Wat sê Bettina? Staatsrede 2025: meesterklas in diplomasie

  • 0

Foto’s vlnr deur Karabo Mdluli; Neil Markham; en Jacques Nel

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Voor die staatsrede het ek op Bluesky die hoop uitgespreek dat die volgende onderwerpe bespreek sal word: Stilfontein, Goma, Gaza, onteiening en Trump se dreigemente.

In ’n ander gesprek weg van sosiale media het ek gesê ek sit reg met springmielies vir ingeval Uncle Cyril vir Trompie op sy plek sit en ‘n bietjie vuis bal. Ek het eintlik geweet vuisbal is nie juis Uncle Cyril se styl nie, maar mens kan mos hoop.

Trump is nie een keer by name genoem nie, maar tog het die hele toespraak gevoel soos ’n gesprek met hom, een waarin die grootmens in die vertrek vir die boelie sê: “Dis hoe demokrasie werk. Luister nou mooi.” Die tema vir die staatsrede is dan ook, heel gepas, “A nation that works, for all.”

........
Ons mag nie perfek wees nie, maar ons het ons opnuut verbind tot die ideale van gelykheid, van vryheid, van respek vir mensregte en van die ideale dat almal, ongeag seksualiteit of geslag of gestremdheid, geleenthede het in hierdie land.
........

Dit was beslis nie Ramaphosa se mees inspirerende, opruiende toespraak nie. Hy het moeg gelyk, en by tye oor sy woorde gestruikel. “Heavy is the head that wears the crown” het meer as een keer by my opgekom. Maar tog het ek van hierdie staatsrede weggestap met ’n gevoel dat Suid-Afrika vanaand sy huweliksbeloftes met demokrasie hernu het. Ons mag nie perfek wees nie, maar ons het ons opnuut verbind tot die ideale van gelykheid, van vryheid, van respek vir mensregte en van die ideale dat almal, ongeag seksualiteit of geslag of gestremdheid, geleenthede het in hierdie land. Ek het weggestap met ’n diep dankbaarheid dat ons ’n president het wat prontuit kan erken dat daar klimaatsverandering is, wat kan erken dat vroue en gestremdes te lank aan die agterste speen gesuip het, en dat daar daadwerklik iets omtrent gedoen moet word.

Dis nie toevallig dat die President sy toespraak begin het deur ons te herinner dat die Freedom Charter 70 jaar gelede in Klipfontein onderteken is nie. Hierdie handves, ’n bevestiging van gelykheid en vryheid vir almal, is die grondslag waarop ons Grondwet en ons demokrasie gebou is. Iewers in my boekrak het ek ’n kopie daarvan, en dis beslis tyd dat ek dit afstof en weer lees. Soms neem ons goed as vanselfsprekend aan en besef nie hoe broos en maklik breekbaar dit is nie. Kyk nou maar hoedat die demokrasie in die VSA binne twee weke besig is om inmekaar te tuimel.

Elkeen van die soldate wat sy lewe verloor het in Goma, se name is uitgelees, en Ramaphosa het aangekondig dat vlae vir ’n week van 7 Februarie af halfstok sal hang om hulle lewens te eer. Was dit ’n  terloopse teregwysing vir ’n president wat sy soldate met minagting bejeën, en wat waarskynlik soldate wat hulle lewens verloor het, as “losers” sou beskryf? Maar dit sou aansienlik meer trefkrag gehad het as Ramaphosa ook erkenning sou gegee het aan die lewens wat by Stilfontein verloor is en hulle ook by name genoem het.

........
Dis nie toevallig dat die President sy toespraak begin het deur ons te herinner dat die Freedom Charter 70 jaar gelede in Klipfontein onderteken is nie. Hierdie handves, ’n bevestiging van gelykheid en vryheid vir almal, is die grondslag waarop ons Grondwet en ons demokrasie gebou is.
........

Van die grootste applous vir die aand het gekom toe die President onomwonde verklaar dat Suid-Afrikaners veerkragtige mense is wat hulle nie sal laat boelie nie. En om dit te bewys het hy later in die staatsrede weer verklaar dat Suid-Afrika vir Palestina ondersteun.

Baie van wat die President gesê het, was herhalings van vorige jare: infrastruktuur, damme, treine, water, elektrisiteit, munisipaliteite. Ten minste het hy nie weer met elektriese motors gepeuter nie. Vanjaar is treine sy vervoerobsessie. Soos in vorige jare het hy weer beloftes gemaak omtrent digitale transformasie, iets wat nie noodwendig realisties is oral in die land nie.

Die een vals noot in die toespraak was die gelukwensinge omtrent die goeie matriekuitslae. Dit was die een punt van die staatsrede waar mense lank en hard en aanhoudend hande geklap het. Dis net ’n jammerte dit kom op dieselfde dag dat Daily Maverick berig oor gebrek aan behuising by die Universiteit Kaapstad, met foto’s van studente wat in lesingsale en in gange slaap.

Doen dit afbreuk aan die kern van sy boodskap? Ek dink nie so nie.

Die kern van sy boodskap, beide met betrekking tot dit wat in Suid-Afrika gebeur en dit wat ons buitelandse beleid is, is dat niemand in isolasie lewe nie. Ons is afhanklik van mekaar. Wat met die een gebeur, het invloed op die ander. Suid-Afrika kan nie vooruitgang belewe as die res van Afrika agterbly nie. Die President het dit bevestig deur te verwys na die regering van nasionale eenheid intern, en ons lidmaatskap van die Verenigde Nasies, Afrika-Unie, Brics, en die G20 in die buiteland. Suid-Afrika is tans die voorsitter van die G20-beraad, en het die tema van “Equality, Solidarity, Sustainability” gekies vir sy voorsitterskap.

........
Dit voel asof met elke keuse wat president Ramaphosa gemaak het, hy homself en ons land voorhou as die teenvoeter vir alles wat verkeerd gaan in die VSA, alles sonder om een keer direk na hulle te verwys.
........

Die President het sy staatsrede afgesluit deur te verwys na die waardes waartoe ons ons behoort te verbind: empatie, mededoë en trots in wat ons as ’n nasie bereik het.

Dit voel asof met elke keuse wat president Ramaphosa gemaak het, hy homself en ons land voorhou as die teenvoeter vir alles wat verkeerd gaan in die VSA  alles sonder om een keer direk na hulle te verwys.

Hy het dit nie gesê nie, maar hulle weet nie wat ons weet nie. Ten spyte van die uitdagings waarmee ons elke dag te kampe het, weet ons ten minste ons morele kompas wys na die ware noord.

Lees ook:

Staatsrede: Ramaphosa sal RNE se weg vir 2025 aanwys

SA se soldate in die DRK

Trump en Suid-Afrika

Amerika gee Suid-Afrika nóg ’n dwarsklap in die gesig

"[Amerika] is ons woning nie": Ramaphosa en Trump se trompop botsing

Wat sê Bettina? Beurtkrag of strafkrag?

Wat sê Bettina? Die "sonde" van empatie

Wat sê Bettina? Is Amerika op die vooraand van ’n fascistiese toekoms?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?

Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act

Heupvuur: Theo Venter oor die Onteieningswet

Pasop vir die plakkaat op die paal

G'n Magna Carta vir die ANC

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top