
Op 18 Maart 2025 het Donald Trump op sosiale media aangekondig dat sy telefoongesprek met Wladimir Poetin die begin van ’n vredesproses afgeskop het in die konflik tussen Rusland en Oekraïne. Die inval van Rusland aan die oostelike grens van Oekraïne is op 24 Februarie 2022 bloot as ’n spesiale militêre operasie aangekondig. Dit het gevolg op die Russiese anneksasie van die Krimskiereiland in 2014. Hierdie konflik het as ’n enorme menslike tragedie ontwikkel, met agt miljoen mense uit ’n bevolking van 41 miljoen wat ontheem is en meer as agt miljoen Oekraïniërs wat oor Europa heen geëmigreer het. Benewens die humanitêre krisis het die konflik ook in ’n krisis in wêreldhandel ontwikkel in veral die energie- en landbousektore. Omvangryke sankies is ingestel teen Rusland en in Europa het ’n enorme energiekrisis ontstaan vanweë jare lange afhanklikheid van Russiese olie en gas.
Vir ’n vredesproses om suksesvol te wees, moet die betrokke partye ’n punt bereik wat ’n zero-som-spel genoem word, waar my wins gelyk is aan jou verlies. Na die beste van my wete is dié punt nog nie bereik nie. Oekraïne kan nie sonder Westerse, en veral Amerikaanse, hulp nie, en Rusland het nog kapasiteit om die konflik te laat voortduur. Daar is geen twyfel nie dat Zelenski nou deur die driemanskap van Trump, Starmer en Macron bestuur word en dat Trump in die proses op Poetin se goeie trou vertrou. Uit oproepe tussen die twee is daar reeds verskille in interpretasie duidelik.
My aanvoeling is dat ons afstuur op die lang kortpad en die kort langpad, met erkenning aan die Rooikappie-verhaal. Trump soek die kortpad na vrede en goedkoper olie as sanksies opgehef word teen Rusland. Beide Rusland en Oekraïne soek die langpad van waarborge en besonderhede oor vrede. Gaan Oekraïne die oostelike 20 persent van die land verloor en die Krimskiereiland se anneksasie gekondoneer word? Gaan Oekraïne sigself kan opbou deur toegang tot die Westerse ekonomie, maar nie deel word van Navo nie? Die dilemma van die kort langpad is dat dit telkens van voor begin moet word en dan word die kortpad uiteindelik die langpad. Deur eerder die langpad van uitgebreide bilaterale en multilaterale gesprekke te voer, word die langpad dan die korter pad.
Maar vir eers het ons vir Trump op die telefoon, op soek na ’n vinnige vrede en ’n onderdanige Zelenski, teenoor Poetin wat so min moontlik toegewings wil maak, net om sanksies op sy olie en gasbronne beëindig te kry. Europa kyk met verbasing toe, en dan moet Trump nog ook dink aan die Palestyne in Gaza en die Hoethi’s in Jemen.
- Foto van Poetin: Владимир Путин, CC BY 4.0 via WikiMedia

