- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Ebrahim Rasool is 72 uur gegee om die VSA te verlaat nadat hy persona non grata verklaar is. Sommige Suid-Afrikaners het hulle verlekker daarin, waarskynlik omdat hulle nie die diplomatieke implikasies verstaan nie.
Om persona non grata verklaar te word, gaan om veel meer as net dat ’n persoon as ongewens verklaar word. Dit beteken ook dat die nasie wat die verklaring maak, vuis bal teen die nasie wie se diplomaat uitgeskop word. In hierdie geval is Rasool uitgeskop, maar eintlik wys Trump sy ontevredenheid met Suid-Afrika. Rasool is uitgeskop nadat hy tydens ’n aanlyn seminaar van Mapungubwe Instituut vir Strategiese Refleksie (Mistra) na bewering sekere uitlatings gemaak het. Marco Rubio, in sy X-pos, het ’n skakel na ’n artikel van die regse Breitbart-webwerf aangeheg. Daily Maverick het op 15 Maart hieroor berig gelewer, en dit skyn asof Breitbart vryhede geneem het met wat Rasool werklik gesê het.
Betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA is in elk geval nie baie goed nie. Marco Rubio het nie deelgeneem aan die G20-beraad van ministers van buitelandse sake nie. Trump vaar al geruime tyd uit teen Suid-Afrika. Indien Rasool nie uitgeskop is oor hierdie lesing nie, sou hy oor iets anders uitgeskop word. Hy is die sondebok wat Suid-Afrika se straf moet dra.
........
Suid-Afrika is ’n steen des aanstoots in Trump se oog. Hoe durf ’n swart meerderheidsregering hom oor die vingers tik? Hoe durf ’n swart meerderheidsregering Israel hof toe vat?
........
Beteken dit ek reken hy kon nie anders optree nie? Natuurlik nie. Ek besef ook Rasool is ’n ervare diplomaat. Hy het al vantevore in Washington gedien. Hy moes besef het dat Trump nie tevrede gaan wees met enige negatiewe stellings wat hy maak nie, maar terselfdertyd kon hy ook nie valse voorstellings maak om ’n boelie tevrede te stel nie. Dalk het hy die berekening gemaak dat hy in elk geval nie Trump en sy fascistiese makkers se guns sou kon wen nie. Dalk het hy besef dat ongeag wat hy doen, Trump die mes in het vir Suid-Afrika.
Suid-Afrika is ’n steen des aanstoots in Trump se oog. Hoe durf ’n swart meerderheidsregering hom oor die vingers tik? Hoe durf ’n swart meerderheidsregering Israel hof toe vat? Rasool was van die begin af met een voet op ’n piesangskil in Washington. Dit gaan nie oor hom as persoon nie; dit gaan uiteindelik oor die land wat hy verteenwoordig.
Hy is ook nie die eerste Suid-Afrikaanse diplomaat wat persona non grata verklaar word nie. Pieter Wolvaardt is in 1986 onseremonieel uit Argentinië geskop nadat die SA Weermag ANC-teikens in Zimbabwe en Botswana aangeval het en die lugmagteikens in Zambië getref het. PW Botha het dit skynbaar beveel om dit onmoontlik te maak vir ’n Commonwealth Eminent Persons Group om hul politieke bestekopname van Suid-Afrika te voltooi. Argentinië het in protes diplomatieke bande met Pretoria verbreek en Wolvaardt persona non grata verklaar. Wolvaardt skryf daaroor in sy boek A diplomat’s story: apartheid and beyond 1969-1998.
.......
Die VSA het nog nie formeel diplomatieke bande verbreek met SA nie. Ek twyfel ook of hulle sal. Wat wel aan die gebeur is, is dat Suid-Afrika nou geforseer word om ander bondgenote te nader. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.
.......
Die VSA het nog nie formeel diplomatieke bande verbreek met SA nie. Ek twyfel ook of hulle sal. Wat wel aan die gebeur is, is dat Suid-Afrika nou geforseer word om ander bondgenote te nader. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie. Die Europese Unie het alreeds €4,7 miljard aan Suid-Afrika belowe in die dae sedert die Amerikaanse besluit.
Die VSA is besig om hulself toenemend te isoleer, en in die proses diverse lande te forseer om nuwe bondgenote te maak met lande wat hulle andersins waarskynlik nie sou oorweeg nie. Om Amerikaanse dominansie oor wêreldpolitiek te breek is nie noodwendig ’n slegte idee nie, veral nie terwyl Trump die kitaar tokkel nie.
Ebrahim Rasool is dalk korttermyn die seremoniële sondebok wat die wildernis ingestuur word, maar oor die langer termyn sal die geskiedenis sy waagmoed erken vir wat dit werklik is - Dawid wat sy man staan teen die boelie Goliat.
Lees ook:
Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma
15 punte oor Afrikaners, Trump en Suid-Afrika (elke ketter het mos ’n letter)
Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe