Die nuwe onteieningswet
Die Onteieningswetsontwerp van 2024 is op 24 Januarie 2025 deur president Ramaphosa bekragtig. Dit het die meeste politieke partye onkant gevang en baie waarnemers was verras deur die optrede. Die nuwe wet is in wese die wysiging en modernisering van die 1975-Onteieningswet (Wet 63 van 1975). Gesprekke rondom die onteieningskwessie het tussen 2017 en 2019 opslae gemaak toe die vraagstuk van onteiening sonder vergoeding (klousule 25 van die Grondwet) intense debatte en burgerlike gesprekke ontketen het. Toe die pogings om die Grondwet te wysig nie deur die ANC in die parlement deurgevoer kon word nie, is die fokus verskuif na die finalisering van die wysiging van die Onteieningswetsontwerp. Hierdie wetsontwerp is reeds in 2022 deur die Nasionale Vergadering aanvaar en met enkele wysigings op 27 Maart 2024 deur die Nasionale Raad vir Provinsies aanvaar. Dit was alles deel van die aktiwiteite van die 6de Administrasie van die Republiek van Suid-Afrika.
Uit die gesprekke rondom die onsuksesvolle wysiging van klousule 25 van die Grondwet wat eienaarskap reguleer, het die begrip nulwaarde na vore gekom. Onteiening beteken in beginsel dat iets deur die staat onteien word en dat die persoon of instansie wat onderhewig is aan onteiening, een of ander vergoeding sal ontvang. Onteiening sonder vergoeding is dus eintlik ’n juridiese teenstrydigheid, en op hierdie manier het onteiening teen nulwaarde deel van die proses geword. Wanneer onteien word, kan ’n waarde toegeken word, maar indien eksterne faktore in ag geneem word, die sogenaamde openbare belang, kan hierdie waarde teoreties op nul bereken word.
In die promulgering van die wetsontwerp as die Onteieningswet (Wet 13 van 2024) moet dit ook deur die verantwoordelike staatsdepartement geïmplementeer word, en in hierdie geval is dit die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur. Waarin lê die omstredenheid dan? Die modernisering van wette is ’n normale wetgewende funksie, maar wat hierdie geval omstrede maak, spruit uit die feit dat die President besluit het om dit te teken in die konteks van die omstredenheid rondom die Bela-wet en die gebrek aan eenstemmigheid in die geledere van die RNE. Die omstredenheid word verder verhoog deur die weerstand wat Ramaphosa tans binne ANC-geledere self ervaar. Dié weerstand het veral betrekking op drie faktore, naamlik die ANC se konsultatiewe konferensie later in 2025, die plaaslike verkiesings in 2026 en die leierskapsverkiesing van die ANC wat vir Desember 2027 geskeduleer is. Die konsultatiewe konferensie wat vanjaar gaan plaasvind, is ’n soort vorderingsverslag oor die ANC se leierskap met betrekking tot die implementering van ANC- beleide. In dié proses was die Mei 24- verkiesing ’n kritieke terugslag vir die ANC wat hulle in ’n koalisiereging ingedwing het.
Die vrese wat oor die nuwe Onteieningswet uitgespreek word, is waarskynlik oordrewe, en in dié verband kan die bekommernisse oor Bela ook genoem word. Beide wette word op een manier geformuleer, maar die krisis ontstaan ten opsigte van die implementering van die wette deur amptenare. Dit is op dié vlak waar die vrese met reg uitgespreek word. Waarom sou die President die wetgewing teken vier dae nadat hy by die Wêreld- Ekonomiese Forum sakeleiers uitnooi om Suid-Afrika as beleggingsgeleentheid te oorweeg, wetende dat eiendomsreg ’n kritieke risikofaktor vir enige besigheid is? Waarom sou hy die wetgewing onderteken sonder om dit met senior lede van die RNE te bespreek of ten minste sy optrede op ander maniere te kommunikeer? Ramaphosa het waarskynlik beide die Onteieningswet en die Bela-wet onderteken om sy posisie in die ANC te versterk en te konsolideer. Die risiko dat beide wette grondwetlik getoets sal word, word gesien as ’n mediumtermynrisiko, terwyl konsolidering van die huidige leierskap in die ANC ’n onmiddellike risiko is, gesien vanuit ’n ANC-perspektief. Beide Bela en die Onteieningswet demonstreer dat die ANC steeds sy dominante posisie in die RNE uitoefen, al beskik die party oor net 40% van die kiesers se steun. Die bekragtiging van die Onteieningswet het opnuut die noodsaak vir die aktiewe funksionering van die geskilbeslegtingsmeganisme in die RNE beklemtoon as synde van kritieke belang as die RNE volhoubaar wil funksioneer.
Lees ook:
Straight shot: Tembeka Ngcukaitobi about the Expropriation Act

