
Foto: Hosny Salah op Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
In my tante se voorkamer het dan ’n tafel gedek gestaan met lekkernye vir enigeen wat opdaag. Niemand het ’n uitnodiging gekry nie, en niemand het ook een verwag nie. Almal is welkom, en elkeen word soos ’n gewaardeerde eregas ontvang.
........
Ek stuur vroegoggend ’n boodskap vir my niggie om haar Eid Mubarak toe te wens. Terselfdertyd herinner ek my broer hy moet tog onthou om ook ’n boodskap te stuur.
Ek wonder hoe hierdie Eid gaan afloop. Uit ondervinding weet ek dat toe my tante nog gelewe het, die huis ’n byenes van aktiwiteit was. Al die kinders het nuwe klere gekry en dan natuurlik vroegoggend al met hulle klere gespog. Die bure het van huis tot huis gegaan om mekaar geluk te wens. Die lekkerte was dat nie al die bure Moslems was nie, maar almal het in die vreugde gedeel – net soos ook met Kersfees. In my tante se voorkamer het dan ’n tafel gedek gestaan met lekkernye vir enigeen wat opdaag. Niemand het ’n uitnodiging gekry nie, en niemand het ook een verwag nie. Almal is welkom, en elkeen word soos ’n gewaardeerde eregas ontvang.
Die ete is natuurlik die hoogtepunt van die dag. Tong en soutvleis, net soos wat ons by Kersfees eet. Uiteraard geen gammon nie, want dis varkvleis. Gewoonlik is daar ook lamsboud, braaiaartappels, kerrie, en groente wat die tafel laat kreun. Twee soorte rys, drie soorte poeding. Dan was daar ook die Labarang-koekies, en die houtkissies Bashews-koeldrank. Gewoonlik was daar oorgenoeg kos sodat enigeen wat daar opdaag, ook ’n bord kos aangebied kan word. Of dit nou by my tante se huis in Mitchells Plain was, of by die skoonfamilie in Hanover Park, gasvryheid was aan die orde van die dag. Niemand is ooit weggewys nie, of jy boemelaar of miljoenêr was, Moslem of Christen – almal is dieselfde behandel. Dis ook nie net my tante nie – enige ander familie was dieselfde.
My tante en my oom is albei oorlede, so vanjaar is maar ’n taamlik hartseer Labarang. My niggies en neefs het hul ouers aan die dood afgestaan. Albei het ’n vol lewe gelei, maar hulle was siek, en hulle sterftes was nie onverwags nie. Steeds bly die hartseer egter.
........
Hoe vier mens enigiets as jy nie weet of dit dalk jou laaste dag op aarde is nie?
........
In Gaza is dit ook vandag Eid, maar hoe gaan daardie mense dit vier? Hulle het skaars lopende water, hulle huise is gebombardeer en vernietig, hulle staar hongersnood in die gesig. Hulle leef in voortdurende vrees vir aanvalle wat Israel loods. Daar is geen soutvleis of tong of gebraaide lamsboud vir hulle nie. Het hulle meel, sal dit gebruik word vir brood eerder as Labarang-koekies. Nuwe klere vir die kinders? Natuurlik nie, want daar is nie meer besighede in Gaza wat klere verkoop nie, en om na die Israeli-kant te probeer gaan, is so goed soos jy gee ’n skriftelike uitnodiging aan die soldate en setlaars om jou maar dood te maak.
Hoe vier mens enigiets as jy nie weet of dit dalk jou laaste dag op aarde is nie? Hoe vier ’n kind enigiets as al wat hulle in hul jong lewens ken, bomme, koeëls, verbryselde liggame en afgeskeurde ledemate is?
Hoe vier enigeen in Gaza Eid?
Hulle kan nie – nie terwyl hul lewens as goedkoop en vervangbaar beskou word nie; nie terwyl hulle huise vernietig word met die hulp van ’n Amerikaanse president wat wil geld maak deur hulle blyplekke te kommersialiseer nie, veral nie aangesien hy dit wil doen deur hulle haweloos en staatloos te laat nie.
Die minste wat ons kan doen, is om hierdie Eid ons protes oor die mishandeling wat die mense van Gaza ervaar, luid te maak.
Lees ook:
Seen elsewhere: New generational hate, fear and despair have been written
A voice from within: Decolonising the Palestinian mind | A conversation with Haidar Eid
Suid-Afrika se tweede klag by die Wêreldhof: Israel pleeg volksmoord


Kommentaar
Dit lyk darem of die mense van Gaza begin sien dat Hamas deur hulle terroristiese optredes ook net so skuldig is as Israel in hierdie haglike situasie deur op te staan in hul betogings teen Hamas.