Bela: Regulasies bring helderheid maar enkele kwessies pla nog

  • 0

Prent: Canva

Na maande van bespiegeling het die minister van basiese onderwys, Sivive Gwarube, die regulasies van die nuwe Bela-onderwyswet gepubliseer. Michael le Cordeur het dit bestudeer en deel sy indrukke.  


Na maande van bespiegeling het die minister van basiese onderwys, Sivive Gwarube, uiteindelik die regulasies wat die nuwe Bela-onderwyswet sal reguleer, gepubliseer. Dié aankondiging het nie sonder teenstand gekom nie. Dit is ook nie onverwags nie, gegee die omstredenheid waarin dié nuwe skolewet gehul is.

Waarom ’n nuwe wet?

Dit is reeds sewe jaar sedert Angie Motshekga die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) aangekondig het. Toe president Ramaphosa die wetsontwerp op 13 September 2024 onderteken het, was dit met die uitsondering van klousules 4 en 5 (taal- en toelatingsbeleide). Eers nadat partye ’n ooreenkoms bereik het, is die Bela-wet op 20 Desember finaal deur die President onderteken.

........
Dit kan nie ontken word dat onderwys in die verlede gebaseer was op diskriminerende wetgewing wat tot groot ongelykhede in onderwys gelei het nie. Die Grondwet beklemtoon dat die nuwe Suid-Afrika gebore is uit ’n strewe om die ongelykheid en verdeeldheid van die verlede te genees en ’n samelewing te bou gebaseer op gelykheid en demokratiese waardes. Om dit te vermag was ’n nuwe onderwyswet onafwendbaar.
........

Dit kan nie ontken word dat onderwys in die verlede gebaseer was op diskriminerende wetgewing wat tot groot ongelykhede in onderwys gelei het nie. Die Grondwet beklemtoon dat die nuwe Suid-Afrika gebore is uit ’n strewe om die ongelykheid en verdeeldheid van die verlede te genees en ’n samelewing te bou gebaseer op gelykheid en demokratiese waardes. Om dit te vermag was ’n nuwe onderwyswet onafwendbaar.

Die Bela-wet (Basic Education Laws Amendment Bill) is ingestel om belangrike veranderinge aan te bring in ons onderwysstelsel. Die wetsontwerp het ten doel om die kwaliteit van onderwys te verbeter, die inklusiwiteit van skole te versterk en te verseker dat alle kinders toegang tot basiese leergeleenthede het.

Omstredenheid

Klousules 4 en 5 oor taal- en toelatingsbeleide het in die verlede ongelukkigheid veroorsaak omdat leerders toegang tot skole geweier is, selfs al het hulle binne die skool se opvangsgebied gewoon. Sommige gevalle het gelei tot hofsake, waarvan die Rivonia-saak die bekendste is.

Dit is dus verblydend dat artikel 6(4)a van die pas gepubliseerde regulasies bepaal dat voordat die hoof van die onderwysdepartement (HOD) die finale beslissing maak of ’n leerder toegelaat word al dan nie, “(d)ie beste belange en spesifieke behoeftes van die leerder, insluitend die leerder se ouderdom en onderwysondersteuningsbehoeftes in ag geneem word”.

Dit moet saamgelees word met artikel 9 van die regulasies wat lui dat geen leerling “toegang geweier mag word op grond van onregverdige diskriminasie soos ras, nasionaliteit, etniese of sosiale oorsprong, kleur, geslag, ouderdom, gestremdheid, seksuele oriëntasie, kultuur, taal, godsdienstige oortuiginge, geloof, swangerskap, MIV- en VIGS-status, of enige ander siekte nie”.

Taal

Vir diegene wat steeds glo die wet is ’n berekende aanval op Afrikaanse onderwys, bring die regulasies helderheid en sal hulle berusting daarin vind dat “taal” een van die kritieke aspekte is wat oorweeg moet word voordat die HOD ’n finale besluit kan neem oor die kind se toelating.

........
Vir diegene wat steeds glo die wet is ’n berekende aanval op Afrikaanse onderwys, bring die regulasies helderheid en sal hulle berusting daarin vind dat “taal” een van die kritieke aspekte is wat oorweeg moet word voordat die HOD ’n finale besluit kan neem oor die kind se toelating.
........

Ook skole wat bedenkinge gehad het dat die Bela-wet ’n skoolbeheerliggaam (SBL) van sy besluitnemingsmag stroop, aangesien die finale sê oor toelating by die HOD berus, se vrese is aangespreek. Kragtens artikel 6(1) het die HOD die finale sê slegs na oorlegpleging met die SBL, en selfs dan moet die HOD die SBL skriftelik van sy besluit in kennis stel met ’n volledige opgaaf van redes vir sy besluit. Die enigste negatiewe aspek is dat dit tot ’n uitgerekte proses kan lei wat die kind se toelating en dus ook sy reg op onderrig kan vertraag.

Vir my is die ewewigtigheid van die regulasies daarin geleë dat daar ook ’n verpligting op beheerliggame rus: Artikel 5(1) van die regulasies bepaal: “Wanneer die toelatingsbeleid saamgestel of gewysig word, moet die beheerliggaam verseker dat die beleid rasioneel en billik is.” Dit behels dat die beste belange van leerders vooropgestel word. Dit is veral belangrik dat alle faktore wat in die pad staan van gelyke toegang, verwyder word en die demografie en opvoedkundige behoeftes van leerders in ag geneem word.

Ongelukkigheid

Van taal gepraat: As voormalige taalonderwyser en taaldosent vir wie taal na aan die hart lê, het ek noukeurig opgelet na die taal waarin die regulasies geskryf is. Die dokument verwys op meer as een plek daarna dat die verskillende partye met mekaar moet praat in die soeke na oplossings (kom ons noem dit ons eie onderwysdialoog in die kleine). Let gerus op na die gebruik van frases soos na oorlegpleging met (“after consultation with” – artikels 4.1 en 21.1); in samewerking met (“in collaboration with” – 4.1) en met inagneming van.

Juis daarom moet met omsigtigheid gewerk word met die verwoording van sekere kritieke aspekte. Taal, of die semantiese gebruik van taal, is ook die rede vir die vernaamste kritiek teen die regulasies. Alhoewel die hoofstaatsadviseur volgens Gwarube se woordvoerder bevind het dat die konsepregulasies in ooreenstemming is met die Bela-wet, kan die terminologie vir die oningeligte verwarrend wees. Voedingsone is byvoorbeeld nie dieselfde as onderwysdistrik nie.

Die Bela-wet verwys na die breër onderwysdistrik wat in ag geneem moet word by die toelatingsbeleid. Voedingsone verwys slegs na die onmiddellike omgewing waar die skool geleë is (die woonbuurt), terwyl die onderwysdistrik die breër samelewing in ag neem, byvoorbeeld die Wynlanddistrik wat die hele gebied van Stellenbosch, Paarlvallei en Wellington beslaan. Die Good-party beweer dié klousule lyk na ’n skikking tussen Gwarube (’n DA-minister in die RNE) en Solidariteit.

Die regulasies verwys na die departementshoof wat voedingsones vir openbare skole bepaal, leerlinggetalle beheer en ouervoorkeure koördineer. Dit kan daartoe lei dat voorheen benadeelde leerders weens hul woonadres uitgesluit kan word en demografiese eensoortigheid bevorder word. Volgens Good, die ANC en die portefeuljekomitee is dit teen die gees van Bela, wat ’n nierassige bestel nastreef deur die uitsluiting van kwesbare leerders te staak.

Ongelukkigheid heers ook omdat die regulasies drupsgewys gepubliseer word en nie gesamentlik soos versoek nie. Dit was ook die geval voor die goedkeuring van die wet toe min gesê of geskryf is oor die ander 54 klousules van die wet totdat ek in ’n artikel geskryf het “Daar is 56 redes waarom Bela nodig is” (07.01.25). Slegs regulasies van dieselfde twee omstrede klousules is gepubliseer, wat die idee versterk dat dié klousules belangriker as die ander is. Die Bela-wet is nou reeds sewe jaar ’n besprekingspunt in die parlement en die implementering daarvan hang af van wanneer die regulasies in sy geheel beskikbaar is en aanvaar word.

Die Minister moet gouer eerder as later met die portefeuljekomitee vergader om hierdie kwessies uit die weg te ruim. Dit doen afbreuk aan ’n andersins goeie voorlegging.

Appèl

Alhoewel die HOD oor die finale gesag beskik om ’n leerder tot ’n openbare skool toe te laat, is hierdie gesag steeds ondergeskik aan die LUR vir onderwys ingevolge artikel 5(9) van die Skolewet. Dit geskied ná oorlegpleging met die beheerliggaam, maar selfs dan moet die HOD volgens 6(2) die beheerliggaam skriftelik met opgaaf van redes inlig en ’n redelike kans aan die beheerliggaam bied om hierop te reageer.

Indien ’n aansoek om toelating van ’n leerder geweier word, moet die openbare skool (volgens artikel 15.2) die ouers skriftelik of op ’n manier wat deur die HOD bepaal is, binne 14 dae inlig, met die redes vir so ’n weiering, asook die ouers se reg om teen die weiering appèl aan te teken.

Wanneer die LUR van onderwys ’n appèl van ’n ouer ontvang, moet hy of sy volgens artikel 23(1) die betrokke skoolhoof en beheerliggaam voorsien van ’n kopie van die appèl en hulle nooi om binne vyf dae op die appèl te reageer.

Carpe diem

........
Dit is duidelik dat niemand enigiemand anders kan domineer nie. Die regulasies is so geskryf dat wigte en teenwigte sorg vir balans en ’n regverdige proses.
........

Dit is duidelik dat niemand enigiemand anders kan domineer nie. Die regulasies is so geskryf dat wigte en teenwigte sorg vir balans en ’n regverdige proses. Die regulasies is uit die aard van die saak nog in konsepvorm en die publiek het tot 5 September om kommentaar te lewer.

In vorige skrywes het ek beklemtoon dat daar groeipyne sal wees. Juis daarom moet Suid-Afrikaners met mekaar in gesprek tree oor Bela. Nie met agterdog of vooropgestelde idees nie, maar in ’n gees van welwillenheid met slegs die beste belang van ons kinders as doelwit.

En dalk, soos ek al herhaaldelik gepleit het, is dit tyd dat ons almal die uitspraak van die regter van die Konstitusionele Hof in die Rivonia-saak gehoorsaam toe hy gesê het dit is tyd dat skoolgemeenskappe in goeder trou saamwerk in ’n proses waar respek vir mekaar se waardes die boustene vorm vir ’n effektiewe skoolstelsel en ’n gelukkiger Suid-Afrika.  

Gryp die oomblik!

  • Michael le Cordeur is emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die direksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. 

Lees ook:

Reading for comprehension deur Michael le Cordeur: ’n onderhoud

Nuwe minister van Hoër Onderwys: Strawwe toets wag op Buti Manamela

Derde skoolkwartaal: verwikkelinge rondom die Bela-wet en skoolsake – ’n onderhoud

Swak gevaar in die tweede kwartaal se skooleksamen? Hier is hulp en raad

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top