Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Ramaphosa

  • 7

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

........

President Cyril Ramaphosa se ontmoeting met president Donald Trump van die VSA – met inbegrip van hul gesamentlike regstreekse mediakonferensie in die Withuis – was om verskeie redes onthullend en boeiend.
........

President Cyril Ramaphosa se ontmoeting met president Donald Trump van die VSA – met inbegrip van hul gesamentlike regstreekse mediakonferensie in die Withuis – was om verskeie redes onthullend en boeiend. Hier volg ’n aantal waarnemings – waarnemings wat gewis nog aangepas en hersien sal moet word namate die huidige dramatiese hoofstuk in die veelbewoë geskiedenis van betrekking tussen Suid-Afrika en die VSA verder ontvou.

1. Terwyl die ANC wat buitelandse beleid betref, sigself steeds gedra asof dit Suid-Afrika alleen regeer, het die drama wat hom afspeel sedert Trump se veelbesproke uitvoerende bevel op 7 Februarie teen Suid-Afrika die ANC se gebrek aan gesag, uitvoerende vermoë en, les bes, die kwynende soewereiniteit van die erg verswakte Suid-Afrikaanse staat klinies ontbloot.

Waarom?

Omdat dit niemand anders nie as Elon Musk se pa gekos het om die eerste kontak tussen Ramaphosa en die Trump-administrasie via Elon Musk in Februarie te bewerkstellig. Anders gestel, die kontak is nie bewerkstellig danksy die normale diplomatieke kanale nie, maar danksy ’n oud-Suid-Afrikaner wat openlik en erg krities teenoor die ANC staan.

Terwyl die krisis verder bly oplaai het nadat die onlangs aangewese Suid-Afrikaanse ambassadeur na die VSA, Ebrahim Rasool, deur die Amerikaanse regering uit die VSA gesit is, blyk dit in die 24 uur voor Ramaphosa se ontmoeting met Trump dat ook dié wesenlike kontakgeleentheid te danke is aan die werk wat ’n beroepsgholfspeler, Ernie Els, agter die skerms gedoen het, aangevul deur die insette van die sakeman en amateurgholfspeler Johann Rupert.

As ’n staat eers die punt bereik waar sy regering so verswak is dat hy op privaat burgers van ’n minderheidsgroep aangewese is om met die president van sy belangrikste handelsvennoot wesenlike kontak te bewerkstellig, is daardie staat inderdaad in ’n baie swak posisie.

2. Dit is teen hierdie tyd welbekend dat Trump geneig is tot oordrywing en soms ’n losse omgang met die feite, soos ook spreek uit sy herhaalde en grootliks ongegronde bewering dat Afrikaners in Suid-Afrika aan ’n volksmoord onderwerp word. Feit bly egter dat Trump dié kaart nie sou kon speel as dit nie was vir die kombinasie van die hemelhoë syfer van plaasmoorde waarin veral Afrikaners om die lewe gebring word, die groeiende bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika, en die straffeloosheid waarmee Julius Malema met betrekking tot sy sing van “Kill the Boer, kill the farmer” hanteer word nie.

Deurdat die regstreekse mediakonferensie geopen is met die openbare aanbieding van bogenoemde faktore in die eietydse Suid-Afrikaanse konteks, is Ramaphosa eenvoudig op die agtervoet geplaas. Dis een ding om Trump tereg te korrigeer dat hier nie in Suid-Afrika ’n volksmoord aan die gang is nie (en Trump so ver te kry om moontlik saam te stem), maar dis ’n ander ding om aan miljoene TV-kykers regstreeks insae in hierdie faktore te gee. Bowendien had Ramaphosa geen antwoord gehad op Trump se blatante vraag oor waarom die ANC Malema nie ondubbelsinnig veroordeel of selfs laat arresteer nie. Trump het vredeliewende, samewerkende, gematigde Suid-Afrikaners – by verre die meerderheid Suid-Afrikaners – ’n groot guns bewys deur die volkome onaanvaarbare moordsyfer in die landboubedryf en Malema se ewe onaanvaarbare haatpolitiek aan die kaak te stel.

3. Nadat Ramaphosa nie daarin kon slaag om Trump bevredigend hieroor te beantwoord nie, het hy die bal aangegee vir sy minister van landbou, John Steenhuisen, deur aan te kondig dat hy (met geïmpliseerde groothartigheid) Steenhuisen en die Demokratiese Alliansie (DA) “genooi” het om ná verlede jaar se algemene verkiesing sitting in die RNE te neem. Gelukkig het Steenhuisen, gesoute denker op sy voete wat hy is, Ramaphosa se wanvoorstelling behendig ontbloot deur daarop te wys dat die DA self gekies het om sitting in die RNE te neem om ’n karakter soos Malema, wat deur die ANC met handskoentjies hanteer word, uit die regering te hou, en dus sodoende die soort beslissende optrede te toon wat Ramaphosa en sy party in gebreke bly om te doen.

4. Voorts was dit opvallend dat terwyl Ramaphosa nie verder die ministers van sy eie party wat in die mediakonferensie teenwoordig was, aan die woord gestel het nie, Trump toe sommer self die drie Afrikaner-gholfspelers in die vertrek – Els, Rupert en Retief Goosen – aan die woord gestel het. Hoe ironies dat Els en Goosen, wat allermins diplomate of politieke leiers is, en bowendien nog Afrikaners, die middelgrond so uitstekend in beskerming geneem het – soos Els wat met trots sy Suid-Afrikaanse paspoort vertoon en patrioties, eerlik en empaties oor ons land se uitdagings praat; soos ook Goosen gedoen het, sonder dat hy daarvan weggeskram het om daarop te wys dat sy 80-jarige moeder ook al fisiek aangeval is.

5. Ek het al elders geskryf oor hoe moeilik dit dinge in Suid-Afrika tans maak dat soveel van die huidige swart politieke elite aan ’n absoluut verstaanbare postkoloniale kollektiewe minderwaardigheidskompleks ly – presies soos ook die Afrikaners vir die grootste deel van die 20ste eeu aan ’n soortgelyke kompleks ten opsigte van “die Engelse” gely het. Dit was daarom besonder ongemaklik dat die gesprek, met die uitsondering van Cosatu se afgeronde president, Zingiswa Lozi, vir alle praktiese doeleindes deur vier wit Suid-Afrikaanse mans oorheers is, en dat húlle inderwaarheid veel beter skadebeheer as die onbeholpe Ramaphosa toegepas het. In hierdie verband het veral Rupert ’n werklik belangrike bemiddelende rol gespeel deur die onbeholpe Ramaphosa in beskerming te neem met Rupert se bevestigings dat hier nie ’n volksmoord in Suid-Afrika is nie, dat misdaad ons almal in die land sonder aansiens des persoons, ras of klas teister, en duidelik simpatiek ook op Ramaphosa as persoon in te speel en te vra vir meer Amerikaanse tegnologie om misdaad te bestry. Rupert was ook meesterlik deur as gesoute sakeman wat Trump en sy stad, New York, al dekades ken, dié stad as vergelyking teenoor Suid-Afrika te stel en eintlik vir Trump te sê: “Meneer, met die regte leierskap en hulpbronne kon New York van die 1970’s sy misdaadprobleem oorwin, en net so kan u ons ook help om dit in Suid-Afrika te doen.”

6. Ramaphosa was duidelik mettertyd ongemaklik met die prominensie van die wit Suid-Afrikaanse mans, en het balans probeer bring deur Lozi aan die woord te stel. En wat doen Lozi? Pleks van om na Ramaphosa se pype te dans, sluit sy uitstekend by die ander Suid-Afrikaanse sprekers aan deur hulle ontleding te bevestig en dan die allerbelangrike verdere nuanse in te bou dat arm, landelike, swart Suid-Afrikaners óók, en nog die meeste van almal in die land, aan aaklige geweldsmisdaad blootgestel is – en dit in die land wat deur die einste Ramaphosa se party veronderstel was om veral ten behoewe van hierdie deel van ons bevolking regeer te word. Anders gestel, wat Lozi duidelik gemaak het, is dat waar die ANC daarin misluk om ’n minderheidsgroep met wie hy op gespanne voet verkeer, te beskerm, sy mislukking met sy eie historiese belangegroep nog veel erger is.

7. Die hoopgewende en inspirerende aspek van die mediakonferensie was dus dat Suid-Afrikaners wat (behalwe Steenhuisen) nie eens in die regering sit nie, en sonder vooraf beplanning of koördinering, daarin kon slaag om vir die hele wêreld te wys dat:

– Trump die kwessie van volksmoord oordryf

– Trump wel nietemin met reg sy vinger plaas op onaanvaarbare probleme in Suid-Afrika waarvoor die ANC met sy swak beleide en regering in die eerste plek moet pa staan

– ons gewone Suid-Afrikaners baie eerliker as die ANC en hul leier oor ons probleme is, en mekaar kan aanvul en bystaan om dit uit te wys en planne te beraam om ons probleme te bowe te kom.

8. Laastens, aangesien Ramaphosa en van sy woordvoerders vooraf die bod hoog ingesit het dat hulle die ontmoeting met Trump beskou as hoofsaaklik daarop gemik om handelsbetrekkinge met die VSA te verbeter, en aangesien sulke vergaderings gewoonlik voorafgegaan word deur die nodige aanvoorwerk dat die nodige transaksies tydens die vergadering gefinaliseer en daarna in die openbaar aangekondig word, moet die ontmoeting wat gister in die Withuis plaasgevind het, uit Ramaphosa se oogpunt as ’n betreklike mislukking beskou word.

Waarom?

Wel, ons weet dat Elon Musk Starlink na Suid-Afrika wil bring. Ons weet dat hy reeds einde Januarie in Davos waarskynlik hieroor met Ramaphosa gepraat het. Ons weet dat Musk allermins die besigheid nodig het, en dat hy dit dus waarskynlik om sentimentele redes teenoor sy land van herkoms doen, insluitend teenoor arm, landelike swart mense wat ook voordeel uit Starlink se internetdekking sal trek. Ons weet dat ’n voorstel op die tafel is om sogenaamde swartbemagtingsvereistes vir buitelandse beleggers teenoor Starlink te verslap in ruil vir sowat 8 000 Starlink-ontvangers wat landswyd in arm landelike gebiede geplaas sal word.

Dog selfs dié betreklik eenvoudige transaksie is nie na afloop van gister se ontmoeting aangekondig nie. Daar was ook nie ’n gesamentlike mediakonferensie na afloop van die ontmoeting nie, wat beteken dat anders as wat die konvensie bepaal, Ramaphosa ná die ontmoeting dadels kon wys.

........
Al wat ons ná gister wel kan sê, is dat die wêreld nou weet wat ons lankal weet: dat die ANC as regering misluk het; dat hier onaanvaarbare misdaad, haatpolitiek, armoede en bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika is; en dat gewone Suid-Afrikaners gematigde mense is wat reeds saamwerk om ’n beter toekoms in ons geliefde land te skep.
........

Al wat ons ná gister wel kan sê, is dat die wêreld nou weet wat ons lankal weet: dat die ANC as regering misluk het; dat hier onaanvaarbare misdaad, haatpolitiek, armoede en bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika is; en dat gewone Suid-Afrikaners gematigde mense is wat reeds saamwerk om ’n beter toekoms in ons geliefde land te skep.

En terloops, om te kla oor Trump se styl en gekarnuffel van leiers teenoor wie hy krities staan, is soos om oor ’n losskrum in rugby te kla. Dis wie hy is, dis hoe hy werk, en as jy oorkant hom in die Withuis wil gaan sit, moet jy eenvoudig ’n strategie hê om dit te hanteer. Buiten dat Ramaphosa lofwaardig daarin geslaag het om sy selfbeheersing te behou, is die nodige skadebeheer toegepas deur die ander dapper Suid-Afrikaners in die vertrek wat hoflik maar ferm met Trump was en tog die nodige gesê het. Dit kán gedoen word. Met die nodige beginselvastheid, integriteit en durf.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Van idealisme na realisme – hoe die Trump-omwenteling verstaan kan word

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Pierre-Marie Finkelstein

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Breyten; vir Breyten

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Onderhoud met Laurent Devèze oor die ontstaan en era van die Franse Instituut van Suid-Afrika 30 jaar gelede

  • 7

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Wat my kop laat draai, was die uiteenlopende reaksies van mense. En nou praat ek nie eens van die gewone plebs soos ekself in die kommentaarhokkies nie. (Daar het dit natuurlik weer krioel van die gewone rassisme en Trump-aanbidding aan die een kant, reg deur tot by die ander ekstreem, waar Ramaphosa se lof besing is en Trump veroordeel was.) Ek praat spesifiek van die groot kanonne wat vir ons die nuus week na week in perspektief moet plaas, hoewel ek myself gaan weerhou van name noem. Hoe die 'kenners' van mekaar verskil het. My 10 sent, hoewel mens nie weet wat toe later agter toe deure bespreek was nie, en hoewel ek ook net so die helfte van die aksie kon deurkyk, is dat Ramaphosa nie lyk of hy regtig deurdring tot Trump nie. Trump is duidelik bevooroordeeld en mens kan min goeie dinge van die arrogante man sê, maar Ramaphosa is maar 'n ewe onindrukwekkende leier, en geen staatsman nie. Mens hoop die boodskap ten opsigte van geweldsmisdaad is regtig nou beter internasionaal openbaar, maar mense sien wat hulle wil sien. Trump en sy ondersteuners luister nie met 'n oop gemoed na ander mense nie, nog minder na iemand soos onse president. Hulle het reeds vooraf besluit wat hulle opinies is, en het dit eerder probeer af forseer op die Suid-Afrikaners.

  • Jaco Louwrens

    Trump en Musk is deur God gestuur. Hulle is die beste ding wat nog met die wêreld gebeur het.

  • Marinus Schoeman

    Uitstekend en skerpsinnig geskryf, baie dankie hiervoor. Loshande die beste kommentaar op die ontmoeting tussen Trump en Ramaphosa in die Withuis.

  • Vir hulle wat die petalje op TV kon gade slaan, is Johann se essay daaroor mooi in die kol. Gebalanseerd, ewewigtig. Daarenteen kan jy 'n dame hierlangsaan se onderrok sien uithang.

  • Gerhard Visagie

    Wat 'n deursigtige pot stront. LitNet moet asb net ander menings publiseer om balans te hou. Hierdie eensydigheid is asemrowend.

  • Webvoet moet eerder aandag gee aan die "sosialemedia-intellektuele" wat hiernatoe oorspoel en hul kommentaar deegliker modereer.
    Wees hulle tog terwille, want hulle doen hulself vreeslik in.
    Dit was Ralph Waldo Emerson wat gesê het "people seem not to see that their opinion (of the world) is also a confession of character".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top