Wat sê Bettina? President Ramaphosa in die Wit Huis

  • 6

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Ek het ’n klompie jaar gelede die Wêreldrugbybekereindstryd saam met my broer se twee kinders, toe nog nie tieners nie, gekyk. Hier na die einde toe, ’n naelbytwedstryd as ek reg onthou, het al twee gelyk opgestaan en gaan slaap. Die spanning was te veel – hulle wou nie verder kyk nie.

Gister met die vergadering tussen presidente Ramaphosa en Trump het ek vir die eerste keer verstaan hoe hulle moes gevoel het. Daar is soveel op die spel, en soveel wat kan skeefloop, dat dit amper pynlik is om te aanskou. Daar was drie dinge waaraan ek myself heeltyd vooraf herinner het. Die eerste was dat Uncle Cyril altyd koelkop bly. Hy laat hom nie uitlok om onbesonne dinge te sê en doen nie. Die tweede is dat hy sy onderhandelingstande geslyp het in die vakbonde en met die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika. Hy is gewoond aan heethoofde wat hulle nie aan feite steur nie; hy weet hoe om hulle te hanteer en ys op die kole te gooi. Drie, hy is ’n besigheidsman wat weet hoe om ’n goeie transaksie te onderhandel, hoe om sy oog op die bal te hou en hoe om nie geïntimideer te raak nie.

........
Trump speel dalk vir die kameras, maar ek meen president Ramaphosa het baie meer presidensieel oorgekom, meer gekultiveerd, in staat tot nuanse en aansienlik meer diplomaties.
........

Ons het altyd geweet hy gaan die enigste volwassene in die vertrek wees. Trump kan homself nie help nie – maak nie saak hoe goed hy afskop nie, hy gaan na sy obsessies terugkeer ongeag hoe ongegrond in feite dit mag wees. Johann Rupert se teenwoordigheid het natuurlik ook gehelp. Nie net is hy blykbaar vriende met beide presidente nie, hy is ook ’n grondeienaar in Suid-Afrika en hy kon uit daai perspektief Trump se wanvoorstellings temper. Ernie Els en Retief Goosen? Nou ja, met hulle het ons president gewys hy kan kritiek en sentimente wat van sy eie verskil, hanteer sonder om aggressief te raak, in teenstelling met die ander president in die vertrek. Hulle was natuurlik daar op Trump se versoek. On brand vir Trump om gholfspelers na ’n diplomatieke vergadering te nooi. Ek weet nou nog nie of ek moet lag of huil oor die oomblik toe Els sy groenmamba-paspoort uitpluk om sy patriotisme te bewys nie.

Hy moes kon voorsien het dat die Afrikaner-vlugtelinge en hulle bewerings van volksmoord op Trump se agenda sou wees. Maar wie kon voorsien het dat Trump ’n tuisvideo sou laat saamstel oor die hoogtepunte van al sy misinformasie en dit sou speel? Dis natuurlik heeltemal on brand vir Trump. Hy speel vir die kamera. In sy kop is hy waarskynlik die ster van ’n realiteitsreeks, America’s Real President, en elke uitvoerende bevel is die klimaks van ’n episode.

Dalk moet die Suid-Afrikaanse afvaardiging volgende keer groot plakborde saamneem en met donker Koki’s daarop skryf, met hier en daar ’n multimediasegment om Trump se aandag te behou.

Ek meen dat president Ramaphosa homself goed handhaaf het in die publieke deel van die vergadering. Ons weet natuurlik nie wat agter geslote deure tydens die middagete gebeur het nie. Die enigste irritasie vir my, soos sovele ander kere, kom wanneer hy sê hy weet nie oor goed waarvan hy regtig moet weet. Hy is nie onkundig nie, wat my laat wonder of dit nie deel van ’n uitsteltaktiek is nie. Of dalk is hy bloot nie bereid om te reageer op bewerings tensy hy al die feite het om korrek te reageer nie, wat natuurlik altyd ’n goeie idee is. Hy is ’n politikus wat op die rasionele reageer.

Trump speel dalk vir die kameras, maar ek meen president Ramaphosa het baie meer presidensieel oorgekom, meer gekultiveerd, in staat tot nuanse en aansienlik meer diplomaties.

........
Ek dink in elk geval nie die Suid-Afrikaanse afvaardiging het Washington toe gegaan met die idee om Trump se siening oor wit volksmoord te verander nie. Hy is nie die tipe leier wat hom deur feite en statistieke sal laat oortuig as die waninformasie hom beter pas nie. Die ware doel van die vergadering sou agter toe deure uitspeel: die G20- vergadering en handelsbetrekkinge.
........

Ek dink in elk geval nie die Suid-Afrikaanse afvaardiging het Washington toe gegaan met die idee om Trump se siening oor wit volksmoord te verander nie. Hy is nie die tipe leier wat hom deur feite en statistieke sal laat oortuig as die waninformasie hom beter pas nie. Die ware doel van die vergadering sou agter toe deure uitspeel: die G20- vergadering en handelsbetrekkinge.

Ons sal eers later sien hoeveel sukses daarmee behaal is. Tydens die perskonferensie na die vergadering en middagete het president Ramaphosa gesê hy is tevrede met hoe die vergadering afgeloop het. Natuurlik sou hy dit sê. Hy is heeltemal te diplomaties om enigiets anders teenoor die media kwyt te raak. Hy het selfs die media sjarmeer met geselsies oor die middagete, oor nagereg en oor gholf.

Maar as ek hy was, sou ek ’n rottang in soutwater inlê vir Julius Malema.

Die vergadering was dalk nie ’n dawerende ekonomiese sukses nie, maar op diplomatieke gebied het president Ramaphosa voor ’n wêreldgehoor stof in Trump se oë geskop. Maak nie saak wat die inslag van die mediaberigte oor die vergadering was nie, elke enkele berig waarop ek my hande kon lê, het melding gemaak van hoe “poised” en “calm” president Ramaphosa was.

Die vergadering het nie net gegaan oor Suid-Afrika en die VSA nie, dit het ook gegaan daaroor dat ons met die wêreld se oë op ons steeds gesag kon afdwing. Ander wêreldleiers sou notisie geneem het daarvan. Langtermyn is dit dalk belangriker as om in Trump se goeie boekies te probeer kom.

Lees ook:

D-dag in die Withuis (22 Mei 2025)

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Ramaphosa

Elders gesien: Die Tref-en-Trump-slag

Wat sê Bettina? Misdaad kyk nie na kleur nie

Elders gesien: Ons staan saam as ons aangeval word

Elders gesien: Dit is tyd dat die regering wakker word

Wat sê Bettina? Persona non grata – wanneer ’n diplomaat slae ontvang namens sy regering

Wat sê Bettina? Trump as Pous

Wat sê Bettina? Hegseth se oorlog-WhatsApp-groepie

  • 6

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Lyk vir my die menere kon maar vir mekaar email gestuur het. Hulle het nie juis tot mekaar deurgedring nie.

  • Lees ook wat Frans Cronjé en Neil de Beer, sê oor die saak. Hulle is nie so positief oor Ramophosa nie.

  • Johan de Beer

    Jy sit die pot mis, soos gewoonlik, me Wyngaard. Ramaphosa het nog nooit Malema se opruiende gekerm veroordeel nie. Toe Trump hom die videos wys, het hy wat Rama is soos 'n kat op 'n warm plaat amper van sy stoel afgeval. Daar is vrae gevra wat Rama nie kon antwoord nie. Moenie dat jou dislike van Trump die waarheid van Suid-Afrika verdoesel nie. Daar is oorweldigende diskriminasie teenoor wittes en bruines wat in die wetboek vervat is, net soos tydens apartheid. Dis feite. Geen meriete nie. Kleur van jou vel wat tel. Jy weet dit, ne.

  • Vir die fat-cat Ramaphosa sal ek net nooit enige agting kan hê nie. Sy optrede was presies soos ons hom ken, teen hierdie tyd. Suid-Afrikaners het die ontmoeting gefasiliteer en Suid-Afrikaners sal die land leefbaar moet maak. Ek haat die politieke spesie met 'n passie.

  • Chris Erasmus

    Ek is nie teleurgesteld in jou mening oor die "samesprekings" nie. Dit was te wagte. Om 'n halfuur laat by enige afspraak op te daag, spreek boekdele. Trump se lyftaal was 'n duidelike bewys dat hy nie lus was vir die konsert nie. Hy het sy mening reeds opgemaak en het maar deur die mosies gegaan om indien daar enige iets te redde is, hy daarop kan roem hy het die Suid-Afrikaners kans gegee. Die grynslag van Ramaposa en die dame tydens Malema se video is beslis onvanpas en spreek van uiterste swak smaak en is onsensitief. Hulle is duidelik bewus van die emosionele impak dit op seker besorgde blankes het. Dit spreek vir my van minagtig van minderhede se gevoelens. Ramapose se, in die rede val, om Trump te verhoed om 'n joernalis se vraag te antwoord is pleinweg ongeskik en platvloers. Hy het duidelik sy tradisionele opvoeding agter gelaat. (As jy by gaste opdaag en die gasheer praat wag jy jou beurt af). Hulle noem dit respek. Dit is ook duidelik dat die SA regime nog baie diplomatieke opleiding en opvoeding nodig het. Wat die regime nie besef nie, wanneer jy in die VSA se visier is is jou moeilikheid vir jou geboek. Aan jou vriende word jy geken, as jy met die honde slaap byt die vlooie jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top