
Foto van Sonja Squires: verskaf; agtergrondfoto: Neuro-link
Sonja Squires praat met Naomi Meyer oor hoe ’n program waarby sy betrokke is honger skoolkinders se skoolprestasies verbeter het. ’n Tyd van afsluiting noodsaak bestekopname – en ’n visie vir die toekoms. Lees ook Sonja se wenke vir die nuwe skooljaar teen die einde van die onderhoud.
Sonja, ons het omtrent tien jaar gelede laas met mekaar gepraat. Ons gesprek het gegaan oor ’n voedingsprojek in Noord-Kaap. Ek verwys lesers terug na die gesprek hier. Wat het die afgelope tyd in Noord-Kaap gebeur, as jy oor veranderinge in die omgewing kan praat?
Peter Drucker, ’n besigheidsguru in die tagtigerjare in die VSA, het gesê daar kom ’n tyd dat wanneer ons na vyf jaar nog in dieselfde besigheid is as tevore, ons uit besigheid sal wees. Bedoelende dat ons veranderings moet gebruik om ons besigheid voortdurend te vernuwe, en ek glo dis wat jou vraag ook suggereer. Dis vandag meer waar as ooit.
In Noord-Kaap veral het drie groot veranderinge plaasgevind wat almal genoop het om aan te pas. Eerstens het ’n grootskaalse droogte mense bewus gemaak dat hulle mekaar nodig het om te oorleef en weer op te staan. Die uitmergelende droogte het wel finaal gebreek in 2022 met lankverwagte, wydverspreide en langdurige reëns wat begin val het en ’n asemrowende blommeseisoen veral in Namakwaland opgelewer het. Boere het vanjaar ’n besonder mooi jaar, die uitgestrekte lande het kos vir alle diere, en skuldlaste by koöperasies kan dankbaar gediens word. Alhoewel boere minder as 20% van direkte inkomste vir die streek lewer, is hul ’n essensiele werkgewer en hul welsyn het ’n direkte impak op ons skoolgemeenskappe se welvaart.
Tweedens (en dis hoofsaaklik in Noord-Kaap, maar ook verder landswyd) het 51 sonplase en 34 windplase opgestaan waarvan die windplase alleen ’n addisionele 3 400 MW lewer aan ons nasionale kragnetwerk. Dit voorsien nie net elektriese krag nie, maar ook ekonomiese kraginspuitings in plaaslike ekonomieë van die landelike dorpe. Elke wind- en sonplaas moet reusagtige bedrae spandeer om ekonomiese volhoubaarheid in gemeenskappe te vestig en het ook al skoolgeld betaal met projekte wat nie volhoubaar is nie. Daar is ’n behoefte om volhoubare antwoorde te repliseer, en dis ons speelveld.
Derdens, vanaf 2017 loods ons leerlingskappe in samewerking met geakkrediteerde opleidingsmaatskappye as ’n lewensvatbare opsie vir ontwikkeling van swak presterende leerders weens omstandighede buite hul beheer. Vandag word die moontlikheid deur verskeie regeringsdepartemente in Noord-Kaap standaard benut as ’n trappie vir werkloses om vaardighede en kennis tegelykertyd op te doen, terwyl ’n minimum inkomste verdien word.
Ek was onlangs in Noord-Kaap, en gedeeltes van die omgewing waar ek was, het vir my ooglopend agteruitgegaan. Maar jy praat oor ’n positiewe nuwe projek waarmee jy besig is? Vertel my eerste asseblief van hierdie projek?
’n Dinamiese skoolhoof, Zelda Vos van Loeriesfontein, het in 2021 tydens die doodsnikke van Covid gevra of ons kan hulp verleen aan hul graad 12’s wie se akademiese punte geruïneer was weens die langdurige gevolge van Covid. Die Maart-uitslae het rooi ligte laat afgaan, en alhoewel die SBL reeds alles in die stryd gewerp het om leerders by te staan, het hul steeds gewonder of dit voldoende is en steeds gevrees vir ’n grootskaalse vernedering in die Junie-eksamen. Hul vertrekpunt was ’n 30%-slaagsyfer, alles te wyte aan die onderbroke skoolbywoning weens sosiale-afstand-reëls vir die siekes, gebrekkige infrastruktuur om tuisonderrig vol te hou met beperkte tegnologiese toegang, en die oornag krisisse vir baie huishoudings toe ouers nie kon werk nie, en baie werksplekke sluit met geen werk, geen betaling behalwe vir die regering se toelaag nie.
Neurolink het by ’n vorige geleentheid, in 2015, 2016, reuse skuiwe in die akademiese prestasie van vorige matrikulantgroepe gesien ná ingryping van hul metings toe ons die resultate gedeel het met leerders en breinvoeding, breinfiksheidoefeninge opgeskerp het en Goue-uur-hulplesse geïmplementeer het.
Deel van die Rise and Excel-program, waarvan ek eienaar is, is om bevindinge en voorstelle vir verbetering te implementer in skoolgemeenskappe. Ons het net ses maande gehad om te implementeer in die kleine, en danksy leiding en seën van Bo het Loeriesfontein Hoërskool se slaagsyfer opgeskuif na byna 80% in die eindeksamen. Die volgende jaar het die skool gevoel dat hul vroeër wil afskop in ’n leerder se skoolloopbaan met die kweek van goeie gewoontes en vaslê van identiteit in vaardigheid, en is daar uitgebrei na graad 8, 9, 10 en ook 11 met die program. Die fokus het toe geskuif om vaardigheidsidentiteit aan te spreek. Vanaf 2023 is die laerskool ook betrek en tans kom voorskoolse instansies ook aan boord vir ons metings om ’n geldige vertrekpunt te kry vir aktiwiteite wat ’n verbetering in prestasie kan bring. Ons program fokus nou meer spesifiek op die vaslegging van “ability identity” oftewel vaardigheidsidentiteit, want veral in landelike gebiede het ons toe gevind dat daar ’n gevoel heers dat persoonlike vaardighede nie opgewasse is vir die taak van oorlewing en voorspoed nie. Die voortdurende twyfel skep onsekerheid en besluitloosheid en onwilligheid om selfs te probeer om te slaag. Veral omrede breinmetings ’n duur luukse is volgens baie, was dit ons uitsluitlike doel om dit befonds te kry, want kennis is mag. Ek het die impak van hierdie kennis in my eie lewe gesien sowat 20 jaar terug en sedertdien het ek nie teruggekyk na my vroeë loopbaandae wat vol onsekerheid en twyfel was oor hoe ek sin en vervulling sal vind in my daaglikse werksaamhede nie.
............
So, hoe gemaak om ook hierdie hoop en verwagting van vervulling en sin by leerders te verskerp? Ons kon dit slegs aanpak deur al drie fasette van identiteit in vaardigheid aan te spreek. Dit behels die beantwoording van drie vrae: Het ek waarde? Waar behoort ek? Is ek bekwaam?
.............
So, hoe gemaak om ook hierdie hoop en verwagting van vervulling en sin by leerders te verskerp? Ons kon dit slegs aanpak deur al drie fasette van identiteit in vaardigheid aan te spreek. Dit behels die beantwoording van drie vrae:
- Het ek waarde? Watter intelligensie-areas geniet meer voorkeur in ’n leerder en dui op onontginde potensiaal wat met min moeite in ’n waardeaanbieding kan ontgin word?
- Waar behoort ek? Bekwaamheid kan deure oopmaak vir gesonde behoortplekke.
- Is ek bekwaam – watter bekwaamheid sal my gemeenskap waardeer en vergoed?
Dit beteken noodwendig dat die leerder eerstens moet kennis kry oor hul potensiaal in breinterme en dit kos geld, en is eintlik ’n duur proses wat die gewone ouer op straat nie maklik kan bekostig nie. My passie is en was altyd om hierdie duur proses wat so waardevol is vir rigting gee, motivering bou en akkurate aksieplanne, aan leerders van alle sosiale kringe beskikbaar te stel. Dit is vrymakende waarheid wat bemagtig en vlerke gee aan elkeen wat ’n droom van vervulling in diensbaarheid het.
...............
Maar in die proses het ek gevind dat kennis, alhoewel belangrik, gekortwiek word in die implementeringsfase vir ontwikkeling aangesien daar baie instrumente, materiale en middele ontbreek by skole wat swaar trek ekonomies. Dus, al het ’n leerder kennis oor homself, het ouers of die skoolgemeenskap dikwels nie die middele om verdere stimulasie moontlik te maak nie. So, toe het ons programme begin om ook die verskaffing van middele vir die 10 hoofstrome van intelligensie aan te help.
................
Maar in die proses het ek gevind dat kennis, alhoewel belangrik, gekortwiek word in die implementeringsfase vir ontwikkeling aangesien daar baie instrumente, materiale en middele ontbreek by skole wat swaar trek ekonomies. Dus, al het ’n leerder kennis oor homself, het ouers of die skoolgemeenskap dikwels nie die middele om verdere stimulasie moontlik te maak nie. So, toe het ons programme begin om ook die verskaffing van middele vir die 10 hoofstrome van intelligensie aan te help. In 2023 het die hoërskool oor die 20 leerders opgelewer wat kon deelneem aan distriks-, provinsiale en nasionale proewe in verskeie sportsoorte, meer as 10% van leerders wat musiekinstrumente kon begin speel, en deelname aan eisteddfods en ander feeste is verhoog.
Nou bekyk ons ’n verdere behoefte, naamlik dat skolegemeenskappe nie genoeg onderwysers kan bekostig nie, en dit bring ons toe by die nuutste toevoeging tot ons programme, naamlik GITTY, oftewel Give it to the Youth.
Ten einde skole se SBL’e te help om meer inkomste te genereer vir versterking van hul onderwysraamwerk, het ons hande gevat met Saffricon; ’n saffraanmaatskappy van formaat.
Hul het ’n skenking van saffraanknolle gedoen wat ons aangeplant het by die hoërskool. Ons het die voorbereiding en versorging gedoen en bewys dat dit kan slaag weens die geskiktheid van klimaat en grond.
Nou nooi ons kerke, maatskappye en enigeen wat ’n virtuele boer wil wees sonder grond van hul eie om ons plaaslike werklose jeugdiges te ondersteun deur te betaal vir gesogte saffraanknolle wat die jeugdiges dan aanplant namens die betaler, in plaaslike grond wat reeds getoets is as ideaal vir die eksotiese rooi goud spesery uit die Midde-Ooste en Asië. Die aankoopprys van die saffraanknolle sluit in koste vir geakkrediteerde tuinbou-opleiding en arbeidskoste vir die grondbewerker, en lewer ook ’n bydrae tot die skole se SBL-poste in tale vir meer leerkragte in jaar een.
Die eienaar van die saad kan dan jaarliks daarna die spesery-oes in ’n winsdelingsooreenkoms met ons en die skool verkoop aan die spesery-uitvoerders Saffricon of hul deel self benut in kosmaak. Besoek Saffricon se webwerf vir die geskiedenis en uitbreiding van saffraan as ’n ekonomiese hulpmiddel.
Ons het reeds 29 talentvolle jeugdiges op ons breinmetingskortlys vir volgende jaar se aanplantseisoen teen Maart en hul tuinbou-opleiding sal DV hanteer word deur Siyanqoba Seminars, ’n geakkrediteerde opleidingsmaatskappy wat landswyd al ’n paar jaar lank ander leerlingskappe in besigheidsadministrasie, projekbestuur en algemene bestuur ook verskaf, en trots is om deel te wees van hierdie nuwe werkskeppingsgeleentheid.
Elkeen sal sowat agt kratte knolle aanplant op sowat 200 m² grond in Loeriesfontein, Calvinia en Nieuwoudtsville. Die knolle vermeerder jaarliks drievoudig en ’n jongmens kan binne drie jaar ’n basiese standhoudende inkomste verdien.
Sien jy resultate in kinders se skoolprestasies as jy vir hulle goeie kos gee? Vertel asseblief prakties wat jy beleef en raaksien.
Die Departement van Onderwys wend regtig ’n reuse poging aan met voedingskemas, hoe basies ook al. Wanneer dit egter vakansie is en leerders geen voeding van voedingskema kry nie, is die eerste week van skool altyd uitdagend, omdat leerders in oorleweringswyse funksioneer (onderwysers sê altyd die leerders konsentreer nie, het alles vergeet, is aggressief en kan nie tot ruste kom nie) totdat hul weer in die roetine is van weet daar is elke dag kos vir hulle.
.............
Die Departement van Onderwys wend regtig ’n reuse poging aan met voedingskemas, hoe basies ook al. Wanneer dit egter vakansie is en leerders geen voeding van voedingskema kry nie, is die eerste week van skool altyd uitdagend, omdat leerders in oorleweringswyse funksioneer (onderwysers sê altyd die leerders konsentreer nie, het alles vergeet, is aggressief en kan nie tot ruste kom nie) totdat hul weer in die roetine is van weet daar is elke dag kos vir hulle.
..............
Ons bydrae is meer gefokus op breinvoeding tydens eksamens en toetsreekse, veral vir graad 12’s, omrede die brein tydens erge druk geneig is om vas te val in ’n oorlewingsmentaliteit en min of geen hoërordedenke dan kan plaasvind nie. ’n Harvard-studie het dit bevestig.
Ons het ’n lys van breinkosse waarvan ons leerders en hul ouers bewus maak, en ons verskaf ook eksamenpakkies wat veral ’n superbreinkos Genesis insluit, wat ons aankoop by Laeveld Agrochem. Andersins bak ons ook ontbytkolwyntjies met die Genesispoeier, en gee die leerders onbyt voor hulle begin skryf. Ons het ’n eet-area met houttafeltjies en stoele ingerig sodat leerders rustig kan verkeer voor hulle ingaan in die eksamenlokaal.
Ons voet in die deur was en bly breinvoeding as fondasie om gesonde breinfunksie te bou, vir seker ja. Maar vandag het ons program uitgebrei om die ander drywers tot gesonde funksie en prestasie te ontplooi in deelnemende gemeenskappe waar dit ontbreek of verhinder word.
............
Jy weet hoe lui die gesegde dat dit wat jy afbyt, kan groei in jou mond? Ons het nou ’n gebalanseerde aanslag om ’n brein wat vasgeval het in ’n oorlewingsmentaliteit uit te trek uit die gat van hopeloosheid met verskeie hulpmiddele.
............
Jy weet hoe lui die gesegde dat dit wat jy afbyt, kan groei in jou mond? Ons het nou ’n gebalanseerde aanslag om ’n brein wat vasgeval het in ’n oorlewingsmentaliteit uit te trek uit die gat van hopeloosheid met verskeie hulpmiddele.
Leerders is in ’n baie vroeë stadium van bewusmaking oor hul eie unieke bedrading, maar 2024 sal dit verder verbreed en so kan hoop volgehoue aksie tot persoonlike vaardigheidsontwikkeling verder motiveer. Die ouer garde sukkel egter om hul ware identiteit terug te vind na die sosiale isolasie van die grendelstaat, die vernedering van ekonomiese knoue, en ’n voortdurend veranderende wêreld wat ’n gevoel van onstabiliteit voed en bestaande vaardighede minag.
Die boodskap is egter van ons kant dat alhoewel die samelewing se ritme ontwrig is deur die laaste paar jaar se skokke uit alle geledere, dit wat binne jou gedeponeer is, nie vernietig kan word nie. Dit val dalk in onbruik vir ’n wyle, of blyk ontoereikend te wees in ’n krisis, maar eensgesindheid en samehorigheid kan die deurslag gee. In nederigheid kan ons erken dat nie een van ons alles weet of die toekoms kan voorspel nie, maar wel kan poog om beter en voortdurend te kommunikeer ten einde ons verhoudings te versterk. So kan ons ook ons invloedsfeer uitbrei in diensbaarheid met ons vaardighede en nuwe toepassings vind. Niemand op aarde is nutteloos of irrelevant tot die samelewing se welsyn nie; hulle word wel net misbruik of verkeerd benut met hul toestemming.
Ons kan altyd baat vind by akkurate kennis oor hoe wonderbaar ons gemaak is, en wat ons het om mee te woeker. Dit plaas ’n vereiste op ons om die vermoë te ontwikkel om met ratsheid en veerkragtigeheid in ons menswees te reageer op uitdagings om ons. Veral wanneer ons motivering is om met ons gawes en talente vir ons naaste ’n klip uit die pad te rol, word ons gemoed verbly en ontvang ons ook lig op ons lewenspad vir die dag van môre.
Dis wat ons in Rise and Excel poog om te doen – om vrymakende kennis te bring, sowel as om relevante ondersteuningsmiddele en plaaslike inwoners toe te rus om dit te behartig, sodat ons van binne ons hart kan opstaan met nuwe krag, begeesterd deur waarheid.
Mense is tog so uitgehonger vir ’n gelukkige verhaal, soos toe die Springbokke gewen het. Iets wat hoop gee. Vertel asseblief van daardie 80%-verbetering van uitslae waarvan jy laat weet het – hoe het julle geweet waar om te begin om dinge aan te spreek, en wat het julle gedoen en wat is nou aan die gang?
.............
Die vertrekpunt is om te meet. Indien ek ’n vlug na Kaapstad wil haal, moet ek weet of ek uit Dubai of Durban moet vertrek. Ons meet elke leerder sodat ons presies weet waar elkeen hulp nodig het. Ons meet jaarliks 10 intelligensie-areas in alle leerders wat deel is van die program, om voorkeure vir ontwikkelingstimulasie van talente te bepaal en ook koppeling met voorkeurvakke te maak.
.............
Die vertrekpunt is om te meet. Indien ek ’n vlug na Kaapstad wil haal, moet ek weet of ek uit Dubai of Durban moet vertrek.
Ons meet elke leerder sodat ons presies weet waar elkeen hulp nodig het. Ons meet jaarliks 10 intelligensie-areas in alle leerders wat deel is van die program, om voorkeure vir ontwikkelingstimulasie van talente te bepaal en ook koppeling met voorkeurvakke te maak. Die breinmeting dien dan tot voor- en na-meting om skuiwe in drywers vir prestasie te merk. Dan koppel ons verder gestandaardiseerde en sistemiese metingsresultate in moedertaal aan die baie belangrike gebied van taal, om te weet waaraan om aandag te skenk in moedertaal, want dit is die voertuig vir kennisoordrag. As die voertuig ’n pap band het, of verkeerde brandstof ingegooi het, kan die enjin onklaar raak of nie sy eindbestemming bereik sonder groot moeite en koste nie.
Ons het in ons span kundiges wat veral Grondslagfase se fonemiese vaardigheid en klankherkenning kan voorthelp. Hul opleiding aan plaaslike fasiliteerders het baie gehelp om kwaliteitaandag in klein groepies te skenk sodat groot agterstande vinniger uitgewis kan word. Ons het ’n merkwaardige en selfuitstaande verbetering in minder as een jaar, by 80% van laerskoolleerders se lees- en spelvaardigheid gemeet.
Mariette Steyn is ’n vryskut kundige in ons span en haar kommentaar oor hoekom dit belangrik is, is baie geldig:
Veral leerders wat geen klanke geken het nie en nou al die klanke ken en begin woorde bou, al is dit op ouderdom van12/14/17/20, voel die hoop groei in hulle dat hulle kan presteer. Kinders kom meer skool toe, omdat daar iemand (jou fasiliteerders) is wat omgee en hul individueel help om te leer om met vertroue te skryf, spel en lees en hulle nie uitlag nie.
Akkurate vasstelling van waar akademiese probleme is en dan spesifieke areas volgens die steier- (scaffolding-) metode benader om stadige treetjies vorentoe te gee in luister/praat, lees/leesbegrip en uiteindelik kreatiewe skryf, lei tot volgehoue vordering.
Die belangrikste is die individuele volhoubare aandag deur betroubare fasiliteerders wat leerders wat sukkel, daagliks op hul vlak van ontwikkeling ontmoet en voortbou daarvan af, asook die saambou en aanmoediging van die span tov elke leerder.
Veral by sosio-ekonomiese uitdagings is individuele aandag die belangrikste. Gemeenskappe wat herstel en gemeenskapslede wat opgehef word en ’n toekoms het, bring hoop vir die toekoms aan ander ook. Wanneer ons bou aan leesbegrip, ontwikkel dit kritiese denke, wat belangrik is om probleme in die land saam op te los. Stories is altyd ’n goeie vertrekpunt om konneksies te maak rondom probleme en gevaar en antwoorde van karakter. Die gewildste genre in stories is “mysteries”. Daar is baie sosiale vaardighede wat ook bemeester word tydens die interaksie van sessies gemik op taalontwikkeling en uiteindelik lees.
Die tientalle handgeskrewe leerderbriefies in ons Oktober-terugvoersessies bevestig die opregte waardering van selfs die kleinstes wat nog leer lees en skryf, en hoeveel dit vir hulle beteken.
Deur in 2024 die vordering in metingsresultate met leerders, ouers en leerkragte te deel gaan ons poog om bewussyn rondom potensiaalontwikkeling in taal nog verder te verskerp. Elke leerder het ’n persoonlike lêer waarin vordering en werk aangeteken word, sowel as metingsresultate. Wanneer die jeug op meelewende, respekvolle wyse akkurate terugvoer kry oor hul unieke ontwerp en vordering om dit te ontwikkel, wakker dit hoop vir ’n mooi toekoms en selfvertroue aan.
Maar dit vra nog meer. Dit vra ’n multidissiplinêre benadering, sodat mens op verskeie vlakke gelyk kan werk om die skade in ’n gemeenskap na Covid te herstel. Volgehoue impak in skoolgemeenskappe is moontlik, maar dit is nie ’n korttermynproses nie en vra ten minste vyf jaar van toewyding.
Ons implementeer vyf areas se aktiwiteite om psigososiale impak te bewerkstellig en wys befondsers se bronne toe deur begroting daarvolgens. Twee vooraanstaande windplase, Khobab en Loeriesfontein, befonds ons programwerksaamhede in Loeriesfontein-gemeenskap.
Daar is dus ruimte vir lesers om die ander 32 windplase ook te nader, om nie eens te praat van die 51 sonplase nie.
Wat behels die program Rise and Excel / Opstaan en Uitstyg? Ek noem dit die Vat 5-benadering.
- Skep van ’n stabiele, mooi, higiëniese en breinvriendelike omgewing by die skool deur tuine op te gradeer, sosiale areas met gemaklike meubels vir etenstyd in te rig, klaskamers op te knap, te verfraai en breinvriendelik te maak deur sensories ryk toevoegings, bv korrekte aanwending van kleur op mure, deure, meubels, beligting, toerusting en materiale wat die verskillende intelligensie-areas prikkel en verhoogde bewussyn daarvan kweek met bv gym-, skaak-, brei-, naaldwerk-, legkaart-, tuinbou- en musiektoerusting en -instrumente, waartoe alle leerders toegang het. Alles wat ’n kind graag by die huis wil sien, doen ons dus ook by die skool.
- Verskaf van breinvoeding voor eksamen geskryf word en tydens toetsreekse, wanneer die brein ekstra energie benodig. Veral ook beskikbaarheid van vars drinkwater vir al die elektrochemiese prosesse in die brein en res van die liggaam. Die meeste skole het werkende voedingskemas en daarom fokus ons net op die ekstra eise van eksamen en toetsreekse op die brein van die leerder. Daar is selfs nou leerkragte wat dit begin gebruik om hul te help tydens die nasien van vraestelle en voorberei van lywige puntestate.
- Ontplooiing van betaalde, plaaslike gemeenskapsfasiliteerders om die intelligensiestimulasie te ondersteun tydens of na skoolure. Hulle word opgelei gedurende die jaar in visuele persepsie, ouditiewe persepsie, breintegnologiemetings, saffraanverbouing, emosionele intelligensie en die Skolewet. Hulle word gekeur op grond van hulle breinratsheid en -fiksheidsresultate in vooraf metings en ondergaan ook polisieklaring ten einde te voldoen aan Skolewet-vereistes. Ons het ’n totaal van 13 mense plaaslik wat twee skole en voorskoolse entiteite bedien.
- Samewerking met die plaaslike departement van onderwys om die kurrikulum se lesplanne te ondersteun met praktiese intelligensietoepassingsaktiwiteite en toerusting. Ons het byvoorbeeld ’n volledig gym by die hoërskool ingerig vir ondersteuning van praktiese lewensoriënteringsessies. So is daar ook ’n brei- en naaldwerkklas ingerig vir sinvolle visuelekunste-uitdrukking. Dan is daar ’n biblioteek ingerig met middele wat aan ons breingebaseerde beginsels voldoen, vir taalverryking in spelreëls, gedigte-definisie kaarte, gedigtedefinisiekaarte gedigte, definisiekaarte taalterme bou en onthou deur legkaarte. Om nie eens te noem van die musiekkamer met klaviere, kitare, blokfluite vir onderrig van leerders nie. Spasie verhinder my om hier uit te brei.
- Terugvoer maandeliks oor aktiwiteite en jaarlikse breinratsheids- en taalvaardigheidsmetings. Dit is belangrik om vordering te monitor, aanpassings tydig te maak, en die behaal van mylpale saam met leerders, ouers en leerkragte te vier. Volgehoue kommunikasie ter terugvoer aan befondsers geskied maandeliks en hul investeerderbesoeke aan die skole is altyd ’n hoogtepunt om goeie nuus te deel. Dit is kernbelangrik om met objektiewe data te werk. Ons meet om te weet watter 20% om raak te vat by individuele leerders, sodat ons ’n groter skuif in kollektiewe resultate kan verwag. Fondse word spandeer op die 20% wat die grootste verskil maak.
Ons sukses kom definitief van seën op ’n samehorige en eensgesinde poging deur visionêre, standhoudende investeerders/befondsers soos Khobab en Loereisfontein Windplase, empatiese spesialisrolspelers as adviseurs, kwaliteitdiensverskaffers, toegewyde, opgeleide plaaslike skoolgemeenskapfasiliteerders en goedgesinde skoolpersoneel en ouers. Dis net soos ’n rugbyspan wat verskeie spesialisfunksievertolkers het en spanwerk benodig om te kan wen. Dis nooit net maanskyn en rose nie, en ’n mens moet vasstaan in geloof in die liefde en goedheid van jou medemens, maar soos iemand eendag gesê het: “Geloof maak dinge moontlik, nie maklik nie – maar liefde maak dit maklik.” En ons het albei bestanddele, so dis moontlik en word al hoe makliker om te weet waarop dit aankom, hoe verder ons gaan.
Wat ons plaaslike projekleier, Zitrom Steenkamp, sê, vat die essensie van ons programbenadering met leerders vas: “Een-op-een aandag aan leerders is baie belangrik. Tyd en aandag spel liefde, dan kan jy soveel meer vermag.”
Mens wil so graag hê kinders moet baie lees, maar boeke is duur. En die ouers wat moet voorlees, is dalk besig met werk om van die hand in die tand te oorleef. So hoe maak mens met volhoubaarheid? Hoe kry die kinders boeke in die hande? Hoe kan mens ’n liefde vir lees skep in ’n omgewing waar mens dalk nie aldag dink aan lees nie, maar eerder aan oorleef?
Navorsing het bewys dat 15 minute voor slapenstyd ideaal is vir voorlees. Daar is heelwat e-boek-webtuistes waar mense boeke kan lees. Die webwerf verskaf ’n diens aan ouers wat nie data het nie. Bring gerus daar besoek.
Maar soos een mamma vir my gesê het nadat haar kinders se metings op groot agterstand gedui het, sy het ook haarself laat toets en toe met ’n skok agtergekom sy lê ook op 12-jarige vlak op die normtabel. Sy het toe besef sy moet saam met haar kinders werk om die wa deur die drif te trek, en dit het die kopskuif vir persoonlike deelname meegebring.
Ons leerders help mekaar ook graag onder leiding. Hul word gewys hoe om klein boekies te maak, veral in die laerskool, en dan ruil hulle hul boekies onder mekaar uit, amper soos ’n minibiblioteek. Met die boekies was daar ook ’n uitstalling gehou tydens Nasionale Boekeweek in September, sodat hulle mekaar se skeppings kon waardeer. So illustreer ons die kosbare waarheid dat ons nie baie hoef te hê nie, maar dit wat ons het is vir ons kosbaar en ons is dankbaar daarvoor.
Ons gebruik onder andere ook Wordworks se materiale. Hulle het kwaliteitmateriaal en om hul werkswinkels by te woon is ook gratis. Besoek gerus hul webwerf.
Wat kan die mense in jou omgewing doen om betrokke te raak?
Volg slegs twee stappe:
Stap 1: Besoek eers ons webwerf om meer inligting te bekom van hoe al die fasette van ons Rise and Excel-program lyk.
Stap 2: Besluit of jy wil deelneem aan ons 2024 virtuele konferensie op 15 Januarie 2024. Registrasie aanlyn op ons webwerf is reeds sedert 25 November moontlik. Dis ’n voorvereiste vir enige besluite rondom betrokkenheid. Die aantal registrasies is beperk volgens MS Teams-regulasies tot 300. So registreer vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
Neem asseblief ook kennis: Polisieklaring vir leerderwerksaamhede is ’n voorvereiste, tesame met sekere breinratsheidsresultate. Die metings en klarings is verpligtend vooraf en onderhewig aan SBL-goedkeuring.
Wat kan mense in ander dele van die land wat hier lees en dalk nie ekstra geld het nie, maar ook soms voel of hul net oorleef, doen om betrokke te raak?
Daar is so baie wat gedoen kan word, maar soos die Woord sê, “Bereken die koste.”
...........
Dit kos ons span alles in terme van tyd, toewyding en die ekstra myl loop. Almal kan getuig dis makliker om af te breek as op te bou, en dit vat tyd, volgehoue deursettingsvermoë en getrouheid, ’n hart wat die beste van jou medemens glo, vergewe en weer probeer ....
............
Dit kos ons span alles in terme van tyd, toewyding en die ekstra myl loop. Almal kan getuig dis makliker om af te breek as op te bou, en dit vat tyd, volgehoue deursettingsvermoë en getrouheid, ’n hart wat die beste van jou medemens glo, vergewe en weer probeer, bereidwilligheid om kritiek aan te hoor in alle nederigheid, en vas te staan in geloof totdat die eerste sonskynsukses kom vir diegene met wie jy werk.
Elke gemeenskap moet hul wonderwerk midde ’n gemors terugvind. Die laaste paar jaar het soveel pyn veroorsaak dat baie mense nie meer helder sien of hoor nie. Dit beteken egter nie identiteit is verlore nie, dis net toegegooi onder ’n klomp sielsrommel. En dit moet hanteer word terwyl mens die taak van herbou aanpak.
Ek doen ’n beroep op elkeen om sy gemeenskap se mense te dien deur ’n plaaslike Rise and Excel / Opstaan en Uitstyg-projek te begin. Ons projek het ’n vyfjaarhorison vir implementering. Ten einde groeipyne vir ander te beperk en onnodige foute en skade te voorkom in die uitrol van die program, bied ons op 15 Januarie ’n virtuele konferensie aan vir belangstellende sosiale entrepreneurs wat ’n lang asem het om so ’n program van stapel te stuur. Registrasie is op ons webwerf tussen 25 November en 14 Desember 2023 (of vroeër indien die maksimum getal voor die 14de bereik word).
Elke deelnemer moet wel bereid wees om hand in eie boesem te steek, vooraf ’n breinratsheidsmetingsvraelys teen 8 Januarie te voltooi en hulself te bemagtig met die aanlyn videoterugvoer rondom hul eie ontwerp voor hul die konferensie bywoon. Jy kan nie ander bystaan as ingeligte, veerkragtige draer van goeie nuus oor ’n hoopvolle toekoms en hoe om daar uit te kom as jy nie self eers oor die hekkies spring nie.
Die tema van die eendagkonferensie is Vervleg (Intertwined). Dit kos fyn balans en koördinasie om ons land se mooi veelkleurige borduurgarings as een vervlegte draad deur die al hoe kleiner wordende oog van die spreekwoordelike naald te kry sodat ons land ’n meesterstuk kan voltooi wat die wêreld sal verstom, miskien net so veel, indien nie meer nie, as om die 2023-Wêreldrugbybeker te gewen het.
Hoekom maak die kinders van die land se toekoms saak? Moet mense wat suksesvol is, nie maar net die land verlaat en die laaste ou wat opstyg in die vliegtuig, maar net die ligte afskakel nie?
Ek haal aan uit ’n gediggie deur ’n graad 12-leerder, Deborah, wat indrukwekkende atmosfeer skep en verlede jaar ’n A++ by die Wes-Kaap Eisteddfod behaal het, getiteld “Burgers van die toekoms”. Ter agtergrond: Sy het haar pappa verloor na ’n jare lange, ernstige siekbed ná haar matriekuitslae bekend gemaak is. Sy het vir haar pappa vyf onderskeidings kon wys met die woorde: “Pappa, ek het dit vir jou gedoen.” Hulle het saam gejuig voor hy sy asem uitgeblaas het in die hospitaal. Hy het altyd gesê hy wil hê sy moet ’n goeie opvoeding kry en vashou aan die Here. Dit was sy erfenis aan haar.
Ek en jy,
ons leef in vandag se môre,
vol nimmereindigende moontlikhede
van wat kan wees.
Ons bou paleise van ons begeertes,
en sweef daaroor op die rûe
van die drake van ons verlede.
Wat was, is maar net dit – wat was.
Maar wat kan wees …
dis ’n melkweg van liedere
’n samestelling van kaleidoskopiese simfonieë.
Hulle jubel en juig,
hulle omhels ons met die aroma van die onbekende
en lei ons na die prisma van ons beloftes.
Wat maak dit saak? Vir ’n kind maak dit saak wat sy ouers, onderwysers, fasiliteerders en maats sê, al wys hulle dit nie. Ons woorde tel sommer baie, en dis belangrik dat ons dit vestig op akkurate waarheid wat vry maak. Ons woorde en dade kan hul hoop tot ’n toekoms vol belofte voed, want hulle dra ons woorde en dade in hul harte soos die Suiderkruis om koers te hou, al sê hulle dit nie altyd nie. Die storms gaan kom, en verdwaal is ’n werklikheid, maar net vir ’n kort tydjie, want die pad huis toe is moontlik, want die Suiderkruis staan vas in die Melkweg. Deborah se pappa het haar aangemoedig om nie die land te verlaat nie, om uit te styg ondanks al die verliese in en om haar eie lewe, en bowenal om te veg vir ander wat nie ’n stem het nie. Sy gaan presies dit doen. Volgende jaar studeer sy by Stellenbosch-universiteit in regte en rekeningkunde, na ’n jaar van rou en herstel.
Ja, ons land is tot oorlopens toe vol van verhale van onuitspreeklike hartseer en bittere verlies, maar daar is ook vrymakende waarheid, reiniging en genesing, en elke oggend breek ’n nuwe dag propvol belofte aan vir elke burger van mêre. Is jy so ’n burger?
Dis nou kniediep in die eksamen vir sommige kinders. Gee ’n bietjie wenke – vir kinders en ouers van alle inkomstegroepe. Wat is die belangrikste om goeie resultate te sien?
- Kinders, luister na jou ouers. Slaap laat die brein herste. Probeer dit. Kry genoeg power naps van tussen 30 minute en twee ure na ’n eksamenskryfsessie om jou brein te rat vir die volgende hekkie. Dit herstel die brein se vermoë om waardevolle vakkennis te sorteer en te stoor. En benut ’n power nap wanneer inligting oorweldigend word vir jou brein. Stel jou wekker vir 30 minute en moenie skuldig voel nie. Jy bestuur jou brein se kapasiteit. Maak verder seker jy kry darem so vyf ure se ononderbroke slaap voor ’n volgende dag se eksamen. En verkieslik eerder vroeër gaan slaap en so van 4-uur af die oggend weer leer as deurnag. Volgens ’n studie van British Columbia Universiteit jare gelede verwerk die brein veral tussen 8 in die aand en 2 in die oggend inligting, en daarna is mens weer vars vir ’n nuwe dag se begin
- Almal: Onthou om elke dag in dankbaarheid te begin, en sing sommer ’n gunstelinglied van dankbaarheid hardop. Daar is soveel wat geld net nie kan koop nie.
- Kinders: Slaan die sepies en spesiale TV-programme vir die enkele paar weke oor. Jy kan altyd weer inhaal met vermaak, maar jou studiegeleentheid is vir altyd verlore as jou tyd nie slim aangewend was nie.
- Ouers: Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Moenie met jou kind baklei net voor ’n groot wiskunde-eksamen nie. Emosionele ontsteltenis by jou kind het chemikalie-afskeidings tot gevolg wat die brein heeltemal kan afsluit en dan kan fyn logiese werk nie plaasvind nie. Dit kan ’n fiasko veroorsaak waaraan jy as ouer nie aandadig wil wees nie. Een ma moes toesien hoe haar seun se beurs verlore gaan weens ’n swak eindeksamenpunt in wiskunde na sy die oggend geraas het oor ’n deurmekaar kamer.
- Kinders: Rig jou studieruimte tuis of by die skoolkoshuis of biblioteek in, en neem ’n studiepouse elke 45 minute of minder. Gebruik vir die finale eksamen eerder notas wat jy reeds gemaak het. Die brein hou nie van skokke met nuwe inligting en notas op die vooraand van ’n reuse eksamen nie.
- Kinders: Maak seker daar is nie onderbrekings soos selfoonboodskappe van maats elke vyf minute nie. Skryf op jou status dat jy offline is en net elke halfuur vir 10 minute beskikbaar is om te help, en hou daarby. Jou maats sal dit respekteer en dalk help dit hulle ook met orde in die eksamen.
- Kinders: Kry genoeg vloeistof in terwyl jy studeer – vars water is die beste. Sit sommer ’n vol glas of bottel daar neer waar jy leer en neem ’n paar slukkies elke 10 minute. Die brein benodig daagliks sowat een vol glas vir elke 10 kg liggaamsgewig. Dit gelei elektromagnetiese golwe soos blits vir slim en vinnig dink en onthou.
- Kinders en ouers: Beweging is die deur na leer. Gooi ’n tennisbal teen die muur en vang dit met jou “dom” hand, of loop op en af en verduidelik hardop aan jouself die kennis waarmee jy sukkel. Jy sal sien wat jy nog moet baasraak en wat meer tyd benodig van jou kant sodat jy sukses kan behaal. Besoek ook ons webwerf vir ’n skakel na ons Meliora Society-beweginsvideos wat help vir goeie asemhaling en ontspanning tydens dié stresvolle tyd.
- Ouers en kinders: Gebed is ’n goue sleutel. Dr Andrew Newman het ’n boek geskryf: How prayer changes the brain and body. Hierin dui hy aan hoe MRI-studies bewys wat die impak van gebed op die brein is op positiewe maniere. Vyf tot agt minute ’n dag is ’n goeie begin. Dit versterk die band van liefde en samehorigheid tussen almal in die gesin.
- Ouers: Onthou van breinbrandstof. Genesis is ’n dieetkundig beproefde produk wat ons aankoop by Laeveld Agrochem. Dit is deur ’n dieetkundige ontwikkel en bevat al die aminosure, minerale en ingewandsprobiotika wat nodig is vir gesonde vervaardiging van neuro-oordraers vir die brein. Andersins is twee gekookte eiers of roereiers in die oggend ook piekfyn vir diegene wat hou van proteïene. Sien ook ons lys van voorstelle vir breinbrandstof op ons webwerf.
- Kinders: Laaste maar nie die minste nie – sit reeds die vorige aand jou skoolklere, skryfbenodighede en eksamennommer reg. Dis onnodig om vroegoggend rond te skarrel vir die lineaal, pen of sokkie wat jy die vorige aand kon uitsorteer het. Mens se brein hou nie van laaste-oomblik-druk wat dinge ontwrig nie, want vooraf vrede is ’n vereiste vir helder dink in die eksamenlokaal.
- Kinders: Onthou om noukeurig deur die eksameninligting te lees voor jy afskop om ’n vraestel te beantwoord. Dit kan mens baie foute en tyd bespaar.
Dis ook amper ’n nuwe skooljaar! Hoe skop mens ’n nuwe skooljaar lewenskragtig af en hoe begin mens elke dag positief en daadwerklik met nuwe moed en krag?
Sjoe! Hier is my sikspens vir wat dit werd is:
- Doen wat jou hand vind om te doen voor die dag uitloop. Elke dag het genoeg laste van sy eie.
- Bid en wag op leiding. Onderskei tussen wat lewe gee en afbreek aan jou liggaam, siel en gees en respekteer en leer dit vir jou kind aan.
- Vra en gee terugvoer – dit is die ontbyt van kampioene.
- Beheer jou gedagtes. Jy kan jouself in ’n gat in dink en almal benadeel wat op jou staatmaak.
- Sit ’n wag voor jou mond, want die brein word baie gelei deur dit wat mens sê, en het krag om lewe of dood in perspektief te skep by elke oortjie wat luister.
- Hou balans in jou lewe en herstel enige iets wat uit balans gaan so gou moontlik.
- Tydsverloop bepaal skade.
- Leef in matigheid in alles. Dan het mens altyd iets om te deel met ’n ander in nood.
- Kyk eerder deur ’n venster as in ’n spieël om koers te hou. So kan mens ander ook raaksien, hul waarde maar ook hul nood, nie net jou eie nie.
- Maak tyd vir stilte en kom terug na die rusplek binne die grense van jou siel.
Wees dapper en eerlik met jouself, maar bekom akkurate kennis oor jou brein as objektiewe inset. Dan kan jy die dag van môre met durf, en in die regte rigting aanpak.
Lees ook:
Kommentaar
Dit is die BESTE uitleg en raadgee vir verantwoordlike opvoeding wat ek nog die voorreg gehad het om te lees!
Ek jubel en juig dat verantwoordbaarheid, geloof, selfdissipliene en omgee saam met jul wetenskaplike benadering van bemagtiging en OPHEFFING van alle ouderdomme as 'n werktuig gebruik word.
Wel gedaan, want met sulke opvoedkundige weerbaarheid wag daar 'n rype oes! ❤️❤️