
Die Magna Carta is 800 jaar oud. Waarom is hierdie stukkie perkament, wat in feodale Engeland opgestel is, so belangrik?
Die antwoord is eenvoudig: dit was die eerste keer dat die staat amptelik erken het dat ook die regerende instansies aan wette onderhewig is.
Drie aktuele sake en die Magna Carta
As ons vandag na die koerant kyk, is daar drie goed wat opval: Omar al-Basjir, Fifa en Nkandla.
Ek gaan vinnig die agtergrond van die Magna Carta verduidelik, en dan noem hoekom al drie hierdie gevalle aan die gees van die Magna Carta gemeet kan word.
Die geskiedenis van demokrasie
Die woord én die begrip demokrasie kom van die antieke Grieke af; demos beteken “mense” en krates beteken “regeer”.
Dit was in die stadstaat Athene waar hierdie revolusionêre konsep die eerste keer posgevat het. Die mense (demos) het op die markplein bymekaargekom en daar kon hulle insae hê in wie verkies moes word om die stad se geldsake te beheer, en die mense kon saamgesels oor die wette wat gemaak moes word; en dan ook, wanneer daardie wette toegepas moes word, kon die gewone mense ook seker maak dat die howe hulle werk doen.
Ongelukkig het die Grieke in daardie tyd gedink “gewone mense” is manlik, en slawe is beslis nie as “gewone mense” gereken nie.
Ten spyte van hulle eie, uiters kortsigtige, idees oor wie nou eintlik kon insae hê in die werkinge van die staat en die hof, het daardie ou Grieke dus ’n belangrike punt beetgehad: die staat kan nie maak of breek soos hulle wil nie. Dit is die gewone burger se plig én reg om te sorg dat die staat redelik bly en die reëls gehoorsaam.
Die Magna Carta
Nou spring ons oor millennia heen na die jaar 1215. Die plek is Engeland en die kêrel aan bewind is koning John.
John was nie geliefd nie, want hy het vrouekwessies gehad en meer nog, hy het die staat se belasting gebruik om vir homself ’n besonder goeie lewe te probeer verseker.
Uiteindelik het die situasie só onhoudbaar geword dat ’n groot aantal leiers teen die koning se vergrype opgestaan het. Ná hulle onsuksesvol probeer onderhandel het, was die ouens só keelvol dat hulle ’n klein oorlog van stapel gestuur het en Londen ingeneem het.
Koning John was nou vir alle praktiese doeleindes ’n gevangene en was skielik bereid om te onderhandel. Die Magna Carta is aanvaar en talle kopieë is onder die mense van Engeland versprei.
Die Magna Carta bestaan uit verskeie klousules, maar van belang vir ons gesprek is dat die heersers, ook Nommer Een, aan die wet gehoorsaam moet wees.
Vir ’n goeie, toeganklike artikel oor die Magna Carta sou ek hierdie dokument, gepubliseer deur die British Library, aanbeveel: http://www.bl.uk/magna-carta/magna-carta-an-introduction.
Ons moet ongelukkig nogeens noem dat die slim mense van daardie tyd wat hierdie besondere dokument opgestel het, nie besef het dat hulle teen slawe, vroue en die serfs diskrimineer nie.
Die Magna Carta sedertdien
Interessant genoeg is die Magna Carta nie deur die Engelse in ’n kluis weggesluit en vergeet nie. Die dokument is kort ná John se dood gereeld na vore gebring en hersien deur sy opvolger, koning Henry III. Interessant genoeg was dit Henry III wat besef het dat hy die volksleiers nodig het, en daarom het hý hulle gereeld bymekaargebring om aan die dokument te skaaf.
Die gees van die Magna Carta is egter steeds teenwoordig in talle meer moderne politieke gebeure.
Toe die VSA hulleself onafhanklik verklaar het van die Verenigde Koninkryk, het hulle steeds die Magna Carta as die basis van hulle grondwet gebruik. Australië se grondwet berus ook op die grondbeginsels van die Magna Carta.
Gandhi het in Indië gereeld na die Magna Carta verwys en in 1948 het die Verenigde Nasies (toe die VVO) hulle Algemene Deklarasie van Menseregte aanvaar – iets wat ook op die gees van die Magna Carta geskoei is.
Hier ter lande het die ANC op 26 Junie 1955 die vryheidsmanifes bekend as die Freedom Charter aangeneem. As ons daaraan dink dat Magna Carta vertaal kan word as Die Groot Manifes, of The Great Charter, kan ons reeds in die naam die ooreenkomste sien.
Die Vryheidsmanifes van 1955
Die Vryheidsmanifes is ’n belangrike en waardevolle dokument en onder Mandela het dit inderdaad gelyk of die ANC ’n poging aanwend om hierdie dokument te eer.
Restitusie van grond het aandag ontvang – hoewel lomp en taamlik halfhartig (“The Land Shall be Shared Among Those Who Work It!”). Huise en skole is gebou (“There Shall be Houses, Security and Comfort!”) en in beginsel het alle mense deesdae toegang tot die reg (“All Shall be Equal Before the Law!”). Ons het selfs die ekonomie aan die gang geskop (“There Shall be Work and Security!”) en die begrotings het na armmoedeverligting begin kyk (“The People Shall Share in the Country’s Wealth!”).
Anders as in die dae van die Magna Carta en in Griekse tye, was die Vryheidsmanifes van die begin af inklusief van ras, geslag en ekonomiese stand: “Every man and woman shall have the right to vote for and to stand as a candidate for all bodies which make laws.”
Interessant genoeg het die Vryheidsmanifes dit nie absoluut duidelik gemaak dat die regeerders hulleself aan die wet moet onderwerp nie.
Die Vryheidsmanifes hou steeds baie waarhede vir Suid-Afrika in. Soos met enige dokument is dit ’n historiese geskrif en ’n klousule soos hierdie word deesdae deur beide die linkses én die regses uit verband geruk: “All shall have the right to occupy land wherever they choose.” Dié klousule was ’n direkte poging om die sotheid dat wit mense kon bly waar hulle wou, maar nie swart mense nie, aan te roer. Dit is nie ’n uitnodiging aan die EFF om my agterplaas te kon inneem nie.
Te min van ons vryf deesdae die Vryheidsmanifes onder die ANC se neuse. Hier is ’n afskrif. Stuur dit aan die Zuma en kie: http://www.anc.org.za/show.php?id=72.
Waar staan ons in 2015 met die Magna Carta?
Daar is drie redes waarom ons die Magna Carta vandag moet eer – en as aktiviste onder die ANC se neuse moet swaai.
a. 2015 en Nkandla
Nkandla is waarskynlik die duidelikste vergryp van ’n individu met staatsgeld sedert Simon van der Stel. Daar is geen manier dat die belastingbetaler astronomiese bedrae geld aan ons politici moet spandeer nie. Ek betaal vir my eie sekuriteit, en hulle kan ook.
Dit gaan egter oor meer as die miljard rand (plus) wat op Nkandla spandeer is. Dit gaan ook oor die blouligbrigades waarmee elke LUR en premier en minister rondjaag. Wat de hel?
As die Nederlandse premier met ’n fiets kan werk toe ry, saam met twee lyfwagte, waarom nie Zuma ook nie?
Ons leiers vergryp hulle aan die staatskoffers. Mooi, duur motors, duur meubels ... Nee, dis nie reg nie. Ons moet mooi dink oor koning John en dalk vir ANC begin vra waar hulle so pateties die plot verloor het.
b. 2015 en Fifa
“Ja, ons het betaal, maar hei, dis maar hoe jy besigheid doen met Fifa.” Dit lyk vir my is ’n opsomming van wat gebeur het om die Wêreldsokkerbeker na Suid-Afrika te laat kom. Regtig? Aanvaar ons maar dat in Suid-Afrika betalings aan sekere individue goed is?
Ongelukkig gaan dit hier oor baie meer as Fifa. Praat gerus met ingenieurs wat werk doen vir staatsdepartement en munisipaliteite, dan sal jy sien hoe gereeld sulke goed voorkom.
Die feit is: die staat skyn blykbaar te dink dat hulle verhewe is bo die wet. Dan dink die ander amptenare die staat sal hulle beskerm.
Dit is hoekom die Magna Carta steeds belangrik is.
c. 2015 en Omar al-Bashir
Sondagmiddag 14 Junie, net na 15h00, het Aljeezera se webwerf aangekondig dat ’n Suid-Afrikaanse hof Omar al-Bashir verbied het om Suid-Afrika te verlaat.
Hoekom? Die internasionale strafhof in Den Haag het al twee lasbriewe vir al-Bashir se inhegtenisname uitgereik. Sy regime word gekoppel aan klagtes van verkragting en vele ander vergrype waarmee hy skynbaar aan bewind bly.
Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die Internasionale Hof, en juis daarom moet ons aan hulle opdragte gehoor gee.
Zuma en sy regering nooi egter, ten spyte van alles, vir al-Bashir na die die AU-beraad en tree nie dadelik op toe hy die land binnekom nie. Die Litigasiesentrum van Suider-Afrika tree toe op en bring ’n hofaansoek. Die regter beveel, onomwonde, dat al-Bashir nie die land mag verlaat nie, maar wat gebeur? Die ANC steur hulle min aan die hof, die amptenare by die OR Tambo aanvaar nie die uitspraak nie en daar trek al-Bashir.
Klakkeloos, dus, die ANC en die regering se minagting van die hof.
Dit is skreiend.
Dus?
Ons moet die Magna Carta weer onder die regeerders se neuse druk.
Die lysie van die ANC se minagting vir die mense wat hulle regeer, is langer. Ons kan vrae vra oor die Marikana-verslag, die geld wat op e-tolle vermors word, en baie meer.
Die probleem lê egter in daardie een saak wat 800 jaar gelede aanvaar is: die regering van ’n land is nie verhewe bo die wet nie.
Zuma en sy vriende moet dit elke dag hoor.
’n Baie persoonlike siening
Ek moet dit duidelik stel dat hierdie siening my eie is en nie reflekteer op enige van my werkgewers nie; selfs die redaksie van LitNet kan nie geskop word oor my sienings nie. Sien dit asseblief as ’n uitnodiging tot ’n gesprek.


Kommentaar
Bostaande artikel is een manier om na die Vryheidsmanifes te kyk en dit gaan nie nou vir my om die verwerping of aanvaarding van die argument nie. Vanuit die skrywer se hoek gesien kan dit stellig heel geldig wees. Dis nietemin nodig dat ons kennis neem van die huidige belangrike, en dikwels onrusbarende debat in ANC-kringe, in werkerskringe rondom Vavi en uit Vaviu se mond, asook onder intellektuele links van die politieke middelgrond. Dis 'n baie sterk, en vir my onrusbarende stem. Baie bondig gestel kom dit daarop neer: Die Vryheidsmanifes, en nie die Grondwet nie, is ons basisdokument en dis waarop ons moet voortbou. Die Grondwet, word al hoed luider gesê, is die ongelukkige resultaat van 'n uitverkopery aan FW de Klerk se mense en veral aan Groot Kapitaal en was bedoel om die welvaart van Kapitaal en wit mense oor die algemeen te verseker. Dit was 'n fout, daar moes liewer met die revolusie voortgegaan gewees het. Die Vryheidsmanifes, daarteenoor, kom uit die hart van die verdrukte mense en het voorsiening gemaak vir hulle behoeftes, ook vir grondoorname. Met dié argumentering word die Vryheidsmanifes met sy algemene stellings oop vir verskillende vertolkings soos Izak de Vries wel te kenne gee, opgestel teenoor die Grondwet met sy verfynde en genuanseerde Handves van Regte. Dis tyd om suutjies te trap rondom hierdie dokumente.