
Foto: Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Ek het nooit gedink die dag sal aanbreek nie, maar ek is ongelooflik dankbaar teenoor Pete Hegseth en Mike Walz van Amerika. Hoekom? Want ek weet dit maak nie saak hoe groot ’n blaps ek in die res van my lewe maak nie, dit sal nooit ooit naby kom aan die flater wat hulle begaan het toe hulle ’n joernalis deel gemaak het van ’n gespreksgroepie om Amerikaanse aanvalsplanne te deel nie.
Ek weet die opskrif van hierdie artikel verwys na ‘n “WhatsApp-groepie”, terwyl dit eintlik ’n Signal-groepie is, maar same sauce different gravy, of hoe? Mense in Suid-Afrika is meer bekend met WhatsApp as met Signal.
Ek weet van hoëvlak-oorlogskommunikasie minder as niks. Goeiste, ek weet nie eens hoe die straatbendes in my tuisdorp kommunikeer wanneer hulle wil inbreek nie. Wat ek wel weet, is dat ’n gesprek deur middel van ’n kommersiële toepassing nie die beste idee is om hoogs geheime inligting te deel nie. Blykbaar beteken dit ek weet meer as die verdedigingsekretaris van Trump se kabinet. Om dinge erger (of beter, afhangend van jou perspektief) te maak, was JD Vance, die visepresident, ook deel van die groep. President Musk word nie genoem in die joernalis se verslag nie. Hy was seker met sy eie aanslag op Medicare besig, of dalk om aanslae op Tesla-eiendom af te weer.
........
Hoekom sal ’n groep top senior amptenare, wat die tweede in bevel in die hele regering insluit, verkies om van kommersiële tegnologie gebruik te maak vir kommunikasie as daar ander middele beskikbaar is wat die sekuriteit van informasie waarborg?
........
Wat vir my selfs meer verstommend is as die feit dat hulle staatsgeheime per teksboodskappe deel, is die feit dat nie een van hulle navraag gedoen het toe ’n onbekende persoon by die groep aansluit nie. Beteken dit hulle is gewoond daaraan dat buitestanders sonder sekerheidsklaring deel van hul geheime en vertroulike gesprekke is? Selfs meer as dit: Hoekom sal ’n groep top senior amptenare, wat die tweede in bevel in die hele regering insluit, verkies om van kommersiële tegnologie gebruik te maak vir kommunikasie as daar ander middele beskikbaar is wat die sekuriteit van informasie waarborg? Ek kan nie anders as om te dink dat hulle dalk nie omgee of die inligting deur kuberkrakers onderskep word nie.
Destyds toe Hilary Clinton besig was met haar presidensiële veldtog, is daar groot gewag gemaak van die feit dat sy amptelike e-posse van haar privaat e-posadres af beantwoord het. Die bewering is nooit gemaak dat sy staatsgeheime uitgelap het nie, maar dit is steeds gebruik om haar as onbetroubaar uit te maak en as ongeskik om president te wees.
Nou word hier werklik staatsgeheime verklap, en wat gebeur? Sover nog niks nie. Jeffrey Goldberg van The Atlantic het Maandag 24 Maart berig oor die gebeure waarby hy teen wil en dank betrek was. ’n Woordvoerder van die National Security Council het bevestig dat die boodskapketting eg is, maar steeds ontken Pete Hegseth dit. Vandag se jongmense sou hom delulu noem.
........
Dit gaan nie baie lank wees voordat die sotte in beheer ’n stel gaan aftrap wat gewone Amerikaners duur te staan gaan kom nie.
........
Ek wonder wat sou gebeur het as Goldberg net tjoepstil gebly het en aangehou het om deel van die groep te bly. Tot watter staatsgeheime sou hy toegang gehad het? Meer as dit, wonder ek watter ander persone toegang tot dieselfde geheime het, sonder sekerheidsklaring, en maar doodstil sit en dit alles inneem.
Die huidige administrasie is maar twee maande oud, en alreeds steier hulle van een nagmerrie na ’n ander. Dit gaan nie baie lank wees voordat die sotte in beheer ’n stel gaan aftrap wat gewone Amerikaners duur te staan gaan kom nie. Daarmee bedoel ek nie duur in die sin van eierpryse wat die hoogte inskiet, of inflasie wat buite beheer raak nie. Ek bedoel die tipe duur wat 9/11 na kinderkrans gaan laat lyk.
Wanneer dit gebeur, gaan dit die ongebreidelde arrogansie van Trump en sy trawante wees wat dit gaan veroorsaak.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Persona non grata – wanneer ’n diplomaat slae ontvang namens sy regering
Die volhoubaarheid van vrede in ’n drukgang? (20 Maart 2025)