
Op ’n reënerige dag in Washington, DC, in die Withuis, op 21 Mei 2025 het seker een van die belangrikste bilaterale vergaderings tussen Suid-Afrika en die VSA sedert 1994 plaasgevind. Donald Trump was die gasheer en duidelik in beheer, en Cyril Ramaphosa en sy span het opgedaag om Suid-Afrika se saak te stel en op verskeie bewerings te reageer. Dis egter onseker wie verantwoordelik was vir die laat begin van verrigtinge. Dit het een van daardie vergaderings geword waar die totale kompleksiteit van Suid-Afrika ná 1994 in die bestek van ’n uur of wat voor die wêreldmedia afgespeel het. Selfs ons derde poging om ’n begroting goed te keur, of die Paul Mashatile-besoek aan Frankryk, het teen die agtergrond verdwyn – of selfs die feit dat nie die MK-party of die EFF hulle gebruiklike ontwrigtende optrede in die parlement gedemonstreer het nie!
Trump het sy normale styl gehandhaaf en op die oog af effe gespanne voorgekom, en Ramaphosa was goed voorberei en het die nodige komplimente uitgedeel wat deur Trump met positiewe gebare aanvaar is. Na die inleidende gedeeltes van beide presidente is die vergadering oopgestel en het die perskonferensie op sy tipies chaotiese Amerikaanse manier verloop. Op ’n vraag van ’n Amerikaanse joernalis oor die vliegtuig wat Trump as geskenk van Katar ontvang het, het Trump die joernalis ’n idioot genoem, iets wat net hy en Julius Malema gemeen het! Die vrae oor Suid-Afrika het hoofsaaklik oor plaasmoorde, onteiening en aanverwante sake gegaan. Ramaphosa kon met vaardigheid daarin slaag om Suid-Afrika se rol op twee gebiede wat vir Trump baie belangrik is, naamlik die Midde-Ooste en die Oekraïens-Russiese konflik, in konteks te plaas.
Die verwagte politieke hinderlaag het gekom toe Trump die videokompilasie van Julius Malema en sy “Kill the boer, kill the farmer” gespeel het en ook beelde gewys het van plaasmoorde en wit kruise langs ’n hoofpad in Normandien, KZN. Dit was ’n unieke geleentheid vir Ramaphosa om hom hieroor uit te spreek, maar hy het dié goëlbal na John Steenhuisen gegooi. Op sy beurt het Steenhuisen duidelik gewys op die gevare verbonde aan die EFF en Malema. Hy het ook gesê dat landelike veiligheid, veediefstal en plaasmoorde prioriteitsmisdade gemaak moet word. Die drie gholfmusketiers, Ernie Els, Retief Goosen en Johan Rupert, het op unieke maniere ook hulle bydraes gelewer. Goosen het die kwessie van boere op plase duidelik en met oortuiging uitgespel. Rupert het die noodsaak van Musk se Starlink vir Suid-Afrika beklemtoon. Hulle het ook ’n kritieke rol agter die skerms gespeel om die vergadering moontlik te maak.
Die gesprek was ’n uiters belangrike eerste byeenkoms met die Trump-administrasie, en op die oog af lyk dit of Trump wel die G20-beraad sal bywoon, een van die oogmerke van die byeenkoms naas ’n nuwe handelsooreenkoms. Of ’n handelsverdrag gesluit gaan word, sal in die volgende dae bekend word, maar ’n formele SA-VSA-handelsforum is op die been gebring.
Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat die persepsie van volksmoord en die wrede wegjaag van boere van hul plase, soos in Zimbabwe, baie diep in Trump se gemoed ingeëts is. Dit gaan beslis nie in een vergadering verander word nie.
Ek is van mening dat Ramaphosa verbasend goed gevaar en dekorum behou het, veral met die hinderlaag van die Malema-video en plaasmoorde. Hy het nie die fout gemaak om Trump in die rede te val nie. Ramaphosa kon die Zelenski-oomblik suksesvol systap, maar dit is duidelik dat Suid-Afrika baie meer sal moet doen om Trump van die teendeel te oortuig, wetende dat Trump uit verskeie konserwatiewe netwerke met inligting gevoer sal word.
Trump is, naas ’n transaksionele leier, ook iemand wat baie visueel geprikkel word en daarop reageer, terwyl Ramaphosa die juris, versigtig en diplomaties, was. Hy het egter nie geleenthede om hom sterk uit te spreek oor landelike veiligheid en gewelddadige politieke retoriek, benut nie.
Meer besonderhede sal in die volgende dae bekend word, maar dit wil voorkom asof Trump wel die G20-beraad sal bywoon.
Wat nog? Dat ’n nuwe handelsooreenkoms ontwikkel gaan word wat Agoa sal insluit, dat Starlink op die agenda is, en dat die RNE terugkom met baie politieke introspeksie om te doen.
Die opskrif lui “D-dag in die Withuis”, en soos met die historiese D-dag was die eerste dag bloedig en moeisaam, maar die harde werk het daarna gevolg om Europa te bevry. Vir ons verhouding met die VSA lê die harde werk nou voor, veral binne die ANC.


Kommentaar
Theo, dit is 'n goeie opsomming van gebeure.
Die feit dat Ramaphosa laat gekom het, dink ek, was 'n fout wat verhinder het dat meer aangeleenthede (vorige uitsprake/video's gerapporteer in die media en bedrog/korrupsie) bespreek en op die skerm gegooi kon word, miskien tot die verleentheid van Ramaphosa en sy gevolg.
Trump was, na my mening, in 'n goeie bui gewees!
Die "wit kruise" het ek net geweet van dié naby Pietersburg, nie geweet van dié in KZN nie.
Nie gehou van die "gebedel" vir geld en beleggings nie, want dit moet 'n "gretigheid" wees komende van beide partye in 'n "wen-wen" situasie, laasgenoemde het ek nie raakgesien nie!
Baie mooi saam gevat, Theo !
Dankie Theo Venter vir 'n kalm en beredeneerde samevatting van die vergadering. Soos met die meeste dinge, is dit maklik om histeries pro- of anti-Trump, pro- of anti-Ramaphosa te raak, en vet weet daar is genoeg daarvan in die laaste paar dae. Die taak van gematigdes om 'n beter Suid-Afrika te bou word bemoeilik deur ekstreme retoriek van politici en verontwaardigde randfigure in ons samelewing.
Puik samevatting Theo! My persoonlike oortuiging is dat SA die afgelope 30 jaar gebruik is om ons te laat saamsmelt met res van donker Afrika sodat ons nie uitstaan bo die ander Afrikalande nie. Die VSA/SA-vergadering plaas geweldige druk op RNE om die plaasaanvalle baie vinnig onder beheer te kry!
Goeie opsomming. Dit is goed om verby die geraas te kyk. Die serendipiteit van die besoek, wat terloops deur Ramaphosa geïnisieer is, is dat die geweldsmisdaad krisis in SA aan die wêreld grootklok gehang is. Diedelfde geld Ramaphosa se swak leierskap om nie die EFF lied te veroordeel nie. In die opsig heilig die 'lokval' middel, die doel. As die lokval te wagte was, bevestig dit Ramaphosa se apatie, oor die gewraakte EFF dreunsang slagspreuk. Hy moes dit vóór die besoek besweer het deur Malema te repudieer.