Frank Opperman gesels oor Ek wens, ek wens

  • 1

Frank Opperman (Foto verskaf)

...
Die karakter gaan op ’n reis van selfontdekking; iets wat jy alleenlik kan regkry as jy iets doen. Doen is ’n werkwoord.
...

Frank Opperman speel Seb, ’n lykbesorger by White Lily Funerals, in die toneelstuk Ek wens, ek wens wat binnekort by die Suidoosterfees open.

*

Frank, kom ons begin by die rol van lykbesorger, want dit is wat Seb in hierdie stuk is. Ek weet jy het as akteur nou al amper alles gespeel, maar was jy al ’n lykbesorger?

Ek was een in Vlug na Egipte en Terug na Egipte, Paul C Venter se TV-reekse. Die ou het mense se bene afgesaag as hulle te lank was vir die bargain-kis. Die begrafnisondernemersorganisasie was baie ontsteld daaroor. Hulle het ook nie daarvan gehou dat die karakter, Tony Fivaz, warm geraak het met ’n girlfriend in ’n kis by die werk nie. Ek was bang hulle gaan eendag weier om my te begrawe. Sal maar my eie gat moet grawe. Dis nie die tipe karakter wat ’n mens gereeld speel nie.

Jy is bekend daarvoor dat jy mense kan laat lag met ’n enkele gesigsuitdrukking. Zirk van den Berg se boek, waarop die verhoogstuk gebaseer is, is eintlik ook nogal snaaks. Maar is lyke en die dood nie dalk ’n ernstige onderwerp nie? Hoe hanteer jy as akteur die spanning tussen mense wat wil lag en moeilike kwessies? (Daar is die ou sêding: “It’s funny, it’s funny, it’s funny no more.”)

Die dood is so alledaags soos brekfis. Elke dag gaan mense dood. ’n Mens hoef dit sekerlik nie te ernstig op te neem nie. Dit is onafwendbaar. Ek probeer in die toneelstuk darem nie om te grusaam te wees nie. Vir ’n begrafnisondernemer is ’n oopgesaagde kop niks nuuts nie; ek sal dit self nie elke dag wil doen nie, maar iemand moet. Mense lag vir verskillende goed. Ek wens, ek wens is nou ook nie “a laugh a minute” nie.

Seb is ’n lykbesorger, ’n man vir sy vrou, ’n pa vir sy kinders ... Die roman het ’n Rubik-kubus op die voorblad. Is daardie ding met sy verskillende vlakke ’n goeie simbool vir hierdie toneelstuk?

’n Rubik-kubus is vir my ’n voorbeeld van chaos. Ek het nie die persoonlikheid of die vermoë om die ding te kan oplos nie. Hy is vir my so deurmekaar soos die lewe. Ander mense los hom weer chop-chop-draai op. Daar is wel ’n app as jou f***en kubus deurmekaar word voor ’n show.

In die roman is daar ’n hele aantal karakters, maar jy is alleen op die verhoog. Hoe kry jy dit reg? Op verhoog is daar Frank Opperman en ... wel, dis net jy.

Dis ’n eenmanvertoning, so ek staan pa vir al die karakters en die verhoogaanwysings. dis ’n lekker deurmekaarspul; jy moet kophou oor wie staan waar en wie kyk na wie en wie is verlief op wie. Dis ’n nuwe genre vir my. Ek leer elke keer iets nuuts as ek dit doen. Om op jouself verlief te raak, is ’n drama op sy eie. Ek het gelukkig ’n wonderlike regisseur, Philip Rademeyer, wat ook die verwerking gedoen het, gehad om my te stuur deur die reis. Die teater is ’n wonderlike medium waarin jy altyd kan verbeter en weer probeer. Ek love dit. Dis vreesaanjaend, maar ook die lekkerste gevoel as jy weet jy kon iets regkry op die spesifieke verhoog voor die regte mense.

Is daar darem ’n regte lyk op die verhoog om mee te praat?

Daar’s geen lyke nie. Net ek en nege kratte en ’n Rubik-kubus.

Seb lewe. Maar ... hy is maar ’n dooierige knaap. Is ek reg?

Die karakter gaan op ’n reis van selfontdekking; iets wat jy alleenlik kan regkry as jy iets doen. Doen is ’n werkwoord.

Seb se lewe verander eintlik wanneer hy ’n sterwende persoon raakloop. Die titel, Ek wens, ek wens, vertel jou reeds dat ons met ’n sprokie te doen het. Wil jy net genoeg uitlap om mense nuuskierig te maak?

Dis ’n moderne sprokie met iets om te sê oor ’n saai lewe wat kan verander. Ek kan nie wag om dit weer op te voer nie.

*

Ek wens, ek wens
Met: Frank Opperman
Teks: Philip Radeymeyer, na die roman van Zirk van den Berg
Regie: Philip Rademeyer
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp
Taal: Afrikaans
Venue: kykNET Teater
Datum en tyd: 28 April 13:00, 30 April 17:30
Tydsduur: 80 min
Prys: R125
Ouerbegeleiding

  • 1

Kommentaar

  • Indien u ooit die geleentheid kry om hierna te gaan kyk, moenie dat dit by jou verbygaan nie. Een van FO se bestes na my oordeel - en ek het regtig almal van hom gesien. Sy opmerking, "Die dood is so alledaags soos brekfis. Elke dag gaan mense dood. ’n Mens hoef dit sekerlik nie te ernstig op te neem nie. Dit is onafwendbaar", is so waar. Ek myselwers is op pad uit (gelukkig 'n redelike stadige proses) en ek en my vrou weet dit, maar dit pla ons nie. Ons praat maklik en dikwels daaroor en beplan sodat sy makliker (soomloos?) kan aangaan. Daar is soveel waarhede wat in hierdie stuk na vore kom en, soos altyd, met 'n lag en 'n traan. Gaan en geniet dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top