Wat sê Bettina? Wanneer kapitalisme as feminisme paradeer

  • 2

Foto-erkenning: Pexels

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Op 14 April 2025 het ses vroue op Jeff Bizos se Blue Origin-tuig die buitenste ruim besoek. Luidens nuusberigte was hulle die eerste ten volle vroulike bemanning om die buitenste ruim te besoek.

Nou ja, gewoonlik is ek die heel laaste persoon wat sal hare kloof wanneer vroue bemagtig word, maar in hierdie geval? Die HAT omskryf bemanning as “Almal wat tot die personeel van ’n skip, vliegtuig ens behoort.” Personeel is persone wat in diens van iemand staan. Die ses vroue was beslis nie in diens van Jeff Bizos nie, tensy hy hulle betaal het om reklame vir hom te maak. Net een van die ses is ’n wetenskaplike nie. Die ander is Katy Perry, Oprah Winfrey se vriendin, Jeff Bizos se metgesel, ’n filmvervaardiger en ’n aktivis. Ten beste kon hulle passassiers aan boord die tuig wees, nie “bemanning” nie.

Boonop, anders as Suni Williams en Butch Willmore, wat vir nege maande op die internasionale ruimtestasie vasgekeer was, het hierdie glanspersoonlikhede hoogstens 11 minute bo die Kármán-lyn, die internasionaal aanvaarde grens waar die buitenste ruim begin, deurgebring. Blykbaar het Perry Louis Armstrong se “What a wonderful world” gesing.

.............
Maak dit saak as ses welgestelde vroue besluit hulle wil ruimtetoeriste wees? Natuurlik nie. Hulle kan hulle geld gebruik soos hulle wil. As hierdie die eerste stap is daarin om ’n kolonie op Mars te begin, en mense kan dit bekostig, laat hulle gaan.
............

Ek reken dis altyd beter om waar jy alreeds bly, leefbaar te maak. Wanneer jy trek na ’n ander area met dieselfde mentaliteit wat gemaak het dat jou huidige blyplek onhoudbaar is, dan gaan jy daar ook net opmors en sal jy weer moet trek.

............
Ek twyfel of daai manier van dink vir die miljardêrs met hul oë op die buitenste ruim enige verskil maak. Hulle is ryk genoeg dat hulle nie deur die bekommernisse van gewone mense gepla word, of hulle steur aan die mening van brandarm skrywers nie.

Maar ek maak beswaar daarteen dat hierdie 11-minuut-trippie voorgehou word as enigiets wat vroue bemagtig. In Amerika, waar hierdie vroue vandaan kom, word vroue se stemreg  toenemend ingeperk. Hulle reg op reproduktiewe vryheid krimp. Reg op opvoeding word aangeval. Gesondheidsorg is pateties. Immigrante leef in vrees dat hulle gedeporteer sal word. Vryheid van spraak word beperk. Die regbank se uitsprake word geïgnoreer. Voedselpryse skiet die hoogte in. Met hulle president se handelsoorlog gaan elke ander aspek van Amerikaanse lewe duurder word. Vir gewone mense gaan sekere items onbekostigbaar word. Hoef ek enigiets te sê oor hulle houding omtrent vuurwapens? Natuurlik nie. Hierdie ruimtetoeriste voel waarskynlik ook geen veer daarvoor dat Bizos een van die miljardêrs is wat Trump en als wat sy fascistiese regime belowe, ondersteun nie.

Ek verwag nie van glanspersoonlikhede om noodwendig diep gedagtes oor die betekenis van die lewe, die universum of enigiets anders te hê nie, maar moet asseblief ook nie van my verwag om Consumer Space Barbie met ope arms te ontvang as die verpersoonliking van bemagtiging vir vroue nie.

Hierdie is ’n bemarkingsfoefie vir Amazon Space of iets, nie die reuse sprong die toekoms in vir vroue nie.

Lees ook:

Die soeke na die donker heelal

Die einde van die heelal

Op dees aarde: ’n Asteroïed wat bots met die aarde?

Wat sê Bettina? Hegseth se oorlog-WhatsApp-groepie

Wat sê Bettina? Hoe vier hulle Eid in Gaza?

Herbesin: Ryker in diversiteit

Wat sê Bettina? Hoekom ek weier om KI te gebruik

  • 2

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Bettina, die armoedestryd is iets wat almal voer, al vir eeue lank. Dit sal nooit eindig nie, want dit is juis die armes wat miljardêrs skep. Dis die armes wat hulself in skuld sal dompel, om bv Katie Perry vertoning by te woon.
    Oor feminisme, wat is die "gemiddelde vrou op straat" se siening oor feminisme deesdae? Dit is op dieselfde trant as hoe definieër jy "die gemiddelde man op straat" se opinie deesdae.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

    Top