
Gielie Hoffmann skryf op Facebook:
Ek kon nie die Trump-Ramaphosa-ontmoeting direk kyk nie en dit was dalk ’n goeie ding.
Ek kon eers lees daaroor en ’n geheelbeeld vorm voor ek toe na die eintlike uittreksels van die gesprek kon kyk.
Anders reageer mens impulsief op elke ding en verloor jy perspektief van die geheel.
Dis interessant om te sien wie wat gehoor en gekry het uit die gesprek.
Net gister sê Antjie: Die oomblik as iets in taal omskep word, is dit dadelik fiksie; nie twee mense gaan dieselfde ervaring dieselfde onthou en weergee nie.
Maar, en dis belangrik:
Vir die wit boer voel dit of sy saak tog bietjie erkenning gekry het, want vir so lank is dit afgepraat as niks, en daarom voel dit vir hom soos ’n wen.
Vir die bruin inwoner van die Kaapse Vlakte voel dit of hy/sy raakgesien word want as Johann Rupert erkenning gee aan die volskaalse oorlog wat daar heers, dan voel dit beter.
Vir die swart Suid-Afrikaner wat sien hoe Zingiswa Losi van Cosatu sê ons lewe in ’n gewelddadige land en dat ons oumas op die platteland verkrag word, voel dit goed om te weet dat hulle ook ’n stem in die gesprek gehad het.
En, voel ek, behoort elke Suid-Afrikaner goed te voel dat ons nie verneder is of pakslae gekry het, of gekruip het, voor ’n man soos Trump nie.
Ons baklei dalk onder mekaar maar staan saam as ons aangeval word.
Vance en Musk was skoon stil.
Daar is natuurlik belangrike gesprekke wat agter geslote deure gevoer gaan word.
En hopelik sal al die kwessies wat op die tafel was, plaaslik ook met hernude toewyding aangespreek word.
Maar gisteraand was op die eerste oogopslag ’n wen vir die besoekers en dit wil gedoen wees.
NS: En gaan lees gerus oor wat gelei het tot die vergadering; die gholfspelers het Trump se oor maar het gisteraand in die bres getree vir Suid-Afrika op die beste moontlike wyse.
Lees ook:
Elders gesien: Video’s van skietvoorvalle by skole en universiteite in die VSA?

