
Wekker: Canva
Dis die begin van die derde kwartaal en die skoolkinders het nou hul rapporte gekry. Hoe gemaak as dinge glad nie goed verloop het nie?
Naomi Meyer het by Sonja Squires gaan aanklop.
Sonja, ek het al in die verlede met jou op LitNet gesels. Jy is betrokke by ’n skool in Loeriesfontein waar dinge nie aldag maklik is nie. Verlede jaar het julle die uitsonderlike prestasie behaal dat julle hele matriekklas die jaar geslaag het. Kom ons keer net gou terug daarheen: Sou jy hierdie tyd verlede jaar vir my gesê het jy glo die hele matriekklas gaan die jaar slaag? Hoekom of hoekom nie?
Hi Naomi, dié tyd laasjaar was soos alle ander jare – baie lae punte en baie vrees vir volslae mislukking. Ons hoop was later net in die lewende God wat Hom nie steur aan die toestand van ’n mens nie, maar vra dat jy sal glo en gehoorsaam om te doen wat gedoen kan word.
En soos die matrieks aan die einde gesê het: "Ons het toe ons samewerking gegee."
Soms moet mens eers op ’n plek kom waar jy die koue realiteit met ’n skok besef en dan is mens gereed vir wyse raad wat jy kan toepas om die situasie om te keer.

Prent: Canva
Goed, ek dink dis duidelik dat sake nie rooskleurig gelyk het nie. Ander ouers wat hier lees, voel dalk ook nou hulle kinders se rapportpunte is nie watwonders nie. Het jy op hierdie stadium iets prakties wat jy vir enige ouer wil sê as hulle nie tevrede is met hul kinders se rapporte nie? Enige graad, maar kom ons praat ook oor die matrieks, aangesien jy verlede jaar die skip omgedraai het toe dit gelyk het of dit wil sink!
Gepraat van skepe: Enige groot, lang skip wat uit die diepsee inkom na ’n veilige hawe, benodig spesialis hulp om die vaartuig veilig in die hawe in te lei. ’n Maritieme loods, wat gespesialiseerde kennis van die plaaslike waters het, sal aan boord van die skip gaan en die navigasie oorneem. Die loods sal met die skip se kaptein en ook sleepbootoperateurs kommunikeer om die maneuvers te koördineer. Hulle kan die skip trek of stoot, wat dit help om deur nou en klein ruimtes en draaie te navigeer.
Dis dus ’n spanpoging – ek was bevoorreg om deel van ’n wenspan by die skool te wees laasjaar. Enige matrikulant is soos ’n groot, lang skip wat deskundige hulp benodig om veilig in die hawe vas te meer. Dis ’n tyd waarin die ouer die maritieme loods is wat die orde moet handhaaf met baie simpatieke dog liefdevolle fermheid saam met die leerkragte van die skool. Die sleepbote is ekstra hulp – soos ou vraestelle van die NSS-eksamen uitwerk in vakke wat lae punte toon; gesonde breinvoeding; genoeg water, slaap en beweging om spanning te verwerk.
Verder moet ’n ouer ook ’n aangename studieomgewing skep met goeie beligting. ’n Dowwe lamp plaas baie stremming op oogspiere en maak dat die brein minder kan absorbeer en oë gouer moeg word van die studies.
........
Natuurlik moet ouers ook seker maak die kind kry genoeg breinbrandstof in terwyl hy/sy leer – heuning en klappermelk of volroommelk is byvoorbeeld ’n wenkombinasie. Om nie te praat van ’n warm drankie van suurlemoen en heuning in die ysige winteraande nie. Natuurlik is vars vrugte en groente, rosyntjies en neute, en grondboontjiebotterbroodjies (indien die kind nie allergies daarvoor is nie) ook wonderlike breinbrandstof.
.........
Natuurlik moet ouers ook seker maak die kind kry genoeg breinbrandstof in terwyl hy/sy leer – heuning en klappermelk of volroommelk is byvoorbeeld ’n wenkombinasie. Om nie te praat van ’n warm drankie van suurlemoen en heuning in die ysige winteraande nie. Natuurlik is vars vrugte en groente, rosyntjies en neute, en grondboontjiebotterbroodjies (indien die kind nie allergies daarvoor is nie) ook wonderlike breinbrandstof. Daar is ’n hele lysie van voedselsoorte wat die brein help wanneer hy so ekstra baie breinenergie verbrand.
My pa, Sydney, is al 88 jaar oud en nog baie fiks en ’n groot student op sy dae. Hy sê ook: "Jy moet die feite van ’n vak in jou brein bêre; herhaal dit minstens vier maal voor ’n eksamen en maak sekere die plek waar jy leer is stil en rustig.” Hy het feitlik met al die merietepryse in sy graad 12-jaar weggestap.
Ek onthou nog hoe hy altyd ’n bakkie rosyntjies en neute op my tafel neergesit het as ek begin leer. Klein blykies van omgee deur ’n ouer, oupa, ouma of leerkrag maak ’n reuse verskil vir ’n jongmens se motivering. Dit vat ’n hele span wat saamwerk om die leerder oor die wenstreep te kry.

Prent: Canva
Het jy iets wat jy vir enige matriek wil sê wie se punte nie nou goed lyk nie? Praktiese raad, bedoel ek.
Ek het die insette gevra van drie sleutelleerkragte by Loeriesfontein wat deel was van die sukses laasjaar by die skool.
Sien elkeen se goue raad hier onder.
Juffrou Wilcocks: Vir gr 12’s om hulle uitslae te verbeter kan hulle ou NSS- (Nasionale Senior Sertifikaat-) vraestelle uitwerk in vakke wat hulp benodig, asook gereelde studie van elke dag se werk namiddag weer deur te gaan, al lees hul dit net deur. Syfervakke is oefen, oefen, oefen. Tale is lees, lees, lees.
Juffrou September: Indien jy in die eksamen swakker gevaar het of gedruip het, kan dit dalk wees omdat jy:
– te min tyd gehad het om jouself voor te berei
– jouself onder onnodige druk geplaas het deur assesseringstake laat in te dien
– vrae verkeerd gelees of geïnterpreteer het.
Of dalk was jou houding negatief teenoor die eksamen.
Probeer gerus lank voor die tyd leer – vat elke dag se werk en gaan dit na.
Werk ou vraestelle uit om te sien hoe vrae gevra word asook hoe om dit te beantwoord.
Mnr Klaaste, Loeriesfontein Hoërskool se hoof: Leerders moet in elke vak deeglik voorberei. Bly gefokus, bly weg van oormaat sosiale-media-platforms. Volg jou studierooster streng na vir September- en November-eksamens. Maak gebruik van video’s en ander ondersteuningshulpbronne vir die finale eksamen.
Is dit nie nou ’n bietjie laat vir raad oor gesond eet, genoeg slaap, oefening, en hard voorberei nie? Wanneer is dit te laat – wanneer moet mens net opgee?
Nee, dis nooit te laat nie. Die brein kan homself van 0%- na 100%-breinfiksheid neem binne ses weke as ’n leerder en sy ouers daarop fokus. Daar is dus altyd genade beskikbaar om ’n daadwerklike ommeswaai te maak.
........
Nee, dis nooit te laat nie. Die brein kan homself van 0%- na 100%-breinfiksheid neem binne ses weke as ’n leerder en sy ouers daarop fokus. Daar is dus altyd genade beskikbaar om ’n daadwerklike ommeswaai te maak.
........
So hou goeie moed, moenie agtertoe kyk nie en pak die bul by die horings om vandag ’n nuwe blad om te slaan.
Ek weet van leerders wat in Junie-eksamens gedruip het in vakke soos wiskunde en ander leervakke en die einde van die jaar met ’n 70%-slaagsyfer weggestap het. Hulle het eenvoudig besluit die druippunt is net ’n wekker wat hul wakkergemaak het om die erns van die saak te besef.
Dit is ook bekend dat Junie altyd ’n moeiliker eksamen is as jaareind, eenvoudig omdat leerlinge onkant gevang word deur die stres en druk van die eksamenrooster.
Solank die leerder nie die resultaat as ’n persoonlike einde van die pad beskou nie, maar as ’n aanduiding van waar meer aandag nodig is en hul samewerking gee, kan berge versit word.
’n Laaste vraag: Hoekom al die moeite? As jy vir enige kind of ouer wil motiveer of dalk ’n rede gee om aan te hou en nie op te gee nie, hoekom, sou jy sê, is dit die moeite werd? Is daar nog geleenthede in die land? Wat gee jou nog hoop?
Fokus jou hoop op jou lewende Skepper wat almagtig is en nooit die werke van Sy liefdevolle hande laat vaar nie.
Daar is so baie geleenthede, maar ’n mens is dikwels net in ’n lugblasie vasgevang en kyk vas teen ander se mislukte pogings en jou eie gebrek aan kontakte. Die land is honger vir flukse, leergierige jongmense wat hul vermoëns met toewyding wil opbou en demonstreer. Ek sê altyd in Engels: "Have grit and grow your ability, and find new possibilities open up."
As ons hande vat en vir mekaar deure oopmaak, kan niks ons jongmense weerhou van ’n blink toekoms nie. Ek is deel van ’n gebedsgroepie wat daagliks bid vir ons jongmense om hoopvol te wees en op te daag wanneer daar kans is om vaardigheid verder te bou. Ek soek ook aktief vir geleenthede, veral in die ambagsvelde, vir ons jongmense wat slim is met hul hand en kop.
Ons het nou ’n suksesstorie van 14 jongmense in Loeriesfontein wat graag verder wou studeer en wie se akademie versteur was deur baie persoonlike uitdagings, wat opgeraap is vir ’n ambagstudiegeleentheid, eenvoudig omdat hulle opgedaag het, gefokus het en bereid was om hard te werk. Dis nooit te laat nie, maar wat ’n mens glo kan jou daarvan weerhou om geleenthede te sien of te benut.
Laastens: Balans bly belangrik in ’n tyd van groot druk soos tans.

Prent: Canva
Opdaag en hard werk, ja, maar ook die regte tyd slaap (byvoorbeeld tussen 10 saans en 4 in die oggend); en om vir kort poses van 10 tot 15 minute te rus voor jy aanstoot tussen vakke, is belangrik. Slim beweging, byvoorbeeld gereeld opstaan en stap, ’n bal gooi/skop, is waardevol vir die brein om te help met vaslegging en kennis herroep. Werk saam met al jou sintuie om kennis in te neem. Bring jou kant.
– Herhaling van kennis en hardop herhaal is veral belangrik vir ’n leerder wat graag luister om te verstaan en onthou. Indien daar lawaai is of harde klanktoestelle, byvoorbeeld ’n TV wat aan is, sit oorfone aan en beperk frustrasie.
– Notas deurlees en onderstreep is veral belangrik vir ’n leerder wat graag wil verstaan en onthou.
– Gereeld beweeg, strekoefeninge en diep asemhaal is weer belangrik vir die leerder wat leer deur beweging.
– Ruik aan ’n suurlemoen se skil – dit verbeter konsentrasie binne.
En natuurlik: Beperk TV en sosiale media vir die paar weke. ’n Foon wat elke paar minute ’n vriend se boodskap wys, maak dat leerders nie kan konsentreer nie. Sê vir maats dat jy net sekere tye op jou foon is en die res van die tyd kan jy sonder onderbreking fokus.
........
En natuurlik: Beperk TV en sosiale media vir die paar weke. ’n Foon wat elke paar minute ’n vriend se boodskap wys, maak dat leerders nie kan konsentreer nie. Sê vir maats dat jy net sekere tye op jou foon is en die res van die tyd kan jy sonder onderbreking fokus.
..........
Elke ouer kan hande vat met sy kind en met behulp van wyse raad die groot, lang boot veilig inbring na die hawe aan die einde van ’n lang skoolloopbaan. Daar is soms benoude oomblikke tydens die proses, maar niks wat ’n skietgebedjie, nuwe krag en opnuut probeer nie kan baasraak nie.
Lees ook:
Loeriesfontein hou ’n skole-expo en skep geleenthede: ’n onderhoud
Matriekuitslae in Loeriesfontein: Sonja Squires deel ’n verhaal van hoop

