kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Zirk van den Berg

  • 0

Zirk van den Berg beantwoord ’n paar van Naomi Meyer se vrae rondom Ek wens ek wens, wat pas ’n dubbele kykNET-Rapport-boekprys-toekenning ontvang het (vir fiksie en vir film).

Zirk, baie geluk met ’n dubbele toekenning aan Ek wens ek wens. Die boek is bekroon met die fiksie- sowel as die filmprys. Dit open met ’n begrafnistoneel, want jou hoofkarakter is ’n lyksbesorger. Sy daaglikse voortbestaan en lewe bestaan uit die dood. Die slaap red jou karakter, vir wie die verlede jaag. "Die asems van die toekoms sweef bokant hom, engele wat op hete kole dans." Hoe het Seb jou pad gekruis?

Dit was soos om iets by kerslig te sien – jy sien die idee van die man wat een wens het om te wens, en dat hy ʼn begrafnisondernemer is. Dit was met een oogopslag duidelik. Alles rondom was duisternis. Maar die bietjie wat ek gesien het, het my opgewonde gemaak; ek het geweet dis ʼn lekker idee vir ʼn storie. Dit was byna tien jaar gelede. Toe tas ek maar in die donker rond en kom stadigaan agter waarmee ek te doen het. Seb was ʼn man wat iets magies in sy lewe nodig het.

Stel jou voor jy spreek jou wense uit en dit word waar? Dis ’n verwronge sprokie dié. Dit laat mens dink aan die twee mense wat baklei het in ’n kindersprokie, en dan wens die vrou ’n wors groei vas aan haar man se neus. In jou boek word daar juis na hierdie sprokie verwys. Het jy jou karakter se diepste wense en versugtinge beplan, of het dit net ontwikkel soos wat jy jou karakter leer ken het? (Terloops, het jy ooit die TV-reeks van jare gelede gekyk: Six feet under?)

Van beplanning gepraat: In ’n onlangse gesprek met Willie Burger het jy genoem dat jy nie ’n storie beplan, of ’n resep volg nie. (Dit het my wel opgeval dat daar baie resepte en kos in Ek wens ek wens is – hoe die lewende aardlinge hulleself voed terwyl die dooies rondom die begrafnisondernemer sterf.)

Hoe het die skryfproses van Ek wens ek wens gewerk? Het die storie by jou opgedaag en toe skryf jy dit neer, so op een slag? Of was dit ’n tydsame proses? Het jy vooruit geweet hoe dit sou eindig?

Ek het Six feet under nie gesien nie, nee.

Ek het ses jaar lank met die basiese storie-idee gesit sonder om te weet wat om daarmee te maak. En toe besluit ek in Januarie 2017 uit frustrasie met my ander skryfwerk dat ek nou eenvoudig gaan sit, die beste idee in my laai vat en hom neerskryf. (Ek het Die vertes in en Tweegevreet geskryf gehad, maar kon destyds nie ’n uitgewer daarvoor kry nie.)

Die storie se ontwikkeling is ʼn kombinasie van verbeelding – ’n marionet van die onderbewuste? – en bloedsweet. Dit was byvoorbeeld doodgewone vakmanskap wat maak dat jy vir ʼn karakter wat ʼn wens het, ʼn klomp slegte goed laat oorkom sodat dit ʼn skerper kontras met die moontlike wensvervulling vorm. Die aard van daardie goed word meer instinktief bepaal.

Die meeste van my boeke vat my jare. Hierdie storie is heel anders, want ek het hom binne ʼn paar weke geskryf. (Hoewel eers nadat hy ook jare lank gelê en pekel het.)

Die einde het hom, as ek reg onthou, maar so mettertyd aan my geopenbaar. Dit het reg gevoel.

Daar word dikwels geskryf oor die onbetroubaarheid van die geheue. Is hierdie verhaal ’n storie wat speel met die idee van hoe onbetroubaar ’n wens is, wat dit ook al beteken – ’n ware wens, of net ’n terloopse gedagte, vlietend en kortstondig soos die lewe self? Nog iets: Die wense in jou boek beteken ook ander dinge vir verskillende mense. Vir sommiges is dit diepe hartsbegeertes, vir sommige is dit gebede, vir andere toeval. Of hoe? Ek maak maar asof dit ’n vraag is, want as ek te veel hierop uitbrei, verklap ek dalk iets van die diepgaande vrae wat jou boek vra. Was dit wat jy daarmee wou regkry? Die vrae, die nadenke? Die ongemak by die leser as sy/hy begin bevraagteken!

Ek wens, ek wens is ’n storie, nie ’n preek nie. Vir party lesers bied dit twee, drie ure se aangename afleiding; ander ervaar dalk iets meer diepsinnig. Albei stem my tevrede.

Elke mens en elke wens is seker anders.

ʼn Ander manier om te vra wat jy uit die lewe wil hê, is om te vra waarvoor jy wens. Om die antwoord op daardie vraag uit te werk, is iets waarmee alle denkende mense besig is in soverre die lewe hulle toelaat. In die konteks van hierdie storie raak dit ’n baie konkrete kwessie vir die hoofkarakter.

En hierdie vat en los is omtrent soveel as wat ek hieroor kan sê.

Lees ook:

Resensie: Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg

LitNet Akademies-resensie-essay: Tweegevreet deur Zirk van den Berg

 

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: commendatio – fiksiewenner

 

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: wenners aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top