Wat sê Bettina? Maak dit saak waar pous Leo XIV gebore is?

  • 0

Foto: Pixabay

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Bitter min dinge het die hele wêreld se aandag so gevange gehou soos die verkiesing van die nuwe pous hierdie week. Die nederige skoorsteen was die middelpunt van almal se belangstelling. Is die rook wit, is dit swart, of soos sommige memes te kenne gegee het, die resultaat van ’n braaivleis?

Met Oscar Pistorius se verhoor was almal regskenners; tydens Covid 19 het ’n klomp leunstoelwetenskaplikes van hulle laat hoor; en hierdie week is al wat leef en beef kenners van Katolieke gebruike. Ek wonder net: As The two popes en Conclave nie die Katolieke ervaring onder algemene bewussyn gebring het nie, sou enigeen buite die Katolieke Kerk belang gestel het in die verkiesing van die pous? Ek dink nie so nie.

.........
Ek wonder hoeveel sou gewed het dat ’n Amerikaner die volgende pous sou wees. Daar is immers ’n algemeen aanvaarde wysheid dat dit nie goeie praktyk is om die godsdienstige gesag in die hande van ’n supermoondheid te plaas nie.
.........

Binne die Katolieke Kerk  het dit blykbaar so woes gegaan dat een priester ’n kanselbrief moes uitstuur om sy gemeente te vra om nie weddenskappe te plaas oor wie die volgende pous gaan wees nie, en om dit veral nie tydens die erediens te doen nie. Ek wonder hoeveel sou gewed het dat ’n Amerikaner die volgende pous sou wees. Daar is immers ’n algemeen aanvaarde wysheid dat dit nie goeie praktyk is om die godsdienstige gesag in die hande van ’n supermoondheid te plaas nie.

Biskop Robert Barron, ’n lid van Die Withuis se Kommissie op Godsdienstige Vryheid, is gister as volg op CBD News aangehaal: “Cardinal George of Chicago, of happy memory, was one of my great mentors, and he said: ‘Look, until America goes into political decline, there won’t be an American Pope.’ And his point was, if America is kind of running the world politically, culturally, economically, they don’t want America running the world religiously.”

Selfs Trump se adviseur reken dat Amerika op die afdraande pad is.

Die Catholic News Agency het op 21 Maart 2025 berig dat daar tans 1,4 miljard Katolieke in die wêreld is, volgens die 2025 Annuario Pontifico. Dis nie ’n onbeduidende getal lede nie, wat beteken dat dit natuurlik nodig is dat die res van ons kennis neem van besluite wat een agste van die wêreld se bevolking raak.

Blykbaar is belydenis goed vir die siel, so laat ek nou bely: Met die eerste aanhoor dat die nuwe pous ’n Amerikaner is, het my hart tot in my skoene gesak. My gunsteling was kardinaal Luis Tagle van die Filippyne. Ek het nie enige weddenskappe aangegaan nie, maar ek sou beslis verloor het indien ek my geld op hom gesit het. Robert Prevost, die nuwe pous, is deur baie as wyle pous Franciskus se eie eerste keuse gereken. Pous Franciskus het egter nooit enige uitspraak gemaak oor wie hy as opvolger sou wou hê nie, dus is hierdie aanname ten beste spekulasie.

........
Robert Prevost, wat nou as pous Leo XIV sal bekendstaan, is in Chicago gebore, maar het ’n groot deel van sy lewe buite die VSA deurgebring. Hy het inderdaad burgerskap van Peru ontvang. Interessant dat hy gekies het om sy eerste toespraak as pous in Italiaans en Spaans te lewer, met nie ’n woord Engels as kopknik na sy Amerikaanse wortels nie.
........

Robert Prevost, wat nou as pous Leo XIV sal bekendstaan, is in Chicago gebore, maar het ’n groot deel van sy lewe buite die VSA deurgebring. Hy het inderdaad burgerskap van Peru ontvang. Interessant dat hy gekies het om sy eerste toespraak as pous in Italiaans en Spaans te lewer, met nie ’n woord Engels as kopknik na sy Amerikaanse wortels nie. Ook interessant is dat hy die naam gekies het van ’n pous wat homself teen slawerny en ten gunste van behoorlike vergoeding vir werkers uitgespreek het. Interessant dat hy in sy toespraak klem gelê het op brûe bou en vrede maak en bewaar.

Dis vir my veral interessant dat hy homself in sy toepsraak as Augustiaans identifiseer. Die Augustiaanse orde lê klem op sendingwerk, veral onder armes, en op die waarde van opvoeding, beide gebiede waarop die nuwe pous in sy tyd in Peru gefokus het.

Dit klink asof hy hom op subtiele wyse distansieer van alles waarvoor die huidige Amerikaanse regering staan.

Hy het hom in die verlede al meer direk uitgespreek teen Vance en Trump se uitsprake en beleidsoorwegings. Daar word algemeen aanvaar dat hy, soos pous Franciskus voor hom, sal fokus op die armes en op vlugtelingesake, kwessies waarmee ek heelhartig saamstem.

Maar een van die groot punte van kritiek teen pous Leo XIV is dat hy niks gedoen het omtrent priesters wat kinders seksueel misbruik het tydens sy vorige leierskapsrolle nie. Hy het hom ook sterk uitgespreek teen selfdegeslagverhoudinge. Die een is amptelike kerkbeleid. Is die ander een nie-amptelike kerkbeleid?

.........
Kan ons ’n pous vertrou wat op soveel kwessies die regte standpunt inneem, maar niks doen om die mees weerloses in sy sorg te beskerm nie?
.........

Ek vermoed dat, met die huidige krisis in die wêreldpolitiek, kinders wat deur priesters misbruik word, nie veel aandag gaan kry nie. Tog word dit telkens as een van die hoofredes aangedui vir hoekom mense die Katolieke Kerk verlaat. “Charity begins at home.” Kan ons ’n pous vertrou wat op soveel kwessies die regte standpunt inneem, maar niks doen om die mees weerloses in sy sorg te beskerm nie? Is dit belangriker om fascisme in sekere regimes aan te spreek, of om geregtigheid oral aan almal te  verkondig?

Net die tyd sal leer of pous Leo XIV die beste keuse is wat die Katolieke Kerk kon gemaak het. Wat ek wel weet, ten minste op kort termyn, is dat hy nie Trump klakkeloos napraat nie. Hy is ook veel meer kosmopolitaans as die deursnee-Amerikaner, wat beteken dat sy perspektief op die wêreld heel anders daar sal uitsien. Waar hy gebore is, lyk dit, maak minder saak as waar sy geestelikheid gevorm is.

Vir nou is dit seker genoeg.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Trump as Pous

Wat sê Bettina? Die "sonde" van empatie

Wat sê Bettina? Empatie en die kerk

Wat sê Bettina? Kersfees in ’n oorlogsone

Wat sê Bettina? Hoe vier hulle Eid in Gaza?

Wat sê Bettina? Vroueregte in 2025

Seksskandale in die Rooms-Katolieke Kerk

Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top