Zirk van den Berg is 'n Suid-Afrikaner wat in Nieu-Seeland woon. Sy boek Halfpad een ding handel oor oorlog, maar ook oor identiteit.
Zirk vertel vir Naomi Meyer van die boek en van wat dit beteken om oorsee te woon.
Hallo Zirk, vertel asseblief vir ons lesers wie jy is.
Genade, hoe kies mens wat jy oor jouself sê? Ek hou van skryf. Ek is getroud met my oudste vriendin en is die pa van twee kinders. Ek is gebore in Walvisbaai, het meestal in die Kaap rond gewoon, en is sedert 1998 in Nieu-Seeland. Vir geld skryf ek enigiets waarvoor besighede my betaal – ’n vryskutter. Ek het ’n saai en gelukkige lewe. Ek worry oor geld ... Jou alledaagse middeljarige salie.
En kan hierdie vraag geskei word van "... en waar jy woon"?
’n Skoolmaat het eenkeer vir my gesê: “Jou land is alles wat jy is.” Ek het dit toe nie geglo nie en glo dit nou ook nie. Waar ek woon, het ’n invloed – die landskap en kultuur het my help vorm. Maar so ook die boeke wat ek lees, die musiek wat ek luister, die flieks wat ek kyk. Ek is ’n Suidwester, Suid-Afrikaner en Nieu-Seelander, ’n Westerling, ’n mens.
Halfpad een ding handel oor 'n Suid-Afrikaanse Nieu-Seelander wat tydens die Anglo-Boereoorlog opdrag ontvang om op die Boere te spioeneer. Van alles wat jou karakter beleef het, wat het hom die meeste van die Boere opgeval?
Dat hulle mense is. En dis nie so ’n onsinnige antwoord as wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Die neiging is om “die vyand” as iets minder as mense te sien. Soos wit mense in die ou dae oor swart mense gedink het. Almal probeer maar doen wat hulle dink is reg. Ek is dalk hopeloos naïef, maar ek dink die meeste mense tree in goeder trou op, selfs diegene met wie ons verskil.
In Nieu-Seeland kry jy persoonlik geleentheid om as Suid-Afrikaner op die Nieu-Seelanders te spioeneer. Wat val jóú veral daar op?
Ek sou kon sê die mense is meer inkennig as Suid-Afrikaners, maar staan saam in ’n krisis. Die gemeenskap is nie totaal klasloos nie, maar nie baie klasbewus nie. Hulle is stoïsyns en rustig en pragmaties. Maar elke veralgemening is ’n leuen. Ook omdat een uit vyf van die land se mense elders gebore is.
Daar is honderde duisende Suid-Afrikaners wat oorsee woon en sal kan identifiseer met die ervarings wat jy in Halfpad een ding beskryf. Was die ekspat-Suid-Afrikaner jou ideale leser, of het die leser nie juis met die ontstaan van die boek te doen nie?
Ek het nie vreeslik gedink oor ’n spesifieke leser nie – enigiemand wat aanklank vind by die storie, om watter rede ook al, is my ideale leser. Die leser het wel ’n rol gespeel in die skryf van ’n boek in die sin dat ek wou hê mense moet dit kan geniet. Nie dat ek ooit goed gesoek om te skryf waarvan mense sal hou nie, of probeer het om gewilde goed in die storie in te werk nie. Ek skryf in die eerste plek die goed wat my interesseer en opgewonde maak. Maar ek hou ook die leser in gedagte, probeer peil wat die leser op verskillende stadiums in die storie weet of vermoed, watter vrae die leser dalk sal hê. ’n Boek is daar om gelees te word.
Van Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland gepraat: Het jy met heelwat van hulle te doen? Verklap asseblief aan die Suid-Afrikaners in Suid-Afrika wat jy al raakgesien het as jy op hulle spioeneer: Hou hulle inderdaad graag braaivleis saam in 'n sonskynland waar alles veilig is? Dus: Is die gras groener daar, alles inderdaad ideaal?
Ek soek nie noodwendig Suid-Afrikaanse vriende uit nie, maar woon in ’n gebied waar heelwat Suid-Afrikaners saamgetrek het, in my geval om bloot praktiese redes. Die plaaslike biblioteek het ’n rakkie vol Afrikaanse boeke, hier is Suid-Afrikaanse winkels en selfs die gewone supermarkte het ProNutro en Peck’s Anchovette en so aan. My kinders is in die klas saam met ander kinders met Afrikaanse name, ’n mens hoor Afrikaans in die straat ... maar ook Koreaans en Chinees en Arabies en Russies en Spaans en Duits en ander tale. Ons dorp se skoenmaker is die skrywer Ryk Hattingh, en ek hang soms daar by sy winkel rond.
Die gras is letterlik groener hier, met al die reën. Figuurlik gesproke sou ek dit egter nie so stel nie. Party goed is hier beter, ander nie.
En ek sou dit nie ’n sonskynland noem nie – nie in vergelyking met Suid-Afrika nie. Die land lê so ver van die ewenaar af as Italië, maar die see rondom ons is koud en ’n plek soos Auckland kry drie keer soveel reën as die Kaap.
Die Suid-Afrikaanse landskap tref vir Gideon Lancaster – die bruin veld, die droogheid. Is Nieu-Seeland inderdaad so skouspelagtig soos in die film The Lord of the Rings sigbaar was, en val hierdie verskille jou op as jy in Suid-Afrika besoek aflê?
Hier rondom Auckland is dit digbegroeid, lowergroen en heuwelagtig, mooi, maar sonder die drama van die Suid-Afrikaanse landskap. Die Suid-Eiland is anders, meestal droër en met reuse-bergpieke, maar ek het nog min daarvan gesien, en nie die skouspelagtige Otago of Weskus nie. Dis weliswaar ’n pragtige land in terme van natuurskoon ... maar die enigste inheemse soogdiere is vlermuise. Geen gemsbokke hier nie.
Toe Gideon (nou) Doncker hom by die Boere aansluit, besef die leser saam met Gideon wat dit van hom vra. Trou bo alles. Die moontlikheid dat hy sy lewe kan verloor vir beginsels wat dalk nie eens sy eie is nie. Wat vra dit van 'n mens om 'n ander land te gaan bewoon (en op die mense te spioeneer)?
Dis moeilik. So moeilik dat sommige mense genoop voel om boeke daaroor te skryf!
"Kia ora," groet Gideon een van sy medelandgenote in Maori. Soos wat die Boere Afrikaans as onderskeidende taal kon aanwend, maak die Nieu-Seelanders dus so met hierdie inheemse taal. Handel die boek oor ook die Nieu-Seelandse identiteit?
Die Anglo-Boereoorlog was ’n vormende deel van Nieu-Seeland se nasiewording. Maar ek het in geen stadium aan hierdie boek gedink as ’n politieke stelling of volkekundige studie nie. As ek iets te sê gehad het wat ek in ’n sin of twee kon sê, het ek dit gedoen. Dis ’n storie oor goed wat my na aan die hart lê – niks meer of minder nie.
Die liefde van die ongewone vrou, die net mooi nie, maar so buitengewoon dat Gideon nie anders kan as om haar raak te sien nie, speel 'n belangrike rol in die verhaal. Waarom het jou karakter op haar verlief geraak?
Die kort, en seker nie vreeslik insiggewende antwoord nie, is dat sy dit werd is.
’n Manlike leser skryf anderdag vir my omtrent die mooiste ding wat ’n leser kan sê. Hy skryf hy is self so ’n bietjie verlief op Esther Calitz. En ek moet bely ek is ook. Sy speel ’n baie belangrike rol in die storie. Soos seker in baie mans se lewe, is die vrou op die ou end die maatstaf van sukses – dis soos ons bedraad is.
"Het Judas vrede met God gehad?" wonder Gideon op 'n stadium. Is dit algemeen vir Suid-Afrikaners wat ander kulture infiltreer om skuld en verraad te ervaar?
Emigrasie is ’n teer saak. Jy trap op tone watter kant toe jy ook al gaan. Almal probeer hul eie besluite regverdig. Dié wat bly en dié wat gly voel albei deur die ander veroordeel, by implikasie en soms openlik. ’n Suid-Afrikaner het byvoorbeeld nou die dag op ’n internetforum geskryf dat ek as landsverlater nie ’n reg het om enige menings uit te spreek nie – en die kwessie ter sprake was nie eens oor Suid-Afrika nie!
Skuldgevoelens is seker deel van al die woelinge en wroeginge rondom emigrasie. Maar ons voorouers het op hul beurt van elders af gekom. As niemand ooit getrek het nie, het ons mekaar lankal vertrap.
Jy het Halfpad een ding in Engels én in Afrikaans geskryf. Wat was eerste? Wat het die maklikste gekom? En het jy die teks presies dieselfde gehou, of doelbewus vertaal?
Ek het die boek in Engels geskryf. Die vertaling was Penguin se (welkome) voorstel. Die verwerking in Afrikaans het ook weer die Engels beïnvloed. Daar was dus op die ou end heelwat kruisbestuiwing tussen die weergawes.
Oplaas: Sou jy wou dat jou karakter 'n keuse maak oor 'n land? Kón hy?
Hy sou kon kies, ja. Maar daar is altyd ’n prys. Soos my pa altyd gesê het: “Jy kry niks vir niks en baie bietjie vir ’n tiekie.”
Taal: Afrikaans
Druknaam: Penguin
Regte: Suidelike Afrika
Publikasiedatum: Maart 2014
ISBN: 9780143538639