UJ-prys 2024: Commendatio vir SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge

  • 0

Janien Linde (Foto: verskaf). Boekomslag: Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé (Human & Rousseau)

Die 2024 UJ-prys is toegeken aan SJ Naudé vir sy roman Van vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau, 2023). Die prys is op 20 September by die Universiteit van Johannesburg aan hom oorhandig. Janien Linde het die commendatio gelewer. 

Inleiding

Uit 55 ingeskrewe titels uit verskillende genres, is SJ Naudé se roman Van vaders en vlugtelinge (2023) aangewys as die wenner van die 2024 UJ-prys vir Afrikaans. Dit is natuurlik nie die eerste keer dat Naudé hierdie prys ontvang nie. Dit is ook in 2018 en 2022 aan hom toegeken vir onderskeidelik Die derde spoel en Dol heuning. Daarbenewens het hy in 2012 die UJ-debuutprys vir sy kortverhaalbundel Alfabet van die voëls ontvang. Behalwe al die UJ-pryse het Naudé ook al verskeie ander pryse vir sy skryfwerk ontvang, onder andere die gesogte Hertzogprys vir prosa – nie een nie, maar twéé keer.

Ons het dus hier met ’n skrywer van formaat te make, iemand oor wie se werk daar al heelwat geskryf is. Dit is vir my ’n buitengewone voorreg om vandag ’n bitterklein deeltjie tot die gesprek by te dra.

Inhoud

Van vaders en vlugtelinge is deur die keurpaneel beskryf as “’n delikate vertelling waarin die tema van vervreemding op besonderse wyse verken word”. Alhoewel die roman aansluit by “die lang tradisie van plaasnarratiewe” val dit nie terug op “’n ondersoek na magsverhoudinge, of ’n sentimentele terughunkering na die verlede” nie. Dit is ’n “ontroerende vertelling van ontheemding” waarin “die kompleksiteite van familiebande en die soeke na identiteit teen die agtergrond van moderne wêreldvervreemding” uitgepak word.

Dit is ’n roman wat met genres eksperimenteer en verruimend omgaan met die “wyse waarop daar na die kortverhaal, novelle, en episodiese roman gekyk kan word”, het een keurder aangevoer. Van vaders en vlugtelinge bestaan naamlik uit vyf afdelings wat op kort prosastukke lyk, sonder inhoudsopgawe, terwyl die titelblad die teks as ’n roman tipeer. Op ’n manier kan die teks beskryf word binne die konteks van die kortverhaalsiklus, omdat daar ’n duidelike spanning bestaan tussen die verhale se vermoë om selfstandig te bestaan, en elkeen se plek en rol in die groter geheel van die teks. Die betekenis van die geheel is uiteindelik groter as die som van die afsonderlike dele, wat verklaar waarom die leser aangeraai word om dit as ’n roman te benader. ’n Roman-in-vyf-dele bied Naudé die geleentheid om ’n uitgesponne narratief met verskillende verhaallyne geïntegreerd aan te bied, maar in die vorm van vyf stukke sterk en afgeronde kortkuns, wat immers die skrywer se forte is.

Vier van die vyf afdelings (of verhale) word uit een karakter, Daniël, se perspektief vertel, en wentel om sy eie ervaringe, eers as onbevange wêreldburger en lover, en later as versorger, eers van sy sterwende vader, en uiteindelik van sy eie geliefde neef, Theon. Die vierde afdeling, “Die geboortepyne van termiete”, word uit die swerwer-slungel Hein se perspektief vertel, ’n karakter wat Daniël en Theon se lewens “binnedring het”, hom “inforseer het” “en hulle toe [...] ongevraagde en onmeetlike pyn besorg het” (183) deurdat hy die babaweeskind oor wie Daniël en Theon hul ontferm, onopsetlik laat sterf.

Hierdie pynlike en ontstellende ervaring vind plaas op Theon se Vrystaatse plaas, Eenzaamheid, ’n ruimte wat twee van die belangrikste temas van die roman byeenbring, naamlik die strewe na tuishoort, en die onvermydelike eensaamheid wat uiteindelik die mens se bestaan kenmerk. Eensaamheid is ’n tema wat Naudé uitgebreid in sy oeuvre ondersoek. Soos in Dol heuning en Die derde spoel staan die moeisaamheid van menslike verhoudings en die hartseer en eensaamheid waartoe dit kan lei, sentraal in die eerste twee afdelings van Van vaders en vlugtelinge.

Die tema van vervreemding in en van die moderne wêreld (Barnard-Naudé 2023) gaan hand aan hand hiermee. Nie net voel die karakters deurlopend vervreem van die kunsmatigheid van ’n moderne bestaan nie, hulle voel ook vervreem van enige tipe tuiste. Naudé se karakters is swerwers, “emosioneel afgestompte (karakters), vervreemde wêreldburger(s)” soos een resensent (Burger 2024:141) hulle beskryf. Hulle weerspieël selfs ’n onvermoë om ooit werklik tuis te wees – ín ’n vaderland, óf weg daarvan af. Hul pogings om af te sien van ’n ou lewe en ’n nuwe te begin, misluk telkens, of bied oënskynlik onoorkomelike uitdagings. In hierdie opsig raak hulle metaforiese vlugtelinge. Die tipes tuistes waarna Naudé se karakters smag, verwys natuurlik nie net na letterlike plekke nie, maar ook na ’n ingesteldheid, of bestaanswyse waarin ’n mens ’n gevoel van vrede en tuishoort kan ervaar. Sodanige tuiskoms is hulle egter nooit beskore nie. Soos Daniël dit self stel: “Sy terugkeer-en-vertrek-rituele kry nie einde nie [...] Sy lewe is een van valse beginne en valse eindes” (182). In teenstelling met die geweldige vervreemding wat deur die loop van die roman tasbaar is, word die Vrystaatse landskap, en veral die grasvelde, as ’n tipe vaste punt of anker aangebied. Dit is in die Vrystaat, by Theon, waar Daniël vir die eerste keer ’n mate van tuishoort ervaar. Daar, saam met Theon en die plaaswerkers met wie hulle ’n huis deel, voel Daniël asof hy uiteindelik iets van ’n tuiste ervaar.

Die gesin en die verskillende maniere waarop hierdie begrip verstaan en uitgeleef kan word, ’n tema wat reeds in Dol heuning (2020) teenwoordig was, kom ook in Van vaders en vlugtelinge aan bod. In Van vaders en vlugtelinge is die fokus egter spesifiek op vader-seun-verhoudinge. Meer pertinent nog ondersoek Naudé die invloed en gevolge van die afwesigheid van vaders. Deur die loop van die roman verwoord verskeie karakters die behoefte om ’n sinvolle verhouding met ’n vaderfiguur te hê, maar word telkens teleurgesteld en eensaam gelaat. Die twee Serwiërs is vlugtelinge omdat vaderloosheid so ’n algemene verskynsel in hul gemeenskap is. Theon, wie se vader in sy oë al die ongeregtighede van die verlede verteenwoordig, gee sy erfgrond weg aan sy plaaswerkers in ’n poging om boete te doen. Daniël beskryf sy eie verhouding met sy vader as “jare se sirkelroetes” (77).

Die sterk motiewe rondom argitektuur, huise en bouvalle in die roman bou die tema van vaderskap verder uit. Die karakters, veral Daniël, soek na ’n nuwe “huis”, maar laat telkens bouvalle agter, deur hul eie toedoen of dié van die noodlot. Die titel van die derde afdeling van die roman, “Hankai”, is ’n  Japannese woord wat “gedeeltelike verwoesting” beteken. Die letterlike en metaforiese huise, of bouvalle, waarin die karakters woon, het ook telkens ’n invloed op wie hulle is. Die vaders wat die huise bou, bepaal hoe die huise lyk, en of dit suksesvolle huise is, en of dit bouvalle word. Die verskillende vaderrolle waarin Daniël deur die loop van sy lewe beland, loop telkens op rampspoed uit. Tog probeer hy steeds met teerheid omgaan, met die “kinders” vir wie hy in sy lewe ’n vaderrol gespeel het, en ook met al die gestorwenes wat dit sy onbenydenswaardige plig is om te begrawe. Naudé ondersoek en dekonstrueer op hierdie manier die rol van die vader, maar nooit sonder deernis en ’n sterk gevoel vir die invloed van die onvoorspelbaarheid van die lewe nie. Aan die einde van die roman sterf Daniël self in die klein begraafplaas wat hy as ’n “eilandstad” op die plaas Eenzaamheid beskryf. Tussen die gestorwenes vind hy “die enigste stukkie vaste grond” (191). Hier vind die tema van die mens se sterflikheid, en die spanning tussen ’n vrees vir en ’n verlange na die dood, waarmee die roman op verskillende maniere omgaan, voltooiing.

Slot

Van vaders en vlugtelinge betrek verskillende elemente waaraan wêreldklasletterkunde gekenmerk word: geweldig wydlopende en indringende verwysings na ander kunsvorme en kunstenaars wat dui op werklike waardering vir en insig in kuns oor die algemeen; diepgaande ondersoek na die onvoorspelbaarheid en toevalligheid (of toeval en toeverlaat) waaraan die mens se leeftyd en lotgevalle onderworpe is; kritiese ondersoeke na die mens se staanplek op aarde (in dié geval ’n sterk posthumanistiese en transnasionale ingesteldheid); besinning oor identiteit (byvoorbeeld oor manlikheid, vlugtelingskap en vaderskap), maar nooit op geblikte, popfilosofiese en voorskriftelike maniere nie; eerder in lewensbeskoulike en intiem menslike uitbeeldings van karakters se pogings om beter te wees as die voorbeelde wat hulle self gehad het; die roman bied geen vaste en sluitende antwoorde op enige van die groot vrae wat dit vra nie; en dit laat die leser met ’n gevoel dat weer en weer lees aanleiding sal gee tot die ontdekking van selfs dieper lae wat die eerste of selfs tweede lees nie na die oppervlak kon bring nie.

Skrywerlike Suid-Afrikaanse skrywers soos Marlene van Niekerk, JM Coetzee en Ingrid Winterbach daag hul lesers amper meedoënloos uit om wyer en dieper te lees as net agter die storie aan; hulle is skrywers wat ’n mens (bewustelik en onbewustelik) leer om ’n beter leser te word. SJ Naudé is ook so ’n skrywer. Sy karakters ondermyn enige stereotipering en voorspelbaarheid. Soos golwe in die see word hulle heen en weer gewaai, soms deur begeertes, soms deur besluite en soms deur die noodlot. Daar is altyd ’n plot, maar dit is nie noodwendig die belangrikste nie. Die dieper betekenisse wat na die oppervlak kom wanneer die leser gekonfronteer word met die onverwagse emosies wat tydens die lees van sy romans opgewek word, is dalk eerder die skrywer se oogmerk.

Dit is hiermee my groot voorreg om vir me Mercy Kannemeyer te vra om die 2024 UJ-prys vir Afrikaans aan SJ Naudé te oorhandig vir sy roman Van vaders en vlugtelinge.

Bronnelys

Barnard-Naudé, J. 2023. Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n resensie. https://www.litnet.co.za/van-vaders-en-vlugtelinge-deur-sj-naude-n-resensie (14 Augustus 2024 geraadpleeg).

Burger, B. 2024. Van vaders en vlugtelinge: ’n resensie. Tydskrif vir Letterkunde, 61(1):141–2.

Naudé, SJ. 2023. Van vaders en vlugtelinge. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lees SJ Naudé se aanvaardingstoespraak hier:

UJ-prys 2024: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Van vaders en vlugtelinge

Lees ook:

SJ Naudé (1970–)

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n resensie

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

UJ-prys 2022: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Dol heuning

UJ-prys 2022: Commendatio vir SJ Naudé se Dol heuning

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top