
Prent: Canva
...
Hy het homself aangestel as die Kennedy Sentrum se voorsitter. Hy is hard besig om universiteite se leierskap te probeer intimideer en omverwerp. Hy probeer homself as kulturele ikoon en godsvresende gelowige voorhou.
...
Donald Trump het onlangs, in antwoord op ’n (moedswillige, vermoed ek) vraag van ’n joernalis, aangedui dat hy graag die volgende pous sou wou wees. Dit het nie lank gevat voor ’n Amerikaanse senator, Lindsay Graham, sy goedkeuring en ondersteuning vir die idee uitspreek nie.
Die ironie dat iemand soos Trump, met sy antiimmigrasie-, antimenseregte-, prowelvaart-lewensuitkyk pous Francis wil opvolg, is skynbaar nie vir hulle problematies nie.
Ek het aanvanklik gedink dis fopnuus of satire toe ek die aanvanklike berigte raaklees. Geen regdenkende mens kan tog dink dat ’n nie-Katoliek en niepriester tot pous verkies kan word nie. Die laaste pous wat nie ’n priester was nie, was pous Leo X, wat in 1513 tot pous verkies is – nie dat ek dink Trump en sy gevolg sou hulle geskiedenis noodwendig so goed ken nie. Met enige ander politikus sou ek verwag dat dit net ’n tong-in-die-kies antwoord op ’n lawwe vraag was. Ongelukkig kan dieselfde nie van Donald Trump gesê word nie.
Hy het reeds aangedui dat hy Kanada en Groenland as deel van die VSA wil bekom. Dan is dit seker nie verregaande om te dink dat hy sy hande op die Vatikaan, met al hul rykdom, sou wou lê nie. Sou Trump weet dat die Vatikaan ’n onafhanklike staat is? Ek twyfel of dit aan hom enige verskil sou maak.
Net so is die skeiding tussen kerk en staat vir hom betekenisloos. Respek vir die reg? Ag nee wat. As ’n regter in haar hof probeer orde handhaaf, dan arresteer ICE die regter, soos wat ’n paar dae gelede gebeur het. ’n Onafhanklike pers? Belaglik. Alle grense om onafhanklikheid en onpartydigheid te vestig, word vernietig.
Trump se grootste gevaar lê in die wyse waarop die pers hom behandel asof hy ’n gewone president met verspotte idees is. Hy is nie. Donald Trump is die enkele grootste gevaar vir demokrasie wat die wêreld sedert Hitler gesien het. Natuurlik was daar ander despote sedertdien, maar nie een wat in ’n posisie is om die wêreldorde te destabiliseer nie. Trump is nie net in staat om dit te doen nie, hy is bereid om dit te doen. Hy bestaan uit ’n knoeisel van ou wrokke, verstokte idees en blinde eiewaan.
Wanneer Trump sê dat hy vir ’n derde termyn wil staan, iets wat ongrondwetlik is, dan word dit gerapporteer asof hy ’n “nee” sal aanvaar en sonder protes die Withuis sal verlaat. Is die kollektiewe geheue so kort dat niemand onthou hy het vantevore met gewelddadige protes probeer om die resultaat van die verkiesing te ignoreer? Is Amerikaners so naïef dat hulle reken hy sal nie verkiesings opskort nie, selfs nadat hy belowe het kiesers hoef nooit weer te stem as hulle een keer vir hom stem nie?
Selfs in Suid-Afrika word sy optrede verskoon met die idee dat hy vir hierdie fantastiese ekonomiese opbloei gaan sorg. Afrikaners pak met gretigheid hulle tassies omdat hulle reken Trump se Amerika gaan vir hulle die beloofde land wees. Dit maak my bang. Bitter min dinge maak my bang, maar die moedswillige blindheid waarmee Afrikaanse mense hulle in Trump se arms werp, maak my angsbevange.
...
Dit verstom my dat mense nie die wreedheid, die gevoellose miskenning van menseregte, die argelose stapsgewyse imkrimping van vroue en minderhede se regte raaksien nie.
...
Dit verstom my dat mense nie die wreedheid, die gevoellose miskenning van menseregte, die argelose stapsgewyse imkrimping van vroue en minderhede se regte raaksien nie. Die hersenskim van die pot goud aan die einde van die reënboog is skynbaar genoeg om alle redelikheid oorboord te gooi. Die Afrikaners wat swig voor Trump se beloftes, is seer sekerlik dieselfde mense wat die Kubus-koning se beloftes van ongekende welvaart geglo het, of wat Markus Jooste as hul ekonomiese verlosser gesien het. Dis seer sekerlik dieselfde mense wat geglo het apartheid is die wil van God. Vir al wat ek weet, glo hulle Trump is deur God aangestel. ’n Feesmaal vir swendelaars, met ander woorde.
Trump het alreeds in sy vorige presidentskap Bybels geteken. Hy het Paula White aangestel as die Withuis se geestelike berader. Hy het homself aangestel as die Kennedy Sentrum se voorsitter. Hy is hard besig om universiteite se leierskap te probeer intimideer en omverwerp. Hy probeer homself as kulturele ikoon en godsvresende gelowige voorhou.
Tot dusver was sy pogings beperk tot die grense van Amerika. Die enigste rede hoekom hy nog nie sy nette verder sprei nie, vermoed ek, is dat hy weerstand van binne sy landsgrense kry.
Maar wat gebeur as hy daai weerstand verpletter? Kanada en Groenland is beslis op sy radar. Sy haat vir China en die wyse waarop hulle hom as ’n bespotting uitmaak, beteken dat ook hulle dalk ’n teiken is. Daarna? Dis nie onmoontlik dat hy homself as pous sal probeer verklaar nie.
Dis ’n skrikwekkende gedagte, veral omdat dit nie heeltemal buite die perke is van wat hy as redelik beskou nie.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Persona non grata – wanneer ’n diplomaat slae ontvang namens sy regering


Kommentaar
Trump is vir sy ondersteuners dieselfde as Mandela en die ANC met al hul oëverblindery, korrupsie wat mense van goeie onderwys, medies , water, krag en 'n werkende infrastruktuur ontneem het binne 30 jaar en dan word alle skuld vingers na Afrikaners, Apartheid en Orania gewys en steeds aanbid 'n groot groep van ons kiesers hulle en glo hul leë beloftes. Niks nuut onder die son nie.