
Boekomslag: Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé (Human & Rousseau). Foto: SJ Naudé (NB-Uitgewers)
Die 2024 UJ-prys is toegeken aan SJ Naudé vir sy roman Van vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau, 2023). Die prys is op 20 September by die Universiteit van Johannesburg aan hom oorhandig. Naudé het die volgende aanvaardingstoespraak tydens die seremonie gelewer.
My innige dank aan die universiteit, professor Karen de Wet en die beoordelaars. Julle toewyding aan die bevordering van ernstige skryfwerk in Afrikaans is werklik ’n riem onder die hart. Hierdie prys dra iets daarin, voel dit vir my, van die gees van Johannesburgse selfvertroue – ’n onverskrokke, geen-nonsens-, ons-weet-waar-ons-staan soort benadering. En zero ongemak in die aangesig van dit wat nuut of uitdagend is. Die onapologetiese fokus op bellettristiese werk in uitdagende tye in die tersiêre-onderrigsfeer – en in die kultuursfeer in die algemeen – bied ’n soort vaste punt in ons klein taalheelal. Die UJ-prys voel soos ’n stewige balustrade op ’n gevaarlike stel trappe.
Ek voel deesdae ’n mens moet jou oomblikke in die kalklig produktief gebruik. So, as julle vir 10 minute geduldig kan wees, sê ek graag iets oor skryf, identiteit en politieke weerstand.
Daar is heelwat nuwe skrywers wat oor die afgelope jare ’n welkome verruiming in die Afrikaanse letterkunde gebring het, en vinnig in openbare fokus gekom het. Daar word nou volop – en voluit – geskryf en gedig vanuit ervaringswêrelde wat voorheen in beperkte mate – of net vanuit verwyderde perspektiewe – gefigureer het in Afrikaanse skryfwerk, veral as ’n mens ooglopende identiteitsmerkers soos ras, gender, seksuele oriëntasie en klasse- of kulturele herkoms in ag neem. Dis by uitstek die geval met poësie, skynbaar die voorkeurgenre van baie jonger Afrikaanse literêre belangstellendes. Maar ook toenemend wat prosa betref.
Dit is natuurlik hoogs verrykend vir ’n literatuur, sulke inspuitings van energie en lewenskrag, en dit wen ook nuwe lesers vir Afrikaans. Dit sal opwindend wees om te sien watter soorte stemme en talent Afrikaans nog gaan oplewer. Ek is dikwels werklik geraak as ek sien hoe jong digters besluit om in hierdie tye juis in Afrikaans te dig, en waaroor hulle alles gemaklik (of genoop) voel om te dig. Die feit dat heelwat hiervan gebeur in variëteite van Afrikaans wat voorheen gemarginaliseer is, is ook opwindend. Daar is ’n algemene versnelling, reken ek. Die rivier van Afrikaanse woorde is in vloed.
So ontwikkel daar ’n al hoe groter veelvoud van stemme en wêreldsieninge, en word individualiteit en eindelose menslike verskeidenheid gevier. Daar is wel ook ’n risiko daarin om verskeidenheid te wil beperk tot tradisionele identiteitskategorieë. Ons verstaan almal, veral as skrywers, dat individuele identiteit eintlik kompleks en veeldimensioneel is. Dat dit ver verby die ou kategorieë strek. En dat dit hierdie komplekse identiteit is wat werksaam is wanneer jy skryf. Ons verstaan almal hoe verminderend dit sou wees om uitsluitlik as verteenwoordiger van ’n kategorie te skryf .
Een oënskynlik onskuldige, deugsame soort voorskrif wat ’n mens dikwels vanuit owerheidsweë hoor – hier en elders – is dat skrywers sosiale samehang behoort te bevorder, dat hulle nasie moet bou. Maar wetend of onwetend is dit ook ’n manier om skrywers se tande te wil trek, om hulle onskadelik te wil stel. Om te skryf en te dig het, in die kern daarvan, te make met sonderlingheid van visie en individuele talent. Met radikale onafhanklikheid, met ontsnapping aan pogings om voor te skryf of te reguleer, ’n weiering om stilgemaak of beheer te word. Om ernstig te skryf is om genadeloos waarhede na te jaag. Om te sê wat nie gesê mag word nie. Om te weier om in gelid te val, ongeag die gevolge.
Literêre produksie, die geestelike samekoms van die ondermyners, kan wel raakpunte skep, en nuwe sosiale ruimte en dinamieke. Hoe opwindend sou dit wees as ons op ’n plek kon aankom waar daar ’n voortdurende kaleidoskopiese herrangskikking en heroorweging is van waar watter skrywers hoort, van wie hulle by wie skaar, van wie mag praat, en wat hulle mag sê. ’n Era van regte bevryding, waarin die krasse kategoriserings van die verlede minder saak begin maak, werklik begin vervaag. Waarin daar plek opgeëis word vir die ewig verskuiwende teenposisies, vir die genadelose ontbloting van intellektuele oneerlikheid – van bullshit – wáár dit ook al aangetref word. Wat welkom sou wees in vandag se Suid-Afrikaanse landskap, en dalk nog dapperder as afwysings van ons ooglopend afwysbare verlede, is byvoorbeeld genadelose satire wat die ekstreme politieke vergrype van vandag vreesloos blootlê. Is dit nie ons almal se burgerlike verantwoordelikheid om nie net die skrikbewind van die verlede aan te spreek nie, maar ook dié van die hede?
Die verlede sal altyd met ons wees. Dit sal ook aanhou verwond, veral solank vooroordeel, al is dit in onuitgesproke en gesofistikeerde vorme, ’n werklikheid bly, asook skreiende ongelykheid en armoede. Skrywers sal ewig muterende, toenemend effektiewe maniere moet vind om die waarhede van daardie verlede bloot te lê. Maar ook, en dis insgelyks dringend, dié van die hede. Ons sal elke literêre vorm buitentoe moet dop, elke sin moet ooprits en weer toerits; ons sal haas onverbeelbare nuwe karakters moet vind, elke woord moet oorweeg en heroorweeg, elke frase laat ontheg en weer aanmekaarsit, elke storielyn soos ’n legkaart uitmekaarhaal en herskommel. Die teks sal elke denkbare en óndenkbare stukkie akrobatiek moet uitvoer. Op maniere wat ons ons nog nie kan verbeel nie. Want hierdie is die enigste instrumente wat skrywers het om die wêreld mee te probeer verander. En hiervoor het ons almal nodig wie se penne die skerpste geslyp is. Uit alle kategorieë. Om ook vandag, ook nóú, oorlog te voer teen die magshebbers wat steeds, op ou en nuwe maniere, gewone mense se lewens vernietig met hulle harteloosheid en wanbestuur en misdadigheid en grypsug. En wat hul tone nou begin doop in populistiese posisies soos etniese nasionalisme, vreemdelingehaat en homofobie.
Waarvoor ’n mens eindelik moet mik, wat my betref, is ’n meer absolute soort bevryding van stemme – die geleidelike vervaging van die hindernisse en groeperinge wat deur ons vreeslike geskiedenis aan ons opgedring is. Ons moet hierdie dinge transformeer tot kreatiewe energie wat alles nuut kom maak. Watter produktiewe soorte literêre alliansies sou dit kon teweegbring? Watter polities effektiewe skryfwerk sou dit kon oplewer? Watter onthutsende harmonieë en dissonansies sou dan kon opklink, en watter besete literêre eksperimente sou gekataliseer kon word. In ongehoorde en onignoreerbare toonhoogtes. En veral, watter nuwe wêreld sou ons ons kon verbeel, ’n plek wat in sy kern anders lyk as hierdie een? Waar woorde soos vrygewigheid, medemenslikheid en vriendskap weer kragtig word, ’n plek waar harte oopgaan. Ek praat nie van ’n naïewe oopheid nie, nie onbeskermdheid nie, maar ’n koppige, selfs verbete, soort onskuld. Uitreiking in weerwil van brutaliteit.
Maar om daar uit te kom moet ons eers die magshebbers genoegsaam irriteer. Ons moet weer lastig raak, en kwaad. Ons moet onsself onverduurbaar maak, weer gevaarlik word. En eers as ons sóveel woede kan ontketen by dié wat mag so verwoestend misbruik dat skrywers, soos fluitjieblasers, ook op sluipmoordlyste begin verskyn, dan sal ons weet ons het geslaag. Eers dan het ons die uitdaging van ons tyd in die oë gestaar.
Lees Janien Linde se commendatio vir Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé hier:
UJ-prys 2024: Commendatio vir SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge
Lees ook:
Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
UJ-prys 2022: SJ Naudé se toespraak by die bekroning van Dol heuning


Kommentaar
Intense aanhanger van Naude se skryfwerk en denke.