
Prent: Canva
Ek raak dikwels ongemaklik wanneer mense sê die Grondwet beskerm moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Op die oog af lyk dit waar. Artikel 29(2) van die Grondwet (1996) sê immers dat elkeen die reg het op onderrig in die taal van hul keuse, maar net “waar dit redelikerwys doenlik is”.
........
Daardie kwalifiserende woorde klink prakties, aanpasbaar, selfs verstandig, veral in ’n land met 12 amptelike tale en groot ongelykhede in hulpbronne. Tog is dit juis daardie einste klein frase wat taalregte uiters broos kan maak.
........
Daardie kwalifiserende woorde klink prakties, aanpasbaar, selfs verstandig, veral in ’n land met 12 amptelike tale en groot ongelykhede in hulpbronne. Tog is dit juis daardie einste klein frase wat taalregte uiters broos kan maak.
Kwalifiseerders as slaggate
My vergelykende studie van Suid-Afrika, Indië, Kanada en Finland toon dat die probleem nie die erkenning van moedertaalonderrig is nie, maar die kwalifiserende bepalings wat dit verswak.
In Suid-Afrika is dit artikel 29(2) se “waar dit redelikerwys doenlik is”. Hierdie klein frase gee die staat ’n ontsnapkans om te sê dit is te duur, te moeilik, of eenvoudig nie haalbaar nie, en só word “moedertaalonderrig” stilweg in “Engels” vertaal. Norms and Standards on Language Policy in Public Schools (1998) noem faktore soos klasgetalle, beskikbare onderwysers en finansies. In Hoërskool Ermelo v MEC vir Onderwys (2009) het die Konstitusionele Hof beklemtoon dat die staat ’n plig het om toegang tot onderrig te verseker, maar binne die grense van redelike uitvoerbaarheid. In AfriForum v Universiteit van die Vrystaat (2017) is daar bevestig dat transformasie en toegang soms die oorhand kry bo moedertaalonderrig.
In Indië noem artikel 350A van hulle Grondwet dat state “sover dit redelikerwys prakties moontlik is” moedertaalonderrig in die laer grade moet voorsien, terwyl artikel 21A die reg op onderwys waarborg. Die hof het egter in State of Karnataka v Associated Management of English Medium Schools (2014) bevestig dat dit nie ’n absolute aanspraak is nie en dat die staat Engels mag voorskryf indien dit “redeliker prakties moontlik” is.
In Kanada gee artikel 23 van die Canadian Charter of Rights and Freedoms (1982) Frans- en Engelssprekende minderhede die reg op skole in hul taal “waar getalle dit regverdig”. In Mahe v Alberta (1990) het die hof dié reg bevestig, maar dit was steeds beperk tot Engels en Frans. Inheemse tale kry wel erkenning deur die Indigenous Languages Act (2019), maar dit skep en verskaf slegs programme, befondsing en inisiatiewe, nie afdwingbare regte soos met Frans en Engels nie.
........
Finland, daarenteen, is ’n ander verhaal. Artikel 17 van hulle Grondwet (1999) bepaal ondubbelsinnig die reg om jou taal en kultuur te gebruik. Die Basic Education Act (1998), die Language Act (2003) en die Sámi Language Act (2003) maak dit bindend en duidelik dat onderwys in Fins en Sweeds beskikbaar moet wees en in sekere streke ook in Sámi.
........
Finland, daarenteen, is ’n ander verhaal. Artikel 17 van hulle Grondwet (1999) bepaal ondubbelsinnig die reg om jou taal en kultuur te gebruik. Die Basic Education Act (1998), die Language Act (2003) en die Sámi Language Act (2003) maak dit bindend en duidelik dat onderwys in Fins en Sweeds beskikbaar moet wees en in sekere streke ook in Sámi. Geen “waar dit redelikerwys doenlik is”, “sover dit redelikerwys moontlik is” of “waar getalle dit regverdig” nie – dit is ’n verpligting.
Wanneer ’n reg ’n gunstigheid word
Om saam te vat: In Suid-Afrika bestaan jou reg op moedertaalonderrig net solank ’n departement besluit dit is “redelikerwys doenlik” of uitvoerbaar. In Indië is dit net solank dit “prakties moontlik” is, en in Kanada is dit net waar “getalle dit regverdig”.
........
Die gevaar van hierdie kwalifiserende bepalings is dat hulle dit laat lyk asof taalregte beskerm word, maar dat dit taalregte in werklikheid broos maak. Wat op papier ’n reg is, word vinnig in die praktyk ’n vergunning wat afhanklik is van begrotings, departementele interpretasies en politieke prioriteite.
...........
Die gevaar van hierdie kwalifiserende bepalings is dat hulle dit laat lyk asof taalregte beskerm word, maar dat dit taalregte in werklikheid broos maak. Wat op papier ’n reg is, word vinnig in die praktyk ’n vergunning wat afhanklik is van begrotings, departementele interpretasies en politieke prioriteite.
Die Suid-Afrikaanse realiteit
Suid-Afrika se onderwysstelsel bevestig dit daagliks. Hoewel Zoeloe en Xhosa saam verreweg die meeste moedertaalsprekers het, ontvang die meerderheid van hierdie kinders hul onderrig nie in hul moedertaal nie. Van die meer as 700 000 Zoeloe-leerders word byvoorbeeld slegs sowat 100 000 in Zoeloe onderrig, terwyl die res hoofsaaklik in Engels skoolgaan (DBE 2023). Vanaf graad 4 word Engels die oorheersende taal van leer en onderrig in die meeste skole, met Afrikaans as ’n bykomende opsie in sekere streke. Beleidsdokumente en navorsing (Sefotho 2022; Spaull 2019; Spaull 2023) wys dat hierdie vroeë skuif na Engels vir die meerderheid leerders in Suid-Afrika ’n werklikheid is ongeag hul vaardigheid in akademiese Engels.
Soos Le Cordeur onlangs op LitNet opgemerk het, het die visie vir inheemse tale dikwels ’n muis gebaar. Inheemse tale kry formele erkenning, maar die feit dat onderrig vinnig na Engels oorskakel, wys hoe maklik die kwalifiserende bepaling “waar dit redelikerwys doenlik is” gelykgestel word aan Engels as standaard. Is Engels immers nie, in ’n land met 12 amptelike tale, altyd die mees “redelike” opsie nie?
Die dringende vraag
Met die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (2024) wat taalbeleide verder onder die beheer van die Departement van Basiese Onderwys sentraliseer, is die vraag: Gaan hierdie kwalifiserende bepalings nóg meer ruimte kry om moedertaalonderrig uit te hol? Of is dit nie tyd dat Suid-Afrikaners begin vra vir duidelike, afdwingbare standaarde wat nie deur administratiewe diskresie uitgekalwe kan word nie?
As Finland kan wys dat dit moontlik is om meertaligheid duidelik in die wet te veranker en konsekwent te befonds, waarom sou Suid-Afrika met sy ryk taalerfenis nie dieselfde kan eis nie?
Bronne
AfriForum and Another v University of the Free State (CCT101/17) 2018.
Canada. 1982. Canadian Charter of Rights and Freedoms. Constitution Act, 1982, Schedule B to the Canada Act 1982 (UK), 1982, c.11. Ottawa: Government of Canada.
DBO (Departement van Basiese Onderwys). 2023a. Minister Angie Motshekga: Language Policy Conference. https://www.gov.za/news/speeches/minister-angie-motshekga-language-policyconference-27-jul-2023#:~:text=In%20our%20own%20country%2C%20South,2018%2D01%2D18 (18 Maart 2025 geraadpleeg).
Finland. 1998. Basic Education Act. Helsinki: Government of Finland.
—. 2019. Indigenous Languages Act. Helsinki: Government of Finland.
—. 2003a. Language Act (423/2003). Helsinki: Government of Finland.
—. 2003b. Sámi Language Act. Helsinki: Government of Finland.
Head of Department: Mpumalanga Department of Education and Another v Hoërskool Ermelo and Another (CCT40/09) 2009 ZACC 32; 2010.
Le Cordeur, M. 2025. Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig: kommer oor inheemse tale. https://www.litnet.co.za/moedertaalgebaseerde-tweetalige-onderrig-kommer-oor-inheemse-tale (18 Julie 2025 geraadpleeg).
Mahe v Alberta (SCR 1/342) 1990.
Sefotho, MPM. 2022. Ubuntu translanguaging as a systematic approach to language teaching in multilingual classrooms in South Africa. Journal for Language Teaching, 56(1):1–17. DOI:10.56285/jltVol56iss1a5416.
Spaull, N. 2019. Priorities for education reform in South Africa. (Treasury Economic Colloquium input document.) https://nicspaull.files.wordpress.com/2019/01/v2-spaull-priorities-for-educreform-treasury-19-jan-2019.pdf.
—. 2023. 2023 Background report for the 2030 Reading Panel. Kaapstad: 2030 Reading Panel.
State of Karnataka v Associated Management of English Medium Primary & Secondary Schools 2014 AIR SC 2094.
Suid-Afrika. 1998. Norms and Standards on Language Policy in Public Schools. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 2024. Basic Education Laws Amendment Act 10 of 2024. Pretoria: Staatsdrukker.
Lees ook:
’n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalverwerwingstudente
BELAB and mother tongue education: an interview with Sindiwe Magona
BELAB and mother tongue education: an interview with Mphuthumi Ntabeni
BELAB en moedertaalonderrig: ’n gesprek met Jaco Deacon aan die begin van 2024
LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat
Bela: Regulasies bring helderheid maar enkele kwessies pla nog
Die totstandkoming van die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding: ’n onderhoud met Jaco Deacon

