Resensie: Doodslied vir Duitsland deur Philip Kerr

  • 1

Doodslied vir Duitsland
Philip Kerr (vertaal deur Zirk van den Berg)
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 978186842-8847

Nadat Kerr sy voltydse skryfloopbaan met March Violets, die eerste Bernie Günther-speurverhaal, in 1989 afgeskop het, het daar altesaam meer as 30 boeke uit sy pen gevloei. Hier sluit sy repertoire onder meer misdaadfiksie, historiese romans en kinderliteratuur in. Dit is egter steeds die Bernie Günther-speurreeks waarvoor lesers hom onthou en wat steeds as van sy mees geliefde en gerekende werke beskou word.

Die eerste drie verhale van die Bernie Günther-speurreeks is aanvanklik in Engels as March Violets (1989), The Pale Criminal (1990) en A German Requiem (1991) uitgegee. Lesers kon egter sedert 2018 Philip Kerr-speurplesier in Afrikaans geniet nadat Zirk van den Berg die eerste twee romans in Afrikaans vertaal het. In 2019 het Doodslied vir Duitsland (A German Requiem) op die hakke van sy twee vertaalde voorgangers gevolg. Saam vorm die drie genoemde romans die Berlin Noir-trilogie. Doodslied vir Duitsland is dan die laaste en finale deel van die Berlin Noir-trilogie.

Berlin Noir. Die leser besef vinnig waarom dié trilogie se naam so besonder gepas is. ’n Donker intrige, binne ’n swartgallige 1947-milieu, wag op die leser binne hierdie historiese speurverhaal.

Na die Tweede Wêreldoorlog word Berlyn as ’n sakesiklus van behoefte en gierigheid beskryf; nie die soort plek waar die gemiddelde mens homself wil bevind nie. Die siele wat hulself wel in Berlyn bevind, kan kies om op een van die volgende drie maniere hul brood te verdien: as spioen, as swartmarksmous, of as prostituut. Af en toe kom mens wel ’n uitsondering teë. Bernie Günther, privaat speurder, is een van hierdie uitsonderings.

Kerr-lesers is bekend met Bernie Günther – wel met ’n jonger en skraler weergawe wat laas in Doodsbleek, wat in 1939 afspeel, te siene was. Nou, agt jaar later, is dit 1947 en is Günther as privaat speurder weer in aanvraag. Hierdie keer word hy versoek om een van sy ou kennisse, Emil Becker, se onskuld te bewys. Hoewel laasgenoemde nie as ’n “kinderkranskindjie” beskryf word nie, is Becker hierdie keer regtig foutiewelik deur die militêre polisie in Wene in hegtenis geneem. Hy word van die moord op ene dr Linden aangekla – ’n misdaad wat tot sy teregstelling kan lei indien hy skuldig bevind sou word. Becker glo egter vas dat Günther sy onskuld kan bewys en bied hom in ruil hiervoor $5 000 aan. Gelukkig vir Becker glo Günther die beskuldigde se storie, wat oënskynlik so “geloofbaar sleg” vertoon, en hy stem in om die saak te ondersoek.

Aangesien Becker in Wene is en die moord ook hier plaasgevind het, vereis die ondersoek dat Günther na Wene reis. Na ’n paar jaar in die wrakstukke van ’n na-oorlogse Berlyn klink die ligte en vrolike Wene aanvanklik soos die ideale wegkomkans. Dit is wel slegs aanvanklik, want Günther word deurlopend nie deur die gemoedelikheid en landelike sjarme van Wene bekoor nie. Wene leer Günther tydens sy speurondersoek wel dat private speurwerk ’n gekompliseerde besigheid kan raak, dat lyne tussen reg en verkeerd kan versmelt en dat waarheid en leuen soms dieselfde begin lyk.

Na agt jaar kry die leser steeds met dieselfde siniese, sardoniese en sarkastiese Bernie Günther te doen. Sy kenmerkende droë humorsin is ook na agt jaar steeds stewig op sy ou plek vasgeanker. “Om inligting uit ’n tert te kry, is nooit maklik nie. Dit kan wees soos om ’n vloekwoord uit te non te kry” (263) is byvoorbeeld een van Günther se vele droë kwinkslae wat die leser sal geniet. Hoewel ouer en gryser het Günther steeds ’n “vrek goeie polisieman” gebly – ’n ironiese maar eerlike kompliment wat een van die grootste Nazi-oorlogsmisdadigers self vir Günther gee. Interessant genoeg skets Kerr wel Günther as ’n karakter wat ontuis in die rol van die tradisioneel-heldhaftige speurder sal voel. Nee, ’n engel- en kinderkransagtige speurder was en is Günther steeds nie in Doodslied vir Duitsland nie. Hiervan getuig sy vele rook- en drinksessies, sy erotiese slaapkamersessies (sonder sy vrou) en sy vermoë om belangrike inligting rakende sekere moordtonele vir sy vrou te verswyg.

In Kerr se eie woorde het hy Günther geskryf om juis as weerspieëling van sy eie donker kant te dien. Dis juis in hierdie opsig dat Kerr ook daarin slaag om Günther as veelvlakkige karakter en antiheld te skets. Aan die een kant weerspieël Günther se eie spoke, vrese en twyfel die neerdrukkende Duitse atmosfeer waar almal besig is om vir die land se vele ongestrafte sondes te ly. Terselfdertyd is Günther se gesonde strewe na reg en geregtigheid tog vir die leser ’n hoopvolle baken in ’n land wat duidelike en lelike oorlogletsels oorgehou het.

In die geheel gesien ontwikkel daar gemengde gevoelens teenoor die karakters in Doodslied vir Duitsland. Die skrywer skep geloofwaardige karakters wat in ’n Europese omgewing na die oorlog deurleef is – baie van hulle (oënskynlik) deur die omgewing opgebruik. In hierdie opsig kry die leser wel met fassinerende karakters te doen wat meer moes doen as leef. Oorleef was belangriker. Verder gebruik Kerr ook effektiewe en kragtige beskrywings om werklik vreesaanjaende karakters te skep – karakters wat met hul “los glimlagte, koue en swart gevriesde oë” jou as leser laat ys. Hier was die beskrywing van ’n weersinwekkende karakter met sy glimlag wat herinner aan die “kleur en vorm van ’n geroeste kraan” (295) ook verrassend treffend.

Aan die ander kant sou ek graag deurlopend nader aan die karakters in die roman wou voel. Soms het ek (vreemd genoeg) op ’n afstand van die karakters gevoel wat empatie op plekke bemoeilik het. Kerr werk deur die loop van die verhaal spaarsamig met details wat werklik ’n intieme blik op die karakters se psige en denke bied. Dit wil nie sê dat ’n dieperliggende perspektief op karakters se psige in die geheel ontbreek nie, maar dat Kerr wel versigtig hiermee werk. Terugskouend is Kerr se spaarsamigheid egter geslaagd, omdat hy nooit sy karakters op ’n sensasionele manier aan die leser “verkoop” nie.

Wat karakterverhoudings in die roman betref, sal die leser ook die interessante dinamiek geniet wat tussen tradisioneel “goeie” en “bose” karakters heers. Hier dien die onkonvensionele verhouding tussen Günther en Nebe (alias Alfred Nolde) as voorbeeld. Die onkonvensionele aard van hul verhouding sorg dan ook vir ’n onverwagte en onvoorspelbare kinkel of twee ...

Betreffende die oorlogmilieu was dit interessant om te sien hoe behendig Kerr die milieu personifieer. So word daar byvoorbeeld beskryf hoe die nag die verrigtinge met “donker gevoelloosheid” (276) dophou wanneer Günther homself in ’n lewensgevaarlike situasie nader aan die einde van die roman bevind.

Die skril, ooglopende kontras tussen Wene en Berlyn was ook reeds vanaf die intrapslag vir my fassinerend – die verwonde Berlyn teenoor Wene se knus gemoedelikheid. As buitestaander is dit wel geloofwaardig dat Günther die vermoë toon om die stad deur ander oë as sy inwoners te beleef. Hy is nie beïndruk met Wene se stroperigheid wat aan die onderkant van die stad se sjarmante fasade weggesteek is nie. Dit is ook insiggewend wanneer hy opmerk dat Wene se argitektuur en sy mense ’n belangrike ooreenkoms deel – beide is goed met fronte voorhou (53). Hier is die implikasie dat die leser nie die waarheid op die oppervlak (ook binne die speurkonteks van die roman) sal vind nie. Die milieu se vermoë om die leser subtiel hieraan te herinner word oortuigend deur Günther se skerp waarnemings vasgevang.

Dit is reeds vroeg duidelik dat Günther nie doekies omdraai met wat hy wel in ’n gekwetste Duitsland waarneem nie. Kerr se vermoë om wêreldbooshede outentiek oop te vlek, is dikwels sigbaar. Deur die speurder se oë beleef die leser bandelose immoraliteit (meisies word selfs op ’n punt met konyne vergelyk) en die blootstelling aan brutaliteit en wreedheid is nêrens sagkens uitgebeeld nie. Op sommige plekke is die blootstelling so tasbaar ontstellend dat die leser maklik afgestoot kan word. Ter illustrasie hier is die walgende toneel waartydens Günther met ’n vrou kennismaak wat fungus van die muur aftrek om dit te eet. Hiertydens sê sy dat hulle nie honger lei nie, want die Here voorsien. Die rou maar eerlike perspektief waarop Kerr die leed van Europa hier ten toon stel getuig van bedrewe skryfvernuf.

In die roman word die fiktiewe (Günther se speursaak) dus vervleg met ’n ontnugterende na-oorlogse (nie-fiksionele) realiteit. Die slim manier waarop die vervlegting plaasvind onderskei Doodslied vir Duitsland van die gemiddelde speurroman.

In die geheel gesien is Doodslied vir Duitsland ’n genotvolle roman. Kerr weef die drade van die intrige bevredigend saam om aan die einde vir ’n interessante verassing of twee te sorg. Kerr wys deurlopend dat hy weet hoe om ’n vindingryke intrige te bou waar die haarfyn spanningslyn die leser deurentyd op sy tone hou. Die roman bied ook waardevolle sosiale kommentaar wat deur Günther as hardebaardspeurder gelewer word. Dit is ’n roman wat temas soos kollektiewe skuld, die mens se oorlewingsdrang en selfbehoud (teen watter koste?) op ’n fassinerende manier verken. Sodoende word die leser met waardevolle stof tot nadenke gelaat. Na die lees van die roman kon ek verstaan waarom Bernie Günther nog altyd by sy lesers in aanvraag was.

Ek sal nie Doodslied vir Duitsland onthou weens die kortstondige opwelling van adrenalien tydens die onthulling van die skuldige(s) nie. Miskien eerder wel vir die ru beeld op wreedheid, of die manier waarop hy dit regkry om ’n ontnugterende na-oorlogse realiteit met die fiksionele te vervleg. Dít onderskei Doodslied vir Duitsland van die gemiddelde speurroman.

Die roman word nie vir lesers aanbeveel wat liggewig speurverhale op die rusbank geniet nie. ’n Leser wat waardering toon vir droë humor, slim speurwerk, goed nagevorste feite en wat lief is vir ruimtes buite sy gemaksone sal by hierdie roman kan aanklank vind.

Lees ook:

Philip Kerr se Hans-Nazi’s is donker Berlynse noir

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top