Op dees aarde: ’n Asteroïed wat bots met die aarde?

  • 0

’n Mosaïekbeeld van die asteroïed Bennu soos waargeneem deur NASA se OSIRIS-REx-ruimtetuig in 2018. Bennu is effens wyer as wat die Empire State-gebou hoog is en gevorm soos ’n tol. Dit wentel om die son op ’n afstand tussen die wentelbane van die aarde en Mars. (Foto: NASA/Goddard/University of Arizona NASA/Keegan Barber Robert Markowitz)

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Onlangs is daar aangekondig dat ’n asteroïed wat in Desember ontdek is, ’n kans van groter as 1% het om op 22 Desember 2032 met die aarde te bots. Wat beteken dit presies en hoe moet ons dié rotse wat oorblyfsels van die vroeë vorming van die sonnestelsel is, verstaan?

Daar is inderdaad ’n veel groter kans dat die asteroïed genaamd 2024 YR4 nie ons planeet sal tref nie, máár van die byna 28 000 wat as naby die aarde geklassifiseer is, en die 2 000 wat potensieel gevaarlik beskou word, is hierdie tans die énigste een met ’n impak-waarskynlikheid van net oor die 1%.

2024 YRA is amptelik gerapporteer aan die Minor Planet Center einde verlede jaar en as ’n risiko geklassifiseer op die 31ste Desember. In die verlede was daar al verskeie asteroïede wat op die lys beland het, ’n gradering ontvang het en weer van die lys verwyder is soos nuwe inligting ontvang is. Dit sal waarskynlik ook met dié een gebeur.

Die asteroïed is raakgesien deur die Atlas-teleskoopsisteem in Chile en is tussen 40 meter en ’n 100 meter in deursnee, volgens die Europese Ruimte-agentskap (ESA). Die organisasie het in ’n verklaring gesê ’n impak kan nog nie uitgesluit word nie, en een van dié grootte tref die aarde elke klompie duisend jaar.

Dit kan verwoestende skade aan ’n streek doen.

........
As dit wel met die aarde bots, kan dit ’n ontploffing in die atmosfeer of ’n impakkrater veroorsaak. Beide kan ernstige skade op die grond veroorsaak, maar ’n ontploffing in die lug kan veral skadelik wees.
........

As dit wel met die aarde bots, kan dit ’n ontploffing in die atmosfeer of ’n impakkrater veroorsaak. Beide kan ernstige skade op die grond veroorsaak, maar ’n ontploffing in die lug kan veral skadelik wees.

Dit is tans nie moontlik om te bereken waar dit sou kon tref nie. Asteroïed 2024 YR4 beweeg om die son in ’n eksentriese wentelbaan, wat beteken dat sy wentelbaan nie perfek sirkelvormig is nie, maar eerder verleng.

Dit beweeg op die oomblik weg van die aarde in ’n reguit lyn, sê wetenskaplikes, wat dit moeilik maak om te bepaal hoe sy wentelbaan lyk.

Volgens die Torino-impakgevaarskaal word dié een gereken op ’n drie. Die skaal is van 0 tot 10. Tans is dit die enigste bekende asteroïed met ’n drie. Die beskrywing daarvan lees:

A close encounter, meriting attention by astronomers. Current calculations give a 1% or greater chance of collision capable of localized destruction. Most likely, new telescopic observations will lead to re-assignment to Level 0. Attention by public and by public officials is merited if the encounter is less than a decade away.

Sedert die Planetêre Verdediging Sisteem en ander organisasies omstreeks 1998 asteroïede aktief begin naspoor het, was daar nog net een wat ’n gradering van vier gehad het. Apophis is ’n naby-aardse-asteroïed wat in 2004 ontdek is. Dit is vernoem na die Egiptiese god van chaos, Apep.

Dit is redelik groot – 335 meter in deursnee. Radarwaarnemings in Maart 2021, gekombineer met presiese wentelbaanontleding, het sterrekundiges gehelp om tot die gevolgtrekking te kom dat daar geen risiko is dat Apophis ons planeet vir minstens ’n eeu sal beïnvloed nie.

Apophis het vinnig bekendheid verwerf as ’n asteroïed wat ’n ernstige bedreiging vir die aarde kan inhou toe sterrekundiges voorspel het dat dit ongemaklik naby sou kom in 2029 en 2036.

Sien ’n animasie hier: https://science.nasa.gov/solar-system/asteroids/apophis/

NASA het ’n ruimtetuig herlei om dié asteroïed te bestudeer. Na die suksesvolle voltooiing van sy sendings om monsters van asteroïed Bennu in September 2023 te versamel, is OSIRIS-REx (Origins, Spectral Interpretation, Resource Identification, and Security – Regolith Explorer) herdoop na OSIRIS-APophis EXplorer (OSIRIS-APEX). Die ruimtetuig is gestuur om Apophis te bestudeer tydens die asteroïed se 2029- aardse verbyvlug.

OSIRIS-APEX sal op 23 April 2029 by Apophis verbyvlieg op ’n afstand van ongeveer 2 500 myl (4 000 kilometer). Dit sal dan in Junie by Apophis aankom vir ’n veldtog van 18 maande om die asteroïed se oppervlak te karteer en sy chemiese samestelling te ontleed.

Intussen is die ontleding van OSIRIS-REx se monsters, wat by Bennu gaan haal is – die heel eerste ooit van ’n asteroïed in die ruimte – pas gepubliseer in Nature.

........
Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat Bennu ’n baie ryker kompleksiteit in organiese materiaal het as aardse biologie en dat sy moederliggaam moontlik van die buitenste sonnestelsel gekom het, waar ammoniak en vlugtige yse stabiel is.
........

Rots- en stofmonsters wat van die naby-aardse-asteroïed Bennu teruggebring is, bevat organiese materiaal, insluitend aminosure en al vyf DNA- en RNA-nukleobasisse, sowel as soute wat vroeg in die geskiedenis van Bennu se moederliggaam gevorm het.

In 2018 het die OSIRIS-REx-sending by die naby-aardse-asteroïed Bennu aangekom om ongerepte monsters te versamel, onaangeraak deur veranderinge wat deur die aarde se atmosfeer veroorsaak is, om hier te ontleed.

Met die ontleding van die Bennu-monsters is duisende organiese molekulêre verbindings gevind. Dit het 14 van die 20 proteïenaminosure ingesluit wat in lewensvorme op aarde teenwoordig is, 19 nie-proteïenaminosure wat skaars of afwesig is in bekende biologie, en al vyf biologiese nukleobasisse (adenien, guanien, sitosien, timien en urasiel).

Daar is ook gevind dat Bennu ryk is aan stikstof- en ammoniakdraende verbindings, wat miljarde jare gelede in koue, verre streke van ons sonnestelsel gevorm het. Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat Bennu ’n baie ryker kompleksiteit in organiese materiaal het as aardse biologie en dat sy moederliggaam moontlik van die buitenste sonnestelsel gekom het, waar ammoniak en vlugtige yse stabiel is.

Maar wat as ’n asteroïed sou tref?

NASA se Double Asteroid Redirection Test (DART) was ’n sending om te toets of ’n asteroïed wat die aarde kan bedreig, gedeflekteer kan word. Tydens die sending in 2022 het ’n ruimtetuig opsetlik in die asteroïed Dimorphos, ’n klein maan van die asteroïed Didymos, gebots. Dit het gebeur teen 6 kilometer per sekonde.

........
Tydens die sending in 2022 het ’n ruimtetuig opsetlik in die asteroïed Dimorphos, ’n klein maan van die asteroïed Didymos, gebots. Dit het gebeur teen 6 kilometer per sekonde.
........

DART se data in Nature wys dat die trajek verander kon word en dat die impak reusagtig was. Dit het die asteroïed heeltemal verander. Dit is egter nie die enigste opsie nie; daar is vele ander. Daar was natuurlik al vele asteroïede wat die aarde getref het en wat massa-uitwissings veroorsaak het, lank voordat die mens bestaan het.

Die enigste opgetekende asteroïed wat die aarde getref, of eintlik in die lug bo die grond ontplof het, was in 1908 in Siberië, en danksy die verlatenheid van die area was daar geen lewensverlies nie. Sou dit ’n groot stad gewees het, was sake anders.

Op 30 Junie 1908 het ’n asteroïed sowat 10 kilometer in die lug oor Tunguska, Siberië ontplof in die grootste impakgebeurtenis in die opgetekende geskiedenis. Die ontploffing was so kragtig dat dit sowat 80 miljoen bome platgeslaan het oor meer as 2 000 vierkante kilometer.

Hedendaagse kenners bereken die spoed waarmee hy ingekom het op 98 004 kilometer per uur (Mach 80). Daar word bereken hy was sowat agt op die Torino-impakgevaarskaal.

By seismiese stasies regoor Eurasië is die skokgolf geregistreer en luggolwe van die ontploffing is in Duitsland, Denemarke, Kroasië en die Verenigde Koninkryk opgespoor – en so ver as Batavia, Nederlands-Oos-Indië en Washington, DC.

Hoe groot was dit? Na beraming net 50 tot 100 meter in deursnee.

Lees ook:

Die supermassiewe gravitasiekolk in die middel van die Melkweg

Wat beteken die eerste foto’s van die James Webb-ruimteteleskoop?

Die soeke na die donker heelal

Die einde van die heelal

Die mens was amper nie hier nie

Genetika, 70 jaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top