Die mens was amper nie hier nie

  • 3

Ammonietfossiele: Foto deur Laurent Arroues op Pixabay

Ons voorsate het tussen 800 000 en 900 000 jaar gelede amper uitgesterf. En dit is nie die eerste keer dat die mens amper nie oorleef het nie. Inteendeel, was dit nie vir ’n evolusionêre verloop van omstandighede nie, was ons nie hier nie.

Die aarde se klimaat het sowat 900 000 jaar gelede drasties verander. Ons voorsate was tydens dié oorgang vir meer as 100 000 jaar in ’n bevolkingskrisis gedompel.

Dié bottelnek, tydens die middel- en vroeë Pleistoseen, het veroorsaak dat sowat 98,7% van ons hominiedvoorsate in die onherbergsame omgewing uitgesterf het. ’n Onlangse genetiese studie in Science wys daar was op ’n stadium net 1 280 individue oor wat kon voorplant.

Die bottelnek en afname in die bevolking het saamgeval met gletservorming wat oor duisende jare plaasgevind het, die oseane se oppervlaktemperature wat gedaal het en lang periodes van droogte in Afrika.

Dié studie kan die onverklaarbare gapings in die fossielrekord in dié tyd (van 900 000 tot 650 000 jaar gelede) verklaar. Die genetiese ontleding is met ’n nuwe metode genaamd die FitCoal-proses (fast infinitesimal time coalescent process) gedoen. Deur verteenwoordigende bevolkings van moderne mense se genome te ontleed, kan navorsers terugstap in die tyd. Net 3 150 mense uit 50 verskillende bevolkingsgroepe se genome was nodig vir die studie.

Uit die data is ’n komplekse genetiese stamboom geskep en so kan evolusionêre gebeure raakgesien word.

........
Daar word geskat dat 65% van genetiese diversiteit wat ons moontlik vandag sou gehad het, verlore is.
........

Daar word geskat dat 65% van genetiese diversiteit wat ons moontlik vandag sou gehad het, verlore is. Dit blyk ook dat dit tot ’n spesievormende gebeurtenis aanleiding gegee het, omdat twee voorsaatchromosome saamgesmelt het om wat vandag chromosoom 2 in mense is, te vorm.

Dit beteken die gemeenskaplike voorsaat van die Denisovans, die Neanderdalmense en moderne mense is potensieel in die genetika gevind. Só ’n gemeenskaplike voorsaat sou dan die betrokke spesie gewees het waaruit al drie verder ontwikkel het. Dit sal egter nog verder getoets moet word, soos waar en hoe het hulle oorleef en hoe het die bottelnek tot die evolusie van die mens bygedra.

Vorige skattings wat genomiese data gebruik het van Homo sapiens, Neanderdallers en Denisovans het die laaste gemeenskaplike voorsaat op tussen 500 000 en 700 000 jaar gelede geplaas. Maar wie was hierdie voorsaat? Homo heidelbergensis? Homo rhodesiensis of Homo antecessor?

Wie dit ook al was, en hoe ons voorsate vir 100 000 jaar in baie klein groepies oorleef het, is besonders. Dit wys die kwesbaarheid van hulle bestaan en die feit dat ons deel van die stamboom van die lewe byna uitgewis is, in ’n nugter perspektief.

Navorsing die afgelope paar jaar het die ontwikkeling van die moderne mens ook verder teruggestoot van 200 000 jaar gelede na 300 000. Dit is reeds bekend dat moderne mense, Denisovans en Neanderdalmense almal met mekaar kinders gehad het. Die kruisings het ’n hele vloei in die geenpot veroorsaak, net soos vandag, wat ons aan die diep verlede verbind.

Oorlewing in Suid-Afrika

Dit was egter nie die eerste keer dat ’n erge krisis die bestaan van die mense só erg bedreig het nie. Sowat 160 000 jaar gelede was daar na raming weer so ’n bottelnek, wat al in 2010 in ’n genetiese studie opgelet is.

Die mens het baie minder genetiese verskille as wat byvoorbeeld ander lewende groot primate soos sjimpansees en gorillas in hulle bevolking het. Almal wat vandag op die planeet leef, is trouens meer genetiese dieselfde as wat ons verskillend is. Ons stem sowat 99% met mekaar ooreen.

........
Die mens het baie minder genetiese verskille as wat byvoorbeeld ander lewende groot primate soos sjimpansees en gorillas in hulle bevolking het. Almal wat vandag op die planeet leef, is trouens meer genetiese dieselfde as wat ons verskillend is. Ons stem sowat 99% met mekaar ooreen.
........

Sowat 74 000 jaar gelede het die supervulkaan Toba uitgebars in wat die hedendaagse Indonesië is. Dit het wêreldwyd ’n vulkaniese winter veroorsaak soos wat die as die lug verdonker het, en dít sou tussen ses en 10 jaar geduur het. Daarna het die aardverkoeling van ’n 1 000 jaar plaasgevind.

Daar was geen gelyke ervaring wat in die geskrewe, historiese rekord bestaan nie, maar die laag as en stukkies glas word deur kenners regoor die wêreld op argeologiese en paleontologiese terreine opgegrawe.

Dit is sou ’n wêreldwye katastrofe gewees het. Groot soogdiere sou baie maer geword en gevrek het en min vet vir roofdiere en mense sou kon verskaf het. Plantegroei sou nie genoeg sonlig kon kry nie – die raming is ’n vermindering in lig van tussen 25% en 90%, afhangend van waar jy op die aarde was.

Daar het net 15 000 mense wat kon voortplant, oorgebly. Een van die plekke waar mense in Afrika oorleef het, was Pinnacle Point by Mosselbaai, waar die seevlak destyds tot 90 km van die huidige kuslyn teruggetrek het.

Dit is hier in Suid-Afrika waar van dié klein groepies mense oorleef het by Pinnacle Point, by Blombos in die Suid-Kaap, 300 km oos van Kaapstad, en by die Klasiesriviergrotte in Tsitsikamma.

Die mense hier het oorleef danksy die seekos wat hulle geëet het. Dit kan in die neerslae in die grotte gesien word. Stukkies glas van dié vulkaan is gevind op die terreine hier, wat deur die wind tot hier gedra is. Die klipwerktuie, stukkies been, houtskool en skilpaddop lê laag op laag. Hulle het krale gemaak en stukkies oker versier.

Uitwissing lei tot ons ontstaan

’n Reuse binnelandse see het vroeër twee derdes van wat vandag Suid-Afrika is, oortrek, en waar dié oerkuslyn vandag is, word van die mees uitsonderlike fossiele ter wêreld gevind – fossiele van wat aanleiding tot soogdiere en uiteindelik die mens gegee het.

Die gebied staan bekend as die Karoo-supergroep. Suid-Afrika het die enigste aaneenlopende rekord van fossiele van 300 miljoen jaar (die Karboon) tot 180 miljoen jaar (die Jura) gelede, met van die mooiste fossiele van soogdieragtige reptiele, diere wat baie ouer is as die dinosourusse, en voorsate van die soogdiere én die mens is.

Die storie oor ons evolusie, en hoe ons ontwikkel het, is ten nouste gekoppel aan die uitwissing en dood van ander spesies voor ons. Ons kan met reg vra of ons hier sou gewees het indien daar nie vorige massa-uitwissings was wat ons voorsate ’n hupstoot gegee het nie. Ons oervoorsate se storie is ook ons storie.

........
Die storie oor ons evolusie, en hoe ons ontwikkel het, is ten nouste gekoppel aan die uitwissing en dood van ander spesies voor ons.  Ons oervoorsate se storie is ook ons storie.
........

Die aarde het voorheen al vyf massa-uitwissings beleef. Die grootste was 251 miljoen jaar gelede, toe 70% van alle lewe op land en 90% van dié in die oseaan uitgewis is. Kenners noem dit die Groot Afsterwe (Great Dying). Daar was nie een enkele oorsaak nie, maar ’n reeks gebeure wat soos domino’s geval het.

Lewe het lank geneem om te sterf – derduisende jare – en lank om weer terug te keer. ’n Baie belangrike groep soogdieragtige reptiele, die Therapsida, het dié uitwissing oorleef.

Binne hierdie groep, die Therapsida – waarin daar van reuse planteters tot vlugvoetige vleiseters was – is daar ’n klade genaamd Cynodont wat uiteindelik in die soogdiere ontwikkel het. Maar hulle tyd het toe nog nie aangebreek nie, hoewel hulle daardie groot uitwissing oorleef het.

Dermiljoene jare het verbygegaan en evolusie het nuwe lewe laat ontstaan. Sowat 200 miljoen jaar gelede het die eerste soogdiere, so groot soos huiskatte, ontwikkel en hulle het uiteindelik saam met die dinosourusse op die aarde geleef.

Toe die dinosourusse 66 miljoen jaar gelede uitsterf, het dit die soogdiere net 10 miljoen jaar geneem om dominant – en groter – te word, spesies wat evolusionêr baie verskillend was en is, maar wat dieselfde voorsate gehad het – die soogdieragtige reptiele waarvan die fossiele vandag in ons eie Karoo lê. Dis ’n begraafplaas van ons voorsate.

........
Indien daardie soogdieragtige reptiele nie die massa-uitwissing oorleef het nie, was die soogdiere en ons – die mens – nie hier nie.
........

Indien daardie soogdieragtige reptiele nie die massa-uitwissing oorleef het nie, was die soogdiere en ons – die mens – nie hier nie. En later het die klein soogdiere wat die uitwissing van die dinosourusse oorleef het, wéér oorleef. Uit hulle verskillende takke het ons uiteindelik ontstaan.

Dit is wat dit alles geverg het vir ons om hier te wees.

Lees ook:

Genetika, 70 jaar

Die soeke na die donker heelal

Die einde van die heelal

 

  • 3

Kommentaar

  • Berdéhan Brand

    Dat ons voorouers tussen 800 000 en 900 000 jaar gelede amper uitgesterf het, ontbreek aan oortuigende argeologiese en genetiese bewyse om dit te staaf. Dit sou 'n dramatiese bevolkingsvermindering in 'n relatief kort tydperk beteken, en sodanige gebeurtenis sou in die fossielsedimentêre rekord gereflekteer behoort te wees.

    Die bewering dat slegs 1 280 individue oor was om te voortplant, kan op geen wyse bewys word nie. Dit sou 'n bedreiging vir genetiese diversiteit wees, dan nie?

    Genetiese studies en analises van bevolkingsdruk behoort ingesluit te word om hierdie bewering te ondersteun.

    Die hipotese dat veranderinge in die omgewing, soos gletservorming, dalende oseaanoppervlaktemperature, en droogte in Afrika, verantwoordelik was vir 'n bevolkingskrisis, is belaglik, aangesien hierdie veranderinge oor 'n lang tydperk plaasgevind het en nie net tot 'n bevolkingsvermindering in 'n kort tydperk sou lei nie.

    Die gebruik van 'n genetiese stamboom en die FitCoal-proses, sonder 'n gedetailleerde bespreking van die metodologie en data, maak dit moeilik om die geloofwaardigheid van hierdie inligting (en te veel variante) te bepaal.

    Die komplekse aard van menslike evolusie wat 'n wisselwerking van genetiese, omgewings- en sosiale faktore insluit, moet eers erken word.

    Die bewering dat 'n enkele oorsaak aan die basis van die bevolkingsverandering lê, is 'n oorvereenvoudiging van 'n baie meer ingewikkelde proses.

    Die inhoud van die artikel oortuig nie. En dit is logika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top