Lees gerus ’n Ander mens

  • 0

Titel: ’n Ander mens
Skrywer: Zirk van den Berg
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795704826

 

Koop ’n Ander mens by Kalahari.com

 

Dis taamlik laat om op te merk dat Suid-Afrikaners eenvoudig nie genoeg kry van die rillers wat Deon Meyer, Francois Bloemhof en kie al vir nagenoeg twee dekades (ja, jy’t reg gelees) oplewer nie. Dit is waar dat die genre hom uitstekend leen tot sosiopolitieke kommentaar. Daar is natuurlik ook die tipe ontvlugting te vinde wanneer ’n skurk aan die pen ry vir sy wandade, iets wat nie aldag in ons samelewing die geval is nie. Die genre bied egter ook aan skrywers die geleentheid om ’n boeiende storie sonder tierlantyntjies te vertel, met die wete hulle nie noodwendig Betrokke Literatuur hoef te bied nie.

Zirk van den Berg se misdaadroman ’n Ander Mens, ’n vertaling van Nobody Dies (2004), wend hom uiteraard nie tot die tipe diepsnydende sosiale ontleding wat ’n Karin Brynard bied of ’n roman soos Bettina Wyngaard se Vuilspel voor mik nie. ’n Ander Mens is geskoei op ’n betreklik eenvoudige premis: Erica van der Linde, in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram in die neëntigs, is ’n skrander, mooi vrou met onpeilbare grys oë en haar eie sin vir geregtigheid. Sy het ook, soos die leser in die boek se mees opwindende laaste derde agterkom, ’n tragiese geheim wat haar pa en haar eie lewe onherroeplik skade berokken.

Om seker te maak dat die getuies in haar bewaring nooit weer met ’n oog gewaar word nie, het dié onwrikbare vrou skynbaar die perfekte oplossing: sy vermoor hulle. So maklik is dit.

Of ís dit?

Soos die leser van hierdie resensie sekerlik kan aflei, is daar ’n liederlike vlieg in die salf in die vorm van Daniël Enslin. Enslin se saai, twyfelagtige bestaan word opgekikker deur die klein werkies wat hy vir die skelm, Frank Redelinghuys, doen. Soos die noodlot dit wil hê, is Enslin teenwoordig wanneer daar ’n moord gepleeg word. Hy wend hy hom tot die polisieman Mike Acker. Acker plaas Enslin in die sorg van Van der Linde, en na ’n sluimerende, berekende begin vat die roman behoorlik vlam wanneer Enslin die poging op sy lewe deur Van der Linde oorleef.

Dit is dan dat daar heelwat onverwagse en bevredigende kinkels kop uitsteek – selfs die heel laaste gesprek in die slot lewer ’n lekker aweregse tikkie genot op. Sonder om veel te verklap: baie van die intrige word gebou rondom die feit dat Acker salig onbewus is van die feit dat Van der Linde getuies koelbloedig vermoor. Hy is dus ’n goeie man wat die beste vir sy familie en ander wil hê, maar wat onwetend getuies se laaste asems help uitblaas.

Alhoewel die skrywer die skurk Redelinghuys ’n betreklik louwarm teenwoordigheid maak deur weinig verby ’n laag “kriminele” cliché te beweeg, word die karakterisering van Acker, Enslin en Van der Linde een van die roman se groot sterkpunte. Al drie is uiteindelik simpatieke karakters wat op verrassende wyse verwikkel raak.

Die beskrywings van die Kaap en die Namib-woestyn is besonder mooi geskakeer. Hoewel dit nie noodwendig deurgaans die geval is nie, word die ruimte waarin die roman afspeel, by tye werklik goed aangewend om te pas by die stemming van die prosa en die verskillende emosies wat karakters beleef.

Van den Berg slaag beslis daarin om die stemme van sy hoofkarakters en verskillende fokalisators van mekaar te onderskei, en namate die aksie (wat nooit dreig om van die roman se meer filosofiese, onderliggende handelinge nek om te draai nie) vorder, ervaar ’n mens deernis met dié wat die reis in die roman self meemaak. Daar is ook liriese oomblikke wat ‘n groot indruk maak. Met die aksie, wanneer dit kom, skort daar min.

Die gepaste titel dui ooglopend op die feit dat diegene wat in die getuiebeskermingsprogram geplaas word, ’n nuwe identiteit moet aanneem, en wesenlik “nuwe” of “ander” mense moet word om te oorleef en met hulle lewens aan te gaan. Dit is tot ’n mate hier ook die geval, maar die diepte wat ’n mens tog van enige goeie roman verwag, kom ruimskoots soos wat elke hoofkarakter poog om hom- of haarself weens omstandighede en bewussyn in meer gelukkige, volronde of minder gebrekkige wesens te omskep.

Daar is bitter min macho houding in die manier waarop Van den Berg sy tyd vat om ’n netjiese, opwindende lekkerleesverhaal te vertel. Die vertaling is soepel; daar is min in terme van taalgebruik wat knaag. Ek vermoed dat lesers sal wonder hoekom dit nodig was om ’n boek wat amper tien jaar oud is te vertaal wanneer daar soveel nuwe Afrikaanse werke op die rakke beskikbaar is, maar ’n Ander Mens is ’n waardige toevoeging tot die plaaslike mark. Lees dit gerus.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top