
Foto van Jaco Deacon: verskaf
Jaco Deacon praat met Naomi Meyer oor die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad wat pas tot stand gekom het.
Jaco, daar is pas ’n Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad vir Basiese Onderwys aangestel. Wat is hierdie raad en uit wie bestaan dit? Wat moet die raad doen? En waarom het hierdie raad nou eers tot stand gekom?
Die Wet op Onderwysbeleid maak die totstandkoming van die raad moontlik en ons het al in 1999 die eerste stel regulasie vir die raad gehad. Dit is egter in 2009 deur ’n nuwe stel regulasies vervang, maar die raad is nooit in die lewe geroep nie. Eergister se aankondig van die totstandkoming van die raad is dus ’n belangrike mylpaal. Die raadslede is na ’n nominasieproses deur die Minister aangestel en bestaan uit ’n groep van 15 mense met diverse velde van kundigheid binne die sektor.
........
Die raad is in wese ’n adviesliggaam vir die minister van basiese onderwys. Die hoofdoel is om breë belanghebberbydrae te verseker in die ontwikkeling en monitering van beleid vir nasionale onderwys en opleiding.
........
Die raad is in wese ’n adviesliggaam vir die minister van basiese onderwys. Die hoofdoel is om breë belanghebberbydrae te verseker in die ontwikkeling en monitering van beleid vir nasionale onderwys en opleiding. Belangrikste werksaamhede sluit in: om die minister te adviseer oor nasionale onderwys- en opleidingsbeleid, om samehang en integrasie tussen onderwys- en opleidingsisteme te bevorder, om die uitvoering van beleid te monitor en te hersien, en om aanbevelings te doen oor strategiese prioriteite, befondsing, bestuur en gelykheid in onderwys en opleiding.
Daar kan tereg gevra word waarom die raad nou eers aangestel is. Ek dink die aanstelling is ʼn stap in die regte rigting, omdat die Minister nie ʼn opvoedkundige is nie en goeie advies moet ontvang. Die ANC sal hierdie stap vir seker ervaar as magsverlies, omdat die ANC se onderwyswerkskomitee tot ʼn groot mate in die verlede die rol vervul het. Die onderwysvakbond Sadou (ANC-geaffilieerd) het ook ʼn groot invloed op beleid en die werking van die minister se kantoor gehad. Die aanstelling van ʼn adviesraad is dus ʼn beduidende skuif weg van politieke manipulasie of politieke oorheersing.
Ek sien jy reageer op Netwerk24 op die aanstelling van die raad. Jy sê dat hier vakkundiges ter sprake is, en jy is opgewonde oor die vier prioriteite wat die Minister aangedui het. Wil jy dalk hierop uitbrei?
........
Ons kan eenvoudig nie nog praatberade hou nie; ons moet nou aksie sien. Die uitdagings en baie oplossings is al goed bespreek en deurtrap, maar ons sien heeltemal te min aksie en koördinering van al die voorstelle.
........
Ons kan eenvoudig nie nog praatberade hou nie; ons moet nou aksie sien. Die uitdagings en baie oplossings is al goed bespreek en deurtrap, maar ons sien heeltemal te min aksie en koördinering van al die voorstelle. Die raad kan hierdie spasie volstaan en sorg dat daar baie meer samehang en integrasie is. Die Minister het vier baie spesifieke prioriteite vir die raad gegee om dadelik te hanteer. Die raad moet haar van advies bedien oor ’n befondsingsmodel vir onderwys, die versterking van grondslagfase-onderwys, die slaagsyfer (lees ook matriekeksamen) en promosie van leerders, en laastens oor die administratiewe las op opvoeders. Die voorsitter van die raad, Penny Vinjevold, het die raad tot knap tydsraamwerke verbind en hulle gaan moet wikkel om dit te haal.
Die vier prioriteite het baie praktiese implikasies vir skole en kan ʼn groot verskil maak as dit effektief hersien en aangespreek kan word. Ons het vir seker ʼn baie verouderde befondsingsmodel, en Fedsas het reeds voorstelle in dié verband ingedien. Ons sal dit graag met die raad deel, omdat skole bitter min van die reuse bedrae kry wat aan onderwys in die parlement toegewys word. Die hele debat oor die matriekslaagsyfer (sekere vakke 30%) het ʼn politieke speelbal geword, maar ʼn gesprek en besluit hieroor is kernbelangrik. Daar word ook al jare gepraat oor die reuse en groeiende administratiewe las op opvoeders. Dit steel nie net kosbare onderrigtyd nie, maar put oorwerkte onderwysers uit. Die stelsel gebruik nie tegnologie doeltreffend nie en ons hoop dat hier baie praktiese uitkomste sal kom.
Kan ’n raad en regulasies ’n werklike verskil maak as die Wet op ’n sekere manier verwoord is? Wat het nou reeds verander, sedert die inwerkingtreding van Bela?
Die Skolewet is reeds gewysig en moet toegepas word. Ons is nou besig met die proses om kommentaar te lewer op regulasies wat ooreenkomstig die gewysigde Skolewet uitgereik is. Die raad sou egter vir die Minister voorstelle kon maak oor wysigings wat vir die toekoms oorweeg kan word.
Een van die belangrikste wysigings was die verandering aan die skoolpligtige ouderdom wat graad R die eerste jaar van verpligte onderrig maak. Ons is egter wesenlik bekommerd dat die stelsel nie gereed is om graad R in 2026 te implementeer nie, en ons voorsien groot chaos indien die inwerkingtreding nie vir ’n paar jaar uitgestel word nie. Provinsies het eenvoudig nie die fondse, infrastruktuur of personeel om dit volgende jaar te laat realiseer nie. Die Wet het niebywoning van skool gekriminaliseer, en ouers van graad R-kinders wat nie in die skool is nie, moet strafregtelik vervolg word. Dit maak mos nie sin as die staat dit nie moontlik maak nie. Dit is egter nie nou op die nuwe raad se radar nie, en ons het dit direk met die Minister opgeneem.
Persverklaring deur FEDSAS
Die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding, reeds dekades op papier, het vandag ’n werklikheid geword met die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se aankondiging van die voorsitter en 14 raadslede.
“Hierdie raad neem die funksie van advies uit die hande van ’n enkele politieke party en ’n dominerende vakbond. Die raad bestaan uit onder meer opvoedkundiges en kenners van onderwysbeleid wat die minister gaan bystaan met behoorlike raad vanuit ’n vakkundige perspektief,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
Deacon sê die raad bestaan uit kundiges met uiteenlopende ervaringsvelde wat op ’n breë vlak na stelsels kan kyk in die beste belang van leerders. “FEDSAS wens die raad sterkte toe. Ons het al dikwels nou saamgewerk met die voorsitter, Penny Vinjevold, en sien daarna uit om dit weer te doen.”
FEDSAS is veral opgewonde oor die eerste vier prioriteite wat deur Minister Gwarube uitgelig is. “Die befondsingsmodel vir onderwys, grondslagfase-onderwys, slaagsyfers en promosie, en die administratiewe las op opvoeders is van die grootste uitdagings in die sektor. Ons is ook dankbaar dat die nuwe voorsitter haar tot knap tydsraamwerke verbind het.”
Buiten die adviesrol ten opsigte van nasionale onderwys- en opleidingsbeleid, sal die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding ook daarop fokus om integrasie tussen stelsels te bevorder, die uitvoering van beleid te monitor en hersien, en aanbevelings te doen oor strategiese prioriteite, befondsing, bestuur, en gelykheid in onderwys en opleiding.
Die raad dien ook as ’n forum vir konsultasie tussen die regering, werkgewers, georganiseerde arbeid, gemeenskapsorganisasies en professionele groepe. In hierdie ruimte is FEDSAS reeds dekades aktief betrokke as mondstuk vir skoolbeheerliggame.
“FEDSAS vergader kwartaalliks met die minister en gebruik die Nasionale Konsultatiewe Forum as platform om belangrike kwessies uit te lig en voorstelle te maak. Ons verwelkom die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding as ’n onderwysvennoot en ons sal van alle moontlike geleenthede gebruik maak vir konstruktiewe deelname ten einde toegang tot gehalte-onderwys vir alle kinders moontlik te maak.”
Lees ook:
Bela: Regulasies bring helderheid maar enkele kwessies pla nog


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie bydrae. Nes jou uitstekende referaat by die Akademie-simposium op 11 September by STIAS.