgende aanhalings veelseggend:

  • Beelde van daardie rooi sand, die stowwerige swart vel, glinsterende bloed en die gapende vlees teister hom steeds wanneer hy [Bock] sy oë toemaak. En dan voel hy die skudding in sy hand toe die mes van ’n ribbebeen af glip tot in die hart van ’n man wat boos was, maar nogtans ’n mens, een wie se bloed die sagte vel in die V tussen Siegfried se wysvinger en duim gevlek het. Hy staan self nie onskuldig nie. Hy is ’n vyand van hierdie land se mense en ’n verraaier van sy eie. (13)
  • Vir ’n wit man in Afrika is dit ’n komplekse saak vol slaggate. Die dinge wat hy elke dag doen, is sy lewe, soos vir almal. Dit behoort genoeg te wees, sê hy vir homself, maar hy is jonk en geneig tot drome. Hy vind dat hy wens vir iets groters, ’n roeping of doel – rigting vir sy lewe. Hy het geen idee watter vorm dit kan aanneem nie, en kan hom nie eens voorstel waar die nodige impuls vandaan kan kom nie. Hierdie leegheid kan nie so aanhou nie. In hierdie dop wat hy tans is, moet ’n nuwe identiteit vorm aanneem. (14)
  • Die lewe is grootliks ’n stryd om pyn te oorkom, meen sy [Lisbeth Kamke]. ’n Ander manier van lewe het eers moontlik begin lyk toe sy hierheen gekom en dié wye, oop land gesien het met al die moontlikhede wat dit bied, selfs vir iemand soos sy. Miskien in die besonder vir iemand soos sy, wat op grond van haar ras verhef is bo andere, maar wat in haar hart weet sy is nie beter as enigeen nie, en dat omtrent enige verandering wat sy in haar lewe teweeg kan bring ’n verbetering sal wees. (118)
  • “Hulle [die plaaslike bevolking] weet nie wat om van jou [Bock] te dink nie. Hulle dink jy bedoel goed, maar jy het rampspoed op hulle neergebring.”

“Daarin was ek nie alleen nie, en ek was ook nie die hoofrede nie.”

“Miskien nie as individu nie, maar vir seker in dit wat jy verteenwoordig – ’n koloniale mag.”

“Ek is ’n polisieman. Anders as die leër, is ons nie in die eerste plek instrumente van Duitse gesag nie, maar van geregtigheid.”

Sy [Isa Viitanen] rol haar oë asof sy so pas die domste ding ooit gehoor het. “Dis nog steeds ’n uniform wat jy onder daardie rooi serp dra.”

Dit is waar, en onteenseglik beduidend, al haat hy dit ook hoe. Die rooi serpe wat hulle dra, is al wat hulle uiterlik van die soldate onderskei.

“Ons is veronderstel om ander uniforms te kry.” (123)

  • Deur net hier te sit, voel hy [August Niedermeyer] hom deel van ’n groot verowering, Europa se manjifieke avontuur in Afrika. Hulle koloniseer nie net verafgeleë plekke nie, maar ook vervloë tye, die mensdom se voorgeskiedenis wat hier in Afrika traag was om te wyk. As ’n gewone man soos hy, ’n buitestander, sulke meesterskap hier kan ervaar, hoeveel te meer die mense wat by die huis die heersersklas was? Die soort man wat in Berlyn in kringe beweeg het waar hulle polo speel, moet hier soos ’n god voel. (191)
  • “Ek [Isa Viitanen] het nog skaars begin. Maar ek kan nie hoop om dieselfde resultate as Alvaus te behaal nie. Hy was een van hulle en ek, al het ek omtrent my lewe lank hier gebly, is nie. Absurd soos wat dit mag klink, my velkleur is soos ’n uniform wat my aan jou kant plaas, en nie hulle s’n nie. Miskien sal mense oor honderd jaar verby dit kan kyk, maar nie nou, nie in ons leeftyd nie.” (207)

Onderliggend tot hierdie verwikkelde tematiek van “ons” (inkommer) versus “hulle” (inheems) is daar die volgehoue toon van onveiligheid, en ja: brutaliteit. Reeds so vroeg as bladsy 7 neem ons kennis van die insident waartydens Bock gewelddadig moes optree en iemand moes dood. (Ook op bladsy 13.) Daarnaas is die insident met die sebravul wat uit die kampomheining losgesny moet word (8) en die slag van die bok om ’n dispuut te besleg (109) – ’n tema wat tot ‘n hoogtepunt gevoer word met herr Jürgens se brutale aanranding op Lukas Garoeb (236–7) en die uiteindelike moord wat die klimaks van die narratief vorm (242–4).

Wanneer Jeanette Ferreira in haar lokteks op die voorplat dus na die skrywer se “genadelose soeklig” verwys wat ondersoek instel na “die dubbele aard van die mens: die weerlose én die brutale”, is dit ’n besonder akkurate opsomming van hierdie teks.

Tweegevreet – ’n Aksieverhaal vir fynproewers

9. Samevatting

In die digkuns word daar vry algemeen na ’n geslaagde gedig of bundel verwys as ’n “deurgekomponeerde” werk; bedoelende dat elke aspek van daardie gedig of bundel soos in ’n musiekkomposisie struktureel geïntegreer is met die sentrale tematiek en derhalwe geen “dowwe kolle” of onakkurate diksie of beelding toon nie.

Sodanige beskrywing is net so van toepassing op Zirk van den Berg se Tweegevreet, want géén aspek van hierdie teks staan verwyderd van die sentrale vraag na betekenis (verklaring) en die “ware” aard van die mens wat tegelykertyd brutaal én weerloos kan wees nie.

Maar indien dít die raaisel is waarop Van den Berg sy “genadelose soeklig” rig, kan die vraag met goeie reg gevra word wat dan die antwoord is. Ook hierdie draad word nie onontknoop gelaat nie, maar ter wille van diegene wat nog die boek moet lees, laat ek dit ter syde. Die slotverloop vanaf bladsy 238 stel dit egter onomwonde – trouens daardie spesifieke gesprek tussen Bock en sy metgesel vorm na alle waarskynlikheid die hoogtepunt van die narratief: evokatief, genuanseerd en volledig oortuigend.

Inderdaad is Tweegevreet ’n buitengewone roman, selfs briljant, soos Jeanette Ferreira dit stel. ’n Roman wat nie net die skrywer se reputasie bestendig nie, maar ook die reikwydte van sy reeds indrukwekkende oeuvre vergroot. 

Bibliografie

Burger, Willie. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Cuddon, J.A. 1992. The Penguin dictionary of literary terms and literary theory. Londen: Penguin.

Scheepers, Riana ea. 2012. Die Afrikaanse skryfgids. Johannesburg: Penguin Random House.

Symons, Julian. 1972. Bloody murder: From the detective story to the crime novel: A history. Londen: Faber & Faber.

Van den Berg, Zirk. 2020. Tweegevreet. Kaapstad: Kwela Boeke.

Van Gorp, H ea. 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Internetskakels

Heilna du Plooy (1795, Dan Sleigh): https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-1795-deur-dan-sleigh.

Melt Myburgh in gesprek met Zirk van den Berg. Graffiti Boeke: Aanlynkuiers, Dinsdag 11 Augustus 2020: https://www.facebook.com/graffitiboeke/videos/626083371344853.

Melt Myburgh, onderhoud met Zirk van den Berg, 2020: https://www.litnet.co.za/tweegevreet-n-aksieverhaal-vir-fynproewers.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top