Philip Kerr se Hans-Nazi’s is donker Berlynse noir

  • 0

Titel: Hans-Nazi’s
Skrywer: Philip Kerr
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers, 2018
Prys: R250
ISBN: 978-1-86842-880-9  

Die uitgewersnota lees as volg: “Berlyn, 1933. Hardebaardspeurder Bernard ─ ’Bernie’ ─ Günther word deur ’n miljoenêr-sakeman ingeroep om die moord op sy dogter en skoonseun op te los en waardevolle juwele, wat tydens die inbraak gesteel is, te vind.

“Gewoonlik is Günther op die spoor van vermiste persone, maar in dié ontstuimige politieke klimaat, betree hy ’n donker onderwêreld waar misdaad, korrupsie en onderhandelinge met Nazi-leiers aan die orde van die dag is. Sy soektog ontbloot ’n skandaal wat hoëkoppe, soos Hermann Goering en Heinrich Himmler, betrek…

“Smerige nagklubs, smeulende filmsterre, oorvol lykshuise en onderonsies met die Gestapo lei uiteindelik tot ’n skokkende onthulling. Die roman speel af in Nazi-Duitsland ─ ’n milieu wat Kerr met vernuf skets.”

Dié Afrikaanse uitgawe van March Violets is die eerste boek in Kerr se Berlyn Noir-reeks, sy eerste Bernie Günther-trilogie. Vertalings van die ander twee romans in die reeks, The Pale Criminal (Doodsbleek) en A German Requiem (Doodslied vir Duitsland), het ook vanjaar verskyn.

Ek weet nie wat my eerste opgeval het nie; die feit dat ons hier met ’n baie geliefde genre van my, Noir, te make het en dit boonop Berlyn Noir is, wat in ’n stad afspeel waarheen ek vir die feestyd op pad is nie; of dat twee gesoute outeurs, Deon Meyer en Karin Brynard, dit loof nie.

Meyer skryf: “Hans-Nazi’s is ’n kragtoer. Bernie Günther is pure speur-plesier.” En in ag genome dat ek elke boek van Meyer gelees het, moes ek natuurlik swig. Maar dis Brynard se “Slim, skerp, spannend en supersnaaks,” waarmee ek nog meer saamstem.

Ek het aanvanklik gedink dis die vertaler, Elsa Silke, se vlymskerp vertaling wat Bernie sulke ongewone vergelykings laat tref; of sulke beskrywings van goed gee, wat jou net heeltemal anders na dinge laat kyk, tot ek meer oor Kerr opgelees het.

Philip Kerr (1956–2018) was ’n Britse skrywer wat wêreldwyd vir sy speurverhale bekendheid verwerf het. Hy het in 1980 ’n meestersgraad in filosofie en die regte aan die Universiteit van Birmingham ontvang en het daarna meer as dertig boeke gepubliseer, waaronder veral historiese romans en misdaadfiksie. Sy Bernie Günther-romans speel in Nazi-Duitsland af. Hy is in Maart 2018 oorlede.

Dis heel moontlik die filosofie-agtergrond, wat hom mense so fyn laat bestudeer en karakters dus met soveel detail kan laat beskryf.

Ek moet van sy spitsvondighede uitlig, want dit dra ongetwyfeld by tot die leesgenot van Hans-Nazi’s: “Om dit ’n arm woonbuurt te noem, is amper soos om te sê Joey Goebbels het ’n probleem om die regte skoengrootte te vind.” Of “Ek was eers lief vir die ou stad. Maar dit was voor sy haarself in die spieël gesien het en sulke stywe korsette begin dra het dat sy skaars kan asemhaal.”

Selfs dié paar: “Ek vra ’n whisky en sy skink vir my een wat groot genoeg is om ’n volle kunsgebit in te dompel,” en “’n robyn groot genoeg om ’n maharadja se troetelolifant mee te versier” of “... vee die sweet van sy voorkop af met ’n sakdoek wat na ’n openbare gesondheidsrisiko lyk”.

Die insigte van iemand wat swaarkry ken: “Om aan die lewe te bly, moet mens eers ’n bietjie sterf,” en “Ek het gewoond geraak aan ’n onderstebo wêreld, asof dit deur ’n enorme aardbewing getref  is, sodat die paaie nie meer plat lê, of die geboue regop staan nie.”

Sy houding jeens politici en die penarie waarin die wêreld haar bevind, danksy korrupsie en gierigheid, word baie goed vervleg en dis veral sy uitlating oor “Die Verlede”: “As jy my vra, is dit hierdie land se obsessie met sy geskiedenis wat ons gedeeltelik gebring het waar ons nou is: in die kak. Jy kan nie ’n kroeg binnegaan sonder om te moet luister hoe een of ander poephol uitvaar oor ons pre-1918 grense nie, of Bismarck se lof besing, of nostalgies raak oor hoe ons die Franse op hul moer gegee het nie. Al hierdie goed is ou rowe en dit maak geen sin om pal daaraan te krap nie.”

Die ooreenkomste met ons eie land se benarde situasie ─ eers die agterdog van die Apartheidsjare; mense wat oornag verdwyn en dae later in riviere of oop stukke veld opduik, met flou verskonings van ongelukke wat deur lompheid veroorsaak is; en dan die neiging om die verlede as beter voor te hou - is ooglopend.  

Hoewel die eerste in ’n trilogie, staan hierdie boek sterk op sy eie bene en behalwe die goed saamgestelde storielyn oor moord en verraad en gesteelde juwele, is die skryfstyl en humor soos Brynard tereg opmerk, “skerp en supersnaaks”. Jy kan nie wag om die volgende twee te lees, net om nog meer hiervan te ervaar nie.

Dis verfrissend om ’n speurverhaal in ’n ander stad te lees en veral in die tyd vóór die Tweede Wêreldoorlog. Soveel is al geskryf en op film vasgevang van die tyd gedurende en ná die oorlog, ’n mens vergeet soms die jare daarvoor. Met soveel insig in dié periode en hoe dinge stelselmatig in lyn gebring is vir die uitvoer van die suiweringsplan; is dit eintlik skrikwekkend dat niemand die tragedie van Hitler se volle toorn, kon voorspel en kon ingryp nie.

Ek het lanklaas so lekker gelag, net om weer vinnig teruggeruk te word, as ek met afgryse die ongekende wreedheid van die Nazi’s lees. Bravo, Kerr!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top