Sonja Squires woon in Suid-Afrika. Sy het gekies om nie net die ellende rondom haar raak te sien nie, maar ook iets daadwerkliks te doen. Sy vertel vir Naomi Meyer die storie van die Hantam.
Hallo Sonja, jy woon in ’n omgewing waar mense een maal ’n jaar vleisfees hou (is mos?), maar waar ’n groot deel van die gemeenskap in absolute ellende verkeer. Vertel bietjie vir ons lesers van die Hantam.
Hallo Naomi, ja, die Hantam is Vleisfeeswêreld. Jaarliks, elke laaste naweek van die winter, in Augustus, vind die alombekende en genotvolle Vleisfees plaas en besoek mense van heinde en verre. Dan word die kontrei se kosse en vleise (veral natuurlik die Hantam-lam in al sy verskeidenheid, asook wildsvleis) op smullekker maniere aan die publiek opgedis. Dis voorwaar ’n geleentheid om minstens een maal in ’n leeftyd te ervaar.
Dis ook die plek van groot rykdom vir ’n kieskeurige siel. C Louis Leipoldt het geskryf:
’n Handvol gruis uit die Hantam –
My liewe, lekker Hantam-wyk.
’n Handvol gruis en gedroogde blare,
Waboom-blare, ghnarrabos-blare!
Arm was ek gister, en nou is ek ryk ...
Die sensusopname dui aan dat die Noord-Kaap 30% van Suid-Afrika se grondoppervlakte beslaan, waarvan die Hantam-streek ’n redelike deel is, maar net sowat 2% van die land se bevolking huisves. Dit is dus ’n uitgestrekte semiwoestyn, vetplantwêreld waar skaapboerdery die hoofbron van inkomste is vir die wat hier woon.
Hier is die hemel groot, skroei die son in die somer en is niks meer kosbaar as reën op sy tyd nie. Die mense se harte is oop, opreg, en hulle het die Here hartstogtelik lief. Afrikaans is die voertaal hier wat groot digters en skrywers/skryfsters opgelewer het, soos Anna M Louw, Charles Fryer (’n kleinneef van my pa) en C Louis Leipoldt.
Ek vra jou oor jou omgewing, maar eintlik woon die meeste van ons in hierdie land in sulke omgewings. Hier in Stellenbosch is die opperste rykdom en die grootste armoede. Wanneer het jy dit alles begin raaksien – en besluit jy wil iets daaromtrent doen?
Ek het nog altyd ’n broertjie dood aan onkunde wat mens skade aandoen wanneer jy moet besluite neem. Daarmee saam het ek sedert my kinderdae hierdie onversadigbare honger om te verstaan hoe mense aanmekaar gesit is in hul wese, en hulle dan te help om goeie keuses en besluite te maak.
Nou dis makliker gesê as gedaan, en so moes ek ook uitvind toe ek self swak besluite geneem het in my lewe en nie kon verstaan hoekom nie. Deur die jare het die drade vir my bymekaar gekom uit verskeie dissiplines en baie mense het oor my pad gekom wat elk iets kon bydra tot die benadering wat ek vandag het. Neurowetenskap is eenvoudig deel van akkurate antwoorde en bemagtiging van die mens om sy roeping te vind en uit te leef.
In 2010 is ek gevra om vir ’n paar maande ’n niewinsgewende program vir MIV-pasiënte te bestuur in die groter Tshwane-area en daar het sowat 250 (veral moeders en kindertjies) daagliks, en 10 000 maandeliks, deur ons hande gegaan in ’n fisiese ondersteuningsprogram.
Dit het my hart gebreek om basies brood en tee te gee en niks meer te kan doen om hul omstandighede verder te raak nie. Dis toe dat ek weer met dr Andre Vermeulen kontak maak en hy voorstel ek doen self die opleiding van Neurolink om my visie te implementeer. In 2011 het ek ’n projek by die eerste skool geborg gekry deur Unisa en waardevolle resultate gekry wat ons einde November 2011 op ’n internasionale “Research and Community Development”-simposium in Oos-Londen aangebied het. En so het die toepassing begin vorm aanneem en ontwikkel in ’n program wat eintlik wêreldwyd relevant kan wees, maar veral vir ons in ’n diverse Suid-Afrika, ’n land waar ons enigste gemene deler ons breine se potensiaal is. In 2012 het ons tersiêre instellings gekry wat ons begin ondersteun het met korporatiewe werk en so kan ons dan ook gemeenskapswerk aanpak met van ons inkomste daaruit.
Ons het einde 2012 na die Hantam verhuis uit Gauteng nadat ons besluit het om my bejaarde vader te ondersteun. Hy is ’n afgetrede landdros, heeltemal doof en bly stoksiel alleen hier in sy huisie op die dorp. My moeder is al 11 jaar oorlede en hy wil nie by die kinders gaan bly nie, wat ons kan verstaan. Onafhanklikheid is en bly ’n belangrike bestanddeel van gesondheid tot die einde van ons dae hier op aarde. So toe sit ek en my man koppe bymekaar, bid en aanvaar dan moet ons trek, siende dat ons in elk geval uit die aard van ons werk enige plek in die land werk en dikwels reis. Wel, dit was die beste besluit ooit.
Hier aangeland, het ons onmiddellik besef die speelveld is baie anders as in die stede – dis platteland en die eenvoud van mense se bestaan was verfrissend anders. Ek kon onmiddellik sien dat dit wat ek doen, universeel kan waarde toevoeg, ook tot hierdie gemeenskap. Die enigste verskil was dat hier ’n disproporsionele verskil tussen arm en ryk is – vir die 100 mense wat ’n inkomste bo R8 000 per maand verdien, is hier 3 000 of meer wat van SASSA-toelae leef, en die res is kinders wat afhanklik is van hierdie baie benarde inkomsteprofiel.
En so het ’n interessante ontdekkingstog begin om te kyk waar ons kennis en talente volgens ons vaardigheid ’n verskil kan maak vir ander. Ek het myself begin voorstel en aangebied om uit te help waar mense vasbrand mits ek beskikbaar is. So het die plaaslike radiostasie, Kaboesna, my genooi om in te staan vir omroepers wat siek is en ook gereeld te kom uitsaai. So het ek gehelp met laerskoolatletiek as verspringbaanbeampte, ens. Alles wonderlike geleenthede om verhoudings te bou en mense se hart te begin verstaan.
En so het die behoeftes van die verskeie sektore in die Hantam-gemeenskap begin kristalliseer. Via die leierskap van die plaaslike biblioteek het ons verlede jaar ongeveer 300 kinders van ouderdomme 5 tot 9 toegerus met basiese kennis rondom hulle brein, dié se werking en hoe om breinfiksheid te bewerkstellig. Een van die plaaslike hoërskole het my ingetrek om met hul matrieks te werk en hul toe te rus vir die eindeksamen, en hul het in 2013 ’n 100%-slaagsyfer gekry. Die een laerskool het my gevra om hul graad 5’s en hul onderwysers toe te rus, en so gaan dit aan. Ek werk deesdae net waar ek gevra word, want ek het al die pot baie misgesit wanneer ek aanbied om te help. Mense wat vasbrand, beleef dit as voorbarig en aanmatigend van ons om te dink hulle benodig ons hulp. Hulle is bang dit gaan uiteindelik met onredelike eise gepaard wat hul eiewaarde gaan ondermyn en selfstandigheid gaan wegneem.
Vertel asseblief vir ons lesers iets van jou agtergrond.
Ek is ma van vyf dogters, van wie die oudste in die winter in Grabouw trou en die jongste op nasionale stemdag vanjaar 10 geword het. My man, Richard, is Brits en ’n rekenmeester-ingenieur. Ek self het nagraads gekwalifiseer in bedryfsielkunde en bestuur by Tukkies en Unisa onderskeidelik in die vroeë negentigerjare en 15 jaar korporatief gewerk as veranderingsadviseur vir ’n groot parastaatsorganisasie en later as hoof van nasionale bemarking en menslike hulpbronne vir een van die groot vyf banke. My grootste frustrasie was altyd die kwynende motivering na ’n paar maande en ondergemiddelde produktiwiteit by selfs van ons top kandidate vir poste en die uiteindelike swak aanpassing by veranderende organisasiebehoeftes. Dit het my gelei op ’n soektog waarin ek begin besef het dat die meeste mense nie lewens- en beroepskeuses maak volgens hul gawes en talente nie, en ook nie eens weet wat dit is nie. Hulle probeer sin in die lewe vind deur materiële vooruitgang, terwyl geen geld dit ooit kan koop nie, en die meeste mense nooit werklik finansieel vry word nie. Almal leef dus met ’n groot mate van sinloosheid, omdat hul nie hul eie unieke ontwerp verstaan of daarvolgens keuses maak nie. En dan lei dit tot swak keuses en slegte gevolge vir hul lewens.
En so het my eie lewensvisie duidelik begin word: ek wil mense van alle ouderdomme en sosiale stand kan help om hulself beter te verstaan en te waardeer sodat hulle dan goeie besluite kan neem wat tot sin en sukses lei. Vandag is ek al 15 jaar weg uit die korporatiewe opset, maar ek doen juis nou meer werk as ooit tevore in daardie speelveld. Ek spandeer ongeveer 40% van my werksure-tyd aan skoolgemeenskappe en niewinsgewende organisasies, waar ek hierdie selfde kennis inploeg om hulle te bemagtig. My man is my ruggraat in die projekte wat ek doen en sy en my kinders se ondersteuning maak dit moontlik om voluit te hardloop.
Ek hou van lees, skryf, uitsaai op radio en TV en die natuur bewonder. Ek hou van vreemde mense ontmoet en luister na hul verhaal. Ek hou van probleme oplos en planne maak, maar veral implementeer met sukses. Ek is baie lief vir Jesus en spandeer graag stiltetyd met die Here.
En van Rise and Excel? Hoe werk dit prakties?
Rise and Excel is ’n interdissiplinêre ontwikkelingsprogram wat ek sedert 2010 begin saamstel het uit strategiese projekte nadat ek begin besef het hoe groot die behoefte aan selfkennis en -bestuur is in ’n wêreld vol aanvegtinge wat stres skep en swak besluite veroorsaak.
Die naam Rise and Excel het ontstaan nadat ons die Harrier JumpJet-vegvliegtuig as ’n kenmerkende simbool van die program gekies het. Dié vegvliegtuig is sedert 1969 in gebruik in Brittanje, en is veral geskik waar daar nie ’n aanloopbaan is nie en waar daar blitsig vertikaal opgestyg moet kan word. Veral op see en in oerwoude is die vegvliegtuig se vernuftige vermoëns nuttig. Die vliegtuig dra baie brandstof, vlieg ver en gewoonlik is daar net een persoon in die kajuit – die vlieënier.
Net so het elkeen van ons net een aan die stuur van sy brein – ons self – en kan ons nie opstyg en vlieg in ongure toestande as ons nie unieke vaardighede ontwikkel nie. Vandag bevind baie van ons mense hulle in ’n oorlog om oorlewing. Hul beskik selde oor die luukse van ’n aanloopbaan (ondersteuningsgroep) om hulle te help om op te styg in die lewe. Dus kan hulle nie opstyg en hul drome najaag as hulle nie leer om hul enjin en ontwerp (breinbedrading) so aan te wend dat hul sonder tradisionele ondersteuning nog steeds kan vlieg nie. Ons program help hulle om hul eie unieke bedrading neurologies te verstaan, te waardeer en te benut in leer, kommunikeer en besluite maak.
Gewoonlik kontak ’n leier van ’n welsynsorganisasie, skool of besigheid of ’n ouer my met ’n behoefte. Ons ondersoek dan wie is die teikengroep of individu. In ’n skoolgemeenskap is dit ’n spesifieke graad se leerders, die skoolbestuur, leerkragte en ouers wat as ’n opvoedkundige gemeenskap hul akademiese resultate wil verbeter. Ek beweeg dan verkennend in om ’n akkurate behoeftebepaling te doen en die verwagtings uit te klaar. Indien ons tot ’n samewerkingsooreenkoms kan kom, doen ek ’n voormeting met leerders en onderwysers om die gaping te bepaal en areas vir ingryping uit te lig. Daarvoor gebruik ek Neurolink-tegnologie en daaruit kan ons aksieplanne saamstel wat binne ses weke resultate kan lewer.

https://neurolink.company/
Rise and Excel vra betrokkenheid van minstens drie groepe: ouers, leerders en onderwysers, en indien moontlik ook ’n vierde, naamlik belangstellendes uit die sakesektor en breër publiek vir allerlei ondersteuning in ingrepe. Die tydraam vir implementering hang af van beskikbaarheid van betrokkenes en middele. Dit sluit ook in die identifisering en verkryging van borge.
Aan die einde van die implementering van die individuele en groepsplanne doen ons ’n na-meting en kyk ook na jongste akademiese resultate om te bepaal hoeveel verbetering daar was. Die leerders verkry keer op keer kennis wat vir altyd deel van hulle gaan wees en hul in hul akademiese en werksomgewing gaan bystaan om ingeligte keuses te maak en produktief te wees volgens hul eie unieke bedrading. Die ouers en leerkragte word bemagtig met kennis van hul leerders en kinders wat die interaksie in die klas en tuis verbeter, aangesien misverstande minder plaasvind en hul die leerders nou akademies meer akkuraat kan ondersteun.
Wie is reeds by hierdie projek betrokke – en wie word hierdeur geraak?
Die Hantam Hoërskool-projek word gedoen in ’n plaaslike hoërskool waar ongeveer 750 leerders van agtergeblewe omstandighede skoolgaan. Hul kry feitlik geen ondersteuning vanuit die sakesektor en andere areas nie, en maak staat op die regering vir enige ondersteuning. Dié het ons egter verseker dat hul R160 miljoen in die rooi was verlede jaar en nie sal kan bydra nie. Tans beloop die skoolfonds R450 per jaar en die meeste ouers is gesubsidieer om net R200 daarvan te betaal.
Hierdie hoërskool het ons genader om hulle graad 12’s hierdie jaar by te staan met ’n breingebaseerde voedings- en leerproses ten einde te strewe vir ’n 100%-slaagsyfer. Tans sit hulle op 82% en hul is al vir ’n paar jaar op daardie plek dat hulle net nie kan deurbreek nie.

Prent: verskaf
In hierdie program het ons reeds 68 leerders en agt onderwysers (insluitend die skoolbestuurder) deur ’n aanvanklike metingsproses geneem en terugvoer gegee. Die res van die aksieplanne behels nou die SMARDIES-aktiwiteite binne die Rise and Excel-program, wat fokus op verbetering van breinvoeding deur aanvullings en slim mikrobewegings en oefeninge. Die program het reeds 3 Februarie afgeskop en eindig net voor die eindeksamen in Oktober begin. Die SMARDIES-voedingsfaset is spesifiek belangrik voor die eksamens, en dan gedurende die eksamen self, omdat soveel leerders baie swak gemeet het in dié spesifieke faset en daar ’n sterk korrelasie met baie swak geheue en konsentrasievaardighede in hul leervaardighede-metings was.
Die teikengroep van 68 matrikulante se ouderdomme wissel tussen 17 en 22. Alhoewel die ouers en onderwysers deur die bewusmaking- en meetproses gaan, is hul nie deel van die verbeterde voedingsproses nie. Dis direk van toepassing op die kinders self.
Die koste van die totale projek beloop R188 662. Die voedingskomponent en beweging beloop R119 772 daarvan. Slim keuses rondom metingsinstrumente en my hoogs gesubsidieerde verskaffing van konsultasietyd het ons kostes reeds met oor die R100 000 afgebring, sodat ons lê op altesaam R188 662 – nie sleg vir ’n loodsprojek met 68 matrikulante nie.
Ons groot uitdaging is egter die befondsing van aanvullendevoedingsaspekte, water en superkosse aan die leerders wat gesondheid, konsentrasie en geheue bevorder, aangesien dit nie bekostigbaar is vir ons mense nie en die konsep vreemd val op die ore van baie wat dink dat die voedselwaarde van produkte dieselfde as 30 jaar gelede is. Veral relevante voedingsaanvullings is nou nodig, naamlik glukonutriënte, omega 3- kosse, neute, vissmeer, heuning, eiers en skoon, gesonde water.
Ek het reeds ’n plaasboer, ’n ingenieur, ’n gewese suster, ’n maatskaplike werkster, ’n topbestuurder in ’n myngroep en twee entrepreneurs van Pretoria betrokke wat eenmalig of herhaaldelik deur afslag en produkte reeds ’n verskil maak. Een vrou het 40 eiers geborg. ’n Boer het R750 vir ons drukkoste van die metingsresultate gegee. Nog ’n vrou het goedgunstiglik vir my glasbotteltjies vir heuning geskenk. Die skool self wil graag R1 200 per kwartaal insamel om ook ’n bydrae te maak – dit beloop R20 per matriek-ouer. Ons waardeer dit opreg.
Die res van die kostes dra ek en my man tot dusver self, maar ons sal dit opreg waardeer as dit ’n nasionale spanpoging kan word wat kan bewys dat daar dieper antwoorde geredelik beskikbaar is rondom die akademiese uitdaging in ons land.
Gaan dit net oor kos? As mens aan Maslow dink, is dit duidelik dat mense hul aandag beter op hul studies kan toespits as hulle nie heeltyd honger is en wonder wanneer hul iets kan eet nie. Maar mens kan nie net goed eet en dan verwag jy gaan jou standerd slaag nie, of hoe? Maak jul projek voorsiening vir meer as voeding alleen?
Ja, alhoewel vervulling van laer-orde-behoeftes vroeër jare gesien is as ’n voorvereiste vir hoër-orde-behoeftes se ontstaan, vind ons deesdae in die eeu van tegnologie dat hulle dikwels geïntegreerd staan tot mekaar, omdat daar soveel inligting geredelik beskikbaar is om mense tot verdere ontwikkeling te stimuleer.
In ons meting kyk ons na ses faktore, volgens Neurolink se ontwikkelingstegnologie, wat leerontvanklikheid (leergereedheid) beïnvloed, en ons meet al ses by elke kind. Op grond van die resultate kan ons dan bepaal waar die meeste ingryping benodig word, gelyktydig eerder as sekwensieel. Voeding, water en aanvullings is wel een van die ses faktore, maar by verre die duurste om te implementeer in armer gemeenskappe, omdat dit direk verband hou met die sosiaal-ekonomiese onvermoë van die gemeenskap om lewensvatbaar te funksioneer.
’n Vorige loodsprojek by ’n Pretoriase hoërskool in samewerking met ’n tersiêre instansie as borg, het aan my getoon dat al doen ons vyf uit die ses faktore reg by elke leerder, maar ons laat voedingsaanvullings agterweë, dan sal die leerder nie volhoubaar verbeter in sy skoolwerk nie. Dis revolusionêr. Dus is om goed te eet op sigself nie goed genoeg nie – natuurlik is die ander vyf faktore ook belangrik – maar sonder voeding kan breinprestasie nie standhoudend verbeter nie.
Veral in individuele projekte waar die ouers wel oor al die middele beskik om kinders te help om aanpassings te maak en ingrepe te implementeer, is voedselaanpassings nie moeilik om te maak nie. Al wat die kinders dikwels benodig, is kennis om die regte besluite en aanpassings te maak. Ongelukkig gaan goed eet ook nie meer oor hoeveel jy eet nie, maar oor of jy genoeg glukonutriënte inkry in hierdie era en genoegsame, gesonde water drink.
Daar is ’n baie goeie YouTube-video van 13 minute wat dit glashelder verduidelik: “Sweet language of Life – Glyconutrients”.
In die sewentigerjare kon jy een appel eet en jou nodige glukonutriënte inkry; in 1997 moes jy 53 appels eet om dieselfde voeding in te kry. Ons staan dus op die rand van ’n voedingskrisis en aanvullings is eintlik noodsaaklik.
Dit verklaar eintlik waar baie van leerders se gebrekkige konsentrasie, swak geheue, gemoedskommelinge, depressie en swak besluite op sosiale gebied vandaan kom. Voeding het ’n direkte impak op die vervaardiging van neurosenders en gevolglike elektrochemiese aktiwiteit in die brein, aldus dr Eric Braverman van New York.
Jou lewensbesluite word geïmpakteer deur wat jy eet. Baie kinders kry uiters 2 van die 8 noodsaaklike glukonutriënte in. Hul het ’n wesenlike agterstand in die daarstel van volhoubare akademiese prestasie.
Voeding in skole is prysenswaardig. Ook op universiteit is daar verhale van studente wat befondsing kry vir studie, maar sonder kos moet klaarkom, omdat hulle boeke moet koop. Hoe kan mens hierdie projek volhoubaar maak – dat mense na hulself kan omsien, ook later?
Wanneer die brein nie die nodige hulp en ondersteuning kry nie, is hy ’n aaklige baas in tye van spanning, in stede van ’n hulpvaardige dienaar. Dis amper soos ’n sportkar wat op ’n leë petroltenk moet ry en sonder olie of water – die enjin gaan aanbrand en die kar oorverhit en loop staan langs die langpad. Net so lei gebrekkige breinbestuur tot ontwrigtende emosies en ’n oordrewe oorlewingsfokus ten koste van andere. Onderwysers kan terdeë daarvan getuig waar ouers die kinders met ’n suigstokkie in die mond skool toe stuur vroegoggend sonder enige ordentlike voeding. Dit beteken dus meer blindekol-aksies en slegte gevolge wat moet uitbestuur word deur die persoon sowel as sy sosiale omgewing. Ek noem dit onproduktiewe pyn en ’n onnodige rimpeleffek. Ons het baie daarvan in ons land.
Daarteenoor lei geheelbreindenke tot behoorlike besluite en voorspoed. Dis egter die gevolg van goeie spanningbestuur, en onder andere ook voldoende voeding.
Deur mense oor ’n kort periode met akkurate selfkennis en vaardighede te bemagtig om reg te kies sodat hulle kan leer en presteer volgens hul eie unieke bedrading, beroof jy hulle nie van hul onafhanklike geaardheid nie, maar handel jy met leuens oor hul eiewaarde. Die kennis en insig voorkom dat hulle ooit weer terug gaan na die dieptes van wanhoop waar hulle al gedraai het sonder begrip van hoe om hulself positief te handhaaf midde aanvegtinge.
Die meting sluit ook kennis rondom jou eie unieke gawes en talente in en dit bou begrip en waardering vir self, sodat beter-ingeligte keuses gemaak kan word. Dit alles is deel van bemagtiging sodat jou voet op die regte pad geplaas word en jou kop in die rigting van sukses kan draai. Nou is minder foute moontlik midde beperkte bronne en tyd vir die meeste jong aspiranttoetreders tot die ekonomie.
Dit gee jou ’n kompeterende voordeel bo ander wat aansoek doen om dieselfde werk of studiegeleenthede. Dit skep in jou die vermoë om anderkant die gemiddelde denkproses te dink, om anderkant die gewone alternatiewe te skep en kreatief te wees waar ander tou opgooi. Wie wil nie so ’n werker in diens hê nie?
Wag ’n bietjie. Ek vra hierdie vraag vanuit ’n hoëmiddelklas-omstandigheid: Ek het van kleins af ’n ondersteuningsnetwerk – hierdie gemeenskap waarvan jy praat, het dit nie. Hoe help goeie voeding by die skool die kinders nou as hulle teruggaan huis toe? Hulle is tog nie heeldag by die skool nie?
Genoegsame aanvulling in een van die maaltye per dag sal ver gaan om die brein se behoeftes aan te spreek.
Die meeste van ons kinders is in die dorp in die koshuis en kry dus daagliks drie basiese etes wat deur die staat se voedingskema geborg word; die res wat huis toe gaan, kry een maaltyd by die skool. Dis egter steeds onvoldoende vir die brein se eise. Die aanvullings, water en spesifieke superkosse wat ons benodig, is wel voldoende om die brein te buffer teen stres en maklik deur te dra tydens huiswerk en leersessies per dag.
“Om mense te help.” Dis ’n fantastiese ideaal – en tog is dit so kompleks in ’n land waar dit dikwels as meerderwaardig beleef word. Sekere rolle word in stand gehou: die een wat ophef, en diegene wat opgehef moet word. Hoe verbreek mens dáárdie idees?
Ons moet leer om nuut na onsself en andere te kyk. Ons almal het onbeantwoorde behoeftes – dit is wat ons gemeen het; party s’n is net meer sigbaar en ooglopend as ander s’n. ’n Materialistiese samelewing probeer dit kategoriseer op grond van sosiale klas en wat jy het, maar ons almal weet dit gaan oor meer.
Ons almal het mag, maar swaarkry erodeer ons vertroue in ons vermoë om ons mag op ’n edel manier te gebruik om uitdagings die hoof te bied. Onkunde maak dit soveel erger.
Aanhoudende swaarkry kan ons vertroue in ons vermoëns sodanig kwets dat ons begin glo dat ons maar ja moet sê wanneer verkeerde voorstelle na ons kant kom, net sodat ons kan oorleef, en die vrees dat ons uitgelewer is aan ander se genade kan ons noop om desperate dinge aan te vang aan onsself en ander. Dis so onnodig om sonder kennis en sonder aksieplanne deur die lewe te gaan. Ons leef juis in die inligtingsera – hoekom nie by onsself begin nie?
Ek werk met die rykstes en armstes in ons land. Beide groepe sukkel sonder die vrymakende waarheid van hoe hulle uniek bedraad is, om hulself te vind en sinvol te leef en te laat leef. Wanneer ons egter meer leer van onsself en ons bedrading waarmee ons toegerus is om uitdagings en aanvegtinge die hoof te bied, verdwyn vrees, bou dit menswaardigheid en herstel dit hoop en waardering vir jou eie vermoë om die uitdaging van nou aan te pak en te oorwin. Wanneer jy jouself verstaan, begin selfaanvaarding moontlik word. Dan word selfbestuur ’n werkbare opsie en beïnvloed dit al jou verhoudings. Wanneer verhoudings verbeter, verbeter moontlikhede van voorspoed.
Iyanla Vanzant van Oprah Winfrey-faam het gesê geen mens kan anderkant hul selfwaarde presteer nie. Onkunde oor jou selfwaarde lei tot swak besluite en slegte gewoontes. Dus moet ons onkunde op ’n geloofwaardige wyse uit die pad haal, en wat beter om dit mee te doen as deur leerontwikkelingstegnologie met neurowetenskap as fondament?
Geen volhoubare antwoord vir sosiale hervorming kan gelewer word sonder dat ons binne onsself kyk en sien wat daar is waarmee ons die uitdagings en krisisse die hoof kan bied nie. Dis wat ons program doen – dit help jou verstaan wat jy het om mee te werk en help jou glo dat dit genoeg is om mee voorspoedig te word, mits jy dit vat en met dit woeker.
Spanning is egter ’n groot vyand van die brein se prestasie en wanneer ons mense toerus, kyk ons veral na hoe hulle reageer in spanning en waar hulle kwesbare areas vir swak besluite lê. Met die nodige bewusmaking en eenvoudige stappe vir weerbaarheid voorkom dit ’n gevoel van oorweldiging en impulsiewe of ondeurdagte besluite
Is daar ’n suksesstorie om op hierdie stadium te vertel, of is dit te gulsig om nou reeds so iets te verwag?
Die Hantam Hoërskool se projek het so pas afgeskop (in Februarie). Sedertdien het ons wel al ’n dramatiese houdingsverandering begin bespeur by beide leerders en leerkragte. Hoop is besig om op te staan in die harte van almal en ek glo dan is alles moontlik. Dit is deel van die skuif in ingesteldheid, wat weer die elektrochemiese aktiwiteit in die brein beïnvloed. Henry Ford het gesê: “Whether you think you can or you can’t, you are right.” Ons leerders glo nou hulle kan. Ek weet egter dat meer nodig is, en kan nie self al die ingrypings borg nie – dus het ons die begroting beskikbaar gestel sodat dit wat nog uitstaande is in terme van aanvullings, gesonde water en superkosse en ander uitgawes gedelg kan word. Dan kan die Junie-eksamen maar kom. Ons sien kans daarvoor en die land kan ons maar dophou.
In my ander projekte die afgelope vier jaar is dit nie ongewoon om leerders van een eksamen na ’n volgende met 8% tot 17% te sien verbeter in die geheel nie. Ek het heelwat individuele gevalle waar ouers wonderlike verhale vertel van hul kinders se verbeterings akademies, en dis volhoubaar. In een geval onlangs moes ’n student van Stellenbosch-universiteit ’n hereksamen gaan skryf. Nadat ons in Desember 2013 deur die proses van meet, terugvoer en aksies is, het hy 67% gekry in sy hereksamen en onlangs het hy toe sommer tweede in sy klas gestaan met een van sy vakke se uitslae in die eerste toetsreeks. Merkwaardig vir ’n jongman wat wou opskop oor hy een vak nie kon deurkom met ’n eerste poging nie.
Wat kan enige leser wat hier lees en wil betrokke raak, dóén?
Vra jouself: Wil jy as individu of as ’n maatskappy ons direk deur ’n eenmalige bydrae ondersteun, of vir die duur van die projek ondersteun tot en met November, wanneer die eindeksamen begin? Dis ’n 6-maande-verbintenis tot ondersteuning.
Lesers kan ons kontak per e-pos of sms en hul besonderhede gee sodat ons aan hulle ’n lys van die behoeftes deur kan gee, soos LitNet reeds ontvang het.
Hul kan óf die aanvullingsprodukte aanskaf en aan ons pos, óf aan ons ’n bedrag skenk wat die produkte se aankoop moontlik maak, of ander kostes se delging.
Ons het ondersteuning van Mannatech as verskaffer van glukonutriëntaanvullings en hulle verskeep dit ook vir ons landswyd. Hulle bied ook geleentheid vir diegene wat belangstel om ’n besigheid te bou uit die verskaffing van produkte in hul eie vriendekring.
Indien jy as ’n maatskappye wil betrokke wees en wil baat vind sonder om ’n skenking te doen, kan jy vir ons die geleentheid gee om jou topbestuurspan deur ’n een-dag- ontwikkelingsintervensie te neem wat hul selfkennisvlakke sal verhoog en akkurate selfbestuur sal verbeter. Ons dra dan 10% van ons inkomste uit jul werk by vir die projek in die Hantam.
Ek het ’n droom dat Suid-Afrika se skoolkinders as leiers sal opstaan wat hulself akkuraat ken en bestuur, want dan sal hul nooit ooit die foute maak wat hul voorsate gemaak het omdat hul hulself nie verstaan het nie.
Ek haal aan wat George Gordon Byron gesê het in “The Dream”:
Drome het ook asem en trane en marteling,
en die aanraking van blydskap;
hulle lê swaar op ons gedagtes later,
maar maak ons arbeid ook wel ligter;
hulle verdeel ons aandag, word deel van ons,
soos die tyd self, en doen hul voor
as boodskappers van die ewigheid.Tensy anders genoem, is alle foto's verskaf.
Kommentaar
Geagte Sonja, dit was vir my 'n voorreg om hierdie artikel te lees. Mens besef net weer eens hoe nodig die gemeenskap mense het soos jy. Dankie vir die voorbeeld wat jy stel en dankie vir die kennis wat jy met ons gedeel het. Seënwense op jou werk.
Groetnis
Yvonne Esterhuyse
Dit is so belangrik om so'n holistiese benadering te hê op ontwikkeling, veral vir skoolleerders. Selfs in my studies besef ek weer die waarde en kernrol wat voeding het op die brein en algehele funksionering van mens se emosionele en kognitiewe vermoëns.